Ja vir God, nee vir die kerk? deur Kobus Kok: ’n lesersindruk

  • 0

Ja vir God, nee vir die kerk?
Kobus Kok
Uitgewer: Carpe Diem Media
ISBN: 9781432208677

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Die agteruitgang van die kerk is ’n onderwerp waaroor ’n hele versameling literatuur die laaste klompie jare ontstaan het. En die lys van publikasies bly groei. Van dié onlangse boeke wat ek gelees het, is byvoorbeeld die paleontoloog Jurie van den Heever se Wat moet ons met ons kerk doen? (Naledi, 2017) en Die opkoms en ondergang van die NG Kerk deur Jean Oosthuizen (Penguin, 2018). Ja vir God, nee vir die kerk? (Carpe Diem Media, 2018) sluit aan by hierdie tipe boeke, maar iets wat van meet af aan duidelik is, is dat daar nie juis sprake is van ’n breër gesprek in hierdie boek nie. Dit is veral so wanneer mens die boek lees teen die agtergrond van Van den Heever se boek. Die vrae wat Van den Heever stel, word in Kok se boek vermy. Dit word met ’n doodse stilte begroet.

Op bl 19 skryf Kok oor die joernalis Chris Louw (1953–2009) se bekende Boetman is die bliksem in, en beskryf dit as ’n “ope brief aan FW de Klerk”. Dit is natuurlik ’n feitefout (mens hoop eintlik dis ’n drukfout), want Louw se skrywe was eintlik gemik op die teoloog Willem de Klerk (1928–2009), wat FW se ouer broer was. Willem de Klerk het self ’n boek geskryf oor die kerk wat in 1998 verskyn het met die titel Die vreemde God en sy mense. In dié boek maan De Klerk die kerk om sy belydenisgeskrifte dringend te hersien in die lig van nuwe insigte. Van den Heever maak sowat 20 jaar later dieselfde oproep in sy boek. Tog het niks in die kerk verander in terme van die belydenis gedurende hierdie twee dekades nie. In plaas van enige hersiening van die belydenis, is baie tyd verkwis op debatte rondom die Belhar-belydenis. Die onderwerp van belydenisgeskrifte is egter iets wat Kok nie eens aanroer in sy boek nie. Kok vermy deurgaans enige gewigtige onderwerpe, en bied in die proses geen antwoorde en voorstelle oor die kwessies wat waarlik van belang is nie. Hy skryf ook byvoorbeeld niks oor homoseksualiteit, een van die mees brandende onderwerpe in die kerk, nie. Daar is geen bespreking van die gesag van die Bybel nie. Vrae oor die historiese Jesus word vermy. Dogmatiese konstruksies soos die erfsonde, soenoffer en Drie-eenheid word nie onder die loep geneem nie. En so kan mens aangaan.

Kok se vergelyking met die voorgeslagte se toewyding tot godsdiens teenoor baie moderne mense se apatie teenoor dieselfde godsdiens slaag nie. My oupagrootjies en oumagrootjies het die Britte gehaat, en hulle het goeie rede gehad. Ek het nie. Mense dink anders as hulle voorgeslagte. Tye verander, maar die kerk pas nie aan nie. Op bl 95 beskryf Kok sy een vriend se ateïsme as ’n “probleem”. Hoekom is ateïsme ’n “probleem”? Dit is juis hierdie manier om andersdenkendes as ’n “probleem” te sien wat ’n probleem is in die kerk. Indien die kerk nie daarin kan slaag om verskeidenheid meer te omhels nie, dan gaan dit aanhou om ten gronde te gaan.

Vir baie gelowiges is die eerste drie eeue van die Christendom ’n tydperk wat hulle verromantiseer. Die kerk is soms in hierdie tye vervolg, maar die Christelike godsdiens het soos ’n veldbrand versprei. ’n Studie van daardie eerste Christene kan dalk waardevolle pitkos bied vir moderne gelowiges – so loop dié rasionaal. Kok verwys self ook na die hierdie eerste Christene. Maar die Christene van die eerste drie eeue het die vis in plaas van die kruis as simbool gebruik. Miskien is dit een van die tradisies wat die kerk gerus weer moet laat herleef. Daar verskyn juis ook ’n kruis op die buiteblad van hierdie boek en, nog erger, ’n haan! Op bl 43 noem Kok net so terloops dat die kerk se idees vandag dalk nie strook met wie Jesus werklik was nie. Dit is tog so jammer dat hy nie meer op hierdie stelling uitbrei nie. Want dit is wat my betref die kern van die saak.

Elders skryf Kok (106) dat die kerk nog aan die ontwikkel was toe die Bybel geskryf is. Maar wat sê dit van die Bybel se gesag? Hy brei nie hierop uit nie. Op bl 116 skryf hy ook dat die eerste volgelinge van Jesus eintlik nie Christene was nie, maar “Jode”. Die woord “Jood” is vir my eintlik net so vaag soos die woord “Christen”, en dit is tog duidelik dat mens hier te make het met ’n klomp mense wie se identiteit vertroebel geraak het. En daar was twis onder die Israeliete oor wie hulle nou eintlik is. Kan ’n mens redeneer dat so ’n menslike versameling geskrifte, wat op so ’n menslike wyse worstel met kopsere van menslike identiteit, alles teen die kultuurspesifieke agtergrond van Judea in die eerste eeu, dan die onfeilbare woord van God is? Stilte.

“Jode”, so noem Kok die eerste “Christene”. En tog, wanneer Kok die Bybel inspan, toon hy ’n oordadige klem op die anti-Semitiese evangelie van Johannes. Die evangelie volgens Johannes is die onderwerp van baie van Kok se eie studies, maar as ’n bron van die lewe van Jesus is dit ’n uiters verdagte boek. Dit is miskien die evangelie wat die meeste deur historici bevraagteken word.

Ja vir God, nee vir die kerk is nie ’n boek wat antwoorde bied op die uitdagings wat die kerk in die gesig staar nie. Dit is ook nie ’n boek wat vloeiend lees nie. Die boek gee deur middel van ’n kode vir mens toegang tot 12 aanlyn video’s wat ooreenstem met die hoofstukke van die boek. Dié video’s toon ’n baie gepoetste kerk, een wat bitter ver verwyder is van die Judese Messias wat na bewering op ’n donkie gery het. Dit toon ’n kerk wat lief is vir groot woorde, maar wat nie meer relevant is nie.

Daar is darem twee punte wat Kok stel wat werklik die bal raakslaan in hierdie boek. Die een is dat die kerk sterwend is, en die ander is dat die kerk te veel in homself gekeer is. Origens het die boek my grootliks koud gelaat.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top