In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Kort na die dood van dr Hendrik Verwoerd op 6 September 1966 is appèlregter JT van Wyk as ’n eenpersoon-kommissie van ondersoek aangestel om die omstandighede van die dood van die Eerste Minister te ondersoek.
Op 24 Januarie 1967 – 46 jaar gelede – is regter Van Wyk se verslag in die parlement (die einste plek waar Verwoerd gesterf het) ter tafel gelê.1 Die regter het bevind dat Dimitri Tsafendas, wat Verwoerd met vier wilde dolkhale om die lewe gebring het, se naam reeds in 1963 op ’n lys van ongewenste persone van die Departement van Binnelandse Sake verskyn het. Nogtans is hy die land binnegelaat en is eers tydelike, en daarna permanente, verblyf aan hom toegestaan. In 1964 is verlof aan hom verleen om die land te verlaat, maar nege maande later is hy weer toegelaat, ten spyte daarvan dat sy naam nog steeds op die lys van ongewenste persone verskyn het.
Die regter het ook bevind dat ’n hoë amptenaar in die betrokke departement reeds op 14 Desember 1965 opdrag gegee het dat by die Minister van Binnelandse Sake aanbeveel moes word dat Tsafendas gedeporteer moes word. Dié aanbeveling is eers etlike maande later voorgelê aan die Minister, wat dit op 9 Augustus 1966 goedgekeur het. Eers op 1 September – vyf dae voor Verwoerd se dood – is ’n brief getik waarin die polisie versoek is om ’n deportasiebevel op Tsafendas te dien. Die brief is nooit betyds aan die polisie oorhandig nie.
Regter Van Wyk het bevind dat die vertraging van byna nege maande tussen die deportasie-aanbeveling op 14 Desember 1965 en 6 September 1966, die dag waarop Verwoerd om die lewe gebring is, "onverdedigbaar" was. ’n Senior klerk kon ál die nodige dokumente binne ’n uur opgestel het.
Jy het waarskynlik agtergekom dat ek nêrens na die "moord op” Verwoerd verwys het nie. Tsafendas is wel aangekla dat hy die premier vermoor het, maar die Kaapse regter-president, Andrew Beyers, wat die saak verhoor het, het bevind dat hy geestelik versteur was. Moord is die wederregtelike, opsetlike doodmaak van ’n persoon deur ’n medemens. Maar ’n geestelik versteurde mens kan nie moor nie; hy is nie toerekeningsvatbaar nie; hy kan nie tussen reg en verkeerd onderskei nie. Sulke mense word van oudsher af nie in ons howe tot verantwoording geroep nie – en so was dit ook met Tsafendas.
So "doodgewoon" was regter Beyers se uitspraak dus dat dit nie eens in die Suid-Afrikaanse Hofverslae opgeneem is nie, want die regsbeginsels wat die hof moes toepas, was nie vreemd aan ’n beskaafde regstelsel nie.
Rykie van Reenen, bekende Afrikaanse rubriekskrywer van destyds, was daardie dag in die hof. Sy vertel in ’n aangrypende essay2 hoe regter Beyers, nadat hy in die Engelse gedeelte van sy uitspraak bevind het dat Tsafendas ontoerekeningsvatbaar was en dus nie verhoor kon word nie, oorgeslaan het na sy moedertaal, Afrikaans. Hy is terdeë bewus van die diepe gevoelens wat mense oor die saak het, het die regter opgemerk. Hy verstaan ten volle – trouens, hy deel in – die wraakgevoelens wat by mense opkom. Maar ’n mens moet dieper kyk. Deur met sy lewe te boet, kan Tsafendas vir ons niks doen nie. Dit sou géén verskil maak aan ons verlies of hy tereggestel word of nie. Wat wél ’n verskil sou maak, is as hy deur sy daad die hooggeregshof so ver kon kry om die reg van die land te verontagsaam. Dan sou hy groter skade aan ons voortbestaan as nasie berokken as wat hy tot nou toe reggekry het. Dit sou die fondamente van ons volksinstellings skud. Dit sou aan hierdie skepsel ’n belangrikheid gee wat hom nie toekom nie.
As hierdie volk vertroue moes verloor in sy regsinstellings, het regter Beyers gesê, sou ’n mens inderdaad ’n vernedering en skande hê wat as onherstelbare klad op hierdie land sou rus. Elke regdenkende mens besef dat dit nie reg en nie Christelik is om ’n sielsieke te veroordeel nie.
"Dit was vir my," skryf Rykie van Reenen oor haar gewaarwordings daardie oggend in die hofsaal, "of daar op ’n vuige moerasland van primitiewe wraak- en haatgevoelens ’n helder reddende bakenlig van geregtigheid geval het. Hierdie uitspraak, het ek met ’n skielike opwelling van trots gevoel, is die maatstaf van ons beskawing in hierdie land."
Tsafendas is op 7 Oktober 1999 op 81-jarige ouderdom in die Sterkfontein Hospitaal naby Krugersdorp – waar hy sy laaste jare geslyt het – oorlede. Hy is twee dae later in ’n ongemerkte graf in die hospitaal se begraafplaas ter ruste gelê. Die oorwegend tragiese lewensloop van hierdie verwarde, ontwrigte mens word treffend uitgebeeld in wyle Henk van Woerden se boek Domein van Glas3 wat in 2000 verskyn het. Dit is deur Antjie Krog uit die oorspronklike Nederlands vertaal.
1 Vgl 1966 Annual Survey of South African Law, bl 3.
2 Van Reenen, R. 1980. Op die Randakker. Kaapstad: Tafelberg. Moenie nalaat om Lizette Rabe (2011) se volprese biografie van Van Reenen te lees nie: Rykie – ’n lewe met woorde. Kaapstad: Tafelberg.
3 Van Woerden, H (Krog, Antjie, vertaler). 2000. Domein van glas. Kaapstad: Queillerie.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.


Kommentaar
Sou graag wou gesien het, dat die ampsdraers, wat hul pligte versuim het, gestraf moes word. Maar dit is nooit gedoen nie. Dit laat 'n mens dink.