
Foto: Pixabay
Die ekonomiese herstelplan wat laasweek bekend gestel is, lyk indrukwekkend en pragtig.
Sommige dele van die plan lyk soos ’n cut and paste job van vorige, onsuksesvolle, herstelplanne. Met die plan self in die verskillende inkarnasies was daar seker nog nooit regtig fout nie. Selfs regerings kan aspirational eerder as logies wees. Maar elke plan maak my net effens meer mismoedig.
Dalk lê die fout by my en nie die President se ekonomiese span nie. Daar moet geld uitgegee word om geld te maak, dit verstaan ek. Maar het die tyd nie dalk aangebreek om die belastingbetalende deel van die bevolking te help om op die been kom nie? Ons werk nou met geleende geld. Een of ander tyd moet daai geld terugbetaal word, en waarmee doen ons dit? Ons moet ons belastingbasis vergroot, sou ek dink. En dit kan nie gedoen word deur entry level werk en ongeskoolde arbeiders te skep nie.
Ons moet mense aanmoedig om besighede te begin. Ons moet studente aanmoedig om ambagte te leer. Ons moet spazawinkels en kleremakers en tuisbedrywe aanmoedig.
Dis als goed en wel om meer assistente by skole aan te stel, maar dit is al gedoen. By die meeste skole waarvan ek bewus is, is daar geen gebrek aan assistente nie. Dis opgeleide, ervare, toegewyde onderwysers wat nodig is. Dis onderwysers wat volwassenes kan leer lees en skryf wat nodig is. Dis geleenthede vir grootmense om hulself verder te bekwaam wat nodig is.
En waar is die hulp aan die restaurante en hotelle en ander toerisgedrewe besighede? Hoeveel eetplekke en vermaaklikheidsplekke het nie die afgelope ruk toegemaak nie? Baie mense sien eenvoudig nie nou kans om by eetplekke aan te sit en te eet nie. Dié wat dit nog kan bekostig, ’n al kleiner wordende groep, is bekommerd oor die risiko’s waaraan hulle blootgestel word. Die res kan dit gewoon nie bekostig nie, en eet eerder tuis.
Soos met die vorige plan wat aan die begin van die Covid-grendeltyd aangekondig is, het hierdie plan weer voorsiening gemaak vir kunstenaars. Maar weer het die meeste sangers en akteurs glad nie voordeel getrek uit die vorige “reddingsboei” nie, en hulle sal weer nie voordeel trek nie. Die probleem is ’n oormaat burokratiese rompslomp wat verdienstelike kunstenaars effektief uitsluit van die proses, maar nie genoeg rompslomp om politici met lang vingers te verhinder om hul hande op die geld te lê nie.
En skrywers? Blykbaar beskou die regering nie skrywers as kunstenaars nie. Geen definisie van kunstenaars soos wat in die plan voorgehou word, sluit skrywers in nie.
Geen hulp word gebied aan joernaliste wat in papiermedium werk nie. Daily Maverick is die enigste koerant waarvan ek weet wat in hierdie onseker tye uitgebrei het van heeltemal digitaal na ook papieruitgawes.
Skrywers van fiksie trek aan die heel kortste ent. Geen reddingsboei vir hulle nie. En boonop word die diefstal van e-boeke ’n al groter probleem.
Hoekom word moeite gedoen om sommige bedrywe te red, en ander word maar vir die wolwe gegooi? Selfs voor die grendeltyd was daar aanslae op die kopiereg van skrywers se werke. Nou word werke wat onder kopiereg staan, sommer openlik gesteel.
En ja, liewe leser, daai WhatsApp met ’n pdf van ’n boek wat jou maat aangestuur het? Dis diefstal, en as jy dit oopmaak en lees, is jy ’n dief.
En tensy die regering, en lesers, daadwerklik meedoen om skrywers se werk te ondersteun en beskerm, gaan stokou pdf’s een van die dae al wees wat te lese gaan wees. Skrywers kan net skryf as hulle betaal word.
Die dae van skrywers wat ondersteun word deur ryk weldoeners het in Shakespeare se tyd al uit die mode geraak.
In hierdie inperking het ons almal meer liedjies geluister en televisie en rolprente gekyk. Akteurs en sangers trek die voordeel. Maar wat van die skrywers wat elke verhaal geskryf het, wat die woorde van elke liedjie geskryf het? Akteurs trek nie hul woorde uit die bloue lug nie. ’n Skrywer het dit geskryf, en baie van die verhale is verwerkings van tekste wat aanvanklik in boekvorm verskyn het.
Om skrywers nie te hanteer as kunstenaars nie, is ’n groot gebrek wat hierdie ekonomiese herstelplan kniehalter. Vorentoe gaan ons almal die prys daarvoor betaal.

