Is ons regtig verbaas oor die proteste?

  • 20

Protes in Hermanus (Foto: Youtube)

Drie vroue stap straat-af. Die een in die middel stoot ’n kruiwa. In die kruiwa is ’n bondel komberse. By nadere ondersoek is die bondel komberse ’n ou vrou toegedraai om haar darem te beskerm teen die ergste stampe en stote soos die kruiwa oor die ongelyke grond beweeg. Na ’n rukkie neem een van die ander twee vroue oor. Die een wat gestoot het, is moeg.

Hulle stoot die ou vrou in ’n kruiwa, want daar is nie rolstoele beskikbaar nie. Daar’s ook nie altyd medisyne wanneer hulle by die daghospitaal kom nie. Daar was probleme met die Sassa-geld. Die amptenary gee nie ’n blou duit daarvoor om dat die ouma te swak is om op eie stoom by hulle kantore aan te kom nie. As sy haar geld wil hê, moet sy tot daar kom, finish en klaar. Dus word sy met ’n kruiwa gestoot en al vier die vroue aanvaar dit skynbaar gelate.

Afgetrede, afgeleefde plaaswerkers word in die dorp op ’n stuk grond afgelaai met boumateriaal om ’n hok op te slaan. Daar is nie water, riool, elektrisiteit of selfs paaie nie. Hulle het nêrens anders om heen te gaan nie. Kort voor lank kry die plaaslike munisipaliteit ’n hofbevel teen hulle. Daarna is dit die Rooi Miere wat afbreek, en partykeer die bietjie geld wat hulle het, steel. Wie gaan hulle glo? Hulle is dan onwettig op die grond. Wat kan hulle doen? Hulle moet maar gaan, gelate en gedweë. Tot hulle van die volgende stuk grond weggejaag word.

Daar is die vrou met asemhalingsprobleme. Haar kinders bel die ambulans om haar te kom haal. Die ambulans kom nie uit nie, en die kinders huur later ’n taxi om haar ambulansstasie toe te neem. Sy sterf. As die ambulans gekom het toe hulle gebel was, sou sy betyds die regte mediese hulp gekry het en sy sou lewe. Wat kan haar kinders doen? Hulle lê ’n klag, die owerhede trek net skouers op en dis die einde daarvan. Hulle moet dit maar aanvaar. Dis hoe dit werk, deesdae. Hou jou mond en gaan aan met jou lewe.

Tot op ’n dag, wanneer al daai opkrop en verneder word en teruggejaag word en geïgnoreer word en vertrap word oopbars. Dan word daar klippe gegooi en tyres gebrand en paaie versper. Dan word verwoesting gesaai en biblioteke afgebrand. Dan word dorpe deur gewelddadige protes tot stilstand geruk.

Dis maklik om dan op veilige afstand te sit en die verwoesting te veroordeel. Dis maklik om vinger te wys en te sê dat “hulle” tot hul eie nadeel optree.  Dis maklik om die dommigheid van die skool afbrand waar jou eie kinders moet skoolgaan, te veroordeel. Dis maklik om die mense wat brand en breek en baklei en steel, te veroordeel as misdadige elemente wat protes gebruik om anargie te saai.

Dis moeiliker om te erken dat mense bitter selde geweld as eerste opsie gebruik. Dis moeiliker om te erken dat ons nie regtig die vaagste benul het waardeur daai mense gaan nie. Dis moeiliker om te erken dat boeke en swembaddens irrelevant raak as jy nie kos het of ’n dak oor jou kop nie. Dis moeiliker om te erken dat ons rekenaarskerm, of die plasma van ons televisie ons ’n veilige afstand van die realiteite bied. Ons kan by ons kaggels sit en organiese fair trade rooiwyn drink en Woolworths-vleis eet terwyl ons kla oor hoe ons verontrief word deur die protes.

Ons kla dat ons kar se ruite uitgegooi gaan word. Ten minste het ons ons eie vervoer, en is nie afhanklik van onbetroubare taxis waar ons beroof of verongeluk kan word nie. Ons kla dat ons nou weer nie vandag betyds by die werk gaan wees nie. Ten minste het ons ’n werk. Ons worry dat “hulle” in die nag ons buurt gaan binnekom en oorvat. Ten minste het ons huise. Ons kla omdat ons gemaklike bestaan ongemaklik gemaak word, nie omdat ons besef ons medemens is in krisis nie.

