Jannie du Toit is al dekades lank plaaslik en internasionaal aktief as sanger en liedjieskrywer, en het onlangs ’n versamelalbum, Die eggo van jou oë, uitgereik. Hy beantwoord ’n paar vrae.
Goeiedag, Jannie. Hoe's dinge?
Ons druk deur, dankie – hoop dieselfde daar.
Geluk met die vrystelling van Die eggo van jou oë. Hoe het jy te werk gegaan om te besluit watter van jou liedjies en opnames op die album sou beland en watter liedjies uitgelaat sou moes word? Hoe het jy hierdie proses ervaar om basies ’n "oorsig" van jou loopbaan saam te stel vir die album?
Ek het doelbewus twee jaar gelede die mees onkommersiële album van my lewe, getitel Ligjare, opgeneem. Dié album is gebou rondom uitstekende verwerkings deur Clinton Zerf met ’n strykkwartet as basis. Met “doelbewus” bedoel ek natuurlik nie dat ek gehoop het mense sal nie daarvan hou nie, maar ek het volledig probeer om dit artistiek so bevredigend as moontlik vir myself te maak. Omdat ek die algemene smaak teen hierdie tyd redelik goed ken, het ek egter geweet dat die album nie tot ’n groot massa spreek nie. Ligjare het die 25 jaar wat ek saam met Christa Steyn gewerk het, geëer – daarmee saam ’n aantal vriende en kollegas wat my deur die jare ontval het, van Koos Doep in 1984 tot Louis van Rensburg ’n paar maande na Christa in 2012. Daarby was daar sommer ’n paar van my persoonlike gunstelinge.
Een van die opnames, "Die eggo van jou oë", het soveel reaksie van oraloor ontlok – al was dit artistiek volledig na my sin! – dat ek besluit het om ’n album met dié titel uit te gee en dit sou die gewildste liedjies van my solo-loopbaan moes insluit. Dus opnames wat gereeld deur radiostasies gespeel is en dié wat deurentyds weer gereeld by vertonings aangevra is. Maar ek het natuurlik ook weer ’n paar van my persoonlike gunstelinge gekies wat na my mening deur radiostasies misgekyk is. Een van hulle is "Volgende winter", wat die titelsnit van my album van 1996 was. Die pragtige verwerking van Christa is oor die hoof gesien en een van my heel beste liedjies het só nooit by die publiek bekend geword nie.
Vir sommige kunstenaars is ’n versamelalbum iets wat so nou en dan vrygestel word, vir ander is dit ’n "afskeidsgeskenk" aan die bedryf. Is laasgenoemde vir jou die geval, of het jy nog ’n paar kaarte teen die bors wat skryf, opneem en vrystel betref?
Die feit dat ek op die oomblik reeds twee nuwe vertonings aan kunstefeeste begin voorlê het, dui seker daarop dat ek nie uit eie beweging gaan ophou nie, dus beplan ek nie dat Die eggo van jou oë my swanesang sal wees nie. Ek skryf beslis minder liedjies as 20 en 30 jaar gelede, maar dit is grootliks omdat ek al hoe meer besef dat dit my voorkeur is om vir mense musiek te maak op die verhoog, en nie noodwendig my eie liedjies nie. Toe Classic FM ’n paar van my opnames vroeër vanjaar van tyd tot tyd begin speel het, het ek besef dat ek graag ’n album sou wou hê waarop my beste werk moes wees in al die genres waarin ek deur die jare musiek gemaak het. Sedert ek 10 jaar gelede, op 53, vir die eerste keer sanglesse begin neem het, sing ek beter as ooit in my lewe en my kitaarspel is nou ook stukke beter as toe ek ’n jongman was – danksy talle nuwe vertonings wat ek oor die afgelope jare aangepak het.
Buiten die talle Afrikaanse liedjies is daar ook ’n handvol Nederlandse snitte op die album. Jy het natuurlik heelwat toere in die buiteland gedoen – wou jy ooit op ’n meer permanente basis in Europa en elders as kunstenaar diens doen, of is daar iets spesifiek wat jou primêre aandag by die Afrikaans gehou het? Sou jy, terugskouend, enigiets verander aan jou benadering in hierdie opsig as jy sou kon terugreis in tyd?
Die enigste moontlikheid wat ek in ’n stadium oorweeg het, was dat ek en Christa vir ’n tyd lank in die Lae Lande sou moes gaan woon. Ons het sonder twyfel daar die lekkerste gehore gehad wanneer ons Afrikaanse of Nederlandse werk aangebied het en ek vermoed dat ons ’n goeie lewe daar sou kon maak. Ons het egter saam 25 lande besoek en in 21 daarvan musiek gemaak – hoofsaaklik in Afrikaans. Nee, ek sou dit beslis nie anders wou gehad het nie.
