Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2020: ’n Onderhoud met Beyers de Vos

  • 0

Die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans het onlangs die suksesvolle aansoekers vir die skrywersresidensie wat dié twee organisasies weer vanjaar aanbied, aangekondig. Beyers de Vos is een van dié skrywers. Remona Voges het met hom gesels.

Ses skrywers gekies vir die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2020

Hallo Beyers. Baie geluk met die besonderse prestasie om gekies te word vir die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2020. Dit moes wonderlik gewees het om die nuus te ontvang, veral tydens die huidige staat van inperking. Hoe voel dit om een van die ses skrywers te wees?

Hallo Remona, en baie dankie. Ja, ek was baie dankbaar vir goeie nuus in so ’n onsekere tyd. Dié is ’n groot eer en ongelooflike geleentheid. Natuurlik wil ek graag dankie sê aan die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans. Ek is opgewonde! Ek sien baie daarna uit om aan die werk te spring en my medeskrywers te ontmoet.

Dit is fantasties om as ’n skrywer die geleentheid te kry om voltyds aan jou skryfwerk te werk. Kan jy oor jou gewone daaglikse werk vertel?

Ek skryf in my daaglikse werk ook. Ek was vir lank ’n teksskrywer by ’n e-leer-maatskappy en meer onlangs het ek vir televisie begin skryf.

Jy het in 2018 gedebuteer met jou roman Wrok wat tegelykertyd in Engels gepubliseer is as Talion. Kan jy ons ’n bietjie meer vertel oor die manuskrip waarmee jy tans besig is? Fokus jy steeds op misdaadfiksie of eksperimenteer jy met ander genres? En beplan jy om weer in Afrikaans en Engels te publiseer?

Ek eksperimenteer definitief met iets nuut. Ek het nooit regtig aan myself gedink as ’n misdaadskrywer nie, en ek vermoed genre is niks meer as goeie bemarking nie. Alhoewel daar ’n paar bomme ontplof en ’n reeksmoordenaar debuteer, kan lesers iets heeltemal anders van die nuwe boek verwag. Afrikaans en Engels, ja. Ek hoop om volgende jaar klaar te wees.

Die residensieprogram fokus veral op skrywers wat nuwe stories na die Afrikaanse letterkunde bring en leefwêrelde oopskryf wat nog nie voldoende in die letterkunde gehoor is nie. Hoe beoog jy om ’n bydrae op dié vlak te lewer?

Die vrae "Het ek iets nuuts om te sê?" of "Kan ek dit op ’n nuwe manier sê?" is wat my die moed – of vermetelheid – gee om te skryf. Ek kan nooit seker wees dat die antwoord ja gaan wees nie, maar ek hoop dat my stem, verbeelding en perspektief sterk genoeg is om iets te skep wat daardie soort bydrae kan lewer. Ek is moeg vir dieselfde tipe storie – in die letterkunde en toneelkuns, maar veral op televisieskerms – wat ’n baie spesifieke, konserwatiewe, heteronormatiewe en gevaarlike wêreldsiening bevestig. As ek enige skade aan daardie tradisie van storievertel kan doen, sal ek gelukkig wees.

Wat het jy geleer uit die manier waarop Wrok destyds ontvang is? Is daar sekere dinge wat jy heeltemal anders in jou volgende roman sal aanpak?

Al wat ek kan doen is om die boek te skryf wat ek wil skryf. Die res is buite my beheer. Ek dink nie die skrywer en die gehoor gebruik noodwendig dieselfde maatstaf om die "sukses" van ’n boek te meet nie. Ek is trots op Wrok en was baie dankbaar vir resensente en lesers wat "gevang" het wat ek probeer doen. Maar die volgende boek is ’n ander tipe uitdaging wat ander tipe oplossings vereis. Al wat ek hoop is dat ek myself nie herhaal nie.

Volg jy ’n streng skryfroetine of skryf jy soos die muse jou beetpak? Hoe en wanneer maak jy tyd om te skryf?

Sjoe, ek is nogal lui en my roetine is onvoorspelbaar. Ek voel alewig skuldig dat ek nie genoeg skryf nie. Ek vermoed ek mors baie tyd. As enigiemand wenke oor beter selfdissipline wil aanstuur, sal ek dankbaar wees.

Jy het kreatiewe skryfwerk by die Universiteit van Kaapstad studeer. Wat was van die vaardighede wat jy in hierdie tyd geleer het wat vir jou as skrywer die meeste beteken het?

Die mees waardevolle ding wat so ’n kursus jou gee, is ’n dik vel. Jy moet objektief kan wees, jy moet jou eie swakhede identifiseer, jy moet ’n koue hart kweek. Skrywers kan nie sensitief of kleinserig wees nie.

Wat is die beste skryfraad wat jy al ooit van iemand ontvang het?

Etienne van Heerden se advies was "maak dit vreemder". Dis iets wat altyd by my sal bly.

Wie is jou skryfhelde (in Engels of Afrikaans) en waarom?

Dickens, want ek wens ek kon sulke goeie stories uitdink. Hilary Mantel, want ek wens ek kon sulke goeie sinne skryf. Ingrid Winterbach, want ek wens ek kon so slim wees.

Watter boeke wat jy onlangs gelees het kan jy aanbeveel vir diegene wat op soek is na lekker leesstof tydens die staat van inperking?

Ek is besig om my gunstelingboeke weer ’n keer te lees; deesdae soek ek ’n bekende wêreld om in weg te kruip, nie nog onsekerheid nie. Hierdie drie boeke het my menswees verander: Extremely loud and incredibly close (Jonathan Safran Foer) We are all completely besides ourselves (Karen Joy Fowler) en The picture of Dorian Gray (Oscar Wilde).

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top