
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Ek het heerlik gelees aan die Januarie se Romanza-titels en ek deel graag so ’n klein ietsie saam met die sinopsis van elke boek. Mens moet tog so versigtig wees dat mens nie te veel weggee nie.
Dubbelspel vir haar hart – Tosca de Villiers
Die voorspelbare is dat die liefde gaan wen, maar wanneer is dit ware liefde en wanneer het die persoon net iemand nodig? Ek het my keuse reeds vroeg in die boek gemaak, seker maar omdat ek beslis nie as ’n pastoriemoeder sou deug nie en liefde nie met jou verstand uitgeredeneer moet word nie, maar uit jou hart uit moet kom. Nou wonder julle: Het sy dieselfde keuse as ons heldin gemaak?
Sinopsis: Wie gaan haar hart wen? Elandi vlug na Roodezand om weg te kom van die skindertonge wat haar lewe verwoes het. In haar nuwe pos fokus sy op haar Wiskunde-onderrig en om geld in te samel vir die matriekafskeid. Sy wil nie weer ’n man in haar lewe hê nie, maar Hendrik de Bruyn en dominee Neels stel belang. Hendrik wil dalk weer liefde ’n kans gee en Neels soek ’n vrou wat orrel kan speel. Wie gaan haar hart wen?
Liefste buurmeisie – Magda Schmidt
Ek gaan nou maar erken: Liefste buurmeisie was my gunsteling van die Januarie-Romanzas. Wanneer daar ’n speek in die wiele van ware liefde gesteek word, is ek altyd bly wanneer die held en heldin baklei vir hul liefde én wanneer dit dan seëvier, is dit natuurlik ’n bonus. Die realiteit is dat mense nie meer so maklik baklei om ’n verhouding te behou of terug te kry nie, want mense gee nie meer so maklik tweede kanse nie.
Sinopsis: Sal sy hul liefde ’n tweede kans gee? Wilmarié en Dirk ontmoet as tieners by die swemkuil op sy pa se plaas. Drie jaar later vier hulle haar mondigwording en verlowing tegelyk, maar Dirk verbreek die verlowing om met iemand anders te trou. Nou is hy ná vyf jaar terug in die distrik en verbasend genoeg steeds ongetroud. Wilmarié het met haar lewe aangegaan en die skoolhoof stel deesdae in haar belang. Nou moet sy besluit of sy vir Dirk kan vergewe en of hulle weer vriende of dalk selfs meer kan wees.
’n Doodgewone meisie – Marilé Cloete
Hier het ek ’n nuwe woord geleer: ortotis. Ek is mal oor ons held, Anton. Die feit dat hy nie heeltemal perfek is nie, maak ook dat mens besef hy is maar net mens. Fiona se “ongemaklike situasie” word veroorsaak deur ’n tipe man waarvan mens nogal baie kry. Dié wat daar vroue is wat veel eerder die enkelpaadjie stap en verloor so ’n kans op die liefde.
Sinopsis: Een onverwagse oomblik kan haar weer in liefde laat glo. Fiona Viviers, ’n suksesvolle ortotis, is in ’n ongelukkige verhouding vasgevang. Anton Bruwer, ’n enkellopende spysenier, help Fiona in ’n ongemaklike situasie. Die insident beland op die internet en Anton word as ’n held gesien, wat hom dwing om verder betrokke te raak. Fiona waardeer sy hulp, al hou sy nie daarvan om “gered” te word nie. Gaan sy hom die kans gee om ’n tikkie towerkrag in haar lewe te bring?
’n Skatkis vol drome – Corné van Rooyen
’n Lekker outydse, historiese liefdesverhaal ... Al wat ek weet, is ek sou beslis nie in daardie era kon geleef het nie. Ek sou beslis permanent in die moeilikheid gewees het. Die held is beslis een van my gunstelinge.
Sinopsis: Wanneer drome vlerke kry ... Harriët se droom is om die beste kleremaakster in die Kaap te word. Maar haar droom lê aan skerwe toe haar dobbelverslaafde pa haar aan ’n dobbelbaas beloof om sy skuld af te betaal. Haar lewe verander onherroeplik toe die skatryk Jurgens Hendrikssen tot haar redding kom met ’n vreemde huweliksaanbod. Harriët se droom om topkleremaakster te word kry weer vlerke. Kan sy dit waag om ook te droom dat haar liefde beantwoord sal word?
Dis ’n belofte – Zia Lee
Ek is nie een van daai bitterbekke wat weet dat hulle nie stomerige boeke wil lees nie, dit dan gaan koop en oral op sosiale media galbraak oor hoe kommin hulle dink dit is nie, maar hierdie een het my nogal winduit geslaan. Ten spyte daarvan dat ek die detail too much gevind het, is dit steeds ’n goeie storielyn.
Sinopsis: In sy arms vind sy bevryding, maar is dit genoeg om ’n verhouding mee te bou? Eiva Richter het twee probleme: Sy is blykbaar koud in die bed en het nog nooit ’n klimaks bereik nie. Sy steek dit weg totdat sy haar enkel verstuit. Die aanraking van haar fisioterapeut, Clark Kensington, dryf haar tot raserny. Sy gee haarself aan hom oor en vind bevryding in sy arms. Maar niemand het Eiva voorberei op die gevoelens wat saam met die vryheid kom nie. Clark se geraamtes in die kas maak dat hy nie beloftes wil maak nie. Maar as hy Eiva wil behou, sal hy weer moet dink.


