I believe that unarmed truth and unconditional love will have the final word in reality. That is why right, temporarily defeated, is stronger than evil triumphant.” (Martin Luther King jr)
Vryheid van uitdrukking is gewoonlik die eerste slagoffer in die stryd vir enige demokrasie se siel – daarom ook die ou uitdrukking: “If you want to know who rules you, look at who you are not allowed to criticise.”
In enige militêre bewindsoorname word die radiostasies en koerante heel eerste oorgeneem nadat die vorige bewindhebbers van hulle mag ontneem is. Met die Arabiese Lente-onluste is die internet vir ’n ruk deur die regering onderdruk. Kritiek word nie geduld nie, en die deel van inligting is ’n bedreiging wat onderdruk moet word. Dit maak die voorgestelde wetgewing deur ons eie regering om beperkinge op die gebruik van die internet te plaas, so onrusbarend.
Skrywers dwarsoor die wêreld word vervolg, en in tronke gegooi, of doodgemaak, omdat hulle vryheid van uitdrukking aan bande gelê word. PEN International, die grootste wêreldwye organisasie wat die belange van skrywers op die hart dra, het selfs ’n spesiale Writers in Prison-program om skrywers wat vervolg word, te probeer help. Raif Badawi, ’n Saoedi-Arabiese blogger, is tans in aanhouding omdat hy sy regering gekritiseer het, en moet tien jaar gevangenisstraf en 1 000 houe lyfstraf (50 houe elke Vrydag) deurgaan voordat hy vrygelaat word. In Mexikostad is daar die afgelope maand vier skrywers vermoor. In Honduras is daar alreeds nege joernaliste vermoor sedert die begin van 2015. Dwarsoor Afrika, die Midde-Ooste en Suid-Amerika word skrywers, joernaliste en cartoonists gevange geneem, gemartel en selfs tereggestel omdat hulle hulle vryheid van uitdrukking uitoefen – meestal deur hulle eie regerings.
Selfs sogenaamde demokratiese regerings, soos in Europa en die VSA, maak hulle skuldig aan vergrype. Suid-Afrika, nou en in die apartheidsera, is nie onskuldig hierin nie. Die furore rondom die Spear of the Nation-skildery het gewys ons regerende party is ewe gretig om vryheid van uitdrukking te onderdruk. Die geheimhoudingswetgewing, ditto. Die onderdrukking van selfoonseine tydens die Staatsrede is ’n verdere voorbeeld. Die aanval op Zainub Dala was weliswaar op godsdienstige gronde en nie deur die regering gesanksioneer nie, maar dit dui op ’n gewilligheid van ook privaat burgers om die mond te wil snoer.
Maar wat presies is vryheid van uitdrukking?
Daar’s nie twyfel dat woorde, geskrewe en gesproke, vryheid van uitdrukking is nie. Die Charlie Hebdo-aanval het benadruk dat ook cartoons ’n vorm van vryheid van uitdrukking is. Die Spear of the Nation-skildery hier by ons het beslis ’n saak uitgemaak dat skilder ’n vorm van vryheid van uitdrukking is. Komedie, soos bedryf deur Pieter–Dirk Uys se karakter Evita Bezuidenhout, of Conrad Koch en sy puppet Chester Missing, is ook ’n manier hoedat vryheid van uitdrukking uitgeoefen word. Die frantic manier hoedat die apartheidsregering protesteater onderdruk het, wys dat ook dit ’n vorm van vryheid van uitdrukking is. Hierdie is egter alles vorme van vermaak. Kan dit steeds vryheid van uitdrukking wees as dit nie ’n vermaaklikheidsvorm is nie? Is protesaksie, toi-toi soos ons dit hier ken, ook ’n vorm van vryheid van uitdrukking? Dit gaan tog gepaard, normaalweg, met die uitroep van slogans, die dra van plakkate en baniere wat ’n bepaalde boodskap of gedagte uitdruk, en die sing van liedere wat ’n bepaalde sentiment oordra.
Maar wat is die perke daarvan? Die meeste grondwette wat vryheid van uitdrukking waarborg, beperk dit deur te sê haatspraak word nie geduld nie. Wat egter van uitdrukking wat nie heeltemal haatspraak is nie, maar tog aanstoot gee? Charlie Hebdo het op die dun randjie van daai onderskeid rondgedans.
Die vraag wat John Ralston Saul, president van PEN International, in sy Junie-nuusbrief vra, is: Is daar ’n reg om te offend vasgelê in die reg op vryheid van uitdrukking? En verder dan, as daar ’n reg om te offend is, is daar ook ’n teenoorgestelde reg om nie offend te word nie? Die vraag wat hy nié vra nie, en wat ek half verwag het, is: Wie besluit of iemand offend was? Laat ons dit aan die howe oor, of aan die persoon op straat om common sense te gebruik?
