For to be free is not merely to cast off one’s chains, but to live in a way that respects and enhances the freedom of others - Nelson Mandela
Die Intelligensiediens blokkeer onwettiglik selfoonseine binne die parlement; LP’s se vryheid van spraak word met geweld onderdruk; staatsmasjinerie word openlik gebruik om ’n president wie se sell-by-date verby is, aan bewind te hou. Dis nie die onwaarskynlike plot vir ’n James Bond-fliek nie, maar die realiteit en drama van die 2015 staatsrede wat in Kaapstad afgespeel het.
Madiba draai in sy graf om.
Nkosi sikelel’ iAfrika (God bless Africa).
Ek wou aanvanklik mooi netjies en intellektueel praat oor die rule of law, oor ons grondwetlike bedeling, oor “points of order” en “questions of privilege”, oor die reëls wat gesamentlike sittings reguleer, oor die wetgewing rondom blokkering van selfoonseine. Dit raak egter nie aan die hart van die probleem nie; dit beskryf nie die siek gevoel wat ek ervaar het toe dinge Donderdagaand so totaal handuit geruk het nie. Toe sien ek Vrydagoggend die YouTube clip oor die uitsetting. Nice wees en die prentjie mooi probeer skilder is nie meer ’n opsie nie.
Is dit nie juis ons probleem nie? As ’n nasie is ons te ordentlik. Ons is te bang om te offend, maar terselfdertyd is ons te kortsigtig om die rooi vlag te herken wanneer dit voor ons geswaai word. Ons probeer goed intellektualiseer sonder om regtig die knelpunt aan te raak. Steve Hofmeyr en sy trawante jaag snert aan, en ons stik en brom saggies in ons Nescafé. Een enkele kunstenaar reageer en word vir haar moeite op sosiale media uitmekaar geskeur. A day late and a dollar short kom die intellektuele verklarings vir hoekom Steve stout is. Dan is daar groot verbasing wanneer swart mense met bitterheid reageer en onder die larney se ma se rokke invlieg uit protes.
Maluphakanyisw’ uphondo lwayo (Let its horn be raised).
Malema dreunsing “pay back the money”, en ons spot met sy H in houtwerk of die rooi overall terwyl ons selftevrede ’n vleisie op die kole gooi. Vir ’n paar dae is daar ’n bliep terwyl ons brom en mor, en dan raak alles stil. Ons het die attention span van ’n goudvissie. Oor ’n week het daar weer iets op 7de Laan gebeur, of ’n bekende het skande gemaak, en die Nag van die Wit Hemde verval in vergetelheid. Alles is oukei in my hoekie, so ek bly stil. ’n Toe mond is ’n heel mond, haal ons graag aan. Ons het nou al mooi geleer om nie ’n stok in die byenes te loop steek nie. Netnou, behoede ons, word ons rassiste genoem. Maak nie saak dat ons stilswye ons heeltemal emasculate nie. Maak nie saak dat ons besig is om die bose vrugte van ons stilswye te pluk nie.
Marikana. Bliep. Nkandla. Bliep. Bliep. Anene Booysen. Bliep. ’n Lesbiër word vermoor omdat sy haar seksuele oriëntasie wou uitleef soos die Grondwet belowe. Bliep. ’n Vrou word aangerand op pad werk toe want “sy lyk soos ’n prostituut.” Bliep. ’n Seun word verkrag tydens ontgroening. Bliep. Teen Vrydagmiddag word die beeldmateriaal van die aanranding op EFF-lede nie meer uitgesaai nie. Wat sê dit van ons dat ons vasgenael voor die TV sit om ’n atleet se moordverhoor te volg, terwyl Marikana na ’n paar dae vergete was?
Yizwa imithandazo yethu (Listen also to our prayers).
Op die oog af lyk Donderdagaand se gebeure seker heel eenvoudig: die stoute EFF het op die verkeerde tyd en plek ’n stunt gepull om die President te embarass, die speaker is finaal fed-up met hulle streke en laat hulle uitboender. Hulle moes in elk geval nie die staatsrede disrupt het nie, hulle het net hulle verdiende loon gekry. Daar is heelwat kritiek teen die EFF geloods, maar mense mis geheel en al die punt. Ons eie ordentlikheid, die nasionale ongeskrewe reël dat mens nie skande maak as daar kuiergaste is nie, maak ons blind vir wat aan die gang is.
