Foto: Chris Barnard se privaat fotoversameling; met toestemming geplaas |
|
Sêgoed van Jan Spies “Als wat ek nog in my lewe gedoen het, het ek vir Afrikaans gedoen.” (Beeld, 19 September 1987) “Die Afrikanerkultuur is in sy wese nie ’n verfynde kultuur nie. Hy’t ’n element van boersheid of boertigheid, van realisme, aardgebondenheid. Hy is nie ’n soort jellie-en-custard kultuur nie, ’n ding waarin alles net fyntjies is nie. Waarméé ek nie sê dat daar nie ook ’n groot element van die fyne in ons is nie. Maar die skaal waarbinne ons ons bevind, strek van die opera af tot by Boesmanland en die dinge suur oor en weer in op mekaar. Ons kry ten minste die pap en die jellie bymekaar. Dalk deurmekaar, soms.” (Beeld, 19 September 1987) “Ek was nooit ’n apartheidsdogmatis nie. Ek was ’n rebel. Maar ek was nooit op so ’n manier ’n rebel gewees lat my anner vriende van wie ek verskil het, my as ’n verraaier beskou het nie. Ek het nie politieke vyande nie, en elke ou weet hoe ek voel.” (Beeld, 19 September 1987) “My droom vir die toekoms is almal s’n. ’n Vreedsame bestaan waar daar vir almal plek is. Waarin ons ’n grootse subkontinent geskep kan kry. ’n Afrika met ons daarby – waarin Europa met sy vernuf en insigte die spontaneïteit van Afrika ontmoet, is iets geweldigs.” (Beeld, 19 September 1987) “Ons moet ruimte maak vir hierdie ruime belewing van die werklikheid. Die doodsklok lui as een element oor die ander oorheers. As kultuur net opera en operette is of net ’n donkiekar, pik en graaf moet wees, is dit verby met ons. As ek nou verwaand kan wees: Watter ander Westerse kultuur kan ’n wyer voedingsbodem as dit hê? Al sou hy ook ’n woordeskat hê wat jy op ’n rekenaar moet sit, gaan dit sy geestelike lewe niks baat as hy dit nie die substansie gee van die volk en die werklikheid nie. Die Afrikaner is nie klein nie – hy is groot.” (Beeld, 19 September 1987) “Maar alle kritiek op ’n mens het nie vir jou in jou lewe betekenis nie. Die kritikus vel eintlik ’n oordeel oor homself, en dan lag jy oor die stuk selfmoord wat die man daar aan’t pleë is.” (Die Burger, 5 September 1987) “Ek het besef: as ek iets te sê had, sal dit moet kom uit die wêreld waar ek grootgeword het. Daar waar ek my wortels in die grond het, daar moet ek die watertjie opsuig. Ek het nie ander grond nie en ek het ook nie ander water nie.” (Die Burger, 5 September 1987) “’n Geskrewe en ’n vertelde storie is in sekere opsigte, afhangend ook van die storie, twee stories. Die een is nie presies ’n dubbelganger van die ander nie. Jy kan ’n ding vertel en hy werk wonderlik. As jy hom net so transkribeer, kan hy baie aaklig misluk as jy maar net dit wat jy kan sê sonder meer so op skrif sit en dink jy het nou klaar.” [Bron en datum onbekend] “Ek is ’n skrywer vir sover as wat ek gedigte skryf en liedjies skryf en hier en daar miskien ’n stukkie sensitiewe prosa. Verder is ek ’n verteller. En wanneer ek as mondelinge verteller oorgaan tot skryf, dan skryf ek met die woord op die oor af, op die gesproke taal sover moontlik.” [Bron en datum onbekend] “Ek skryf ’n storie soos wat ek hom sou wou hoor en hom dan geniet. En as ’n mens die algemeen menslike in jouself tref, tref jy, reken ek, die algemeen menslike in elke ander mens.” [Bron en datum onbekend] “Binne-in ’n liegstorie kan ’n helse waarheid sit, terwyl ’n waar storie uiters oppervlakkig kan wees sonder ’n waarheid. ’n Waar storie is waar in die sin dat dit op ’n gebeurtenis teruggaan, maar dit dra verder niks.” [Bron en datum onbekend] “Iets vra om uit die barre kaalheid van die woestyn geskryf te word.” [Bron en datum onbekend] “Dis nou die ding tussen my en die Namib. Die droogte wat my hier ingedruk het, het vir my ’n nuwe dimensie gebring, ’n sinvolle toevoeging tot my lewe.” [Bron en datum onbekend] “Die man wat nie interessant praat nie, het nie ore wat luister nie.” (Beeld, 19 September 1987) “Kyk, ek wil in my lewe net een roman skrywe, en dan wil ek hê darie roman moet vir alle tyd staan. Aan darie roman sal ek werk tot ek dood is of tot hy klaar is …” (Die Burger, 5 September 1987) “Met geen storie wil ek opsluit iets sê nie. Dit gaat oor die storie en die taal en wat die stórie sê. Ek het niks te sê nie. As jy ’n storie in die hanne kry, dan siet jy darem die storie wil dít sê of dát sê. Sy doel lê in homself.” (Die Burger, 5 September 1987 “Wanneer ’n ou vir my sy storie vertel, dan is dit baie selle dat die storie my interesseer; terwyl hy sy storie vertel, laat val hy hier laans die pad ’n anner ding en dan sien ek maar hiér lê ’n nuwe storie en dan gryp ek darie ding. Ek maak daarvan my eie storie.” (Die Burger, 5 September 1987) Na aanleiding van die moord wat Hendrik Witbooi op 10 Oktober 1904 op Swartmodder naby Mariental op ’n groep Afrikaanse trekkers gepleeg het: “In hierdie land kan ons nie skiet nie, ons moet skryf / sodat daar ’n inkspoor op is uit die nood.” (Rapport, 25 Mei 1975) |
Gebore en getoë
Johannes Petrus (Jan) Spies is op 30 Julie 1936 op die plaas Sekretarispan, in die destydse distrik Rehoboth, gebore. Vandag is dit in die distrik Mariental. Hy was die oudste van drie kinders – die jongste twee is dogters. Sy pa was van Standerton en sy ma van Willowmore.
Hy het die laerskool op Stampriet tot standerd vier bygewoon, waarna hy in Windhoek skoolgegaan het. Sy ma was ook in hierdie skooltjie nadat hulle na die destydse Suidwes-Afrika verhuis het.