Dis moeilik om empatie te hê met dit waardeur ’n ander persoon gaan, as ons nie onsself wil oopstel om uit te vind nie. Dis maklik om ons gewete te sus deur vir die bedelaar by die robot geld in die hand te stop vir ’n brood, terwyl ons heimlik dink hy gaan die geld eintlik gebruik vir drank of spiritus of tik. Dis moeiliker om vir daai bedelaar ’n maaltyd te koop en by hom te sit terwyl hy eet, en sy verhaal aan te hoor. Dit vereis van ons om betrokke te raak, ons is alreeds empatie-fatigued. Never mind dat daai persoon nie die luukse het om fatigued te raak nie, oorlewing is ’n voltydse job.

Natuurlik is daar professionele bedelaars wat een of ander onwaar hartseer storie gaan spin net om meer geld uit jou te kry. Natuurlik is daar betogers wat vere voel vir die eintlike rede vir die protes en net daar is om skade aan te rig. Natuurlik is daar in elke groep mense wat vir eie gewin optree.

Daar is egter heelwat meer mense wat regtig swaarkry. Daar is mense wat in ’n land van oorvloed honger ly. Onnodiglik so, want die amptenare wat verkies is staan met die snoet in die trog en doen niks om ons mense te help nie.

Huise word nie ordentlik gebou nie, want dis net nog ’n get-rich-quick-scheme. Te hel met die mense wat gaan bly in huise waarvan die mure op hulle inval want die sement was substandaard. Te hel met die mense wat jare op die waglys vir ’n huis is, want hierdie nuwe outjie kan die amptenaar wat huise toeken geld onder die tafel in die hand stop.

Dis maklik om nou die weermag se hulp in te roep om jou eie burgers in jou eie land te onderdruk. Dis moeiliker om die regtig harde vrae te vra.

Vrae soos: Hoe gebeur dit dat mense 24 jaar na demokrasie in baie opsigte slegter daaraan toe is as tydens die onderdrukkende jare van apartheid? Is substandaard dienste, korrupte amptenary, grootskaalse werkloosheid en onbeheersde misdaad die prys wat ons betaal vir vryheid?

Die waarheid? Die waarheid is dat as ek my ma in ’n kruiwa moet rondstoot, of in ’n hok moet bly waar ek enige dag uitgesmyt kan word, terwyl die ouens bo in blink karre ry en koeëlrond is van al die lekker spyse terwyl ek moet steel om vir my kinders brood op die tafel te sit, dan sal ek ook ’n punt bereik waar ek klip gooi en afbrand.

En so, liewe leser, sal jy.

Die verskil tussen my en daai klipgooier is nie opvoeding of beter maniere nie. Die verskil is die vryheid om keuses te maak. Neem al die keuses weg en anargie begin nie net sin maak nie, dit begin aantreklik lyk en goed voel.

Hoekom begin daar in Europa en Amerika al meer sogenaamde “rage clubs” opspring? Dis plekke waar mense ’n toegangsfooi betaal en dan in ’n kamer geplaas word waar hulle goed kan breek. Rekenaars en kantoortoerusting is blykbaar gewilde teikens.

En as niemand na jou wil luister nie, en by gebrek aan kanale om jou griewe reg te stel, kan die grootskaalse afbreek van munisipale geriewe terapeuties wees.

Afbreek kan goed voel. Ons erken dit nie, want dis mos onbeskaafd. William Golding se Lord of the flies gaan uit van die veronderstelling dat as kinders uit die beskawing weggeneem word, sal hulle na ’n primitiewe staat terugkeer. Golding het nie ver genoeg gegaan nie. Volwassenes kan ook, in die regte omstandighede, beskawing en die respek vir reëls afskud.

