Eric Clapton, Jeff Beck en Jimmy Page, die heilige trio van Britse rock, het op 10 Januarie 2023 een van hul mees innoverende lede verloor. Baie sal sê die rock-legende Jeff Beck was dalk die grootste rock-kitaarspeler van alle tye. Hy begin sy loopbaan in erns met “bubblegum pop” saam met die Yardbirds, maar beweeg gou aan na rock, psigedelies, funk, jazz fusion en later techno. Wat ook al die genre, Beck was altyd voor in die koor.
Geoffrey Arnold Beck is in Wallington, suid van Londen in Brittanje, gebore. Op sesjarige ouderdom hoor hy op die radio vir Les Paul, die inspirasie agter die legendariese Gibson Les Paul-kitaar wat deur die Gibson Guitar Corporation in 1952 gebou is. Dadelik wou hy by sy ma weet wat die geluid is. Nadat sy verduidelik het dat dit ’n elektriese kitaar met truuks is, was sy eenvoudige reaksie: “That’s for me.”
In sy tienerjare ontmoet Beck vir Jimmy Page (wat later Led Zeppelin sou stig) en die twee word goeie vriende. Beck besluit om sy eie kitaar te bou, maar die instrument klink goor en hy leen ’n ander kitaar by ’n buurman. Daarop leer hy homself speel. Later koop hy sy eie kitaar deur ’n huurkoopskema met behulp van ’n vriend wat hom voordoen as sy stiefpa en ’n waarborg teken. In die vroeë 60’s speel hy in verskeie groepe in kroeë en musiekklubs in Suid-Londen. Hy werk ook as sessiekitaarspeler vir ander groepe met ateljee-opnames. Dis egter in 1965 dat sy loopbaan ’n onomkeerbare hupstoot kry. Eric Clapton was toe die kitaarspeler vir die Yardbirds en die groep het groot ondersteuning geniet. Hulle was egter finansieel nie suksesvol nie, aangesien hulle feitlik uitsluitlik blues gespeel het en die radiostasies meer pop-georiënteerde materiaal verkies het.
Clapton was toe reeds ’n ster in eie reg en almal het geweet die gehore het gekom om hom te sien en hoor. Hy was egter ’n blues-puris en toe die groep se basspeler en vervaardiger voorstel dat hulle in ’n meer pop en kommersiële rigting beweeg met die liedjie “For your love”, het Meneer C sy stert in ’n krul getrek en die Yardbirds verlaat.
Jimmy Page wat al saam met die groep gewerk het, beveel aan hulle nader vir Jeff Beck. Die oudisie verloop goed en Beck word opgeneem as hoofkitaarspeler vir die groep. Arme Chris Dreja, ritmekitaarspeler, word getaak om Beck te vat om sy klerekas uit brei, aangesien hy soos ’n motorwerktuigkundige ná ’n harde dag se werk lyk. Soos reeds genoem, het die Yardbirds ’n voorliefde vir die blues gehad en hulle was groot aanhangers van Freddie King, Buddy Guy et al. Sonder treffers op die treffersparade maak die groep egter nie geld nie. Dis hier waar Beck nie net Clapton se groot skoene volstaan nie, maar hy transformeer die groep in ’n kommersiële rigting.
Die eerste liedjie wat hy saam met hulle opneem “Heart full of soul” word ’n groot treffer vir die groep.
Die liedjie word gekenmerk deur Beck se nabootsing van die klank van ’n Indiese sitar op sy elektriese kitaar. Dis maande voor die Beatles die eerste keer ’n sitar vir hul liedjie “Norwegian Wood” gebruik het. Die effek is bereik deur die kitaar met behulp van ’n distorsiepedaal, bekend as ’n “tone bender”, te speel. Die kortspeler “Still I’m sad” is ’n verdere psigedeliese eksperiment, waar die lirieke met ’n tipe van dreunsang (“chanting”) uitgevoer word en die tipiese vers-koor-vers-formaat geïgnoreer word.
