Jaco Barnard-Naudé: Paul Cilliers was 'n legende

  • 0

Wat beteken dit om iemand te bewonder? Om na iemand op te sien, soos mens sê? Soos die woord self sê, het dit iets met wonder, wondere en wonder-likheid te doen.

Ek het Paul Cilliers nie goed geken nie. Maar ek het hom bewonder. My eerste kennismaking met sy werk was ’n artikel wat hy en Yvonne Malan in 2001 oor dekonstruksie, reg en geregtigheid in die Stellenbosse Regstydskrif gepubliseer het. Ek het dit in 2003 gelees vir en aangehaal in my LLD oor kontraktuele geregtigheid. Dit bly op my lys van voorgeskrewe werk vir studente in regsfilosofie, omdat dit een van die beste en toeganklike bydraes is waarvan ek weet in die literatuur oor hierdie komplekse konsepte en kwessies. Teen die agtergrond van Derrida se nou reeds beroemde artikel, “Force of law: the ‘mystical foundation of authority’” en die mantra “[d]econstruction is justice”, kontrasteer Malan en Cilliers, vanuit ’n kompleksiteitsoogpunt, die verskil tussen reg en geregtigheid. Hulle illustreer ook, in die mees duidelike formulerings waarvan ek weet, wat dit beteken om te konstateer dat dekonstruksie geregtigheid is of verteenwoordig.

Deur die jare het ek tred gehou met Paul se werk, gesien hoe ander (kollegas en studente) dit suksesvol aanwend en by menige Stellenbosch-filosofiestudent voor die “Hardebaard filosofie”-rak in Protea Boekwinkel meer te wete gekom van Paul die dosent en studieleier. Op ’n dag, terwyl ek met halstarrige LLB-eerstejaars worstel oor reg en dekonstruksie, storm ’n student na die lesing op my af: “Ken jy vir Paul Cilliers?”, vra hy. “Ek ken hom nie, maar ek weet beslis wie hy is”, antwoord ek. “Wel, hy is my girlfriend se studieleier en hy is eenvoudig briljant.” “Hy is, ja, beslis.” “Maar hy is ook ’n cool ou”, sê die student.

Mettertyd het ek onder die indruk gekom dat Paul ’n soort lewende legende was, nie net op Stellenbosch as filosofiedosent nie, maar wêreldwyd in sy vakgebied. Ek kan die oggend toe ek op Google News gelees het dat Paul die Oppenheimer-toekenning ontvang het, goed onthou. Hoe inspirerend was dit nie om te lees dat hierdie gesogte toekenning (wat gewoonlik aan ’n kandidaat in die Natuur- of Fisiese Wetenskappe toegeken word) vir ’n verandering na ’n wysgerige gegaan het nie. Dit was uit die aard van die saak ’n erkenning van Paul se uitsonderlikheid.

Jare later ontmoet ek vir Paul by die bekendstelling van Ingrid Winterbach se Die Benederyk. Ek onthou dat ek tydens die ontmoeting onwillekeurig aan Plato gedink het. Toe ek in baie vae terme vir Paul vertel dat die vriend van een van sy studente by my in die Regsgrondslae-klas is, het hy sonder om te skroom onmiddellik vir my die naam en van van beide van hulle gegee. Die feit dat hy die vermoë gehad het om uit die vaagste terme ’n presiese duidelikheid te distilleer was nie die enigste ding wat my uit hierdie insident bygebly het nie. Want as Paul gekies het om die naam van die vriend van een van sy vele studente te onthou, het dit vir my ook gespreek van ’n ruimhartigheid, ’n etiese ingesteldheid. Ek onthou iets uit Derrida oor die verhouding tussen etiek en die regte name (“proper names”).

Ek was opnuut onder die indruk van hierdie etiese ingesteldheid toe ek hom ’n paar weke later nader om ’n artikel vir publikasie in die South African Law Journal te beoordeel. Dit is algemeen bekend dat keurders soms maande sal laat verbygaan voordat hulle die keurdersverslag instuur. Nie Paul nie. Die oggend nadat ek hom die vorige middag gekontak het, ontvang ek ’n e-pos met ’n breedvoerige, insiggewende, grootmoedige en aanmoedigende verslag oor die artikel.

Na die gedenkdiens vanoggend, het net die volgende woorde uit Walt Whitman se Song of Myself deur my kop bly maal, omdat dit die beste woorde is waarvan ek weet om my herinnering aan, my bewondering vir Paul Cilliers op te som: “I am large, I contain multitudes”.

4 Augustus 2011

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top