Jan het aan Elsa Krüger (Beeld, 19 September 1987) vertel dat armoede daardie jare hoogty gevier het in Namibië. Die mense wat soontoe getrek het, was dié wat dit nie in Suid-Afrika kon maak nie. “Nou kom die nuwe stuk land daar oop wat generaal Botha gaan vat het. Mens kon daar koop destyds vir een en ’n sikspens ’n hektaar. Toe het die staat die setlaarskema ingestel waar jy met ’n klein deposito – soms was die deposito net ’n goeie naam gewees – eers graslisensie op ’n plaas kry en dan het jy dertig jaar om die grond te betaal. Maar goed, arm mense trek in groter armoede in.
“Die idee het ontstaan van ’n landbouskool om kinders wat wil gaan boer, op te lei. Toe maak hulle ’n burgerskool op Stampriet. Daar het ons gemaak standerd ses. Daar het jy twee jaar landbou-opleiding gehad. Jy was van Sub A tot standerd 6 vir ’n maand ’n skaapboer, dan vir ’n maand ’n beesboer en dan vir ’n maand ’n tuinier. [...] Ek het met ander woorde van Sub A af my kos met my eie hande verdien.
“Nou die boerdery. Ek’t mos nou as boerkind jy kan sê aangekom en grootgeword. Ek het van die hele blêddie lotjie ewe min gehou. Vakansietye het jy in elk geval moes lammerooie oppas en wat ook al. Dit was nie ’n aardigheid nie. Waarvoor moet jy dit in die skool ook nog loop doen. In die skool sou ek liewerster wou gesit en leer het. Ons het so ’n ou hongerte gehad vir ’n boek. Ag, heerlikheid. Daar was mos ook nie eintlik ’n ding soos ’n biblioteek nie. En so een maal, twee maal in die week, dan het die onderwysers pos gekry en party van hulle het darem Die Burger gekry. Of die ou Volkstem. En as hulle hom nou klaar gelees het, dan’s hy in die koshuis in onder die kinders.”
Volgens Jan het hy sy manier van praat as kind by hulle bure, die Voges’e, wat van Namakwaland af gekom het, gekry. “Dárie mense kon nou vertel, kon nou gesels!” het hy aan André le Roux (Die Burger, 5 September 1987) vertel. “En ek was as kind ’n tanneteller; die anner kinders speel, da’ sit ek innie geselskap. Ek was ’n vreeslike lomp kind. Ek’t ’n liesbreuk gehad en ek mag nooit gespeel het nie; ek mag nie boom geklim het nie – tot ek so vyf jaar oud was, het ek ’n breukband gedra met ander woorde ek het nooit leer handig en voetig word nie. Ek ís handig en ek is voetig, maar ek is nie die twee bymekaar nie.
“Die soort sport waaraan ek kon deelneem, is dié waarin daar ’n vernuf bykom, soos skyfskiet byvôrbeeld. Ons behoort mos darem nou aan ’n rugbyspelende volkie. Die ou wat nie rugby speel nie, is nie heeltemal die man nie, en ek kon nie rugby speel met my breuk nie, en met my oë; ek het sukke swak oë. Ek kon nooit die bleddie bal sien nie. Ek het my liewer besig gehou met skilder, met lees en met sulke soort van goed.” Jan het ses jaar opleiding vir skilder op skool gehad. “Ek’s vandag nog met die skillerkuns besig, ek skiller net nie ...”
Jan het in 1955 aan die Hoërskool Windhoek gematrikuleer. Hy het sy aanstaande vrou, Beatrice, in standerd agt ontmoet, waar die kys begin het.
Verdere studies en werk
Jan het aan die Universiteit van Pretoria vir predikant gaan studeer. “Ek wou predikant word. Waarvoor ek vandag baie dankbaar is. Want dit het my uitgebring by die klassieke. Die Grieke, die Romeine, die Jode. En met die studie van die ou geskiedenis van die antieke tyd, nie net die klassieke nie, ook die Nabye Ooste. Ek het baie swak gevaar met Grieks, Latyns en Hebreeus. Want ek het wragtag tot vandag nie die sin daarvan kon sien om jou te sit en morsdood werk aan verbuigings en vervoegings terwyl jy die hele bleddie kultuur sit en misloop nie. Van toe af tot vandag het ek bly lees.”
Reeds gedurende sy studentejare het sy talente geblyk: hy was onder meer redakteur van Die Perdeby, Tukkies se studenteblad, en lid van die studenteraad. As landskapskilder het hy die eerste prys behaal op ’n ASB-Kunsfees en as redenaar is die Wolnittrofee in 1961 aan hom toegeken.
Om die pot aan die kook te hou, met twee susters wat nog moes leer, het hy in die studentekafee op die kampus gewerk. “Ek sal in my lewe nooit weer in ’n kafee werk nie. Dit moet met my baie sleg gaan en ek sal die straat vee, enige ding,” het Jan aan Elsa Krüger vertel. Hy is toe aangestel as studente-assistent by Tuks, met die reuse-bedrag van R50 vir ’n salaris. Daarna het hy vir anderhalf jaar by die Departement van Mynwese gaan werk.
Sy liefde vir die Afrikaanse letterkunde en skryfkuns het hom egter vasgedraai. “Ek’t toe nou gesien die predikant-word-storie gaan nie baie lekker deug nie, en my hart het maar gelê by Afrikaans, die skryfkuns en die letterkunde. Ook by die filosofie.” Hy het sy honneursgraad in Afrikaans behaal en later ook sy MA in 1962 met ’n verhandeling getiteld ’n Stilistiese analise van “Ringdans van die hamerkoppe” van DJ Opperman. Na sy honneurs het Jan hom by die Transvaalse Onderwysdepartement as onderwyser geregistreer. ’n Onderwyspos in Pretoria was sy mikpunt, sodat hy verder kon studeer.
Hy en Beatrice is in 1961 getroud, en twee seuns, Barend en Willem, is uit die huwelik gebore. ’n Roudiens vir Jan is na sy afsterwe in 1996 in dieselfde kerk gehou waar hulle getroud is.
In 1963 is hy aangestel as lektor aan die Indiër-Onderwyserskollege in Johannesburg waar hy tot 1970 betrokke was. Jan het vertel: “En toe op ’n môre bel ’n kêrel met die naam van Sondag my en hy bied my ’n lektoraat aan by die Indiër-Onderwyskollege in Johannesburg. Dié se naam was destyds Transvaal Training Institute for Indian Teachers. Wonderlik watse lang name ons vir dinge kan gee. Sulke lang name lat jy later ’n koevert nodig het so groot soos ’n wolsak om dit op te skryf. Nou moet jy onthou, ek was kastig liberaal darie jare. Maar dit was vir my darem ook ’n bietjie dik vir ’n daalder. Maar dit was doodgaan van die honger of die werk vat.”