Teen 1966 was die Yardbirds ’n totaal ander groep as gedurende hul tyd met Clapton, waar hulle aand na aand ou blues-liedjies van ander kunstenaars gespeel het. Skielik was hulle op die voorgrond van pop-musiek se avant garde. Dit alles te danke aan Beck se obsessie om die kitaar te gebruik as een of ander soniese instrument met gevorderde tegnologie om nuwe en ongehoorde klanke voort te bring. ’n String opnames volg met die vreemdste kitaarklanke denkbaar, “Lost woman”, “Over under sideways down” en “Hot House of Omergararshid”.
Die titels vertel dit als. Nie lank nie en die ondersteuners verlaat die Yardbirds en die pers noem die musiek gemors.
Nodeloos om te sê Beck verlaat die Yardbirds met ’n bitter smaak in die mond. Jare later in 1992, met sy inlywing in die Rock & Roll Hall of Fame, meld hy: “They kicked me out … F@#k them!”
Met die Yardbirds in die truspieël stig hy die Jeff Beck Group met sy ou vriende Rod Stewart, Ron Wood en Mickey Waller en in 1968 stel hulle die album Truth vry, maande voor Led Zeppelin hul eerste grondverskuiwende album die lig laat sien. Die groep laat verskeie albums die lig sien, maar lede van die groep kom en gaan. Die genres waardeur die groep beweeg sluit in funk, jazz en soul, in so ’n mate dat Beck later meld dit is feitlik onmoontlik om met iets totaal nuuts en oorspronkliks vorendag te kom.
Teen 1973 vorm Beck ’n nuwe groep met die baskitaarspeler Tim Bogert en tromspeler Carmine Appice. Hulle behaal gemiddelde sukses en teen 1975 raak die groep se stoom op en die trein kom tot stilstand. Beck se gene is egter gelaai met uitsonderlike kreatiwiteit en in 1975 produseer hy die grootliks-instrumentale solo-album Blow by Blow waarop hy weer eens rigting verander na jazz/rock/fusion. Teen hierdie tyd weet niemand meer waarheen hy volgende met sy loopbaan op pad is nie. Gedurende die 80’s en 90’s werk hy saam met van die grootste kunstenaars op die musiekfront – Guns N’ Roses, Kate Bush, Hans Zimmer en Bon Jovi. Die kitaarspel bly altyd verbluffend.
Geen wonder dat van die grootste kitaarspelers in rock sy lof besing nie – The Edge, David Gilmour, Slash, Brian May en selfs John Frusciante (Red Hot Chili Peppers) om maar ’n paar te noem. Selfs Clapton, vir wie hy daar reg in die begin in die Yardbirds vervang het, erken dat sy benadering tot die elektriese kitaar totaal uniek is.
View this post on Instagram
Gedurende 2016 kom Beck te voorskyn met sy 17de studio-album, Loud Hailer. Die musikante is almal deel van ’n pop-rock-groep, Bones UK, wat hy by ’n partytjie aan huis van die Queen-tromslaner Roger Taylor ontmoet het. Rosie Bones, die hoofsanger, klink byna soos ’n jong Pink op steroïde. Die album wys dat Beck steeds myle voor sy kompetisie is en dat aftrede vir ou toppies met droë toonnaels en hoë cholesterol is. Ongelukkig faal sy laaste studio-album, 18, verlede jaar saam met Johnny Depp. Dit maak nie saak hoe goed die kitaarspel is nie, die swak aanbieding van ander kunstenaars se liedjies wys net weer duidelik die gate in Depp se eie skryfvermoëns. Natuurlik sal die opblasery van die album deur Depp-aanhangers sorg dat dit ’n sekere ordentlike status geniet, maar dit bly steeds een wat op die ashoop van mislukte pogings hoort.
Jeff Beck wen gedurende sy loopbaan agt Grammys, ontvang die Ivor Novello-toekenning vir uitstaande bydraes tot Britse musiek en word twee keer in die Rock & Roll Hall of Fame ingelyf. Hy het sy eie loopbaan dalk die beste opgesom deur te sê dat wanneer ’n mens oop is vir iets anders, dan gebeur interessante dinge.