Janie Bay: “Ek leer al hoe meer!”

  • 0

Die sanger en liedskrywer Janie Bay het onlangs haar fokus na meer Afrikaanse musiek verskuif. Sy beantwoord 'n paar vrae.

Janie Bay (Foto: verskaf)

Goeiedag, Janie. Hoe’s alles?

Hi! Alles is goed, dankie dat jy vra! 🙂

Baie geluk met die groot jaar wat jy beleef – die enkelsnit “Amper daar” het geboer op die trefferlyste, en nou versprei “Die heelal” (met Early B) ook soos 'n veldbrand op die internet. Benewens dit het jy ook onlangs 'n paar pryse ingepalm, en onder meer 'n SAMA-benoeming vir die Miscellany-album ontvang. Waaraan skryf jy hierdie momentum en rits suksesse toe? Is daar 'n plan uitgewerk wat noukeurig gevolg moes word, of is dit 'n geval van inspirasie sonder brieke? Jy het in 2016 'n kontrak met Warner Music aangegaan – watter invloed het dit op jou loopbaan gehad? Wat is die lekker deel van skep en optree onder die vaandel van 'n platemaatskappy? Is daar ook meer uitdagende elemente met so 'n ooreenkoms?

Ek dink nie ek het al ooit 'n plan gevolg met my songs nie. Ek werk al baie hard die afgelope 10 jaar, nie net aan gigging nie, maar ook aan die skryfproses. Ek dink dit is maar iets wat tyd neem. En dan het ondervindings (gewoonlik die moeilikstes), musiekinvloede en inspirasie natuurlik die meeste daarmee te doen, voel ek.

Warner Music is baie goed vir my en hulle gee my die kreatiewe vryheid wat ek nodig het. Dit was vir my die belangrikste faktor as ek by 'n label sou aansluit – ons werk baie lekker saam.

Jy het al voorheen Afrikaanse liedere opgeneem en vrygestel, maar dit voel of daar nou 'n sterk fokus op Afrikaanse musiek is vir Janie Bay. Hoe sou jy die oorgang van meestal Engels na meestal Afrikaans beskryf in terme van moeilikheidsgraad (of gebrek daaraan)? Vind jy dat jy verskillende areas in jou kop en siel moet oopmaak vir Engelse en vir Afrikaanse lirieke? Dink jy daar is 'n verskil in die gehore wat 'n mens met Afrikaanse musiek bereik, in terme van optredes en ook in terme van radiospeeltyd en dies meer? Indien wel, wat dink jy is die grootste verskille?

Ek het eintlik nog altyd in Engels geskryf. Ons het meestal Engelse musiek in die huis gehoor deur ons ouers en in flieks (ek en my broer love movies al van ons kan onthou), so klankbaaninvloede was ook groot by ons. Ons musiekkennis was omtrent 90% Engels. Ek is ongelooflik dankbaar vir my ouens dat hulle ons blootgestel het aan van die beste musiek in die wêreld, van 'n jong ouderdom af. So die oorgang na Afrikaans was en is baie anders. Om te dink en om te skryf in Afrikaans het tyd geneem, maar ek moet sê, Hunter Kennedy het my al so baie geleer, net deur ons samewerking. Hy is 'n fenomenale skrywer en ek dink ons werk baie goed saam.

Daar is definitief 'n verskil. Afrikaners is baie ondersteunend. Ek kom agter die mense wat my Afrikaanse liedjies ondersteun, is oor die algemeen jonger.

Ek probeer dit altyd lekker vars hou, steeds met my eie klank, maar ek luister na wat in die res van die wêreld aangaan en produce my liedjies volgens dit, but still following my gut.

