Ja, diere het ook kultuur

  • 0

’n Heuningby wat sy wikkeldansie doen om vir die ander te vertel waar daar voedsel is. (Foto: Heather Broccard Bell)

...
Histories is daar gereken die mens is die enigste spesie op aarde wat ’n kultuur, of kulture, het. Die afgelope 70 jaar is daar egter ontdek dat ’n magdom ander spesies dit ook besit.
...

Die meeste mense ken die foto’s van die kuifape in Japan wat in die winter in die warmwaterbronne ronddryf. Sommige sit sommer met toe oë so lekker is die water.

Die trop kuifape is egter die énigste in die wêreld wat dit doen. Die een generasie dra dit na die volgende oor. Hoekom? Want uiteindelik raak dit weer kouer in die sneeu, want so ’n nat pels is ’n aaklige ding as jy weer saans moet uitklim.

Histories is daar gereken die mens is die enigste spesie op aarde wat ’n kultuur, of kulture, het. Die afgelope 70 jaar is daar egter ontdek dat ’n magdom ander spesies dit ook besit. Kultuur onderskei ons nie meer van ander lewe op die planeet nie.

Talle studies van al die groot primate (gorilla, sjimpansee, bonobo en oerang-oetang), verskeie aapspesies, bobbejane, meerkatte, walvisse, dolfyne, verskeie voëls, visse en insekte het gewys ons is nie enig in dié gedrag nie.

Kulturele veranderings in dieregemeenskappe kom voor wanneer hulle nuwe gedrag van mekaar leer en dit oordra na die volgende generasie, deur sosiale leer. Dit is gedrag wat aangepas word en is ’n fassinerende spel tussen gene en die omgewing. Die kultuuroordrag moet ook langer voortduur as die een wat dit oorspronklik begin het.

En alles gaan nie net oor kos nie, nog minder is dit instink.

Navorsers het toe uiteindelik die hormoonvlakke van die kuifape in Japan gemeet. Daar is gesien hulle is op die koudste dae in die water. Die rede hoekom die wyfies van een generasie na die volgende hulle kleintjies spa toe neem: Dit verlaag hulle stresvlakke gedurende die winter aansienlik. Die betrokke hormone het te doen met die regulering van liggaamstemperatuur wat die liggaam se stresvlakke beheer.

’n Breër perspektief erken dat kultuur verband hou met evolusionêre biologie omdat dit oorerflikheid insluit. Juis deur van ander te leer; en uiteindelik raak dit kultuur.

Maar spesifieke troppe kuifape doen ook ander dinge. Hulle was hulle kos, veral soetpatat, in die water af voordat hulle dit eet. En nog ’n baie slim idee, om koring te skei van grond (want wie is nou lus vir sandkorrels tussen jou tande?), is om die koring op die water te gooi sodat hulle die drywende korrels kan vergader en die sand kan sink. Dié is alles gedrag wat kultuur geword het, dekades nadat die “uitvinders” reeds dood is.

In 1921 is daar gesien bloumese (“titmice”) het die doppies van melkbottels wat voor mense se huise afgelewer is, oopgemaak sodat hulle die room daaronder kon bykom. Aanvanklik was dit net in die dorpie Swaythling in Engeland. Binne 25 jaar het dit regoor Groot-Brittanje en Europa versprei. Al die bloumese het dit gedoen, en later ander voëls. Uiteindelik het dit gelei tot navorsing wat wys dat voëls van dieselde spesie hulle eie streektaal het. Walvisse voed op verskillende maniere, en verander hulle kommunikasie van area tot area.

Die naakte tandmolle met hulle komplekse klanke en kommunikasie is ’n oulike voorbeeld van hoe elke kolonie sy eie dialek het. Die eie taal word deur generasies oorgedra – verstommend vir ’n knaagdier.

Die sjimpansee, ons naaste lewende familielid, se repertoire is groot – daar is tientalle verskillende tegnieke om termiete uit bo- en ondergrondse neste te vis deur die gebruik van gereedskap; hoe om neute oop te kraak; en hoe hulle neste bou om in te slaap.

Daar is pas in die vakjoernaal Science bekendgemaak dat die unieke wikkeldansie van bye die resultaat van hulle kultuur is.

...
Net soos mense wat vroeg aan taalontwikkeling blootgestel word, het dié bye sosiale seine ontvang wat by hulle geënkodeer is.
...

Dit is dié dansie wat bye uitvoer om vir ander bye te sein waar hulle kosbronne gevind het. Dit word ook verbeter en van een generasie na die volgende oorgedra en is een van die mees komplekse voorbeelde van niemenslike ruimtelikeverwysingskommunikaise.

Die by sirkel in 8-vormige patrone terwyl hulle dan op ’n spesifieke deel van die dansie hulle lyf wikkel. Dit gebeur teen ’n geweldig vinnige spoed – elke by beweeg sy liggaam se lengte in minder as ’n sekonde. Die bewegings van die dansie dra visuele seine van die omgewing oor, die posisie van die son, die afstand na die kos en selfs die kwaliteit van die voedselbron wat gevind is.

Die studieleiers het kolonies geskep waarin bye nooit die kans gehad het om dansers te sien voordat hulle vir die eerste keer self gedans het nie. Die kolonies het bestaan uit jong bye van die dieselfde ouderdom.

Bye begin die eerste keer dans nadat hulle ervare dansers gevolg het en voordat hulle dit self probeer. Maar in die eksperimentele kolonies het die bye dus nooit voorheen by die ervare dansers geleer nie. Húlle het aansienlike foute in interpretasie gemaak.

In teenstelling hiermee het ander bye (die kontrolegroep) wat eers ervare dansers gevolg het, geen probleme gehad nie. Net soos mense wat vroeg aan taalontwikkeling blootgestel word, het dié bye sosiale seine ontvang wat by hulle geënkodeer is.

Dié wat nie die regte wikkeldansie geleer het nie, kon wel verbeter deur die ander dop te hou en te oefen. Maar hulle kon nooit die regte afstand enkodeer nie. Hierdie afstand-enkodering skep die unieke dialekte van verskillende heuningbye. Die bye wat nie die dansers kon dophou nie het dus ’n nuwe dialek ontwikkel.

Binne die evolusie sal daar ’n dinamika tussen dierekultuur en genetika wees. Soos natuurlike seleksiedruk op funksionele gene; en evolusionêre aanpassings wat weer kultuur steun. Boonop kan die kultuuraanpassings selfs die genetika uiteindelik verander. Kultuur kan die aard van die evolusionêre proses op verskeie maniere verander, omdat dit ’n vorm van erflikheid is wat bydraend is tot gene.

Sosiale leer is ook nie beperk tot kleintjies nie – dit is duidelik as ’n mens na die groot primate kyk. Daar is eens gedink dierekultuur is nie kumulatief nie, maar die wetenskaplike bevindings die afgelope tyd toon dit kan daar wees en dat dit belangrik is in sekere spesies se lewe. Daaroor gaan ons nog baie leer. Net soos by die mens.

Lees ook:

Baviane van die Krugerwildtuin: Op reis na die familie?

Springbokkleure in gevegskuns

Daar’s ’n hiëna in my truspieël

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top