Is die Mercedes “bestuur”?

  • 1

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Mnr Flynn van Upington was die eienaar van 'n Mercedes-Benz-motorkar wat een of ander meganiese skeet gehad het en wat die aandag van 'n opgeleide werktuigkundige nodig gehad het. Op die oggend van 11 Augustus 1971 het mnr Flynn sy motor geneem na die werkswinkel van ene mnr Smith in Markstraat, Upington. Die Mercedes is in die werkswinkel ingetrek en met sy neus naby 'n werksbank geparkeer. Die enjinkap is oopgemaak en mnr Smith het in die enjin begin vroetel op soek na die fout. Die bekommerde eienaar, mnr Flynn, het op daardie stadium vóór die motor gestaan en kyk wat mnr Smith doen. In die latere hofverslag word dit nie uitdruklik gesê nie, maar dis feitlik seker dat mnr Smith (die werktuigkundige) aan die kant van die motor gestaan het terwyl hy die enjin deurgekyk het.

Wat mnr Smith presies gedoen het, sê die hofverslag ook nie, maar op 'n manier het hy die aansitter van die motor in werking gestel, en omdat die motor in rat was, het dit vorentoe gespring. Mnr Flynn, wat, soos ek gesê het, op daardie stadium vóór die motor gestaan het, is teen die werksbank vasgedruk en hy het ernstige liggaamlike beserings opgedoen waarvoor hy 'n derdeparty-eis in die hooggeregshof in Kimberley ingestel het. Hy het beweer dat mnr Smith nalatig was deurdat hy bewus was dat mnr Flynn voor die motor gestaan het, dat hy versuim het om vas te stel of die motor nog in rat was voordat hy aan die aansitter gewerk het, en dat hy bewus was – of bewus moes gewees het – van die feit dat indien die Mercedes in rat was toe hy aan die aansitter daarvan gewerk het, hy dit moontlik daardeur onbeheer vorentoe sou kon laat beweeg.

Nou, ten einde met 'n derdeparty-eis te kan slaag, moet 'n eiser onder meer bewys dat sy beserings voortgevloei het uit die nalatige bestuur van 'n motorvoertuig. Regter Leonora van den Heever, wat die saak verhoor het,1 het daarop gewys dat as 'n mens bloot net kyk na die gewone betekenis van die woord "bestuur", mnr Smith waarskynlik baie verbaas sou gewees het as hy sou hoor dat daar in die hof geargumenteer is dat hy die motor "bestuur" het. 'n Mens moet onthou dat hy immers ten tye van die voorval nie agter die stuur van die Mercedes gesit het nie. So gesien, kon mnr Flynn tog nie met sy derdeparty-eis slaag nie.

Gelukkig het die Derdepartywet tot sy redding gekom. Artikel 1 van die destydse wet het 'n aantal vermoedens aangaande die "bestuur" van 'n motorvoertuig bevat. Die een vermoede wat tot mnr Flynn se redding gekom het, was die een wat gelui het: "By die toepassing van hierdie Wet word 'n motorvoertuig wat voortbeweeg word deur middel van meganiese, mense- of dierekrag of deur middel van swaartekrag of momentum, geag bestuur te word deur die persoon onder wie se beheer die voertuig is." Terloops, hierdie vermoede kom woordeliks steeds voor in artikel 20 van die huidige Padongelukfondswet van 1996.

Dit was veral die frase "geag bestuur te word deur die persoon onder wie se beheer die voertuig is" wat mnr Flynn in sy saak gehelp het. Die regter het sonder enige moeite bevind dat die wetgewer bedoel het om 'n uitgebreide betekenis aan hierdie woorde te gee en sy het bevind dat die motorvoertuig ten tye van die voorval onder die beheer van die werktuigkundige, mnr Smith was. In beginsel moes mnr Flynn dus slaag met sy derdeparty-eis vir die beserings wat hy opgedoen het toe sy eie motor hom teen die werksbank daar in mnr Smith se werkswinkel vasgedruk het.

1  Flynn v Unie Nasionaal Suid-Britse Versekeringsmaatskappy Bpk 1974(4) SA 283 (NCD)
  • 1

Kommentaar

  • J.A. van Niekerk

    Ek ken die bestuurder persoonlik, hy bly op kromdraai Thabazimbi distrik.

    Hy sal jou al die gegewens gee as jy belang stel. Van jou aannames was verkeerd. Hy het foto van Mercedes van President geskenk. Baie duidelik.

    Laat weet as jy belangstel.

     

    groete

    Jan

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top