Jakob Marengo: Lest we forget – ’n musical

  • 0

Namibië het 'n ander kultuurerfenis as Suid-Afrika. By die Namibiese Woordfees word die volgende stuk op Donderdagaand 5 September 2013 opgevoer: Jakob Marengo: Lest we forget. 

Maar wie is Jacob Marengo en hoekom sal mens 'n teaterproduksie oor hom op die planke bring? Naomi Meyer het vir Aldo Behrens, regisseur van dié musiekblyspel, gevra.

Hallo Aldo, kan jy asseblief vir hierdie oningeligte Suid-Afrikaner vertel wie Jacob Marengo is en waarom jy besluit het om ’n teaterproduksie van sy lewe te maak?

Die Nasionale Teater van Namibië (NTN) het my gevra om die 2013 Premium-produksie te doen. Ek moes iets oor Marengo doen.

Ek, ’n afgetrede dramaprofessor, tans konsultant vir Bank Windhoek, en reël vir hulle die Bank Windhoek Kunstefees (BWAF). By die BWAF het ons jaarliks ’n opdragwerk en daar is besluit om dit in 2013 die Marengo-produksie te maak.

Omdat ek sedert lankal met kore te doen het en in 2010 ’n Bank Windhoek Kalahari Ensemble (13 sangers en sewe musikante) op die been gebring het, het ek besluit om dit ’n musical te maak.

’n Uiters belowende Namibiese komponis, Marcellinus Swartbooi, is opdrag gegee om ’n Nama-suite met tema en variasies vir koor en orkes te komponeer.

Marengo, vertel Wikipedia my in Duits, staan ook bekend as Napoleon van die Herero’s en die Namas. So ’n benaming word sterk met oorlog en oorname geassosieer. Maak dit van Marengo noodwendig ’n held?

Gister, Maandag 26 Augustus, was Heroes’ Day in Namibië en een van die grootste van die helde wat gereeld genoem en vereer word, is Jakob Marengo.

Sy pa was ’n Herero, Marenga. Sy ma was ’n Nama. (Etlike bronne verskil oor die korrekte spelling van sy naam – Marenga, Marengo en Morenga.)

Hy het deur bemiddeling van sendelinge (Rooms-Katolieke) Duitsland besoek en kon volgens oorlewering Nama, Herero, Duits, Afrikaans en Engels praat.

In die teks eindig die verhaal met die laaste inskrywing in die Tararos Marengo-dagboek: “Jakob Marengo, Napoleon of Africa!” Waarop die akteurs antwoord: “No! Napoleon, the Jakob Marengo of Europe!”

Hy was ’n Christenmens, ’n familieman, wat sy dogter, Tararos (Nama vir “klein vroutjie”), op sy hande gedra het, ’n mens-mens, ’n dieremens met hope selfrespek. Hy het selfs by geleentheid Duitse gevangenes van voorrade voorsien. Pragtige insidente met ’n jakkals; Siebie, hulle hond, en Tararos se hanslam word op die verhoog uitgespeel en gesing.

Ene Henry Mailey het in 2008 ’n teks oor Jakob Marengo vir ’n Golden Pen Dramakompetisie van NTN ingeskryf en gewen.

Ek het die teks as fondament gebruik.

Ek het ook rojaal gebruik gemaak van ’n teks (Guerilla Goatherd) wat ek saam met Dorian Haarhoff in 1990 geënsceneer het.

Ook gebruik gemaak van bronne soos dié van John Masson, Neville Alexander, ELP Stal, Piet van Rooyen, Herman Giliomee, Toynbee, Kalahari Mac, ea.

Verder was ek die “scriptwright” (vergelyk “shipwright”) – die “maker of the play”.

En verder het ek ’n storie vertel – met heelwat fiksie daarby.

Is daar in Namibië ’n behoefte aan drama wat van unieke Namibiese afkoms is?

