Jan du Plessis: gesinsman, ingenieur, akademikus, ruimtepionier

  • 8

Jan Johannes du Plessis is gebore in Namibië (die voormalige Suidwes-Afrika), en hy het sy vader, ’n boorvoorman, dikwels tydens skoolvakansies vergesel in hul soeke na die bron van alle lewe – onderaardse water. Sy voetspore lê in die lope van die Nossob- en die Kusebriviere. Terwyl hulle snags in die Kaokoveld en Okavango langs die kampvuur lê en kyk het na die sterreruim, leer sy vader hom die name van die konstellasies – min wetende dat die ruimte later sy speelterrein sou wees. Jan vertel dat hulle, op soek na ’n waterbron tussen Namutoni en Okakuejo in die Etosha-wildreservaat, soggens versigtig die kloktent se flap oopgemaak het om eers te kyk of daar nie leeus naby is nie. Daar waar hulle ’n sterk waterbron raakgeboor het, is die Halali-toeristekamp aangelê – wat as monument vir sy vader dien.

Jare later, toe ons as een van drie gesinne, waaronder dié van Jan en Hildegard, by drie geleenthede in Suidwes-Afrika gaan toer het, het hy met entoesiasme afgedwaal van die gebaande weë en ons gelei op agterpaaie om vir ons te gaan wys waar die inheemse Makalani-palms groei en die palmneute oopgekap om ons die pit, bekend as plantaardige ivoor, te wys; het ons in die walle van die Swakoprivier suid van Okahandja gaan soek na granaathalfedelstene; het ons swartwoudkoek geëet op die stoep van Kafee Anton in Swakopmund. Het ons langs die vingerrots by Agab gestaan vier maande voordat dit ingestort het. Het ons appeltert geniet by Solitaire. Jan het Suidwes-Afrika vir ons oopgemaak.

As student in die ingenieurswese aan die US ontmoet hy tydens ’n BTK-uitstappie sy toekomstige eggenoot, Hildegard Schumann. Hy gradueer in 1964, en begin werk by die WNNR in Pretoria in die afdeling Rekenaar- en Beheerstelsels, en toon sy vindingrykheid met gevorderde simulasie-algoritmes vir intydse beheerstelsels. Hy is die eerste persoon wat die giroskoopbeheerde helmvisier vir vegvliegtuigvlieëniers voorgestel het.

Jan was een van drie Suid-Afrikaners wat gekies is om nagraads aan die MIT in Boston, VSA op die ruimteprogram van NASA te studeer, en verwerf hy sy magistergraad met ’n slaagpunt van 100% vir sy magisterverhandeling met ’n wiskundige algoritme vir ’n brandstofoptimeringsprotokol vir ruimtelandingsmodules, wat deur NASA gebruik is vir ses bemande en vele onbemande maanlandings.

In die vroeë 1970’s identifiseer ons in die Fakulteit Ingenieurswese aan US die behoefte om die opkomende vakgebied van die kubernetika as studierigting te vestig en uit te bou. Die R68 wat ek in 1972 uit eie sak betaal het vir ’n retoervliegtuigkaartjie na Pretoria om Jan persoonlik te oorreed om aan te sluit as senior lektor in die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese, is een van die beste beleggings wat ek in my lewe gemaak het.

Hy beïndruk studente vir meer as drie dekades deur die komplekse vakgebied van die rekenaar- en beheerstelsels vir hulle te ontsluit. Hy installeer aan US die eerste rekenaar aan ’n Suid-Afrikaanse universiteit in die 1970’s, ’n Varian 620, en ontwikkel die rekenaartaal Abacus (Afrikaanse Basic met Afkortings en Kladstoor, Universiteit Stellenbosch) om ingenieurstudente in staat te stel om rekenaarprogrammering in hul eie taal te doen.

Einde 1977 loop ek ’n kollega aan die PU vir CHO by ’n kongres raak; hy vra my wat ons vir Jan aangebied het om “nee dankie” te sê vir die aanbod van ’n professoraat in en departementshoof van elektroniese ingenieurswese in die nuutgestigte Fakulteit Ingenieurswese op Potchefstroom. Ek is verras, want ek weet niks van so ’n aanbod nie. Jan het die aanbod van die hand gewys sonder om dit teenoor my, as departementele voorsitter, selfs te noem, of te gebruik as hefboom om bevordering aan die US te kry. Dit getuig van sy onkreukbaarheid.

Om Jan se CV te versterk gaan sit ek by hom; hy dikteer en ek skryf, en binne drie maande publiseer ons twee vakkundige artikels in die prestigetydskrifte van die IEEE (Institute of Electrical and Electronics Engineers) – een gemeenskaplik, die tweede onder slegs sy naam.