Die enigste manier hoe ons dit hier kan keer is om effektiewe kanale te skep waar griewe nie net gelig kan word nie, maar daadwerklik opgelos kan word. Die tyd vir talk shops is verby. Die tyd vir Band-Aids tot net na die verkiesing is verby. Die tyd vir gewone burgers om agteroor in Lazy-Boys te sit en vinger te wys is verby.

Nie een van ons kan bekostig om onbetrokke te bly nie. Ons kan dit nie bekostig uit menslikheidsoorwegings nie. Dis mense met gevoelens en begeertes en behoeftes en drome wat onderdruk word.

Maar as empatie nie ’n beweegrede is nie, laat selfbelang dan wees. Ons moet met mekaar saamlewe, en as ons aanhou op ’n collision course in stede van hande vat en saamwerk, gaan daar een of ander tyd ’n botsing kom.

Dis stupid om dit nie te probeer vermy nie.

  • 20

Kommentaar

  • Ek het die artikel skepties begin lees, maar moes baie gou saamstem met wat gesê is. Baie dankie vir die oog-oopmaker - somtyds is dit baie nodig om die waarheid te hoor.

  • Die teenantwoord kan wees dat jy met die afbreek ’n uitlaatklep soek, net jou eie selfsugtige behoeftes bevredig. Dit doen niks vir jou gemeenskap nie.
    Dit is seker nie verregaande om te vra: Wil so 'n gemeenskap ipv mors en brand en klipgooi, nie oumas in kruiwaens help nie, toilette netjies maak nie, vullis optel nie? Dit sou nou meer bevredigend vir ryk en arm wees.

  • Hoe netjies gestel van iemand wat netjies en van kant lewe met 'n gemaklike salaris en tien teen een 'n bediende besit. Die teenantwoord is nie om te antagoniseer of selfs dan die broodnodige rede vir hierdie artikel regverdig nie, maar ook vir ons wys hoe mense sonder begrip kan lees en sodoende die nietseggende begrip beklemtoon van hoe ons armoede verstaan ... ARMOEDE EN SWAARKRY IS NIE NETJIES NIE, DOOD IS NIE NETJIES NIE, DEPRESSIE IS NIE NETJIES NIE, DAAR IS NIE TYD VIR BESKAAFTHEID AS MENS GROOT GEMAAK WORD SOOS SIRKUSDIERE MET MIN KOS EN BAIE WERK NIE.

  • Ja, Bettina. Die lyding van die mense is roerend. Jy is 'n waarheidsoeker. Daarom vra ek jou: Gaan vind bietjie uit of dit waar is dat baie duisende mense uit die Oos-Kaap met busse aangery is na Hermanus. Dis wat ek hoor by inwoners. Wie het hulle aangery en waarom??

  • Ou Vlakvark Johann Basson

    'n Hartverskeurende artikel. MAAR: wat is die kernoorsaak van die probleme en wat is die oplossing en waar begin mens om die kernoorsaak aan te spreek? Wie gaan die leiding neem? Wie gaan die strategie bepaal en implementeer? Wie gaan die bronne voorsien? Wie gaan 'n Gantt-kaart opstel om al die projekte te koördineer?

    Feit is dat die Suid-Afrikaanse nasie deel is van 'n onsekere snel veranderende ekonomies hoogs kompeterende wêreldorde. Indien hierdie nasie met sy ongebreidelde bevolkingsaanwas nie spoedig ekonomies wêreldkompeterend word nie, is toenemende werkloosheid, armoede, sosiale onrus, magstryde en kriminaliteit en selfs anargie ons voorland en geen leë verkiesingsbeloftes, standbeelde en verwyte oor die verlede sal ons red nie.

    Elke Suid-Afrikaner se denkpatrone sal moet verander en gerig word op 'n beter gesamentlike gelyke geleenthede toekoms vir ons nageslagte en die bewaring van ons omgewing.

    Bestudeer gerus die VSA se Baldrige Excellence Framework for Performance Excellence. Hierdie Raamwerk is gebaseer op wêreldwye erkende kriteria vir bestuursuitnemendheid.
    https://www.nist.gov/baldrige/publications/baldrige-excellence-framework/businessnonprofit

    Het u al gedink aan 'n eenduidige, haalbare, meetbare NASIE-VISIE met 'n keerdatum wat alle Suid-Afrikaners deur naasteliefde, geregtigheid en werkstrots saamsnoer tot grootse hoogtes? Vasteland China het die nasie-visie om die wêreld se fabriek te wees. Wat is Suid-Afrika se nasie-visie?