Die waarheid is veel meer sinister en kompleks.
Donderdagaand het die krake in ons gemeenskaplike psige blootgestel. As ’n heethoof soos Malema ’n beter begrip van en respek vir parlementêre prosesse wys as die speaker, dan het dit laat kom word. Die speaker het nie eers probeer wegsteek dat sy net deur die motions gaan voordat sy kragdadig die polisie inroep nie. Malema was heeltemal reg in die punte wat hy genoem het. Dis nie baie ordentlik om die President in sy staatsrede te onderbreek nie, maar dis heeltemal binne die reëls van ’n gesamentlike sitting van parlement. En ons vergeet: al die pomp en ceremony ten spyt, is die staatsrede net nog ’n normale gesamentlike sitting van die National Assembly en die National Council of Provinces - maw die LP’s, die premiers, die kabinet en ’n paar ander. Het die EFF-LP’s die grense van wat hulle mag doen, getoets en selfs gestrek? Absoluut. Was hulle stupid en het hulle die verkeerde geleentheid gekies om hulle stunt te probeer? Vir seker. Het hulle dit juis toe gedoen om groter publisisteit te kry? Waarskynlik. Maar die reaksie, in die vorm van gewapende polisiebeamptes wat hulle met geweld uitboender, is nie net onwettig nie. Dis absoluut buite verhouding tot die gewaande oortreding. Dis ongelukkig tipies vir ons om politiese geskille met geweld te probeer besleg. Right is might.
Nkosi sikelela, thina lusapho lwayo (Lord bless us, we are the family of it).
Daar is iets fundamenteel verkeerd daarmee dat gewapende polisiebeamptes LP’s kan aanrand omdat hulle hulle demokratiese reg uitoefen. Iewers haper iets groot as ’n regerende party wetgewing wat hulle self ingestel het, so blatant kan verbreek om een enkele persoon te beskerm. Ons loop op dun ys as grondwetlike regte vertrap word. Dit gaan om baie meer as net of joernaliste tydens die staatsrede kon tweet. Die issue is groter as bloot of Malema en kie moes geloop het toe die speaker hulle uitgejaag het.
Morena boloka setjhaba sa heso (Lord, bless our nation).
Dis ’n siniese magsvertoon om in die simboliese setel van ons demokrasie sulke grondwetlike vergrype te laat plaasvind soos wat ons Donderdagaand gesien het. Dis duidelik dat daar in sommige kringe gereken word dat sekere mense verhewe bo die wette van ons land is. Some are more equal than others.
Wat het polisiebeamptes anyway daar gedoen? Volgens berigte het veertig mans in wit hemde ingestorm om die EFF-lede uit te sit. Hoekom het die weermag na bewering gesê hulle is gereed om in te tree, ten spyte van die feit dat hulle teenwoordigheid daar net seremonieel was? Het hulle vooraf beplan om vir Julius te wys wat gebeur as jy teëpraat? Is dit hoekom die selfoonseine vroeg reeds geblokkeer was?
O fedise dintwa le matshwenyeho (Stop wars and suffering).
Ten beste het die staatsrede van 2015 ’n entertaining blik op die politieke magspeletjies wat in die parlement gespeel word, gewerp. My vrees is egter dat dit vir ons ’n glimps in die toekoms van ’n eenparty-polisiestaat gewys het, waar dissent met geweld beantwoord word, waar die pers se vryhede sonder waarskuwing of verduideliking opgeskort word, waar right is might die enigste beginsel is wat geld.
Ons sien alreeds hoedat vryheid van spraak op alle gebiede begin vereng. Selfsensuur onder woordkunstenaars neem toe, omdat hulle staatsensuur en die gevolge daarvan vrees. Buite ons landsgrense hoor ons gereeld hoedat woordkunstenaars gevangenisstraf of lyfstraf opgelê word, of onder huisarres geplaas word omdat hulle vryheid van spraak uitoefen. Onthou mense nog die fatwa op Salman Rushdie? Dis nie net in die Midde-Ooste ’n probleem nie. Hier by ons is dieselfde besig om te gebeur. Redakteurs wat kritiek lewer teen die regerende party, bevind hulleself blitsvinnig sonder werk. Persone van binne die party wat kritiek lewer, word gediskrediteer en uitgeban. Kort-kort is daar opvlamming van stemme wat muilband-wetgewing van krag wil sien. Kunstenaars wat die President in ’n swak lig uitbeeld, word voor die hof gedaag en op ander maniere stilgemaak.
