Jesus vir almal: Die gay-gesprek in die kerk deur Neels Jackson – ’n lesersindruk

  • 5

Jesus vir almal: Die gay-gesprek in die kerk
Neels Jackson
Lux Verbi
ISBN: 9780796322494

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging geskryf en aan LitNet gestuur.

Jackson, ’n ervare joernalis wat hom vir byna drie dekades hoofsaaklik op kerksake toegespits het, is met die oorhandiging van die spesiale Andrew Murray-toekenning só geloof deur die pryskomitee: “Neels Jackson is ’n ingeligte, verantwoordelike en kundige verslaggewer wat goeie betrekkinge met ’n groot aantal kerkleiers van verskillende denominasies handhaaf ...” Hy gesels in sy boek, Jesus vir almal, oor wie Jesus is en wat die gevolge van Jesus se liefde vir die gay-gesprek in die kerk is. Nie net bekyk hy onder meer Bybeltekste wat kontroversieel is en belig die konteks waarin dit geskryf is nie, maar hy let ook op na die wanbegrip oor gays wat wyd in die kerk heers.

Wat hierdie boek besonders maak, is dat Jackson so openlik oor sy eie geloofstryd skryf. Hy skryf in die inleiding: “Hierdie boek is ’n persoonlike getuienis. Ek deel hierin van die insigte en oortuigings waartoe ek deur die jare gekom het.” Hy noem dat hy weens sy beroep baie naby aan die kerklike gesprekke en besluitnemingsprosesse beweeg het, en dat hy die voorreg gehad het om die sleutelmense in die kerklike gesprekke te leer ken, om te hoor hoe hulle dink en om dikwels self met hulle in gesprek te tree. “Dit het mense oor die wye spektrum van kerke en kerklike standpunte oor uiteenlopende sake ingesluit. Onvermydelik het dit my ook die geleentheid gegee om my sienings te weeg en te slyp. Dit het aan my ’n uitsonderlike geleentheid tot persoonlike groei, ook persoonlike geloofsgroei, gebied.” Die hoekstene van sy geloof is die oortuiging dat Jesus die Here is en dat die Bybel die Woord van God is.

Die eerste en grootste deel van Jesus vir almal gaan daaroor om Jesus beter te leer verstaan en ook te volg. Jackson wys daarop dat Christene oor die wêreld heen verskil oor gaywees en oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag. Hy kon as joernalis met talle gay mense en met mense naby aan hulle in gesprek tree. “Ek kon hulle lewensverhale hoor en ek kon hulle geloofsworstelinge hoor. Nêrens anders in die kerk het ek soveel pyn gesien en gehoor soos in die verhale van gay mense in die kerk nie.” Dit is dan ook een van die dryfvere agter die skryf van Jesus vir almal – “Ek hoop dat dit ’n bydrae sal lewer om, in navolging van Christus, die kerk ’n vriendeliker plek vir gay gelowiges te maak. Ek hoop dit help die kerke en die lidmate van kerke om met sagter oë na hulle gay broers en susters te kyk.” Hy skryf verder: “Dit is juis op grond van die Bybel dat ek pleit dat gay mense met hulle seksualiteit, hulle verhoudings en al die ander wonderlike aspekte van hulle menswees in die kerk verwelkom moet word.”

In deel 2 skryf Jackson oor gay mense en wat hy oor hulle geleer het, en in deel 3 sit hy uiteen hoe hy die implikasies van alles wat hy oor Jesus geleer het vir die kerklike gesprek oor gays verstaan. Deel 4 handel oor die interpretasies van omstrede Bybeltekste en sommige van die argumente wat in kerklike gesprekke aangevoer word, maar wat dikwels op misverstande berus. Sy slotargument op bladsy 205 som die beweegrede agter die skryf van Jesus vir almal mooi op. “Ek droom uiteindelik van ’n kerk waar gay mense se seksualiteit en hulle verhoudings nie meer ’n kwessie sal wees nie, omdat ons so ingestel is daarop om God se liefde uit te leef waar daar nood is dat ons nie eens meer sal dink of iemand gay is of nie.”