Die vervaardiging op jou opnames is van 'n baie hoë standaard, en ook lekker divers – 'n mens kry 'n totaal ander gevoel op byvoorbeeld “Die heelal”, met sterk beat-gedrewe elektronika, as op die meer akoesties-geïnspireerde “Koning”. Ek wonder oor jou skryfproses, en hoe dit van die eerste akkoorde en lirieke groei tot die uiteindelike produk. Het jy gewoonlik van vroeg af ‘n idee van hoe ‘n lied uiteindelik sal klink, of is dit 'n geval van trial and error in die ateljee, of agter die rekenaar? Verkies jy om met 'n klavier of 'n kitaar te begin en van daar af te verken, of is dit meer doeltreffend-produktief om van die voltooide beats af 'n melodie en lirieke te skep? En ook: Hoe besluit jy watter soort inslag saam met watter lied sal werk? Wanneer weet jy dat 'n lied klaar en gereed is?

Ek dink elke song is maar anders. Ek het die afgelope twee jaar of so meer begin self skryf – pre-produce by die huis voor my rekenaar. Dis 'n leerskool, maar ek dink ek leer relatief vinnig. Ek skryf nog steeds op my kitaar, maar programmering maak mens se skryfwêreld soveel meer oop. Wanneer ek begin met 'n beat of sound, weet ek gewoonlik redelik gou waarheen ek gaan met die liedjie.

Ek haat boksies, so ek gaan altyd kyk na die individuele song en wat dit nodig het en wat die beste sal wees vir die liedjie. Een song gaan dalk net kitaar en vocals wees, 'n ander baie dancy of so en ek love dit so. Ek begin altyd als van scratch af en ek het nog altyd self geskryf, maar met die laaste paar liedjies het ek hulp gekry van Hunter. Met “Die heelal” het ek die skryf en pre-production by die huis gedoen van die musiek, en ek en Hunter het van my lirieke gevat wat ek klaar gehad het, en die song begin skryf en vorm gee. Ek het ook die meeste van die arrangement self gedoen – ek het 'n baie goeie idee gehad van wat ek wil hê. Fred den Hartog en Dane Taylor het my 'n bietjie gehelp met percussion, want dit is nie noodwendig my sterkste punt nie, maar ek leer al hoe meer!

Jy het 'n magdom collaborations agter die blad – te veel om te noem, maar ek moet bieg dat ek 'n gunsteling het: jou cover van “It ain’t me, babe” saam met Francois van Coke. Dis nou nie 'n amptelike collab-opname nie, maar dammit, ek’t hom al baie geluister vandat dit in 2012 op YouTube geplaas is. Watter collabs – lank beplan of spontaan aanmekaargesit – staan vir jou uit as hoogtepunte? Watter hiervan het op die ou end totaal anders uitgedraai as wat jy verwag het? Wat is vir jou die belangrikste element van sulke collabs, in terme van hoe 'n mens aan mekaar skaaf en mekaar uitdaag, en watter onverwagse, lekker oomblikke het al in dié samewerkings opgeduik?

Elkeen is vir my so spesiaal en ek is regtig dankbaar vir elkeen. “Veilig” saam met Jack Parow dink ek is natuurlik 'n groot een, want dit het my soort van bekend gestel aan die Afrikaanse bedryf. En met elke collab sover het ons almal ‘n goeie idee gehad waarheen die song gaan.

Dis 'n baie spesiale proses vir my. Mens maak amazing connections met mense, mens leer ongelooflik baie. Soms skaaf mens en dit kan soms moeilik wees, maar dis seker maar soos ‘n race? Jy begin sterk en dan in die middel rond raak mens soms moeg en gefrustreerd en dan eindig mens weer gelukkig en sterk en mens bou verhoudinge.

Ek dink die belangrikste is maar net om mekaar se idees altyd te hoor en die idees te gebruik waaroor almal sterk voel en om dié wat regtig nie lekker werk nie, al is dit jou eies, te toss en dit nie persoonlik op te neem nie.

Jy en jou broer, Theunis, het vir lank as 'n akoestiese duo opgetree, onder die naam Janie & The Beard. Hoe het julle besluit om saam die verhoë te takel, en waarom het dit tot 'n einde gekom? Werk hy nog steeds saam met jou aan die nuwe musiek, of het julle in verskillende rigtings beweeg? Watter tipe uitdagings ervaar 'n mens as jy as broer en suster toer en optree? Die verskille en argumente is sekerlik anders as in ‘n “gewone” band ... Ek sien wel julle praat op Facebook van moontlike reünie-optredes? Is dit nog in die pyplyn? Wat mis jy die meeste omtrent hierdie spesifieke soort samewerking?