Jy staan natuurlik onder meer bekend as een van die kunstenaars wat die “musiek en liriek”-beweging gedryf het. Wat onthou jy van daardie era en in hoe ’n mate was dit ’n daadwerklike, opsetlike poging deur jou en ander kunstenaars om substansie te verleen aan Afrikaanse musiek, of was dit meer ’n natuurlike evolusie? Hoe beskou jy die nalatenskap van wat julle daar reggekry het – wat die onmiddellike nadraai daarvan betref en ook nou, as ’n mens na die hedendaagse Afrikaanse musieklandskap kyk?
Dit was aanvanklik natuurlike evolusie, want al die oorspronklike eksponente van die “luisterlied” was reeds vir ’n tyd – in Koos du Plessis se geval sedert die middel-sestigerjare – besig om in ’n mindere of meerdere mate met dié soort lied te eksperimenteer: wat my betref eintlik ’n laat uitvloeisel van die sestigs se “folk”-musiek. Baie van ons is so begeester deur Dylan, Simon, Cohen, Donovan, Crosby, Stills, Nash and Young en andere, dat ons maar bly streef het na iets wat ons sin vir die estetiese in Afrikaans bevredig. Nie almal het dieselfde natuurlike aanleg vir teks en musiek gehad soos Koos Doep en ’n paar ander nie, en ongelukkig het dit gou tot ’n mate gedwonge geraak.
Kultuurorganisasies en die SAUK het konferensies en spitsberade oor die luisterlied gehou – seker goed bedoel, maar nie noodwendig met goeie gevolge nie. Baie het oordadiglik na Groot verseboek gegryp en omdat ons nie ’n sterk tradisie van musiekkritiek ten opsigte van die ligte lied het nie, het sommige “liedjiemakers” met moord weggekom, terwyl ’n paar juwele nooit raakgesien is nie. Ek self het in dié tyd geleenthede gekry, en ’n klomp van my vriende ook, maar joernaliste het die hele beweging binne ’n jaar of twee as ’n “non-event” afgemaak. Sommige kommentators meen dat die “Musiek en Liriek-beweging” gehelp het om die weg vir die alternatiewes voor te berei. Wat my betref was die eerste “beweging” grootliks ’n artistieke poging, terwyl die alternatiewes ’n baie spesifieke statement wou maak. Laasgenoemde het daarvoor gesorg dat jongmense en kinders nie meer in beginsel skepties teenoor Afrikaanse musiek was soos ek in my skooljare was nie.
Gepraat van die musieklandskap deesdae: jy het nou al die bedryf en toneel sien groei en verander oor die afgelope paar dekades. Probeer jy byhou met al die verwikkelinge en nuwe gesigte op die toneel? Wat maak jou opgewonde oor wat deesdae aan die gebeur is? Wat dink jy moet eerder verdwyn? Hoe sal jy dit nog graag wil sien ontwikkel in die komende jare?
Op een manier het die toneel vir my deur die jare presies dieselde gebly: daar word ’n resep ontwerp wat “werk” en dan hardloop almal vir ’n dekade of twee in daardie selfde baan voort. Ongelukkig het daardie resep baie min met artistieke uitnemendheid te doen. As ons dit kan regkry dat resepmusiek verdwyn, sal dit vir my wonderlik wees: dat elke kunstenaar sy eie manier van skep en musiekmaak kan volg, eerder probeer om iets nuuts en anders te doen as om die volgende “Kunstenaar A” te wees. Miskien skep die kuberwêreld juis daardie moontlikheid, want winkelrakke is lankal nie meer die enigste afsetpunt nie.
Wat my betref sal dit egter nooit heeltemal gebeur nie, want ook in die kuberera is geld ’n onbetwisbare faktor, en ’n suksesresep sal altyd nageboots word. Gelukkig sal daar ook altyd die mense wees wat juis nié dit wil doen nie, wie se passie hulle dryf om vir iets anders, meer uitdagend, meer bevredigend te soek.
Jy het in jou lang loopbaan talle samewerkings gehad – onder meer is samewerkings met Lucas Maree en Coenie de Villiers ingesluit op die album. Dan was Christa Steyn natuurlik ook jare lank jou medewerker, soos jy reeds genoem het. Hoe onthou jy die verskillende prosesse wat daarmee saamgegaan het om met uiteenlopende musikante te werk? Hoe dink jy het dit geskaaf aan jou eie persepsie van jou musiek en wat jy daarmee wou regkry?