Ek het Jesus vir almal baie leersaam en interessant gevind. Jackson skryf toeganklik en in ’n gemaklike geselstrant. Lees gerus die boek. Nie net is dit ’n persoonlike geloofsreis nie, maar dit maak ook die leser se oë oop vir gays se hartroerende stryd om ’n genadige God te vind in ’n kerk en ’n gemeenskap wat hulle volledig aanvaar en verwelkom.

  • 5

Kommentaar

  • Gerhard Venter

    Ek voorsien dat oor 100 jaar, wanneer talle van vandag se ergste probleme deur die wetenskap opgelos is, die mensdom nog steeds verbaas sal kan toekyk hoe die laaste 10 oorblywende Christene verdeeld kan sit en debat hou oor die "gay kwessie". Die uitweg vir gays is maklik. Los die kerk.

  • Barend van der Merwe

    Ook gelees ja. Mooi getuienis maar dieselfde ou argumente wat nie die kerk gaan verenig nie.

  • Dit is 'n baie goeie ding dat hierdie boek geskryf is, een wat die nuwe verstaan van die Bybel verduidelik. Dit sal veroorsaak dat baie meer gelowiges die NGK gaan verlaat en dat meer gemeentes gaan doleer en/of uittree uit die kerkverband. Daar is baie gelowiges wat nie met hier postmodernistiese verstaan van die Bybel kan saamstem nie.

  • Dat 'n mens nou 'n hele boek moet skryf om te wys dat die Bybel die teenoorgestelde sê as wat daar duidelik staan en dan nog steeds te bely dat die Bybel die Woord van God is, kan mos nie. Die pyn is van mense wat nie hulle sonde wil laat staan nie en nog steeds gelowig genoem wil word. Romeine 1 verduidelik mooi waar hierdie onnatuurlike begeerte vandaan kom.

  • Daar is 'n ander, groter probleem vir my John. Ek is nie so seker soos jy dat die Bybel se woorde vas en ewig staan nie. Mens sal boeke vol oor die saak kan skryf, maar die kort van die lank is: menslike interpretasie is 'n realiteit. Hoekom dink jy is daar soveel duisende kerke? Wat heel dikwels opponerende interpretasies van die Bybel het? Is dit nodig om daarop te wys dat tale verander oor tyd? Woorde se betekenisse verander? As mens sommige taalkundiges en historici en teoloë se argumente kan aanvaar, dan het die konsep van 'homoseksualiteit' nie bestaan in die antieke wereld nie, maar is dit later so vertaal, ten spyte daarvan dat dit nie regtig is wat daar geskryf staan nie. Dink bietjie oor die implikasies. Dit is punt nommer 1. Ten tweede, en dit is waar ek van gelowiges verskil, is dat die bybel, in elk geval, geen normatiewe boek vir die mens is nie. En wat daarmee gelykstaan, die Bybel het geen natuurlike samehang nie. Dis stories en gedigte en geskiedskrywing, en nie wette nie. Trouens, die grootste ironie is miskien, dat die wette wat wel daarin staan, word totaal deur meeste gelowiges geïgnoreer en as onnodige 'reinheidswette' afgemaak. Maar dan laastens, kom ons veronderstel die kerk was 'verkeerd' vir so lank, wat vertel dit ons van god? Van god se betrokkenheid by mense? By sy kerk? Vanuit my eie perspektief is die antwoord maklik. Ek glo dat alles wat kerke doen of besluit, is die keuses van mense. Daarom 'verander' die gode so baie.

    Maar my eie futiele ramblings tersyde, ons sien hoe dit uitspeel nou, twee jaar later. Dit is nie mooi nie, maar die skade is skynbaar relatief klein, daar is in elk geval deesdae maar min oor van die NG kerk, en die 50 of wat gemeentes van koinonia gaan wel 'n verdere bietjie lewe uit die sterwende NG kerk uitpers, maar dis ook nou nie so erg nie. Laaif goes on wiff or woffout one.

    Wie weet, eendag kan Koinonia Sinode en die NG kerk dalk ook weer 'n lekker interkerklike kommissie saamstel. Dan drink almal weer lekker saam tee en praat oor die goeie ou dae en die glorieryke toekoms wat op julle wag.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top