Vryheid van spraak is sonder betekenis wanneer net dié wat in jou koor sing, gehoor mag word. Juis wanneer mense nie met jou saamstem nie, of selfs dinge kwytraak wat jou offend, moet hulle vryheid om dit te mag sê beskerm word. As Julius en kie wil sê die President moet die geld terugbetaal, dan is dit hulle goeie reg om dit te doen, maak nie saak waar nie. Die opwelling van emosies rondom die Charlie Hebdo-aanval het duidelik gewys dat gewone burgers dit verstaan.
Ferial Haffajee het Vrydag in ’n rubriek beweer: “Something broke last night.” Ek wil van haar verskil. Dis lankal aan flarde; ons was Donderdag net met die fault lines gekonfronteer op ’n manier wat ons nie meer kan bekostig om te ignoreer nie. Madiba het respek vir die gesag van die howe getoon toe hy hom destyds in sy presidensie laat dagvaar het om in ’n hofsaak te getuig. Daarna was dit afdraand al die pad. Mbeki het begin, en Zuma het die kuns vervolmaak om die howe te gebruik as ’n persoonlike speelbal om politieke punte te score. Nkandla. Guptagate. Schabir Shaik. Selebi. Dis lankal gebreek, maar ons was nog heeltyd wilfully blind. Wette word beskou as rigtingwysers vir ander mense, nie dié aan bewind nie.
O se boloke, o se boloke, setjhaba sa heso (Save it, save our nation).
Donderdagaand is demokrasie soos ons dit ken, ’n regterhaakhou op die ken toegedien. Die feit dat die selfoonsein herstel is, is ’n hoopvolle teken dat daar nog ’n modikum van respek vir protes is.
Die President se absolute stilswye oor die gebeure wat in die raadsaal afgespeel het , was chilling. Ek sou verwag het van ’n leier om iets, enigiets, te sê oor wat gebeur het. Dalk die grootste krisis van ons jong demokrasie, en hy het skynbaar nie genoeg getraak om kommentaar te lewer daarop nie. Die polisie vaar die wetgewer met geweld binne, en dit word met stilswye begroet. Die amptelike opposisie stage a walkout in protes voor die staatsrede gelewer word, ’n eerste in die geskiedenis van Suid-Afrika, en hy reageer met ’n giggel.
Setjhaba sa, South Africa (The nation of South Africa).
Ons demokrasie steier rond soos ’n punch drunk bokser. Die tyd sal leer of haar ken van glas gemaak is.


Kommentaar
Fantastiese artikel.
Mens wonder ook nogal oor die rol wat klikbekke en bloody agents in ons samelewing speel. Hoeveel fone word afgeluister? Hoeveel rekenaars gemonitor? Hoeveel geld word vir al dié inligting betaal?
Natuurlik klink ek nou selfs vir myself paranoïes. Maar as mens in gedagte hou hoeveel mag die veiligheidsdienste deesdae het...
Dankie Bettina vir 'n baie goeie en insiggewende artikel! Ek stem met ALLES saam wat jy hier sê. Laat ek net dit noem - dit gebeur selde dat ek so saamstem. Soos met julle in die regspraktyk moet jy 'n geskikte en gepaste persoon wees. Ek hoop maar die terme is reg want ek ken dit net in Engels waar hulle praat van Fit and Proper! Jacob Zuma WAS, IS, en sal NOOIT 'n geskikte en gepaste persoon wees nie. Kom ons wees eerlik hy moes nooit president geword het nie. Van dag een speel die hele party, sommige denkers vir wie ek die grootste respek het, spin doctors om hom te beskerm. Kyk maar hoe moet Mac Maharaj elke dag rondspring!
Wat het daardie liewe Antionette destyds in Frankryk gesê toe daar nie genoeg brood vir die menigte op die strate was nie? "Gee vir hulle koek!" Die res is geskiedenis ...