En so het hy hom toe op 24 April 1963 in Fordsburg bevind. “Darie môre het ek gevoel na vlug. Dis mis, rook, dis donker, dit reën, dit sous. Ek het sopnat gereën terwyl ek wag vir die bus. Maar dié dag groet ek sowat ’n 150 Indiërs met die hand. Ek ek kom niks oor nie. Na ’n maand het ek geweet ek’t gekom om te bly. Van die gelukkigste jare van my lewe het ek onder die Indiërs deurgebring.”
Maar daar het hy ook dure lesse geleer. “Ek kom van Tukkies aan by die Indiër-onderwyskollege as ’n man wat op Pretoria nie ’n apartheidsondersteuner was nie. Ek sou nou gereken het hierdie mense gaan my bona fides aanvaar. Toe gebeur die snaakse ding. Die Indiérs aanvaar my bona fides maar nie die Witsies nie. Toe steek hulle darie studente teen my op. Nietemin, toe het ek die bitter druppel in die beker gehad lat jou liberale Engelse wêreld jou bona fides nie aanvaar nie op grond daarvan dat jy ’n Afrikaner is. Die sogenaamde liberal minded people het die minste toleransie waaraan jy maar kan dink. As jy nou ’n verkrampte dôner wil hê, dan’s dit ’n sogenaamde liberalis. You are free te agree.
“En dit was vir my ’n baie goeie les gewees. Ek het geweet ’n man moet dit reg kan kry om alleen te staan en te doen wat jy dink reg is. Jy kan nie teen jou eie mense gaan en dink jy kry by anner mense vriendskap nie. Ek het darie jare by die Indiërkollege gesien, nee, as jy regs slaan, moet jy dadelik omvlie om die klomp honde weg te slaan wat jou uit vrindelikheid uit wil van jou gatkant af natlek.”
Na al die jare by die Indiërkollege het hy stadigaan begin voel hy wil terug na sy mense. “Ek het gevoel ek moet weer loop asemhaal tussen die Afrikaners. En in dié tyd het RAU [Randse Afrikaanse Universiteit] tot stand gekom. En toe reeds het ons ’n nuwe Afrikaner-fase gehad. Toe ek by RAU kom, onder leiding van prof Gerrit Viljoen, toe kom stap ek binne-in ’n oop Afrikanergemeenskap, ’n wêreld met oop benadering. En ek voel ek kom tuis. By die RAU kon ek sê wat ek wou, en my reg om dit te sê, is eerbiedig en beskerm. Nie dat ek lelike goed kom sê het nie, maar magtag man, dit was glad en geheel nie ’n Boereklooster gewees nie. Dit was ’n ding waar ’n mens ter wille van Afrikaans en die Afrikaner kon asemhaal.”
Intussen het hy sy HOD aan die Johannesburg College of Education (JCE) verwerf. In Januarie 1970 het hy lektor by RAU geword en na sy doktorsgraad in 1974 ook senior lektor. Die titel van sy proefskrif was Die motiewe van ondergang en verlossing in die poësie van DJ Opperman.
In Oktober 1976 het Jan die Maria van Riebeeck-Klub in Johannesburg toegespreek oor sensuur. Jan het dit duidelik gestel dat hy sterk teen die destydse sensuurstelsel gekant was. Dit het egter nie beteken dat die land oorstroom moet word deur vuil boeke van oorsee nie, maar dat daar ’n onderskeid getref moet word tussen gemors en ’n ernstige poging om iets leliks oop te vlek. Hy het veral daarteen beswaar dat die “onetiese wet” aan die deskundiges wat aangestel word omdat hul opvoedkundige kwalifikasies en kundigheid hulle geskik maak om ’n goeie oordeel oor ’n boek te vel, tog nog voorskryf hóé hulle moet oordeel. As sekere dinge in ’n boek of deel van ’n boek voorkom, moet dit summier volgens die wet verbied word. “Wie bepaal wat die openbare sedes is?” Hy het sy toespraak as volg afgesluit: “Ons is besig om ’n drastiese ding te doen. Ons is besig om die volk teen die kuns te beskerm, maar ons laat na om die kinders teen die volk te beskerm. Die gevolg is ’n geslag wat sal kom wat baie armer aan die kuns is.”
In Junie 1977 het hy uit die diens van RAU getree “en toe’t ek hier gesit en my mouterkarre ge-ouverhôl.” Nadat hy die Monitor-stories begin vertel het, het hy gevoel dat hy ’n stuk openbare besit geword het. Dit was net nie vir hom moontlik om sy akademiese werk, skryfwerk en vir die universiteit na buite alles tegelyk te doen nie. “Daardie taaljaar van ’75 het ek 64 optredes gehad. By allie ander werk. Dis nie moontlik om so te bestaan en gehalte te handhaaf nie. Toe ek op is Suidwes toe, toe’s daar die breekspul by die Turnhalle en Dirk Mudge stig die Demokratiese Turnhalle-Alliansie. Mudge sê toe vir my: ‘Kyk, kom nou terug en begin vir my ’n koerant. Help dat ons eers die VVO-verkiesing wen en dan kan jy later gaan boer.’ En so begin ek toe vir hom die koerant genaamd Die Republikein.” Jan is later aangestel as direkteur van die Republikeinse Pers in Windhoek.
Hy het begin stories vertel op die oggend-radioprogram Monitor en dit was die begin van ’n storievertel-loopbaan wat Jan deur die hele Suid-Afrika en Namibië geliefd gemaak het. Oor die begin op Monitor het Jan verduidelik aan André le Roux: “’n Storie kon ek nie self maak om die dooie dood nie; ek was totaal bleddie dom. Toe ná jare het Morkel van Tonder my op aanbeveling of onder dwang van sekere van my kollegas by die Universiteit (RAU) aangekrap om vir hom op Monitor stories te vertel. Toe sê ek ek sal ’n paar goed skryf, maar jy moet ’n anner man kry om te vertel, want ek het nie die stem nie, toe sê hy nee: jóú stem.
“Só maak ek toe vier goed waarvan die laaste storie in Pille vir servette nou die eerste een was wat ek uitgesaai het, die gedeelte oor die donkie met die springbok. En Morkel het gesê maak nog, ek ken ’n wenner as ek hom sien. Ek móés stories maak en toe’t die ding gebeur lat ek agtergekom het hoe maak jy ’n storie en vandag is dit nou nie ’n probleem nie.”
Etlike bundels met sy vertellings is gepubliseer en benewens die radiovertellings het die televisieprogram Spies en Plessié ... met permissie saam met PG du Plessis sy roem as storieverteller bevestig.
