Is daar plek vir my wit skuld?

  • 15

Ek het onlangs ’n life coaching kursus voltooi. Tydens ons breuk op die derde dag van opleiding gaan sit ek op die balkon om my middagete te geniet in die son. Ons woonstel is reg teen Jan Smuts-rylaan, so ons is gewoond aan heelwat beweging rondom ons. Net soos ek gaan sit, bord in die een hand, foon in die ander, tref my oog ’n man in die straat. Ons maak oog kontak en hy begin onmiddellik smeek vir iets om te eet. My instink is dadelik om geïrriteerd te wees met hom. Ek probeer net my middagete in vrede geniet en nou moet ek hiermee gekonfronteer word. Daardie gevoel duur ’n paar sekondes voor die swaar skuldgevoel my oorval. Ek voel skuldig, want die man se hongerte versteur my bubble van gemaklikheid. As ek heeltemal eerlik is, moet ek erken dat hierdie tipe gevoel soms geregverdig voel. Die erkenning hiervan aan myself laat my baie skuldig voel. Wat die kersie op die koek van my skuldgevoel sit, is die feit dat dit my nie ontgaan dat die man swart en ek wit is nie.

Ek vra vir die man of ek net gou klaar kan eet en hom dan by die hek ontmoet met iets om te eet. Ek besluit toe om my emosie nie te verwerp nie, maar te voel. Ek eet klaar terwyl hy vir my wag en ek besluit om teenwoordig te wees in hierdie oomblik. Ek sien hom daar sit op die sypaadjie en ek probeer my indink hoe dit vir my sou voel om in sy skoene te wees, terwyl ek worstel met my interne skuldgevoel. Ek gaan loer vinnig in die yskas en koskas en maak gou ’n kruidenierssakkie vol met ’n paar goed wat ek dink kan werk.

Toe ek by die hek arriveer, is die sekuriteitswagte besig om hom weg te jaag. Want jy sien, deel van die huur wat ons betaal vir hierdie gemaklike lewe in hierdie lieflike woonstelblok is om mense soos hierdie man uit te hou. Dit mors met die gemak wat ons voel agter ons hoë mure en vol yskaste. Dit is die buffer tussen die bubble en die konfrontasie met die realiteit. Is ek besig om te sê diegene in die blok verdien nie die gemak nie, werk nie hard nie en is slegte mense? Absoluut nie. Ek sê dat ons samelewing saamgestel is vir ons agter die hoë mure om ons gemak te aanvaar as die norm.

My buurman en baie van die inwoners in ons blok is swart, bruin en Indiër en ek is bewus dat Suid-Afrika se ongelykheid nie meer suiwer op raslyne getrek kan word nie. Maar in dieselfde asem kan ek hoegenaamd nie ons geskiedenis van meer as 365 jaar uitvee en nie raaksien hoe hierdie realiteit uitgekerf is om mense van kleur te benadeel en wit mense te bevoordeel nie. Ek kan nie ontken dat die daaglikse ervaring van die gemiddelde persoon van kleur in hierdie land aansienlik moeiliker is as dié van ’n wit persoon nie. Natuurlik is dit nie oral die geval nie. Wit mense kry ook swaar en mense van kleur geniet ook ekonomiese welvaart. Maar net omdat dit die waarheid is, kan ons nie ontken dat wit welvaart en swart swaarkry steeds die norm is nie.

Ek glo ’n integrale deel van versoening is om die gemak van ons bubbles en die ongemak van ons skuld te erken. Hierdie erkentenis moet ook verder strek as blote woorde. Ek hoop dat hierdie erkentenis ons kan bring by ’n plek van aktiewe deelname aan die versoeningsprojek in Suid-Afrika, ’n proses wat nog in sy embriofase is. Want sien, as mens eers iets raakgesien en aan jouself erken het, kan jy dit nie ooit weer goedsmoeds oor die hoof sien of marginaliseer nie. Dan is dit deel van jou realiteit.