  • Tog hou mense aan om vir dieselfde regering te stem wat korrup is en nie vir sy mense sorg nie. Tog hou hulle aan om die onwaarhede te glo. Ek stem nie saam nie. Ek het nie altyd gehad wat ek nou het nie maar ek het nooit dinge afgebreek of lus geraak om anargie te saai omdat ek voel die wêreld skuld my iets nie. Ek het harder gewerk, meer geleer, minder geëet, meer gedoen, harder probeer. Ek het geveg met alles in my om dinge beter te maak. Dinge gebeur en mense reageer. Ons het altyd keuses. Hoe jy kies om te reageer in jou situasie, spreek boekdele van jou karakter en wat jy vorentoe in die lewe wil hê.

  • Al wat die huidige toedrag van sake duidelik maak is, dat suksesvolle bevrydingsorganisasies, nie noodwendig suksesvolle regerings beteken nie.

    Diegene wat al boeke soos After the Party en Inside Quatro gelees het, sal besef dat daar 'n kern van korrupte en magsbehepte mense, hul tuiste in die organisasie gevind het.

    Vandag sukkel die huidige president om van dit ontslae te raak, want van hulle is invloedryk en kan maklik 'n skeuring in die ANC veroorsaak. Beloftes maak skuld en mense is eenvoudig moeg gewag op die vervulling daarvan, veral as hul sien hoe amptenare eers na hulself omsien en voorheen goed funksionerende instansies, van gesondheid tot munisipale dienste in duie stort.

  • Ystervark van Ysterfontein

    "We learn from history that we learn nothing from history" - George Bernard Shaw.

    George Orwell se Animal Farm-vertelling herhaal homself oor en oor in die geskiedenis: die dom skape as navolgers en die gierige narsistiese varke wat alleen by die trog vreet en nie 'n flenter vir die skape voel nie. Maar ongeregtigheid laat die wiel stadig maar seker draai waarna die volgende Animal Farm-episode begin.

    So, wat is die probleem en wat is die oplossing daarvoor? Miskien 'n nuwe ideologie of 'n nuwe godsdiens of 'n Slag van Armageddon? Miskien selfdood die mensdom die menslike spesie en sal die rotte die wêreld regeer.

  • Hierdie verhaal speel hom op talle dorpe af, maar kom stemtyd stem al hierdie tenagekome mense maar weer vir die party wat hulle in die steek gelaat het, steeds in die steek laat en na die verkiesing dit weereens gaan doen.

  • Hélène Opperman Lewis

    Of lees 'The People's War' from Anthea Jeffrey. Wanneer jy die pad van aftakeling begin stop jy nie voor als afgetakel is nie, want hoe meer jy aftakel hoe meer rede is daar om nog af te takel.
    Feit is, die einde is nog lank nie in sig nie ... wat beteken die einde van vernietiging is nog lank nie in sig nie. Daar's NIKS terapeuties daaraan nie! Verkeerde woordkeuse, alhoewel die gevoel van hulpeloosheid verstaanbaar is.

  • Hartroerende "call to arms" vir diegene op die sogenaamde "gerieflike kantlyn". Maar so mooi as wat die skrywe is, is dit niks meer as net nog 'n brokkie in 'n massa nie. Ja, daar is skryende skandes en skades, maar wat staan ons te doen? Geen vingerwysing na wat verkeerd is bring werklik verandering nie. Waar is die padwysers? Waar is die skrywe oor hoe om reg te maak wat so onomkeerbaar krom is? In magteloosheid soek ons op die kantlyn ook maar raad.