In 1978 word Jan bevorder tot Siemens-professor in Rekenaar- en Beheerstelsels, ’n pos wat hy beklee tot sy aftrede in 2004. Dit is bekend dat Jan nie graag sy tyd bestee het aan artikels skryf nie; en ek moet nou bely dat ek, as promotor vir sy PhD-graad, hom nooit kon oorreed om sy doktorale proefskrif te voltooi nie; daar was altyd net iets anders wat eers afgehandel moes word. Gelukkig het die US my probleem opgelos deur aan hom in Desember 2016 die graad DIng honoris causa welverdiend toe te ken.

Jan en Piet Bakkes doen navorsing op hoëspoedmultiverwerkers, en ontwikkel met die WNNR se hulp die eerste 64-multiverwerker-hoëspoedrekenaar vir die Fakulteit Ingenieurswese – die vinnigste Suid-Afrikaanse rekenaar van sy tyd. Hy vestig in 1986 die eerste moderne persoonlikerekenaarlaboratorium, Firga, in enige fakulteit aan ’n Suid-Afrikaanse universiteit.

In die tagtigerjare tree hy op as konsultant vir die Greensat-observasiesatellietprogram wat by Grabouw ontwikkel is. Toe die projek in 1990 gestaak is, inisieer Jan, saam met Garth Milne en Arnold Schoonwinkel, die Sunsat-mikrosatellietprogram. Jan wou hê dat sy studente hulle nie besig hou met skaduboks nie, maar reële tegnologiese probleme oplos in hul navorsingsprojekte. 

Van sy kollegas kom spreek my as dekaan omdat hulle bekommerd is dat die program al die departement se bedryfsfondse sou opgebruik, en vra dat ek die “lawwe voorstel” stopsit. Ek keur die program nogtans goed, met die uitdruklike voorwaarde dat dit slegs met buitefondse bekostig sal word. Saam met Jan werf ons skenkings by vier maatskappye wat elk R25 000 bydra (driekwartmiljoen rand elk in 2017 se geldterme), sodat die program kan voortgaan. Totdat Sunsat op 23 Februarie 1999 gelanseer is, is meer as 110 magisterverhandelings en doktorale proefskrifte deur nagraadse studente as deel van die Sunsat-projek voltooi.

Jan was een van die stigtersdirekteure en die hoofingenieur van Sunspace, ’n afwentelmaatskappy van die US, wat satelliete vir die buitelandse mark op Tegnopark ontwikkel het en suksesvolle operasionele satelliete aan die buiteland gelewer het, waaronder Oryx 1, later bekend as Saudisat 3. In 2006 staan hy aan die hoof van die ontwikkeling van die eerste Suid-Afrikaanse regeringsatelliet, SumbandilaSat, met die basiswoord wat in die Vendataal “touleier” of “voorloper” beteken.

Tot sy aftrede in 2015 was Jan die formele ruimtestelselskonsepte-konsultant vir Spaceteq (Sunspace se opvolger) op Tegnopark, Stellenbosch vir die eerste Suid-Afrikaanse nasionale-hulpbronne-satelliet, EO-Sat (Earth Observation Satellite), wat tans ontwikkel word vir lansering in 2020 as deel van die ARM- (Africa Resource Management-) satellietkonstellasie-projek, in samewerking met Algerië, Nigerië en ander Afrikalande. Wanneer dit gelanseer word, sal dit die wêreld se mees gevorderde multispektrummikrosatelliet wees met ’n resolusie van 2,5 meter – Jan se konseptualisering en ontwerp.

Ons sal Jan onthou as briljante ingenieur en vindingryke vernuwer, besielende pedagoog, liefdevolle eggenoot, vader en oupa, diep gelowige en steunpilaar in sy kerk, gemeenskapsmens en offisier van die Voortrekkerbeweging, en as liefhebber van Afrikaans die inisieerder agter die Afrikaanse deel van die meertalige Ruimtewoordeboek van die IAA (International Academy for Astronautics).

Dit is hy wat my daarop attent gemaak het dat elektroniese ingenieurs hul eie psalm in die Bybel het – Ps 19. Dié psalm getuig van Jan se lewe en werk en geloof.

Dit was ’n voorreg om saam met hom en sy gesin te kon gaan stap na die Kromrivier-waterval in Du Toitskloof. Saam het ons kersies gepluk by die Klondyke-kersieplaas in die Ceres-distrik. Saam het ons kreef getrek op ons boot Janis in Bettysbaai. Nou is dit bekend dat Jan nie baie lief was vir die see nie; hy het, as ons uitgevaar het, altyd spontaan aangebied om walbestuurder te wees, terwyl hy dit aan Hildegard oorgelaat het om met die skiboot saam te gaan om die kreefnette uit te trek.

Jan was ’n internasionaal gerespekteerde ruimtedeskundige, en minder as ’n jaar gelede nog, ten spyte van verswakkende gesondheid, een van die hoofsprekers by ’n ruimtekongres van 4 000 afgevaardigdes in Meksiko in September 2016.

Hy het onwrikbaar geglo dat die tegnologie en toegepaste wetenskappe ten beste ontsluit en optimaal verstaan kan word dmv moedertaalonderrig, ook op universiteitsvlak. Dit is, soos Elise Botha, destydse kanselier van die US, op die lanseerplatform van Sunsat by die Vandenburg Lugmagbasis in Lompoc, Kalifornië, in Januarie 1999 dit uitgedruk het:

Die ontwikkelingsgeskiedenis van Sunsat kan van begin tot einde in Afrikaans vertel word. Dié ontwikkeling, net soos al ons hoëvlakprestasies en ander kundigheid eie aan ons universiteit, het Afrikaans in sy funksie van wetenskapstaal verfyn en verryk. En aan die US word hierdie ryke wins aangegee, om ’n blink en bruikbare instrument vir die verwerwing van kennis en insig in die mond en denke van jong Afrikaansgebruikers te kan wees.

Dít was ook Jan se droom.

Mag dit bewaarheid word sodat die US steeds in die verre toekoms mense soos Jan du Plessis sal toerus en die geleentheid sal bied om internasionaal te presteer.

Die Sunsat mikrosatelliet is vir my sinnebeeldig van sy lewe, wat groot hoogtes bereik het, en al het sy stem nou stil geword, steeds sal aanhou om daar bo te wentel, om eendag terug te keer.

Jan du Plessis is gebore op 7 April 1942 en oorlede op 11 Augustus 2017. Hy word oorleef deur sy vrou Hildegard, vier kinders, vier aangetroude kinders, en elf kleinkinders.

 

Christo Viljoen
Stellenbosch

 

  • 8

Kommentaar

  • Avatar
    Koos Holtzhausen

    Ek ken Jan vandat hy 'n eerstejaar op Stellenbosch was. Alhoewel ons in dieselfde koshuis was, ken ek en (my toe toekomstige) vrou, Mientie, hom en sy vrou, Hildegarde, eintlik deur die Berg- en Toerkub (BTK). Ons was saam op daguitstappies, dikwels in die wonderlike Jonkershoekberge, en op langer staptogte, veral in die Sederberge. Dit was na aanleiding van 'n brief van hom dat ek in die sewentigerjare vanaf Johannesburg na Stellenbosch verhuis het -- iets waarvoor ek hom ewig dankbaar sal wees. Jan was destyds so rats soos 'n ribbok en kon enige berg afhardloop, sonder inagneming van die plantegroei.

    Gedurende die afgelope paar dekades het Jan, saam met 'n paar ander elke jaar 'n reünie van die BTK-ners uit die sestigerjare in die Sederberge gereël. Hy het vroeër vanjaar nog sy plek daar volgestaan. Sy gedenkdiens is ook bygewoon deur 'n groot groep van hierdie reünie-mense. Sommige het van so ver as van Kleinmond gekom.

    Jan was 'n man van vele fasette en sal oral gemis word.

  • Avatar
    Daniel Kritzinger

    Besonderse huldeblyk aan 'n groot wetenskaplike en nederige akademikus en mens. Prof Jan du Plessis het diep spore getrap en 'n enorme verskil gemaak. Ek eer sy nagedagtenis.

  • Wat 'n puik artikel en eerbetoon aan een besonderse mens wat ek vir 'n vlietende oomblik op 'n funksie ontmoet het. Baie dankie vir die insiggewende huldeblyk.

  • Avatar
    Wilhelm Fourie

    Dit is tragies dat die Universiteit van Stellenbosch skynbaar nie meer in mense soos Jan du Plessis belangstel nie. 'n Afrikaanse universiteit sou vir die vele Jan du Plessis's wat vandag in Macassar en Dysselsdorp grootword tot groot hoogtes kon help. Hulle stel blykbaar eerder in diegene uit Constantia en Bishopscourt belang.

    • Jan het ruiterlik erken dat as hy nie destyds in Afrikaans aan die US in die ingenieurswese kon studeer nie, hy homself nooit as ingenieur sou kon bekwaam het nie. Dieselfde geld vir sy mede "Suid-Wester" (Namibiër in vandag se spreektaal), en familievriend dr Japie van Zyl, tans direkteur van die Jet Propulsion Lab van NASA. Vir hulle was Engels 'n derde taal (naas Afrikaans en Duits). Vandag toi-toi die Matie studente voor die Ou Hoofgebou en sing "Away with Afrikaans".

  • Avatar
    ANNATJIE VISSER

    1.
    Hou asb op om die gemors op Binneland op te dis. Niemand wil dit meer kyk nie. Hou op met die reeks of verander dit.
    2.
    Doen asb weer 'n program vir die skoonste dorp in sa, nie net die dorp nie, ons het dit nou eers nodig!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top