Toe ek uiteindelik die sekuriteitswagte oortuig dat die man maar hier kan wees, aanvaar hulle dit so. Na ’n vinnige kennismaking vertel hy my dat hy ’n konstruksiewerker en alleenbroodwinner is met ’n vrou en kinders by die huis. Hulle woon in ’n township nie te ver van hier nie en hulle is honger. Met lockdown het hy en sy familie hulle inkomste verloor. So hy kom elke dag noodgedwonge in stad toe om kos te probeer vind vir sy familie. Daar is baie gedagtes wat deur my kop maal in daardie oomblik, maar al wat ek vashouplek aan kry, is dat dit nie maklik kan wees om alles te verloor en nie te weet waar jou volgende maaltyd vandaan kom nie. Ek is opnuut dankbaar vir alles wat ek het. Verdiend en onverdiend. Want al is dit sleg om dit teenoor onsself te erken, het ons nie alles wat ons kry verdien nie, en in ’n oomblik soos hierdie word dit duideliker as ooit.

Hoekom skryf ek hieroor? Om vir die wêreld te wys dat ek oor my medemens omgee? Wel, dis altyd ’n aantreklike idee. Ons ego’s is ook mos altyd teenwoordig. Maar dis nie dit nie. Ek dink ek het plek gemaak vir my wit skuld. Ek het ruimte geskep om dit te voel. Om die onreg te voel. Om te verstaan dat my wit vel en sy swart vel iets te doen het met die feit dat hy die een is wat bedel en ek die een is met genoeg om te deel.

Gesprekke rondom wit skuld sentreer gewoonlik rondom die idee dat dit jou nie dien nie en dat wit Suid-Afrikaners dit nie te veel suurstof moet gee nie. Ek het steeds nie die antwoorde nie – allermins. Ek deel bloot my ervaring van sit met my skuld en ek dink daar mag dalk net ’n plek daarvoor wees. Net soos enige emosie. Ek dink die pad van versoening in Suid-Afrika word nog uitgekerf en die versoeningsproses moet ook intern plaasvind. Ek dink dat dalk as wit Suid-Afrikaners hulself meer die kans sal gee om hul skuldgevoel werklik aan hul lyf te voel, sal die interne versoeningsproses begin en kan die versoeningsproses oor rassegrense heen dalk net die kersie op die koek wees.

Lees ook

In gesprek oor witwees in Suid-Afrika met Melissa Steyn en Christi van der Westhuizen / In conversation about whiteness in South Africa with Melissa Steyn and Christi van der Westhuizen

The volksmoeder, ordentlikheid and whiteness

  • 15

Kommentaar

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Wie weet wat hou die toekoms in? Met die onteieningswet sal mense dalk nou veel meer praktiese bydraes kan maak tot die betaling van al die skuld. Om net rond te sit en skuldig te voel gaan mos nooit die groot gapings uitwis nie? Sedert 1994 het hierdie gapings selfs toegeneem ook, soos wat die regering se diskriminerende beleid die entrepeneurskap van blankes aangewakker het, terwyl afhanklikheid van die staat bevorder is onder die armstes. Selfs SEB het slegs mense met konneksies bevoordeel, ryk families met die regte kontakte.

    Soos ek verstaan sal nie net landbougrond onteien kan word nie, maar ook huise en selfs bankrekenings.

  • Miskien moet daar 'n weteskaplike ondersoek geloods word waarom wit gemeenskappe wat ook hongersnood en armoede in die gesig gestaar het hul weer vinnig kon ophef soos die Duitsers en hierby kan bygevoeg word Asiërs soos Japannese ook - die Indiërs in ons land val ook in daardie kategorie. Onder apartheid was hul beter daaraan af as hul eweknieë in Indië. Nêrens sien jy #Asian Lifes Matter nie. Die fokus van die studie moet wegbeweeg van vel na kultuur. Ek kan nie help dat my wit voorvaders reeds met die wiel en die geskrewe woord gewerk het toe hul hier aangekom het. Party ook met niks soos die Hugenote, maar hul was die room van die Franse adel en hul kon daarop voortbou. Niks is net wit en swart nie en 'n mens sou kon dink dat in hierdie inligtingsera rede en nie emosie gesprekke sou oorheers, maar dit lyk of ons so gebreinspoel word deur 'n sekere ideologie van slagofferskap aan die eenkant en wit skuld aan die anderkant.