 In Namibië word oorspronklike tekste ge-“scriptwright”. Verder het NTN programme wat loop en soms word amateurteater bedryf.

Saam met George Weideman het ek ’n trilogie (M29, ’n Smerige Geskiedenis en Gyselaars) ge-“wright”) en saam met Dorian Haarhoff (Orange, Skeleton en Guerilla Goatherd).

Verder doen ek jaarliks een of twee programme met die BW Kalahari Ensemble: 2008 The Wannabe (musiek Van Karl Jenkins); 2009 Under The Camelthorn Tree; 2010 Voete van ’n Gemsbok (met Randall Wicomb); 2011 Say Shibbolet (met Randall Wicomb); 2011 Kalaharikrismis (met Randall Wicomb); 2012 Die Wonderwerk – A Namibian Crucifixion; 2012 en 2013 The cellist of Sarajevo; 2013 Variations on a blue bench.

Vir wie is Jacob Marengo ’n rolmodel? Of is hy bloot ’n interessante mens wie se storie vertel moet word?

“Free from Fear!” Dis Marengo se leuse. Marengo was nie net ’n oorlogstrateeg en -taktikus nie.

Die Namas was/is bokboere en die skaapevangelie (vergelyk Jesaja) wat deur die sendelinge verkondig is, het swaar by die Namas afgegaan. Hulle sou hulleself moeilik soos skape ter slagting laat lei. Die metafore word in die teks aangespreek.

Naskrif: Hierby ’n e-pos wat ek aan my suster oor die Jakob van Jakob Marengo gestuur het. Dit mag dalk lig werp op my aanslag met die produksie.

Liewe Sus

... en toe praat ek nou met jou – oor Jakob, ’n naam wat my die afgelope 5 maande indringend besig hou.

Die Oerjakob is nou die man wie by die Jabbokspruit met die engel geworstel het – en sy heup gebreek het.

Hy het toe sy naam verander gekry – na Israel en word vandag as een van die 3 stamvaders van Israel beskou.

Hy het ook sy pa Isak en broer Esau verneuk – die een met ’n bokvelletjie wat hy oor sy arm drapeer het om soos sy broer te voel, en die ander met ’n pot lensiesop.

Jakob Zuma se voorloper in die verneukkuns.

Vreemd!? Vererg my bloedig vir die Zulujakob maar aanvaar – of is geleer/gekondisioneer om te aanvaar – die Joodsejakob as ’n heilige volksvader.

Die “ware” Jakob wie my eintlik so besig hou, het ’n Herero-pa en ’n Nama-ma gehad en het op 20 Nov 1907 by Eenzaamheidspan in die Kalahari gesterf. Lake Loneliness sou die Amerikaanse naam wees.

Hy het ook ’n af heup gehad – waarmee hy deur woestyne en oor berge vir die Duitsers gevlug het – sonder Panado’s.

Hy is een van dié stamvaders van die Namas. Sy hoofdoel: To free the Namas from fear! Toe baklei hulle vir 5 jaar teen ’n wêreldmoondheid.

Die Duitsers het meer soldate in die veld gehad as al die Namas saam op aarde.

Die Jakob was ’n Marengo en hy kon Afrikaans, Duits en Engels so vlot soos sy ma se taal, Nama, praat.

Ene Valerie Isaaks speel die rol van sy vrou, Eva. Op die verhoog praat sy vlot, om die beurt, Nama en Afrikaans en haar brood verdien sy as Bybelvertaler.

Sy is deel van ’n span wie die Bybel uit die oorspronklike tale in Nama vertaal.

Ongelooflik. ’n Halwe potsierlike Namatannie wie oor haar Siebie en haar man se afsterwe huil dat dit ’n teaterbelewenis word. Hulle huil my oë elke repetisie vol trane. Oorlat hulle so opreg oor hulle se hond huil – ’n oerhuil oor die eeue heen.

En die musiek is soooooooooooooooo mooi.

Aldo

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top