Jannie se Oppiekitaar vir oud en jonk

  • 1

Jannie du Toit se jongste produksie, Oppiekitaar, waarmee hy onlangs by die Atterbury Teater op die verhoog te sien was en binnekort deur die land gaan begin toer, is byna ’n historiese gebeurtenis, want daar is nie baie sangers in ons land wat kan spog met ’n loopbaan van 50 jaar in die musiekbedryf nie.

In Oppiekitaar loop Jannie terug op sy spore van die 1970’s waar dit net hy en sy kitaar op die verhoog was, voordat hy instrumentaliste betrek het, en die konsert is ’n nostalgiese terugblik op sy lewe en wat die menigvuldige liedjies uit sy pen geïnspireer het.

Die konsert skop af met “Vat die pad” wat handel oor kunstenaars se baie ure en kilometers op die langpad, ’n taamlik nuwe liedjie op die album Oesjaar, wat in 2018 verskyn het en wat hy eintlik nog nooit doelgerig aan gehore bekendgestel het nie, maar dan neem hy jou ook terug na die beginjare en sy bydrae tot die Musiek en Liriek-beweging, Triptiek en liedjies soos “Leeuspruit” en ’n toonsetting van AG Visser se gedig “Rosa Rosarum”

In Oppiekitaar sing Jannie 24 van sy eie liedjies en mens besef van vooraf watter ongelooflik talentvolle liedjieskrywer en musikant Jannie is. Hy is ook ’n baie bedrewe kitaarspeler en sy kort vertelling oor die verskillende kitare wat hy sommer ook as dekor op die verhoog ingespan het, kleur die prentjie mooi in.

Hy eindig die konsert met seker een van sy bekendste en gewildste liedjies, “Liedjie vir jou”, maar daar is ook “Drieuur in die môre” wat in 1987 beslag gekry het, “Volgende winter” van 1996, en “Min of meer”. En natuurlik ook “Sy genade is genoeg” wat hy aan sy jare lange musiekvennoot Christa Steyn opgedra het. Hy vertel dan ook die storie van toe Coenie de Villiers haar kort voor haar dood gevra het hoe dit gaan, en dat dít die titel vir die liedjie geword het.

Oppiekitaar is ’n konsert vir oud en jonk, enigiemand wat lief is vir Afrikaanse woordkuns en vindingryke harmonieë.

  • Foto’s verskaf
  • 1

Kommentaar

  • Wonderlike versameling liedjies, gekombineer met die stories wat Jannie vertel, sorg vir 'n heerlike konsert.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top