Wenner: Kirby van der Merwe vir Eugene (Human & Rousseau)
Commendatio: Ryan Pedro
Kirby van der Merwe se Eugene is ’n roman wat skok, vermaak, uitdaag en meesleur. Hier word talle teenstrydighede moeiteloos bymekaargebring: die hede teenoor die verlede, die stedelike teenoor die plattelandse, die suburbs teenoor die ghetto’s, Standaardafrikaans teenoor niestandaardvariëteite teenoor flaaitaal teenoor sleng, liefde teenoor haat, vertroue teenoor verraad. Die resultaat? ’n Komplekse netwerk gegewens en gebeure wat van begin tot einde soos die drade van ’n spinnerak styfgespan lê, en hiermee saam, dinamiese karakters wat dié fyngesnaarde storiewêreld laat vibreer wanneer hulle die geringste beweging maak.
En wat ’n tekstuurryke, veelvlakkige wêreld is dit nie.
Wat Van der Merwe hier vermag, is om die tyd en ruimte tot in die fynste besonderhede raak te skryf. Die krotbuurte, jaarte, sypaadjies, straathoeke voel alles polsend, tasbaar. Die taalgebruik is so plofbaar en robuus dat dit byna hoorbaar oorkom. En al die gebeure voel na aan die lyf. Veral indrukwekkend omdat die taalgebruik deurgaans ekonomies bly, en die teks deurlopend gestroop voorkom.
Dieselfde aandag aan besonderhede is in die titelkarakter te sien. Met sy naam alleen aktiveer Eugene reeds sy verwantskap met bekende/berugte naamgenote in die geskiedenis, politiek en literatuur. Maar dan word hy ook vroeg ’n “gentleman-skollie” genoem, en later ook ’n “urban cowboy” – dit word dus vroeg duidelik gemaak dat dié protagonis nooit nét één ding is nie. Hy tree op vanuit die kantruimtes, maar is nooit in die duister nie. Hy kan beskryf word as liminaal, maar blyk altyd agentskap te hê. Van der Merwe se Eugene is sy eie man wat volgens ’n unieke stel waardes en sosiale kodes leef, en hy is die draer van komplekse politieke oortuigings en erge trauma. Dié twee stap hand aan hand gegewe die sosiopolitieke konteks waarin die narratief gesitueer is. Eugene se psigiese toestand (wat ook as die kollektiewe psigiese toestand gelees kan word) word toegeskryf aan die onderdrukking en die ontmensliking wat die gemarginaliseerde individu ervaar het onder die apartheidsregime. Die metafoor van die bobbejaan (wat net in oomblikke van nood kop uitsteek) is ’n onverwagse, speelse en treffende manier om Eugene se geestestoestand en gedrag op toonaangewende tonele in die roman aan te dui.
Op dié magies-realistiese bobbejaan kan daar natuurlik verder uitgebrei word. En op Eugene se trauma waarskynlik nóg meer, maar kom ons volstaan met ’n laaste stelling: Eugene is ryk grond vir ’n waardevolle studie oor manlikheid, veral marginale manlikheid, en hoe geestesgesondheid en trauma mans vorm en posisioneer in ’n heteronormatiewe samelewing. Dit is natuurlik ook dié einste kennisraamwerk wat ou en bekende temas in die literatuur, soos liefde, haat, vertroue, verraad en vergifnis afstof, poets en as splinternuut aanbied vir lesers.
Eugene is ’n plofbare dog elegante teks wat uit die staanspoor hoë eise aan sy lesers stel, maar wat met elke lees dieper en dieper bevredig. As lesers, kritici, medeskrywers en literatore wil ons nie weer meer as 20 jaar wag vir een van Afrikaans se belangrikste bydraers om te publiseer nie. Maar as dít die resultaat is van so ’n lang stilswye, is dit beslis die wag werd.
Hier is die ander wenners van kykNET-Rapport-boekpryse vir 2023.
Lees ook: