Is sport die barometer van hoe polities gesond ’n nasie is?

  • 7

Sport en politiek het nog altyd hand aan hand gegaan. Kyk byvoorbeeld na die Suid-Afrikaanse konteks. Gedurende apartheid was daar sanksies. Na apartheid was daar kwotas. Sommige Suid-Afrikaners ondersteun spanne van ander lande as vorm van protes oor die situasie binne ons grense.

Selfs Eskom weet beter as om beurtkrag in te stel op ʼn wedstryddag.

Tydens onderhandelinge om die oorgang na ʼn demokrasie te beredder, het die kwessie rondom die simbole wat deur sportspanne gebruik word, veral die springbok in rugby, meer emosie veroorsaak as baie van die ander polities meer sensitiewe kwessies wat ter tafel gelê was. Sekerlik een van die mees ikoniese oomblikke van Madiba se presidentskap was toe hy in ʼn Springbok-trui die 1995-Wêreldrugbybeker-trofee saam met Francois Pienaar omhoog gehou het.

En nou is ons weer voor ʼn belangrike rugby-oomblik. Hierdie komende naweek speel Suid-Afrika in die finaal teen England.

Natuurlik is die gewone grappe oor die Anglo-Boereoorlog wat opnuut geveg word, gemaak. Dis te verwagte. Dis ook te verwagte dat die skeidsregter met elke fluitjie-blaas veroordeel word asof hy die hele nasie aangeval het en nie net een speler in ʼn wedstryd beoordeel nie. Dis te verwagte dat vir ʼn sportmal, of dan rugbymal, nasie soos ons s’n, die land tot stilstand kom wanneer ons span internasionaal speel. Hierdie naweek verwag ek om ‘n klomp mans (en vroue) in Springbok-truie in die winkels te sien. Reën of son, ek verwag dat braaivure oral sal brand, dat winkels rekordverkope van biltong, droëwors en bier sal hê, dat kroeë met televisie baie besig sal wees, en dat daar ʼn hele paar rugbyweduwees sal wees. En afhangend van die uitslag, gaan die naweek op ʼn nasionale vlak eufories of droefgeestig eindig. Maar ongeag die uitslag, die skeidsregter sal blameer word. En die afrigter.

Dis te verwagte.

Wat hierdie eindstryd anders maak as voriges, is hoeveel van die uitslag afhang. As die Springbokke wen, dan bly Zuma se rekord onbestrede. Watter rekord? Die rekord dat hy die enigste president in demokratiese Suid-Afrika sou wees onder wie se leierskap die Springbokke nie kon wen nie. Dis te verstane. As ʼn land deur sielkundige trauma gaan, kan daar nie van landsburgers verwag word om gefokus te wees op sport nie, of hulle nou op die veld of van die veld is. Hoekom wen lande wat deur burgeroorloë gaan, nie wedstryde nie? Daar is ander goed wat spelers en afrigters se tyd en energie in beslag neem.

Verloor die Bokke, veral teen ʼn span wat hul eie Brexit-drama deurgaan, dan is dit nie net die skeidsregter en die afrigter oor wie daar vraagtekens ontstaan nie. Ook Cyril se leierskap en die nasionale psige kom onder die loep. As die Bokke nie kan wen onder Cyril se nuwe dagbreek nie, beteken dit sy leierskap is op dieselfde vlak as dié van ʼn korrupte president?

Maak geen fout nie. Wanneer die Bokke hierdie naweek uitdraf, is daar die verwagtinge van ʼn hele nasie wat op hulle rus. Daar is niks logies daaraan nie. Kyk byvoorbeeld hoedat die sentiment rondom Faf de Klerk oornag verander het. ʼn Week gelede was hy die paria van die nasie. Daar was selfs gemor omdat hy as die speler van die wedstryd aangewys was. Hierdie naweek? Hierdie naweek kan mens omtrent nie sosiale media oopmaak sonder om jou vas te loop in ʼn meme van die botsing tussen De Klerk en slot Jake Ball van Wallis nie. Nou is De Klerk skielik die held, die Dawid wat Goliat trompop geloop het.

Net so is dit met die hele Springbokspan. Ons mor omdat daar te veel van die een en nie genoeg van die ander is nie. Te veel wit spelers. Net een bruin speler. Te veel skop. Nie genoeg balbeheer nie. Te verbeeldingloos. Nie genoeg verandering in die spelplan tussen wedstryde nie.

Maar solank as wat die ligte brand, die teevee speel en die vleisie op die kole kom, kla ons nie te veel nie. En die politici kan die uitslag, watter kant toe ook al, gebruik om hul eie politieke agenda te bevorder.

Maar wat van die spelers? Maak nie saak wie en wat hulle van die veld is nie, op die veld is hulle ons ambassadeurs. Hulle verdien ons ondersteuning.

En as hulle in die proses ons nasie vir een middag in eenheid saamsnoer, maak die uitslag regtig soveel saak?

 

  • 7

Kommentaar

  • Hopelik sal daar plaaslik nie 'n verdere behuisingtekort ontstaan soos in Nieu-Seeland want volgens sosiale media het dit daar ontstaan soos die Kiwis terug gekeer het aarde toe, na die nederlaag teen Engeland.Eina

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    Onlangs lees ek die raak wat iemand geskryf het.

    In Lina Spies se gedig "By die dood van NP van Wyk Louw" (uit digby vergenoeg) verwys sy sarkasties na die Afrikaanse koerante se destydse hantering van die dood van NP van Wyk Louw, wat volgens haar "die siel van my volk" was.

    Die land se grootste digter sterf sê sy en op die koerant se voorblad staan:

    "All Black is giftig maar die Bokke self nie sleg nie."

    Dan sê Spies; "Die gees van my land is voetbal..........."

    Meeste dinge waarna Bettina hierbo verwys, is waar. En ten spyte van die feit dat ons rugby uiters vervelig, eendimensioneel, onaanskoulik en, en, en is, staan ons agter Rassie en die Bokke. Dis wat mens doen terwyl jy jou oë dikwels moet toeknyp omdat, wat jy sien, nie 'n mooi gesig is nie. Vir die meeste mense (waarvan baie net na groot geleenthede soos die WB kyk en nie regtig veel weet waaroor dit gaan nie) is dit net 'n "wen" wat tel. Dan kan daar immers gekuier en fees gevier word. Vir ander weer gaan dit baie meer oor HOE jy speel en HOE jy wen en hulle sal aanhou agiteer, en later daarop aandring, dat daar weer ware rugby gespeel moet word.

    Almal kan nie gelyktydig tevrede gestel word nie. Vir die Bokke gaan dit oor die eerste opsie. Of pawiljoene leeg gespeel en die spel rugby se siel nek omgedraai word, maak doodeenvoudig nie saak nie. Ons mense wil wen en die land het die gevoel van "wen" broodnodig. Dit sal die donker gemoed van ons mense effe ligter maak en lyk vir nou seer sekerlik die beste opsie te wees. Soos die gesegde gaan: "Hoekom hou jy dan telling as dit nie oor wen gaan nie!"

    So, hiervoor hou ons styf duim vas. Oor die moontlikheid van 'n terugkeer na opwindende Springbok hardloop rugby, kan mens net hoop........

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Suid-Afrika is wen obsessief. Dit is die obsessie met wen wat veroorsaak dat die nasionale span daardie vervelige 10-man rugby van hulle speel. Die feit is dat hardlooprugby is 'n risiko. Jy sal altyd een klomp ontevrede stel. So hulle gaan eerste vir wen. Aanskoulike rugby is laer op die prioriteitslys.

    Die spel word ook tot 'n mate doodgeblaas, wat alles vererger.

    Interessante rubriek behalwe dat die opskrif en die inhoud nie veel tot mekaar spreek nie. Daar word maar in effek min geskryf oor die vraag wat gestel word in die opskrif. Natuurlik is 'n stabiele nasiestaat voordelig vir elke aspek van menswees, insluitend sport, maar Suid-Afrika het ook bietjie slegte geluk gehad by tye in die verlede by die toernooi. Ek dink die president Zuma kan al die blaam dra vir die 2011 en 2015 toernooi nie. Ons hoop die bal spring reg vir Suid-Afrika vanjaar.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Ek dink meeste redelike ondersteuners besef darem ook dat De Klerk so skop op instruksies. Le Roux gee op die stadium meer grys hare...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top