Oor die storievertellery se agtergrond het Jan aan Elsa Krüger vertel: “As jy nou na die agtergrond van die storiebesigheid moet gaan, die wêreld waar ek grootgeword het, in Suidwes. Met al sy eenvoud en armoede was hy toentertyd ’n wêreld van die praat en die gesels. En dit was harde wêreld. Om die verskil in wêrelde aan te dui: As ek nou stad toe ry, ’n draai maak en terugkom, wat kan ek jou dan vertel? Van robotte en motors dalk. Maar dis nie vertel nie, dis herhaal.
“Maar veronderstel ek ry nou op die plaas met ’n perd of met ’n donkie soos in darie dae, jy word dors, jy word moeg. En terwyl jy nog so ry, toe skrik die bleddie donkie vir ’n korhaan wat opvlieg en op nerf na val jy as jy nie geval het nie. Indien jy geval het, is dit wonderlike geselskap waarmee jy by die huis kan kom. Jy ry, jy’t gesien daar lê ’n klomp nuwe jakkalsspore, dis ’n m..rse ellende wat al weer hier op die plaas ingetrek het. Jy sien aasvoëls draai daar diekant ... Ja, as jy dan vir ’n uur of twee van die huis af weg is, het jy nuus. Die val van die donkie af, dis ’n gebeurtenis wat met smaak vertel kan word.
“Ek het daar in die wêreld gesit waarin vertel en gesels en oorvertel een van die basiese dinge in die bestaan, deel van die kultuur was. En wás daar mense wat kon vertel ...”
Van die stories wat Jan vertel het, was ’n derde wat aan hom oorvertel is, ’n derde het hy self beleef en ’n derde het hy uitgedink. Waar hy hom ook al gedraai het, het mense kom vra wat van ’n storietjie. “Wat my die vermoede darem gee dat die mense basies in stories geïnteresseerd is. En die Afrikaanse wêreld in besonder. Kyk dan nou in Spies en Plessié watse heerlike storievertellers het ons nou al voor die kamera gehad.” (Aan Elsa Krüger)
Jan se vertelstyl het baie opvallend geword, maar hy het nie doelbewus daaraan gewerk nie. “As ek aan ’n styl werk,” het hy aan André le Roux verduidelik, “werk ek aan ’n styl wat ek self het vanuit my grootword hierso en vanuit diemense wat ook maar hier grootgeword het. Ek praat altyd met my een oor op darie mense by wie ek leer praat het.” (Die Burger, 5 September 1987)
Sy stem is nog opvallender, outentiek soos min, en hy erken in antwoord op baie se vraag of hy werklik praat soos hy praat. Dis so, maar hy oordryf wel ’n bietjie. “Kyk, ek weet tog mos nou wat mense wil hoor en as ’n mens wil slaag dan móét jy praat op die oor af. Maar dit is nie ’n gedienstigheid nie. Dis omdat ’n manier van praat, ’n manier van wees, aanklank vind by mense omdat hulle ook maar so is. As ek dus sê ek sit ’n effe aan, dan probeer ek aansit tot by wat algemeen uniek is, nie wat persoonlik uniek is nie. Ek dink dit is ’n gekonsentreerde gebruikmaak van alles wat ’n mens het. Die een is wat jy is, die ander hoe jy praat en dan so met die een oor op die ou karakters tussen wie ek grootgeword het.” (Die Burger, 5 September 1987)
Die meeste van Jan se stories het ontstaan op Swartberg in ’n huis wat dien as plaaswinkel en voerskuur en so deurmekaar was soos sy koerantkantoor in Windhoek, het hy aan Le Roux vertel. “Daar het boeke en ’n sak houtskool gelê, en nog baie ander goed en ’n koffiefles op die lessenaar, met ’n bakkie Kriemôra, glo dit as jy wil! In die plaashuis was dit nóg huisliker met die ghekko’s teen die mure vir die vlieë en muskiete. En as jy hande gewas het, het jy die kraan net laat drup, want die boorman se boor was stukkend en die water was min. Daar was weer ’n lam aan ’t vrek en die springhase verniel die veld en die jakkalse lê snags op loer, waarvan daar so ’n duisend op die plaas kom intrek het, die wetters.”
Jan het vir André le Roux gewys waar hy naweke geskryf het op ’n oop kolletjie op die hoek van ’n muurkas by die badkamerdeur: hy het geloop van kas tot voordeur, die nag ingekyk, teruggeloop en ’n reël geskryf. Op en af het hy geloop, gedink. Op die werf gekyk na die sterre deur ’n teleskoop wat later in die slaapkamer gestaan het terwyl die wêreld stiller was as die dood, so tussen die melkbosse en noeniebosse en daardie bloustormbos wat toe net begin blom het. “Naweke is ek ’n oermens. Jan Spies die storieverteller is mos ’n heel anner mens as die een wat ons hoor praat – het mos die hele spulletjie in dieselfde karkas.”
En wanneer hy die kilometers van die plaas terug Windhoek toe gevat het, het hy op die motor se stuurwiel liedjies en gedigte en stories geskryf en die stories hardop vir homself gesit en vertel. En partykeer het hy só gelag vir darie karakters. “Baie nagte in die huis het dit al gebeure lat ek aan’t lag raak, dan lag ek my vrou wakker, dan sê sy, wat is dit nou met jou, dan sê ek, man, wee’ jy, ek het nou gedink aan darie ou in die storie. Kyk, as ek nou vir hom lag – ek lag tog nie vir niks nie man – dan weet ek nou werk die ding!”
In 1975 is Jan se digbundel Voetvolk 1960–1970 deur Tafelberg Uitgewers gepubliseer. André P Brink begin sy resensie in Rapport van 27 Julie 1975 as volg: “Hoe laat ’n mens in ’n vinnige resensie reg geskied aan die verskeidenheid, geladenheid, spel en skerpsinnigheid van ’n bundel soos Jan Spies se Voetvolk? Dit is hoogstens moontlik om ’n paar motiewe aan te dui: motiewe wat binne ’n merkwaardig heg sluitende geheel optree, veranker in verse van epigrammatiese geslyptheid, ’n nuwe klipwerk-spel, ’n nuwe dolosgooiery, ’n nuwe virtuose speel-op-die-flottina, ’n nuwe kô-lat-ons-sing. Want dit is stellig uit hierdie voorgangers – die Van Wyk Louw van Klipwerk, die Opperman van kwatryne, dolosse, Jorik en Brakfontein, Adam Small en Boerneef – dat mens Voetvolk die geredelikste kan benader.
“Maar dan ook net benader: want dit is geen afgeleide kuns dié nie, en ook geen voortdig op ander se trant nie: soms is dit bewuste terugkeer na vroeër gedigte van Louw of ander, om hulle wéér te deurdink en te deurspeel, te bevestig of te relativeer; meestal is dit ’n heeltemal nuwe generasie voetvolk wat hier oor die duine trek. [...]