Omdat ons 25 jaar lank saam gewerk het, het Christa sonder twyfel die grootste invloed op my gehad. Deur haar talent en aanvoeling het sy vir my deure oopgemaak waardeur ek vandag steeds maklik kan stap. Ek, Lucas en Coenie kom uit dieselfde era en mense uit dieselfde era dink, funksioneer baie op dieselfde manier. Die pop-, rock- en folk-klanke uit ons jeug begeester ons op dieselfde manier en ons het oor en weer respek vir die uiteenlopende talente wat elkeen gekry het.
Sedert Christa en Lucas oorlede is, het ek egter ook al heerlik saam met ’n klomp jonger musikante gewerk – die rede daarvoor is dat ons, wat dieselfde dryfvere het, mekaar opsoek: ’n soeke na kwaliteit wat nie in tegnologie lê nie en aan kommersiële sukses gemeet kan word nie, maar in ’n passie om so naby as moontlik te kom aan iets wat die kuns werklik tot sy reg laat kom en wat aan estetiese waardes gemeet word. Die studie van teks en musiek wat in klassieke verband reeds eeue lank nagevors en bestudeer word, is gelukkig ook daar om rigting te gee aan denke en belewenis in hierdie verband: vir my is ’n lied uit die kleinkuns en die kunslied (klassieke toonsetting van gedigte) so na aan mekaar dat die twee genres van mekaar kan leer.
In jou loopbaan het jy natuurlik ’n magdom optredes en toere ingeryg. Dis waarskynlik ’n moeilike vraag, maar is daar enige spesifieke herinneringe wat as hoogtepunte opspring as jy terugdink? Enige interessante agter-die-skerms-staaltjies wat jy nie gou sal vergeet nie, of is daar enige gebeure wat jy eerder wel sal wil vergeet?
Stephan Bouwer het my aan die einde van 1986 genader om saam met Laurika Rauch in ’n “kabaretkonsert” – Stephan se benaming – op te tree. In sy kleurryke Afrikaans het Stephan die betrokke kabaretkonsert so beskryf: “Van Berlyn tot Bapsfontein is nie ’n kabaret nie, maar bevat liedjies wat goedskiks in ’n kabaret staanplek sou kon kry.” Vir die feit dat hy my bekendgestel het aan hierdie liedgenre sal ek hom altyd dankbaar bly.
Die program het in Januarie 1987 in die destydse Club ’58 in die hartjie van Hillbrow gedebuteer. Van my gunstelingliedjies, soos Jacques Brel se “Liefde van later” (een van die snitte op Die eggo van jou oë) was by die program ingesluit.
In Despatch het Laurika een aand "Die lewe is ’n grenshotel" gesing terwyl my kop in haar skoot gelê het. Ons het albei op kroegstoeltjies gesit. Die tydelike verhoog was wankelrig sonder ’n agtermuur. Ek het van die kroegstoeltjie af tot op die verhoog en verder afgeval, totdat net my twee enkels en skoene van agter die verhogie uitgesteek het en die skare het gebrul van die lag. Ek het maar my waardigheid probeer herwin en nadat ek opgestaan het, probeer om die volgende lied te sing. Ongelukkig was dit die Nederlander Ramses Shaffy se heroïese lyflied: “We zullen doorgaan” – ek het dit in Afrikaans gesing: “Ons sal maar aangaan”. Ek verkwalik die gehoor nie vir hulle reaksie nie: vir ’n volle vyf minute het die mense geskater van die lag, en ons moes geduldig wag vir kalmte voordat ons inderdaad kon “aangaan”.
Wat hou die nabye en verre toekoms vir Jannie du Toit in, in so verre jy dit kan beheer?
Soos ek ook reeds dekades gelede gesê het, sal ek maar net graag so lank as moontlik musiek wil maak – solank iemand nog wil luister en die toerusting wat ek benodig, my nog gegun word. ’n Eenmanvertoning met die musiek van Jacques Brel in Frans, Nederlands, Afrikaans en Engels is iets waarvoor ek hoop.
Wat is die sin van die lewe?
Vir my is die sin van die lewe daarin geleë dat ons die gawes wat ons gekry het, so goed as moontlik passievol, maar ook eerlik, moet uitleef en met ander moet deel.
Kommentaar
Dis 'n heerlike artikel - baie dankie Litnet. En die musieksnitte tussen-in is 'n groot bonus.
Wat 'n gemaklike en eerlike artikel - lekker om te lees en die ou gunstelinge te hoor.
Jannie waar kan ek die cd kry van waar hy sing van Geloof,Hoop en Liefde. Kan jy my asb laat weet? Dankie Maryann
Dagsê ek kon nie cd ego van jou oë by musica amamzimtoti kry nie.Help aub soek een voor einde van Julie.
Die eggo van jou oë: wie was die verruklike gryskopvrou wat so pragtig saam met jou gesing het en ook klavier gespeel het, en wie was die tjellis?