  • Avatar
    Berdéhan Brand

    Barend, van watter skuld praat jy wat gedelg moet word?
    Lidia, hoe het jy in die rooi beland dat jy met sóveel uitstaande sluld sit? Kan jy reageer, asseblief? Jammer om te verneem van jou wit skuld.
    Wat skuld moet ek delg as ek nog nooit skuld aangegaan het nie. Of moet ek 'n vereffening gaan doen omdat my ouers se sperm 'n wit lewe voortgebring is?
    Barend, soos jy verstaan gaan nie net landbougrond onteien word nie, maar ook huise en bankrekenings. Wie of wat het jou tot die verstaan gebring? Kan jy jou stelling (of verstaan kwalifiseer, asseblief?
    Met dié stelling dan stel jy praktiese redes voor om "skuld te betaal" - maw, twee keer.
    Wat van 'n biegvader?

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    Geen mens is dieselfde nie. Belangstellings, voorkeure, afkeure, talente, vaardighede... Noem maar op. Dit alles verskil van mens tot mens. Lidia Rauch se gesprek met die honger man (daar’s baie van hulle én hulle is nie net swart nie!) het haar duidelik emosioneel oorweldig. Haar interpretasie van dié oomlik het sy herlei na wat sy elke dag hoor en lees, die skuldkomplekssindroom waaraan elke wit persoon behoort te ly en waarvan daar reeds ’n groep bestaan. ’n Groep met mini groepies. Die wat werklik erg onstig en jammer is en ander wat deur hierdie soort van gebaar hoop om ’n soort “erkenning-status” in die media op te bou. Lidia blyk in die eerste groep te val en dis haar reg. Dis beter as die ander groepie wat bloot opportunisties en skeinheilig is.
    Die belangrike ding is dat mense, almal van ons, keuses het. Partymaal gaan dit nie eers oor ’n keuse nie. Jy voel net... of jy voel nie. Daar’s baie faktore wat dit beïnvloed. Faktore van wat was, wat is en ook van wat nog kán wees. Lidia sê met haar bydrae hier presies waar sy staan. Sy sal op grond hiervan meer en makliker assosieër met diegene wat soos sy voel en dis reg so.
    Sy kan voortgaan hiermee soos en wanneer sy wil. Dis in die haak so. Net een versoek, moenie namens ander probeer praat of aan hulle voorskryf oor hoe hulle behoort te voel nie. Of, oor hoe opgtree moet word nie. Ander deel nie dieselfde behoefte of gevoel nie en ook hulle het hulle redes. Of dit nou in jou oë goeie of slegte redes is, is nie ter sake nie. Hierdie mense kies anders en sal makliker assossieër met mense wat soos hulle voel. Wat myself betref; ek sou ook iets te ete vir die man gegee het. Ek, en ander soos ek ek, doen dit gereeld. Die VERSKIL lê hierin; ek doen dit uit menslikheid en omdat die man honger is. Kleur en skuld speel geen rol in my besluitneming nie. Ek doen dit omdat dit regte ding is om te doen en omdat ek kan. As ek nie kan nie, of selfs nie wil nie, is dit steeds my saak en ek gaan my nie deur ander laat voorskryf oor hoe ek behoort te voel of op te tree nie.
    Wat was, met al sy foute en flaters, is verby. Ons leef in die nou en terwyl ons dit doen is die geskiedenis ook besig om geskryf te word. Ons nageslagte gaan vorentoe ’n oordeel hieroor vel. Om my sien ek hoe teen Wittes op talle vlakke gediskrimineer word. Ek sien verval en ekonomiese agteruitgang. Ek sien verarming en hoe mense en veral ons boere uitgemoor word. En dan wonder ek; of die woord “skuld” by hulle wat daarvoor verantwoordelik is, sal opkom. Tyd sal leer. Intussen sal die land veel beter daaraan toe wees as elkeen doen wat goed en reg is. Dit ken nie kleur nie. Erken ook die ryk verskeidenheid en laat ruimte vir mekaar se behoeftes en belange.