“Jan Spies se bundel is merkwaardig in dié opsig dat dit doelbewus en berekend die gemoedelike, die lokale en die realistiese as beginpunt ontgin – en dan daarvandáán ’n blywende, intens ernstige, byna metafisiese kompleks van vraagstukke verken. Dit is nie maar versies nie, maar gedigte van betekenis; dié voetvolk loop in ’n gedugte falanks in die leër van ons jonger poësie.”
In sy resensie in Oggendblad (31 Julie 1975) het Abraham de Vries geskryf dat Voetvolk gereken kan word tot een van die rykste digbundels van die sewentigerjare tot op daardie stadium. “Voetvolk sluit oënskynlik aan by die tradisie van ‘volksverse’ – trouens ook bewustelik oënskynlik, want daar is duidelike verwysings na Van Wyk Louw se Klipwerk en Boerneef se bundels.
“Dié inskakeling by ’n tradisie is terselfdertyd ’n bietjie oëverblindery, want ondanks die raakpunte – spel met woorde, spel met skryfwyse, erotiese skalksheid, neologismes, ensovoorts – loop Spies se Voetvolk ’n wyer draai as wat tot nou toe in dié tradisie gebeur het, praat ook in ’n soort Boerse robuustheid ’n bietjie harder met die lesers as selfs Boerneef in sy latere bundels. Die verse – sommige taamlik kort – is in verskillende afdelings gegroepeer, hoewel dan van mekaar geskei deur asteriske. [...] [Dit] is duidelik dat die saamgroeperings ’n bewustelike en meesal fyn manier is waarop die bundel gekomponeer is. [...] Miskien kan ’n mens hier en daar kapsie maak teen ’n té verstandelike vers of teen ’n oorlading van die woord, maar dis eintlik sulke kleinighede dat dit na vitterigheid sou lyk om aandag te vra daarvoor. Hoe moet ’n mens Voetvolk meet aan die ander bundels van ’70 wat al verskyn het? Daar is skaars ’n vergelyking te tref. Dit geld nie net gehalte nie, maar ook sóórt.”
Hein Swart (Die Burger, 27Junie 1975) was van mening dat Voetvolk ’n besondere mengsel van gedigte bevat wat met die eerste lees nie dadelik opval nie. “Met die herlees daarvan word dit egter algaande duidelik dat ons hier te doen het met ’n digter wat presies weet wat hy wil sê en weet hoe om dit te doen.” Volgens Swart lewer dit ’n waardevolle bydrae tot die Afrikaanse poësie. Dit is ongelyk, maar die goeie gedigte wat wel in die bundel voorkom, vergoed in ’n groot mate vir die ongelykheid. “Voetvolk is ’n bundel wat die leser aan die dink sit. En dié Suid-Afrikaner wat nie daardeur geroer word nie, staan ongevoelig teenoor alles wat kosbaar en edel vir hierdie land van ons is.”
Volgens TT Cloete is ’n robuuste, ongekompromitteerde toon kenmerkend van die bundel, maar hy voel dat dit soms ook alte opsetlik is. “Daar is sosiale en nasionale kritiek, maar in die meeste gevalle bly dit by wrewel; dit word nie satire, of humor of geestigheid nie. Ironie is dit haas nooit. Maar die grootste tekortkoming van hierdie gedigte is dat dit so klank- en ritmeloos is. Dit is stroewe verse, wat die indruk skep dat hulle al te berekend is.” (Hoofstad, 19 Desember 1975)
Vir Wium van Zyl (Beeld, 23 Julie 1975) skep Voetvolk, in vergelyking met die poësie van Sewentig, wat maar alte gereeld nog afsaksels is van die Ysterkoei se sweet, ’n varser indruk, hoewel dit nie volkome nuut is in ons letterkunde nie. “Die groot aantal verse met ’n kunsteoretiese strekking is opmerklik. Die digter soek in der waarheid na sy plek en plig as digter, maar ook na vorm. Laasgenoemde vind hy nog nie in die formele sin van die bundel nie. Ritmiese onsuiwerhede en ’n dikwelse onvoltooidheid hinder nog.
“Spies se beelde is meestal op die man af en selfs kru – maar uit die aarde Afrikaans. Hy val met ’n boerse eerlikheid (hoewel soms met ’n Oppermanse meerkantige woordgebruik) die skynheiligheid van sy volk aan en besef nietemin kort-kort in ’n vers nie net die beskeidenheid van sy eie posisie nie, maar ook van sy poësie. In sy werklik goeie slotgedig, ‘10 Oktober’, skryf hy oor die erns van skrywerskap en nog verder van die Afrikaanse skrywer wat te midde van die beendere en bitterheid van ’n harde geskiedenis, die volk se pad moet oop soek met die pen.
“Hierdeur verseker Jan Spies dat Voetvolk sonder hovaardigheid een van die eerlikste bundels poësie is wat vanjaar verskyn het. Dit maak daarvan ’n welkome debuut.”
Jan se vertellinge word vanaf 1977 tot 1987 gebundel in vier bundels getiteld Pilatus tot molshoop (1977 met herdrukke in 1978, 1979, 1981 en 1988), Poort deur die koue (1984 en ’n grootdrukuitgawe in 1991), Profeet met kondensmelk (1984 en 1985) en Pille vir servette (1987 en 1988). Die resensies en besprekings is deur die bank geweldig positief.
In Beeld het Abraham de Vries geskryf dat niemand soos Jan kan vertel nie. “Vir Jan kan jy net met Jan vergelyk, anders is jou maatstok totaal skeef.” De Vries meen dat party van Spies se stories selfs beter is op papier as met die vertelslag. Volgens hom het Jan Spies as verteller geen gelyke in Afrikaans nie – ook nie “as verteller-op-papier” nie.
André P Brink het hom só uitgelaat oor Jan Spies en sy stories: “Vir diegene wat die stories nie ken nie, wag daar maagpyn van lekkerlag en vir dié wat dit wel ken, wag daar die verkneutering van hérkenning. En vir diegene wat hom al genoeg gehoor het om self Jan Spies se Suidwestigheid-van-stem in die oor op te roep terwyl die oog weie oor die woorde, is dit oop pad voor. En ook vir dié wat die man se tale nie uit eie ore ken nie, is daar genoeg kielierigheid in dié stories om jou die jollie-jeuk te gee.” (Rapport, 18 Desember 1977)
Vir Hilda Grobler is hierdie bundels vertellinge om twee redes van belang vir die Afrikaanse literatuur: “Eerstens omdat van die beste en suiwerste humoristiese vertellinge nou geboekstaaf is, en tweedens omdat die vertellinge die taal van Suidwes vaslê sodat dit letterlik ’n sosio-linguistiese verteenwoordiging van die enigmatiese Spies se taalgewoontes word.” (Hoofstad, 6 Desember 1977)
In ’n ander bespreking van Spies se stories (Rapport, 9 Desember 1984) het André P Brink só gepraat: “Dit is die sappigheid van Spies se taal, die flink verandering van vertelritme, die gat-omgooi van perspektief, die nugtere understatement wanneer hy by die fyndraai kom, wat hom so ’n volgehoue plesier maak. ‘Kort lieg se lang lekker’: Dis ’n titel wat heelwat van Jan Spies self sê.
