Jak de Priester bring N1 van my hart na Aardklop

  • 0

Die sanger Jak de Priester se produksie N1 van my hart is by die Aardklop-kunstefees te sien. Hy beantwoord enkele vrae oor dié produksie, die verlede en die toekoms.

Goeiedag, Jak. Hoe gaan dit?

Hallo! Dit gaan met my goed – ek is baie besig, maar om besig te wees beteken dit gaan goed. So ek kla glad nie – mis net my vrou en kinders as ek so op die pad is. Met my siel gaan dit baie goed! Ek's ’n happy mens.

Eerste dinge eerste – op jou webwerf word jou huidige groot produksie as volg beskryf: “Die produksie, ‘Jak de Priester - N1 van my hart’ is die samekoms van twee bekende kunstenaars uit verskillende wêrelde, wat met woord, klank en beeld die stories van Jak de Priester se nuutste album (vrygestel in 2013), ’n1 van my hart’ na die gehoor bring.” Die produksie is ook by Aardklop te sien – kan jy bietjie uitbrei op wat dié produksie behels en hoe dit mense wil verras?

N1 van my hart is ’n konsert met my nuutste album se musiek. Ek is ’n groot aanhanger van die animasiekunstenaar Diek Grobler se werk en dit was my idee om hom deel te maak van my produksie. Aanvanklik sou Diek beelde skep op die verhoog saam met my terwyl ek sing, maar agv ’n ernstige motorongeluk waarin hy in 2012 betrokke was, kon hy nie meer saam na die feeste toer nie en het ons besluit om slegs animasiebeelde te skep wat geprogrammeer is saam met my liedjies. By Aardklop sal dié spesifieke produksie op die planke wees saam met my op die verhoog, Altus Muller (klavier) en Danny Smoke (kitaar), terwyl die gehoor hulself kan inleef in die pragtige animasiebeelde van Diek Grobler.

Waar het die konsep of idee hiervoor vandaan gekom en hoe het die proses verloop tot waar dit nou uiteindelik uitgevoer word?

Toe Diek die Innibos-feeskunstenaar was, het ek na sy uitstalling gaan kyk. Ek het hom daar ontmoet en ons het dadelik gekliek. Ons het oor ’n konsep begin gesels en daarna net aan die werk gespring. Ek het die musiek geskryf en opgeneem en hy het die beelde geskep.

As ek dit nie mis het nie, is hierdie jou tiende jaar in die bedryf (nadat Sally Williams Nougat in 2003 vrygestel is). Hoe voel dit om dié mylpaal te bereik?

Laasjaar was my tiende jaar in die bedryf. Ek het dit gevier met ’n show Van nougat tot nou, so hierdie is reeds my elfde jaar en ek geniet dit nog elke oomblik.

Hoe het die bedryf jou verander oor die afgelope tien jaar en hoe dink jy het jy die bedryf verander?

Toe ek begin musiek maak het, het ek absoluut niks geweet nie. Ek het net my instink gevolg oor waarvan ek hou, hoe ek dit wil doen en waaroor ek wil skryf. Maar my journey die afgelope tien jaar het my geleer hoe om my werk as sanger-liedjieskrywer te doen. Ek het geleer dat daar ’n fyn lyn is tussen om iets te skep waarvan die mense sal hou, maar ook jou integriteit as kunstenaar te behou. Ek het geleer dat mens soms ’n hit song moet hê, dat jou musiek tog op radio moet speel, anders hoor mense dit nie. Ek het ook geleer dat mens jou aanhangers moet respekteer – hulle skuld jou niks nie!

In hierdie tyd het jy ook al onder meer ’n digbundel en ’n “woordkuns-koffietafelboek” vrygestel. Beplan jy om weer so ’n projek aan te pak? Watter ander kreatiewe projekte buite musiek sal jy nog wil doen?

Ek wil baie dinge nog doen! Ek gaan definitief in 2014 nog ’n boek vrystel met die voorlopige titel blindekol. Dis ’n verhaleboek. Dan gaan ek nog ’n projek met Diek Grobler aanpak vir die kindermark en dan is ek ook besig om ’n eenmantoneelstuk te skryf vir ’n ander akteur.

Hoe voel jy oor alles wat aan die gang is in die Afrikaanse musiekbedryf op die oomblik? Enige veranderinge wat jy graag sou wou sien?

Daar gebeur baie dinge en dis wonderlik om deel te wees van groot produksies soos byvoorbeeld Afrikaans is Groot. Maar soms voel dit net vir my dat mense kleiner teaters al hoe minder ondersteun, want hul kan op een aand almal gelyktydig sien. Ek wens ook dat daar ’n keuringsproses was op platforms van Afrikaanse musiekkanale, want soms is die kwaliteit so swak dat die groter publiek later dink alle Afrikaanse musiek is van swak gehalte.

Jy het al die land platgetoer … enige interessante staaltjies waarvan die meeste mense nie weet nie? Enige plekke of venues waarheen jy nie weer sal toer nie?

Op elke dorp is daar interessante mense. Na ’n konsert, wanneer ons die volgende dag terugry, gesels ek en my band vir ure oor die interessante karakters wat ons ontmoet het en die interessante dinge wat met ons gebeur het. Ek sal dié ondervindinge vir niks in die wêreld verruil nie. Elke dorp het sy kruis.

Wat hou die verre toekoms vir Jak de Priester in?

’n Mens kan beplan, maar die toekoms is altyd duister en dit maak die lewe interessant. Ek het altyd baie drome in my kop. Al wat ek weet is, ek geniet dit om musiek te maak, om die land te deurkruis en interessante mense te ontmoet. Ek hoop dat ek nog baie goeie liedjies sal skryf en dat ek net beter sal raak in my kuns en dat ek eerlik sal bly in wat ek doen.

Wat is die sin van die lewe?

Dit bestaan vir my uit om op die aarde te doen waarvan jy hou en waarvoor jy lief is, om liefde te kan vind en dan ook te kan gee en my kindertjies se arms om my nek. Dis die sin van die lewe.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top