  • Mark Joseph Crowley

    Verlede Vrydag was ek so hartseer. Ek mis my kinders. Ek mis my kolegas by Lukhanyo Primary. My kollegas is in vrees. Al wat in my kop gemaal het was die gedig van Ingrid Jonker, getiteld: "Die kind"... My kinders in Zwelihle. Ek sien nog van ons kinders voor my geestesoog, party met stukkende truie, party met skoene wat oopgaap, maar hulle wil opvoeding hê. Geen kind spot ook 'n ander vir hull gate in die truie of stukkende skoene nie. Almal is gewoond daaraan. Ek hoor in my diepe gedagtes ... Eye love Jesus ... Dit is wat ek doen voor ek 'n klas instap by Lukhanyo primêr... Ek punt na my oog en sê: "Eye ...dan punt ek na my hart ... Love ... dan wys ek na die hemel ... Jesus ... en my kinders volg die aksies en sê die woorde. Mag God hul ogies en hartjies beskerm vir wat hulle om hulle waargeneem het. In die fliek "Fiela se Kind", meld Fiela die volgende woorde wanneer sy met die magistraat praat oor die wit kind wat sy soos haar eie groot gemaak het: " God vergewe ons baie, maar hy vergewe ons nooit vir wat ons 'n kind aandoen nie. My hart gaan uit vir almal in Zwelihle. Zwelihle beteken Mooi Plek in Afrikaans. Voor die hele protes-aksie begin het, het 'n persoon van Holland en Swede 'n foto-projek by ons skool, Lukhanyo Primary in Zwelihle begin. Ek en 'n ander kollega moes die kinders in die Zwelihle township in neem. Kameras was aan elke kind gegee om foto’s te neem van Spaza shops ,oupas en oumas, kinders wat in die strate speel, ens. Hierdie foto’s is gepubliseer in 'n tydskrif genaamd Trough Their Own Eyes. Dit was deel van die Hermanus Fyn Arts. Ek kan my net indink watter trauma ons kindertjies moes beleef het. Die emojis wat saam met die kommentare gaan op WhatsApp was net traangesiggies ... Die liedjie wat David Kramer sing genaamd , " Skipskop", meld daar in die lirieke : "Wanneer hou die dinge op?"

  • Jay Pee
    Was net nou die ander dag in so ’n gesprek vasgevang. Mense wat sukkel om hulle griewe met die owerhede te deel en net op dooie ore val veroorsaak dat mense ‘n ander uitweg sal soek om gehoor te word. Die beste manier om deesdae gehoor te word is om af te brand en te verwoes. Ek stem ook nie altyd saam met diegene se modus operandi nie maar nou ja, wat moet die mense dan nog doen om gehoor te word. Ons land gaan een van die dae ontwikkel in ’n baie gevaarlike land waar niemand meer vryelik kan rondbeweeg indien daar nie daadwerklik opgetree word nie. Werkloosheid is aan die orde van die dag en mense is honger. "Jy kan nie in die nag rustig slaap as jou buurman honger is nie". Hy gaan jou kom pla want ‘n honger mens wil eet om te oorleef. Hy gaan kom inbreek by jou, die goed verkoop wat hy steel, en kos koop om te oorleef. Owerhede luister na die mense se griewe en doen daadwerklik iets daaraan. Moenie net sê ons gaan dit doen nie. Doen dit. Nou waar begin mens nou om die verandering teweeg te bring. Politici moet ophou om hulle eie sakke vol te stop en vergeet van die mense wat so sukkel om te oorleef. Mense lees en sien die goed raak en raak opstandig omdat daar nie gehoor aan hulle gegee word nie. Taakspanne is die in ding vandag. Stel mense aan wat die probleme kan identifiseer om werkbare oplossings te vind en doen wat gedoen moet word vir die mense. Dan kan ons vorentoe in ’n vredeliewende Suid Afrika woon en beweeg. Hoop my stuiwer word raakgesien.

  • Die vorige regering het die mense gefaal.
    Die huidige regering het die mense gefaal.
    Ek gaan nie vir die tweede keer skuldig gemaak voel daaroor nie. Ek het self arm grootgeword, water met 'n emmertjie aangedra en by kerse vir matriek geleer en in 'n longdrop gepie, maar my vrek gewerk en gesukkel om geleerd te kom om dit beter te maak. So hartseer soos wat jou skrywe my maak omdat dit so waar is, oor die apartheidsregering kon ek skuldig voel omdat ek nie aktief gehelp het om dit teen te werk nie, maar hierdie kite gaan nie weer vlieg nie.