“Dit bly nog die lekkerste om die man aan die woord te hoor. Maar sy beste stories oorleef op papier. En mens lig jou kakiehoed vir ’n man wat só die lekker in die lees kan terugsit.”
Ander persone noem die bundels heuglike versamelings stories, ’n boeiende verkenning van ons volksaard wat by uitstek deurspek is van ’n aardsheid.
Hans du Plessis was die resensent van Poort deur die koue, en daarin het hy een van Jan Spies se verhale, “Maans Maanse en die muil”, gemeet aan die vereistes wat aan die mondelinge vertelling gestel word. (Hierdie bespreking kan gelees word in die resensie in Beeld van 11 Junie 1984 by NALN.) Nadat hy die storie hieraan gemeet het, het Du Plessis afgesluit: “Al sou ’n mens dié Poort deur die koue sommer net lees vir die lekkerte, voel dit al na geslaagde letterkunde, maar die vertellings slaag dan juis ook wanneer dit aan teoretiese eise getoets word. Dus: Jan Spies is nie ’n sommer-so verteller nie en Poort deur die koue nie ’n bundel sommer-so vertellings nie!”
In 1989, met ’n heruitgawe in 2007, word Spieserye: versamelde vertellinge gepubliseer, en in 1990 Spies op sy stukke, wat deur PG du Plessis saamgestel is. Sy stories is ook op laserskyf beskikbaar. In 1992 word die Rapportryersprys vir ’n verdienstelike Afrikaanse publikasie aan Jan toegeken vir Spieserye. Dit is uit ’n groot aantal inskrywings deur ’n groep beoordelaars onder leiding van dr Pieter W Grobbelaar gekies. Die Federasie van Rapportryerskorpse bepaal jaarliks ’n kategorie waarin hierdie prys toegeken word. Daardie jaar is besluit om ’n boek in die kategorie Afrikaanse humor en volkskunde te bekroon. Die prys is aan Jan toegeken vir sy groot bydrae tot die Afrikaanse letterkunde.
Die sangeres Arina de Witt, wat ’n kollega en vriendin van Jan was, het van sy gedigte getoonset en hulle is almal saam op ’n album, Arina de Witt sing Jan Spies. Dit is in 2005 vir die eerste keer op die KKNK gehoor toe De Witt met die samewerking van Ollie Viljoen en Nelius Ferreira die program Die ander kant van Jan Spies aangebied het.
Mariana Malan het in Die Burger (19 Augustus 2005) meer vertel oor Arina de Witt se toonsettings van Jan Spies se gedigte: “Sy was ’n kollega en vriendin van Jan Spies. Die eerste Spies-liedjie wat werklik bekend geword het, was ‘Rietjiesfluit’, wat De Witt reeds vir die eerste reeks van Spies en Plessié (1986) getoonset het. Sy het in 2005 besluit om ’n album te maak met die tiende herdenking van Spies se afsterwe.”
De Witt het aan Mariana Malan vertel: “Waar die woord effens geforseerd saam met die musiek klink, is dit omdat hy nie wou hê dat ek enigsins aan sy woorde moet verander nie. Ook die liedjie, ‘Liefie liefie’ het my laat klippe kou. […] Die meerderheid van die liedjies is taamlik hartseer. Tog kon Spies nie sy eiesoortige humor volledig wegsteek nie. Van die ander wys eerder sinisme as humor, maar in die geheel kan ’n mens jou volledig vereenselwig met sy gedagtes en woorde.”
Nog ’n produksie met Jan Spies as onderwerp was Jan Spies – ’n inkspoor deur die lewe, met sy seun Barend, PG du Plessis en Ollie Viljoen en Arina de Witt wat haar toonsettings van Jan se gedigte gesing het. Dit is in 2008 by verskillende feeste op die planke gebring.
By die Woordfees van 2010 op Stellenbosch is ’n program getiteld Die dinges is ’n watsem – Jan Spies kom tot verhaal met Lizz Meiring, Deon Coetzee en Johan Engelbrecht opgevoer om Jan se nalatenskap weer tot lewe geroep.
In 2021 gee Tafelberg weer ’n keur van Jan Spies se stories uit onder die titel Die antie met die pienk rok en ander stories.
Die paar jaar voor Jan se ontydige afsterwe was geen grap vir hom en sy familie nie. In 1994 het hy op pad na hulle plaas by Mariental amper verongeluk toe hy ’n koedoe raakgery het. Kort daarna was hy besig om bokke te dip op sy vrou, Beatrice, se plaas buite Maltahöhe toe ’n steeks bok in die dipgat vassteek en verseg om te roer. Jan het sy balans verloor toe hy hom met ’n kierie wou aanhelp en het kop onderstebo bo-oor die dipgat getuimel. Hoewel hy erg gekneus en beseer was, is die breuk aan sy ysbeen eers later in die hospitaal bemerk. In April 1995 het die plankstellasie gebreek waarmee hy op Maltahöhe volstruise op ’n bakkie gelaai het. Jan en ’n volstruis het saam geval en sy arm is gebreek. Gelukkig was die volstruis ook half bedwelmd van die val en nie in staat om te skop nie.
Sy arm was skaars genees toe die laaste ongeluk gebeur. Die voorband van sy bakkie het gebars toe hy sy plaaswerkers se kinders huis toe geneem het en hy het beheer oor die bakkie verloor. Sy borsbeen het sy longe platgedruk en skade is moontlik ook aan sy hart aangerig.
“Kyk, drie keer is skeepsreg. Jan het nou al ’n ekstra kans gehad – nou moet hy versigtig trap,” het sy vrou kort voor sy dood bekommerd geskerts. Jan is na die Rooms-Katolieke Hospitaal in Windhoek geneem, waar hy aan ’n longmasjien gekoppel was. Hy is op 4 Januarie 1996 oorlede. ’n Roudiens is vir hom op 10 Januarie 1996 in die Afrikaanse Presbiteriaanse Kerk in Randburg, Johannesburg gehou.