Mense verskil. Wat vir een ’n groot grap is, is vir die volgende een ’n vernederende klap in die gesig. Word die besonder fyngevoelige persoon as die maatstaf van offence geneem, of die besonder dikvellige een? Voltaire het gesê: “I don’t agree with what you said, but I will defend to the death your right to say it.” Vryheid van uitdrukking is op sy belangrikste juis wanneer iemand iets sê wat ons nie aanstaan nie. Dis maklik om aan te dring dat iets vryheid van spraak is wanneer iets gesê word waarmee ons saamstem, maar wat daarvan wanneer ons nie hou van wat gesê word nie? In ’n demokrasie wat reg werk, sal elkeen se reg om sy mening uit te spreek, respekteer word, maak nie saak hoe robuus die uitdrukking is nie. Ek sou inderwaarheid argumenteer dat hoe meer robuus die uitdrukking, des te belangriker dat dit beskerm moet word.
Waar laat dit die onlangse protesaksies op die kampus van Stellenbosch-universiteit? Hooliganism, soos wat beweer word, of robuuste uitdrukking van vryheid van spraak? Verlede Maandag was daar ’n protesaksie in ’n politiekewetenskap-klas. As gevolg daarvan is die medium van onderrig later die dag na Engels verander. Op Dinsdag was daar weer protesaksie, hierdie keer op die Rooi Plein. Toe het die administrasie stem dik gemaak en gedreig dat hulle die studente gaan skors. Niemand gee te kenne dat die studente haatspraak bedryf het en sodoende die perke van vryheid van uitdrukking oortree het nie. Wat is die administrasie se dreigement om hulle te skors dan? Die redelike uitvoering van hulle verantwoordelikheid teenoor die totale studentebevolking, of die onderdrukking van vryheid van spraak deur dreigemente van straf? Is die administrasie besig om sensuur toe te pas omdat die studente nie die amptelike beleid ondersteun nie?
Jare terug het ek ook in ’n groep op die Rooi Plein gesit, om teen gesegregeerde koshuise te protesteer. Ons was met vrot eiers en pap tamaties bestook, ons was gevra waarvoor ons dan Stellenbosch toe gekom het – ons kon mos Bush College (UWK) toe gegaan het. My ma het ’n brief gekry van die administrasie waarin daar gedreig was dat ek geskors sou word – soortgelyk aan wat ons nou sien gebeur. Ek was kort daarna amper deur ’n viertrekvoertuig omgery op die sypaadjie voor die Ou Hoofgebou. ’n Wildvreemde man het my net betyds uit die pad gepluk en my lewe gered. Vir weke daarna het vreemde mans met langlenskameras buite Goldfields, die enigste koshuis waar swart studente kon tuisgaan, gekampeer en foto’s geneem van almal wat kom en gaan – ’n intimidasietegniek wat my senuwees aan flarde gehad het. Alles omdat ons die status quo bevraagteken het. Alles met die goedkeuring en aktiewe samewerking van die universiteitsadministrasie.
Vandag is koshuise oop vir almal. Vooruitgang gebeur, maak nie saak hoe hard die powers that be dit probeer keer nie. Ek vermoed oor ’n paar jaar gaan ons terugkyk op hierdie tydperk en wonder hoekom studente geskors was oor iets wat met hindsight onvermydelik was.
Is daar nie ’n plig op universiteite om vrye denke en diskoers te bevorder nie? Behoort daar nie diepe introspeksie gehou te word oor die redes vir die toename in militante optrede nie? Die kneejerk reaksie is om dit toe te skryf aan ANC-elemente op kampus. Of, erger, dat swart studente nie in staat is om intelligent en beredeneerd op te tree nie, maar alles met geweld probeer regkry.
Is daar nie egter ’n meer basiese antwoord nie? Die universiteitsadministrasie het in alle waarskynlikheid gevestigde belange om te beskerm, en daai belange sluit nie ’n verandering in taalbeleid, of selfs ernstige besinning daaroor, in nie – iets wat die studente waarskynlik alreeds agtergekom het. Hulle is tog nie dom nie.
Martin Luther King jr het immers gesê: “A riot is at its heart the protest of the unheard.” Sou dinge anders verloop het indien studente gevoel het hulle word gehoor? Daar is ’n vraag wat in filosofie gevra word: “As ’n boom in die woud val, en daar’s niemand om dit te hoor nie, maak dit nog steeds ’n geluid?” Ek het dit nog altyd verstaan as ’n eksistensiële vraag, ’n uitdrukking van die begrip dat ons net relevant is met betrekking tot ander persone, die Griekse weergawe van wat ons verstaan as ubuntu. Is die reg op vryheid van uitdrukking nie betekenisloos as dit nie gepaard gaan met ’n reg om gehoor te word nie? Nie ’n reg om mee saamgestem te word nie, maar om waarlik gehoor te word.
Is ons nie alreeds besig om die stryd vir die siel van ’n Suid-Afrikaanse demokrasie te verloor as ons die leiers van môre vandag reeds leer dat vryheid van uitdrukking iets fragile is wat met mening onderdruk kan word as ons nie hou van wat ons hoor nie? Is ons dan nie skynheilig as ons die universiteit se optrede goedkeur, maar kla wanneer die regering presies dieselfde doen nie?
As ons waarlik ernstig is oor die vryhede in ons Grondwet, moet ons almal – privaat burgers, universiteite en regering – leer om ons vel te pantser.