Ek dink dit was maar baie natuurlik vir ons. Ons het nog al die jare in verskillende projekte saam gespeel, plus ons is siblings en al twee musikaal, so we just get each other. Ek is nou al amper ses jaar in Pretoria, en ek stuur nog altyd vir hom mixes en masters om na te luister (silent partner, I suppose), maar hy is wel nou 'n web developer/coder en hy is getroud en het 'n tweejarige dogtertjie.

Ons toere was altyd amazing! Ons is baie close en verstaan mekaar en het nooit regtig baklei nie. Ons neem mekaar se harte in ag en wil ons net hê die ander een moet gelukkig wees. Dalk doen ons weer in 2020 'n toertjie saam.

Wat die lirieke betref: Jy noem in 'n persverklaring dat “Die heelal” 'n “baie diep song op 'n bed of beats” is. Hoe beskou jy die balans tussen substansie en toeganklikheid wat jou lirieke betref? Is dit iets wat jy in gedagte hou terwyl jy skryf en herskryf, of steur jy jou nie eintlik daaraan nie? Daar’s baie ongewone kinkels in jou lirieke – ek dink byvoorbeeld aan “Koning”: “Al breek jy elke hart onder die son / Al is jou foute moeilik om te voorkom / Maak nie saak wat jy doen nie / Jy bly 'n koning in my oë.” Daar’s iets donker wat skuil onder die opgewekte melodie en woordkeuses, amper soos 'n mens vind in Springsteen se “I’m on fire”. Verder duik temas van verlore liefde, afstand en misverstande dikwels in jou liedere op. Voel jy dat 'n mens deur 'n spesifieke geval van hartgebrokenheid moet gaan om 'n spesifieke lied te kan skryf, of hoe absorbeer jy die gebeure rondom jou, die stories en struwelinge van vriende of familie, om dit dan in 'n lied te omskep? Is daar 'n mate van unieke verantwoordelikheid wanneer 'n mens dan as’t ware met iemand anders se pyn smous?

Ek probeer altyd so real as moontlik wees met my lirieke en stories in ‘n liedjie. Dis regtig belangrik vir my om mense se harte te raak. Om 'n sekere gevoel oor te dra is ook net so belangrik vir my. Ek is blykbaar 'n “empath”, so experiences wat ander mense deurgaan voel ek verskriklik intens en selfs in my eie lewe. Ek dink dit help met die skryfproses, en ek dink ook ek besit 'n sekere understanding of grace teenoor ander mense se lewens en situasies.

Niemand is perfek nie. Almal maak foute, so ons kan en mag eenvoudig nie judge nie. So, soos jy sê, ek “absorbeer” letterlik energie en vibes van mense rondom my, so ek voel dit is 'n blessing, want dit gee my die vermoë om dit te kan verwerk in my musiek en lirieke.

Jy is al vir jare deel van die plaaslike musieklandskap. Enige spesifieke toere of gigs wat vir jou uitstaan as hoogtepunte? Is daar vreemde agter-die-skerms-stories wat jy nie sommer sal vergeet nie? Of dalk een of twee wat jy wel eerder sal wil vergeet?

Lekkerland Festival hierdie jaar was 'n hoogtepunt vir my. Ek sit als in by elke show, maar daai show het ek gevoel asof dit dalk my heel laaste een ook kan wees en ek het regtig 'n special performance gehad daai dag. Baie goeie vibes. En ek probeer nou dink aan iets uiters ongewoon, maar nee, ek kan regtig nou aan niks dink wat baie weird was nie. Ek glo maar vas als gebeur vir 'n rede.

Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Janie Bay, in soverre jy dit kan beheer?

Ek hoop ek kan 'n Afrikaanse album of EP vroeg volgende jaar uitreik.

Wat is die sin van die lewe?

Om ander te help, maar nog steeds jou eie perke te kan behou, sodat jy nie self breek in die proses nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top