Huldeblyke
- FIJ van Rensburg, letterkundige: “Ons is vandag hier bymekaar om ’n lewe te vier, nie om ’n gestorwene te gedenk nie. ’n Benadering vanuit dié hoek is ons in werklikheid aan hom verskuldig. Want is die uitnemendste van wat hy vir ons nagelaat het, nie dat hy insig juis in die lewe, in die konkrete lewensverskynsel, op so ’n unieke manier verruim en verdiep het nie – lewe veral in die gestalte van karákters, mense wat elkeen ten diepste lewensbevestigers was? Daarom eerder: ’n viering van ’n lewensbevestiger. Ek wil by hierdie geleentheid die lig nie laat val op hoe hy dit vanaf die openbare verhoog gedoen het nie. Dit is bekend genoeg. Ek wil eerder kyk na hoe hy dit weg van die openbare oog gedoen het.
“Nie dat hy twee verskillende bestane gehad het nie: een bedoel vir die kamera-oog en die mikrofoon, die ander vir homself en die klein kringetjie die naaste aan hom. Hy was erflik nie in staat om ’n gesplete bestaan te voer nie. Daarvoor was hy te integer, te heel. Die private bestaan was bloot die diepere bodem van die openbare. Wat wás die diepere bodem?
“Dis natuurlik gevaarlik, selfs vermetel, om ’n lewe tot iets enkelvoudigs te herlei, hoe integer en heel dit ook al was. En tog het die jare se omgang met hom ’n mens die geleentheid gegee om telkens, deur alle wisselinge en woelinge heen, ’n flits op ’n standhoudende kern te kry.
“Hierdie kern sou ek so wou probeer eien: Dis ’n begoeidheid deur die pril begin van dinge, daar waar ’n stukkie lewe sy eerste roersel gee of gegee het, of dit nou die lewe van ’n gedagte, van ’n beskawing, van ’n sel, van ’n geaardheid is, dis om’t ewe. Hy was geobsedeer deur die elementêre, eintlik nog meer elementêr: die elementele, die primordiale, die daeraad van verskynsels en van mense.” (Tydskrif vir Letterkunde, Februarie/Mei 1996, gelewer by Jan Spies se roudiens in die Afrikaanse Presbiteriaanse Kerk in Randburg op 10 Januarie 1996)
- Ollie Viljoen, vriend en musikant: “Kyk, ou Jan was ’n gróót liberalis, absoluut die teenoorgestelde as wat mense van hom gedink het. Hy sê toe: ‘Ek stel nie belang as dit ’n wit program (Spies en Plessié) is nie, maar as jy sê jy gaan alle mense daarby betrek, dan stel ek belang.’ [...] Hy was ’n fenomenale mens. Weet jy, hy was ’n letterkundige, hy’t ... as ek jou vertel ... hy’t alles geweet van die teologie af ... argeologie ... sterrekunde. Hy’t ’n dubbele doktorsgraad gehad: in letterkunde en in filosofie. Hy’t aanvanklik vir predikant gestudeer, maar hy’t later ateïsties geraak ...” (Die Burger, 1 Maart 2008)
- PG du Plessis, skrywer en vriend: “’n Ding in my weier om Jan Spies te reduseer tot ’n paar lewensfeite en die opsomming van hoedanighede. My vriend is dood, en ou gesegdes wat ek leeg gewaan het, kom vol waarheid aangesit; sentimente waarop ek neergesien het, vra skielik nie verskoning vir hulle bestaan nie. ’n Gesegde: dat as jou vriend sterf, sterf ’n stuk van jou saam. En Jan het te veel saamgevat. Nie net van my nie – uit elke huis van my taal en uit al die kringe om die tafels en vure van my mense. [Eugène] Marais se woorde in effens ander verband kom kerm telkens hartseer in my kop: ‘... die stem van die storieverteller is dood ...’ Ek weet dis nie waar nie, want Jan se grootste nalatenskap vir sy mense was nie net sy eie stories nie, maar ook storievertellers – nuwes, wat nou na waarde geskat word. Maar sy stem was die vonk en sy stories die aanhef tot wyer waardering en nadoen onder die mense. Sy vonk kon oor die sielige kloof tussen wat op ’n tyd letterkunde en volkskultuur geheet het, spring. Dis sy nalatenskap. En van homself nie net humor nie, stories – van die mens van Sekretarispan, notules van wat ons regtig is. Is dit nou so vreemd om aangedaan te raak net omdat daar nie weer ’n nuwe storie in sy eie stem kom nie? Dis ’n holte wat sal bly. [...]
“Net Jan kon jou nooit verveel nie. Hy vat te veel saam, want hy kon warm-menslik praat oor jou mislukkings en verdriet, en saamjil en -jubel as sukses dalk kom. Hy’t omgegee en was dus met alles te vertroue – soos ook veral jou skuld en sonde. Dus: die vertroulikhede wat wedersyds tussen julle gesê, geskree en gefluister is, is van laasnag af ongedeel een-voudig. Die moeilikheid met Jan Spies was – ek moet my aan dié verlede tyd nog wen – dat hy vir my en ons ’n totaal onherhaalbare voorreg was.” (Saffier, Februarie 1996)
- Ferdinand Deist, skrywer: “Eendag, lank, lank gelede was daar ... Die baas van storievertellers. Jan Spies kon met dié ou bekende inleiding tot stories ’n mens wegvoer na plekke en mense wat bekend is aan almal en – as hulle onbekend was – jou laat verlang na hulle. Soos die beroemde Herman Charles Bosman kon hy die stadsmens se honger na stories van die vergete dae op die platteland so goed stil en weer die hunkering na vervloë tye in die oerwoud van beton ’n bietjie ligter maak. Jan Spies se dood is hartseer. Dit is veral so omdat hy weer die kuns van storievertel laat herleef het sodat mense weer ’n tydjie kon afknyp om stil te sit en luister. Hy was een van die min skrywers wie se stem jy kon hoor terwyl jy besig was om sy stories te lees. Maar die groot lekker het daarin gelê om hom in lewende lywe te kon beleef en te sien hoe die storie met sy gebare en sy lyftaal meer word as die geskrewe woord. En dit was juis sy groot kuns – om ’n storie in die mond meer te laat word as wat dit op skrif is. Ook het hy die bykans vergane kuns om stories te vertel, laat herleef en die skitterende storievertellers in Afrikaans aan ’n groter gehoor bekend gestel. [...]
