Is poverty porn eties?

  • 7

Bettina Wyngaard (foto: Naomi Bruwer)

Het jy al sosiale media oopgemaak en ’n foto gesien, of selfs gelike, van iemand wat vertel watter goeie daad hulle vir ’n arm persoon gedoen het, gewoonlik met ’n foto van die ontvanger van hul goedhartigheid teenaan? Of het jy al self so iets geplaas?

Baie keer is daar ’n verontskuldiging by: Die persoon het toegestem dat hul foto geneem kan word.

Elke keer wanneer ek so iets sien, kom daar ’n paar vrae by my op. Watter payback is daar vir die persoon wat die foto plaas en oor hul weldaad spog? Is die kloppie op die rug en die bewondering wat hulle kry, regtig so belangrik? Of is dit bloot dat die waardigheid van die persoon wie hulle help, so irrelevant is dat dit nie oorweeg word nie? Want ek begryp regtig nie hoekom daar gevoel word die persoon se gesig moet gewys word nie. As jy ander wil laat weet hoe wonderlik jy is en hoe goedhartig jy is omdat jy uit jou oorvloed ’n brood en ’n pakkie polonie geskenk het, is dit een ding. Wanneer jy terselfdertyd, asof die ontvang van die pakkie nie erg genoeg is nie, boonop die persoon ontbloot, is die vernedering soveel erger.

.........

Net omdat iemand arm is, net omdat iemand minder het en geforseer word om iets van jou te ontvang, maak dit hulle nie minder geregtig op hul waardigheid nie.

.........

Net omdat iemand arm is, net omdat iemand minder het en geforseer word om iets van jou te ontvang, maak dit hulle nie minder geregtig op hul waardigheid nie.

Hoeveel keuse het daai persoon regtig wanneer hulle instem tot ’n foto? Die magsverhouding tussen gewer en ontvanger is so ongelyk dat daar nie regtig sprake kan wees van ongeforseerde toestemming nie. Hoe weet die persoon jy gaan nie die goed terugvat as hulle weier om te poseer vir die foto nie? Dalk voel hulle verplig om in te stem vir die foto omdat jy andersins gaan dink hulle is ondankbaar.

En hoe, wonder ek elke keer, begin jy hoegenaamd die gesprek oor die foto? Met ’n glimlag op jou gesig en een hand op die “donasie”?

Dis wonderlik om te weet mense gee om vir ander, en probeer help. Dis tog waaroor ubuntu gaan. Dis waaroor elke godsdiens in die wêreld gaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. When you have more, build a longer table, not a bigger wall.

Die probleem daarmee is wanneer dit aan die groot klok gehang word. Die probleem is dat persone geïdentifiseer word.

Dis wanneer die skeidslyn tussen ’n weldaad en poverty porn so geweldig vloeibaar word. Dis nie genoeg om te pronk met jou weldaad nie, dat jy die gratifikasie van die bewondering van jou eweknieë op Facebook kry nie; soos met seksuele porn moet iemand ook gedegradeer word. Hoe narsisties moet ’n mens wees om ander uit te buit in jou poging om te wys hoe wonderlik jy is? Hoe eties is jou optrede as jy dit doen om jouself te bevorder?

Poverty porn word tradisioneel gedefinieer as “any type of media, be it written, photographed or filmed, which exploits the poor’s condition in order to generate the necessary sympathy for selling newspapers, increasing charitable donations, or support for a given cause”. Sedert sosiale media meer gereeld gebruik word, vind ons ook dat individue en nie net organisasies nie beelde plaas wat armes uitbuit. Nou gaan dit nie juis meer daarom om ander aan te moedig om ook te help nie, dis om jou eie beuel te blaas.

Doen jou goeie dade waar die mense jou nie kan sien nie, dan sal jy jou beloning van die Vader kry, belowe Jesus. Maar as jy jou weldaad op die straathoeke doen, vir ander om jou te sien, dan het jy reeds jou beloning weg. Dit kom uit die Bybel, maar soortgelyke vermanings kom ook voor in geskrifte van elke geloof, of dit nou Moslem, Joods, Hindoe, of watter ander geloof ook al is.

Selfs as jy nie in enigiets glo nie, dan bestaan die beginsel dat jou regterhand nie moet weet wat jou linkerhand doen nie, steeds. “Do unto others as you would have others do unto you,” so lui die goue reël. Nie een enkele van die persone wat op Facebook post, sou wou hê dat daar van hulle foto’s geneem word wanneer iemand aan hulle ’n weldaad bewys nie, daarvan is ek doodseker.

In hierdie dae van oombliklike gratifikasie is die “like”-knoppie op Facebook seker vir baie mense die beste beloning wat hulle kan ontvang.

.......

In hierdie dae van oombliklike gratifikasie is die “like”-knoppie op Facebook seker vir baie mense die beste beloning wat hulle kan ontvang.

........

Dis nie vir my wonderlik nie. Dit laat my net respek verloor. Dis die optrede van ’n persoon wat narsisties en selfsugtig is en met diepgewortelde insecurities sukkel.

Gaan kry terapie, is my raad.

........

En as jy die geleentheid kry om iemand minder bevoorreg as jy te help, hou jou foon in jou sak en jou vinger van die “send”-knoppie. Gee die geskenk van waardigheid.

.........

En as jy die geleentheid kry om iemand minder bevoorreg as jy te help, hou jou foon in jou sak en jou vinger van die “send”-knoppie. Gee die geskenk van waardigheid. Laat die wete dat jy help om die wêreld ’n bietjie beter te maak, jou beloning wees.

 

  • 7

Kommentaar

  • Bettina, ek stem soooo saam met jou. Om die regte waarheid te sê, sulke goeie dade walg my. Wat, presies wat, is goed daaraan? Ek word nou sommer baie kwaad.

  • Davida Barnard

    Dit is my oortuiging ook. Wanneer jy spog met jou 'goedhartigheid' dan het jy jou loon weg. Mens moet gee sonder om die basuin te blaas.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top