  • Net soos jy daar sê. Ek het ook op 'n plaas groot geword. Kerslig en olielampe. Water uit 'n tenk gedrink. Kom ons kry 'n paar denkende Suid-Afrikaners bymekaar en werk iets uit man. Die situasie in die land gaan net verder versleg en ons raak ouer en raak later die prooi van wat hedendaags in die land aangaan. Mense het nie meer respek vir die dood nie. Dit gaan een van die dae 'n alledaagse verskynsel in die land raak. Wag ek wil ook nie so morbied klink nie. Wens net ons kan in harmonie in hierdie mooi land van ons woon. Groete en lekker aand.

  • Wat Bettina hier vergoeilik is die reaksie van die bevolking op swak bestuur en administrasie deur die regering. En tog, soos klokslag, stem die einste protesteerders WEER vir dieselfde administrasie.

  • Johnny Wynland

    Aan Daniel. In die depressietyd het mense nie eiendom vernietig of vuil en onnetjies gelewe nie. Armoede en vullis is nie dieselfde ding nie. Gaan kyk in die res van Afrika noord van Limpopo. Daar is mense baie armer as hier, maar hulle bedel nie, steel nie, moor nie en lewe nie in morsige omstandighede nie.
    En as hulle in SA aankom, begin hul dadelik werk te maak om vir hulself te sorg, sonder om ander te blameer vir hul omstandighede.

  • Marie Bredenkamp

    Ek het Bettina én almal se kommentare oor en oor gelees. Weggegaan, en weer terug gekom. Ek stem met so baie saam. Maar ek kan ook myself sien in Trisa Hugo se skrywe. Op die langste moontlike manier aan geleerdheid gekom. En altyd wou terugploeg - maak nie saak waar die leerder vandaan gekom het nie. of watter vlak die opleiding moes wees nie, en uit eie sak vervoer in die kleinste motortjie wat goedkoop op brandstof was, leerders/studente aangery. Daar is baie van ons wat sulke verhale kan vertel. Wanneer staan daar 'n paar gemeenskapsleiers op wat bereid is om uit eie inisiatief juis die klipgooiers en die kruiwastoters saam te voeg om te hélp bou, help struktureer, help rommel optel, bleek mure en heinings met sinvolle (!) en versierende graffiti te versier, te help bou, bome te plant, groentetuintjies aan te lê. Charity begins at home - en hier doen ek wat ek kan - maar ek hoor hoe 'n werker wat in alle opsigte swaarkry, weer sal stem vir 'daardie party' - want "ons is ligte belowe mevrou". My jare loop uit, en ek wil hélp - "maar hierdie kite gaan ook nie weer vlieg nie."

  • Pieter Haasbroek

    Agter die bedroewende werklikheid van betogings - Hermanus, Kimberley, Dordrecht - werk 'n ingewikkelde stel oorsake. Ons verstaan waar armoede vandaan kom: lae ekonomiese groei, werkloosheid, inflasie, maar deins terug voor die obskure rol van die regering daarin. Hoe kan die politici wat 'n beter lewe vir almal belowe, toesien dat die land so swak regeer word? Gelukkig bring navorsing almeer aan die lig: waarom elektrisiteit en brandstofpryse styg, hoe armes beroof is deur die maatskaplike welsynsdienste, hoekom onderwys en hospitale hier faal, waarom dit so moeilik is om klein ondernemings tot stand te bring...elke owerheidsfunksie bied geleenthede vir korrupsie, bedrog en diefstal, en die magshebbers sak vraatsugtig hierop toe. Oor die politieke kanaal na selfverryking is ons in die duister gehou, deur die SAUK, byvoorbeeld, maar nie eers 'n rits hofsake kon die skurke tot nou aan die pen laat ry nie.
    Wanneer die doos van Pandora eendag oopgemaak word, Bettina, hoop ek jy sal bystaan met jou pen, en die hele tragedie van die nuwe Suid-Afrika vir ons oopskryf.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top