“Van die baie komplimente wat hy gekry het, was dat hy sonder pretensie ’n lekker lag, ’n grinnik na binne en soms ’n bietjie hartseer en baie nostalgie kon optower. Maar dit was baie meer. Mense sal nog lank met die koffiekapitaal smiddae in die Morris-stoel op die stoep kan gaan sit, die hand uitsteek, een van sy boeke opneem en dit warm in die palm laat lê. En voor jy hom oopslaan, hoor jy die stem: ‘Dit smaak my hulle het elkeen ’n helse somerverkoue want hulle praat deur hulle se neuse lat g’n hond kan verstaan wat hulle sê nie. Nee man, hulle makeer niks. Hulle moet Franse of Taljaners of so ’n soort geneuk wees.’ En dan begin die lekker.” (Saffier, Februarie 1996)
- Abraham H de Vries, skrywer: “Jan Spies was by uitstek ’n woordkunstenaar. Hy is ’n lid van ’n groep storievertellers wat die veelstemmigheid van Afrikaans belig. In elke streek is daar storievertellers wat nie noodwendig hul stories sou neerskryf nie, maar deur vertellings het hulle die verhale laat voortleef. Spies, wat benewens sy eie stories ook ander se verhale oorvertel het, was ’n sterk navolger van daardie tradisie.” (Volksblad, 12 Oktober 2007)
- Fanus Rautenbach, skrywer en ook storieverteller: “Só min mense kan werklik humoristies wees. Dit was Jan se gawe.” [Bron en datum onbekend]
- Leon Schuster, komediant: “Jan Spies se lag en menswees sal vir ewig voortbestaan.” [Bron en datum onbekend]
In Spies op sy stukke skryf PG du Plessis: “[H]y het – saam met ander, maar op sy eie patroon – die storiehonger van die verstedelikte Afrikaner kom stil; hy het, voordat die massamedia en die eenvormige onderwysstelsel die streekspraak en streekverskynsel heeltemal gelyk gemaak het, iets begin terugbring van wat die Afrikanerkultuur régtig is – iets ánders as die ‘kleurlose’ (in alle betekenisse van die woord) styweboordjieprent (onderteken deur Calvyn) wat so lank van die Afrikaner opgehang is. Van Jan Spies is daar natuurlik maar één – al is daar by sulke eenmalige verskynsels navolgers genoeg.”
Publikasies
|
Publikasie |
Voetvolk 1960–1970 |
|
Publikasiedatum |
1975 |
|
ISBN |
0624006735 (hb) |
|
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Pilatus tot molshoop: vertellings 1 |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
(hb) |
|
Uitgewers |
Johannesburg: Perskor |
|
Literêre vorm |
Humoristiese vertellings |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Poort deur die koue: vertellings 2 |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewers |
|
|
Literêre vorm |
Humoristiese vertellings |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Profeet met kondensmelk: vertellings 3 |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
0624021254 (hb) |
|
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Humoristiese vertellings |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Pille vir servette: vertellings 4 |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
0624025934 (sb) |
|
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Humoristiese vertellings |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Spieserye: versamelde vertellings |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Humoristiese vertellings |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Spies op sy stukke |
|
Publikasiedatum |
1990 |
|
ISBN |
0624029093 (hb) |
|
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Humoristiese vertellings |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Die antie met die pienk rok en ander stories |
|
Publikasiedatum |
2020 |
|
ISBN |
9780624089513 (sb) |
|
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Humoristiese vertellings |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Artikels oor Jan Spies
- Badenhorst, Daantjie: Jan Spies (1936–1996). FAK
- Bezuidenhout, Leonie-Mari: Namibiese sangeres bring hulde aan Jan Spies. Maroela Media, 30 Junie 2021
- Bouwer, Anna-Retha: Voorreg van Spies op Innibos-fees gevier. Beeld, 20 Junie 2009
- Du Plessis, PG: Nou’t Jan eerste loop kyk na die anderkant van dood. Saffier, Februarie 1996
- Jan Spies (Wikipedia)
- Jan Spies in hospitaal ná padongeluk. Beeld, 19 Desember 1995
- Kotzé, Sarel: Jan Spies se loslit-gesels [brief]. Beeld, 20 Oktober 2018
- Krüger, Elsa: ’n Pap-én-jellie-Afrikaner: Hy’t ’n droom vir Afrika [Onder vier oë]. Beeld, 19 September 1987
- Le Roux, André: Jan Spies: heel anner mens. Die Burger, 5 September 1987
- Lig op die oor: Huldeblyk aan baasstorieverteller – Jan Spies. Die Patriot, 12–19 April 1996
- Malan, Mariana: Liedere toon Jan Spies as digter. Die Burger, 19 Augustus 2005
- Nieuwoudt, Stephanie: Vertellings lê warm in jou lyf. Die Burger, 4 Oktober 2007; Volksblad, 12 Oktober 2007
- Petzer, Mariska: Daar’s lewe ná televisie. Keur, 30 Junie 1995
- Schutte, Helena: “Duisende gaan Jan Spies mis”. Beeld, 11 Januarie 1996
- Spies en plesier. Beeld, 6 Januarie 1996
- Steyn, Jaap: Denker, doener en verteller. Insig, Februarie 1996
- Swanepoel, Thalyta:
-
- Al Jan Spies se organe het “net ingegee”. Beeld, 6 Januarie 1996
- Jan Spies se toestand nou “taamlik stabiel”. Beeld, 20 Desember 1995
-
- Van Rensburg, FIJ: Jan Spies: ’n lewensviering. Tydskrif vir Letterkunde, Februarie/Mei 1996
- Viljoen, Ollie: Oom Ollie en die “bruid”. Die Burger, 1 Maart 2008
Artikels deur Jan Spies
- Afrikaans gekenmerk deur nadruklikheid [Ons taalgereedskap]. Beeld, 29 Junie 1993
- En daar lê die ding [Ons taalgereedskap]. Beeld, 6 April 1993
- ’n Ganse dag om uit die mal stad te kom [vertelling]. Naweek Republikein, 25 Februarie 1983
- Gedigte. Maroela Media, 6 Mei 2015
- Hierdie boeke moet nie verbied word nie. Beeld, 20 Oktober 1976
- Luisterverhale: “’n Emmer tanne vir ’n hospitaal holbekke” deur Jan Spies, voorgelees deur Tobie Cronjé. LitNet, 2 Mei 2024
- Luisterverhale: “’n Poort deur die koue” deur Jan Spies, voorgelees deur Tobie Cronjé. LitNet, 20 Junie 2024
- Ons eiesinnige doen en late. Die Burger, 9 November 1992
- Op reis met ons slapende =S [Ons taalgereedskap]. Beeld, 6 Oktober 1993
- Uittreksel: Jan Spies se “Politiek vir ’n esel”. Maroela Media, 23 Desember 2015
- Waaksaam op die vlug. Die Burger, 10 Junie 1986
Baie van Jan Spies se stories is te vinde op Youtube.
Jan Spies se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2010-05-11 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel (Wyno Simes en Annelien Diedericks) vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.


Foto: Chris Barnard se privaat fotoversameling; met toestemming geplaas