Jesus vir almal: Die gay-gesprek in die kerk deur Neels Jackson – nog ’n lesersindruk

  • 0

Jesus vir almal: Die gay-gesprek in die kerk
Neels Jackson
Lux Verbi
ISBN: 9780796322494

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging geskryf en aan LitNet gestuur.

Neels Jackson begin deel een van vier van sy boek met ’n lang teologiese uiteensetting van sy idees oor Jesus onder die opskrif “Wie is Jesus?”. Hierdie Jesus waarmee Jackson homself besig, is nie die historiese Jesus nie, maar die Bybelse Jesus. Hy werk dan ook vanaf die uitgangspunt dat “die Bybel die Woord van God is” (bl 5). Daar word gevolglik nie van enige ander bron as die Bybel gebruik gemaak in sy ondersoek na wie Jesus is nie. Die Bybelse Jesus is egter nie die historiese Jesus nie. Hy gee wel te kenne dat die Bybelse evangelies nie juis histories akkurate dokumente is nie, maar eerder “bemarkingsmateriaal vir Jesus” (bl 12). Bemarkingsmateriaal kan nogal heel misleidend wees, sou ek sê. Kyk maar hoe verskillend lyk sekere wegneemplekke se etes op promosiemateriaal in vergelyking met die werklike produk! Vir die doel van die boek word daar dus ’n ondersoek geloods na die Bybelse Jesus. Jackson stel dit voorts in die inleiding van die boek dat sy werk as joernalis hom aan velerlei stemme en perspektiewe blootgestel het oor die jare. Dit het hom die kans gebied om sy eie “sienings te weeg en te slyp”, wat aanleiding gegee het tot “persoonlike geloofsgroei” (bl vi).

Die Jesus wat op die daaropvolgende bladsye ontvou, is nogal ’n meesleurende karakter. Jackson se argumente oor die Bybelse Jesus is besonder sterk en weldeurdag. Die Jesus waarvan mens in die Bybel lees, argumenteer hy, was nooit iemand wat wette klakkeloos nagevolg het nie. Die rede hoekom God vir die mens wette gegee het, is om die mens te beskerm. Die wet gee uiting aan God se liefde vir sy volgelinge. Waar die wet nie die saak van die liefde bevorder nie, daar is die wet nie net ignoreerbaar nie, maar word dit selfs noodsaaklik dat sulke wette en reëls verontagsaam word. Om sy punt te illustreer word die een na die ander voorbeeld uit die Bybel ingespan. Hy kom uiteindelik tot die gevolgtrekking dat daar “twee soorte godsdiens” was in die tyd van Jesus. Aan die een kant die Fariseërs, wat getrouheid aan die reëls as die belangrikste geag het, teenoor Jesus se godsdiens “waarin die liefde die hoogste ideaal is” (bl 97). Hierdie Jesus sluit mense nooit uit nie.  

Jackson argumenteer deurgaans dat die historiese en kulturele konteks van die Bybel in ag geneem moet word. In hoofstuk 1 verwys hy ook na die feit dat die kerk vir baie jare vroue verbied het om in die kerk te wees sonder ’n hoed, maar dat daar mettertyd ’n nuwe interpretasie van die betrokke teksgedeeltes posgevat het, en dat vroue vandag nie met hoedens kerk toe hoef te gaan nie. Later, in hoofstuk 12, verwys hy ook na die feit dat vroue nooit toegelaat was tot die ampte van die NG Kerk nie, maar dat ook dié interpretasie van die Bybel uiteindelik gesneuwel het. Die onderwerp van slawerny kom ook aan die bod, want die Bybel is deurspek van slawerny, en sommer heel onkrities ook daarby. Dit is egter alles al die ou bekende argumente weer van voor af, en of dit enige van sy behoudende lidmate van die NG Kerk sal oortuig, kan mense maar net oor wonder.

In deel 2 van die boek maak Jackson die opnuut die punt dat daar binne die kerk te veel ván en te min mét gay mense gepraat word, asook dat gay mense dikwels hulself onderwerp aan vrugtelose “terapie”. Verskeie organisasies wat in die verlede gay mense probeer “genees” het, het uiteindelik erken dat hulle misluk het, en selfs dat hulle baie skade aangerig het. Hoofstuk 10 kom ietwat pedanties oor, met ’n hele uiteensetting oor die betekenis van die begrip “LGBTIA+”. Hier stop die lorrie dus nie net by gay mense nie, maar gaan dit verder, na biseksueel, transgender, aseksuele mense en die onbekendes, verteenwoordig deur die +.

In hoofstuk 12 ondersoek Jackson die spesifieke Bybelverse waarmee homoseksualiteit veroordeel word. Weer eens is dit alles ou bekende argumente. Die woord “homoseksualiteit” kom nie voor in die oorspronklike tekste nie. Die woord het eers in die 19de eeu ontstaan. Die tekste verwys eintlik na die gebruik van tempelprostitusie, en het niks te doen met ’n liefdesverhouding nie. Genesis 2 gaan nie oor die huwelik nie. Hierdie is alles argumente wat nie in die verlede die behoudendes in die kerk oortuig het nie, en ek twyfel of dit nou ewe skielik sal verander.

Die uiteindelike probleem, aldus Jackson, is dat die liefde onderspeel word. Vanuit die behoudende hoek sal mens presies die teenoorgestelde hoor – naamlik dat die liefde van God oorbeklemtoon word deur mense wat “selfdegeslaghuwelike” goedkeur. So lank as wat daar oor die Bybel geredeneer word, so lank sal daar in sirkels geredeneer word. Dit is bemoedigend om te lees dat daar mense binne die kerk is wat gretig is om die LGBTIA+-gemeenskap onvoorwaardelik te aanvaar. Of die kerk daarin gaan slaag en terselfdertyd al die behoudende lidmate binne die kraal gaan hou, dit sal net die tyd ons leer.

Lees ook:

Jesus vir almal: Die gay-gesprek in die kerk deur Neels Jackson – ’n lesersindruk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top