  • Lidia, ek stem saam ons blankes het ’n groot skuldlas want ons is soveel ryker en het soveel meer voordele. Ons, en ons voorvaders, moet boete doen. Die vraag is waarvoor moet ons boete doen? Wel, dit is maklik: hoe het ons die voordeel bekom. Dis ook maklik. Ons probleem is ’n hoër IK, meer dryfkrag en ambisie. Ons sou ook niemand gehad het om te blameer as ons nie al die voordele gehad het nie.
    Dit sê natuurlik nie dat ons nie ’n Christelike plig het om die lot van die minder bevoorregtes te probeer verlig nie. ’n Misplaaste skuldgevoel is egter nie deel hiervan nie.

  • Avatar
    Chris Erasmus

    Ek voel regtig vir die minder bevoorregtes. Ek is tans een alhoewel ek wit is. Ek voel ook skuldig dat ek nie vroeër in my lewe iets anders gedoen het nie. Ek is skuldig dat ek elke dag sondig. Ek is skuldig aan baie dinge. Oor een ding is ek nie skuldig nie en sal my ouers en voorsate daarvoor moet blameer, ek is wit.

  • Laat my toe om met ’n eenvoudige voorbeeld tussen een van ons stamlande se leiers na die 2de wêreldoorlog nl Nederland ,wat totaal leeg gestroop was en met ’n heropbouproses moes beging en die ANC na apartheid te vergelyk.
    Die eerste minister het die gewoonte gehad om met ’n fiets na die staat se motorhawe te reis en die amptelike motor gedurende die dag te gebruik. Na sy dagtaak los hy die motor by die motorhawe, klim op sy fiets en ry huistoe.
    Op ’n dag word hy deur ’n werknemer by die motorhawe oor die praktyk gekonfronteer.
    “Meneer hoekom neem u nie die motor huistoe nie?” Die antwoord was eenvoudig. “Elke liter petrol wat ek so bespaar, kan gebruik word vir die opbou van Nederland.”
    Vergelyk dit nou nou met die houding van die ANC. Party word oornag miljoenêrs, sonder dat hul ’n vinger verroer het om dit te verdien. Die belastingbetaler word gemelk deur munisipale rade wat tot 80% wins op bv. elektrisiteit maak en hulself met buitensporige salarisse en toelaes verryk, terwyl die infrastruktuur reg rondom hul in duie stort en massabetogings aan die orde van die dag is.
    Terwyl baie skole nog gebuk gaan onder gebrekkige infrastruktuur en kinders na 26 jaar nog steeds in putlatrines verdrink, stuur politici hul kinders na die beste privaatskole.
    Terwyl baie sg wit politici wat uit die apartheidera kom en die vrugte daarvan geniet het en na dit en nie voor dit ’n skuldige gewete ontwikkel het, hoekom sal net hul weet, want tot 1953 was skolevoeding steeds daar en was die grootste deel van die blanke-bevolking brandarm en baie min dit matriek gemaak en die meeste het na standerd 8 (graad 10) die skool verlaat om ’n ambag te volg en die huis se inkomste aan te vul.
    Vandag is ’n groot persentasie blankes weer presies waar hul voorouers in 1948 was. Dit lyk my die huidige geslag het vergeet van die ellendige omstandighede waaruit hul voorouers gekom het en nou onnodig aan ’n skuldige gewete ly.
    As ’n mens dan die apartheidsjare gesien uit ’n nie-blanke oogpunt as ’n ramp wil beskryf dan is dit jou goeie reg, maar dan is die afgelope 26 jaar van ANC-regering ’n tragedie, want dit is tragies dat ’n land met soveel belofte nou na 26 jaar met van die hoogste misdaadsyfers in die wêreld sit en met ’n moordsyfer drie keer die wat gedurende apartheid gepleeg is en op ’n fiskale afgrond verkeer.
    Mag daar spoedig ’n regering wees waar kleur, taal, kultuur, stamverband geen rol speel nie en meriete die deurslaggewende faktor is. Gebeur dit nie, sal Suid-Afrika nog net ’n mislukte Afrika-staat wees.

  • Jou 'skuldgevoel' is so roerend, maar jy, en ek haal jou aan - "Ek vra vir die man of ek net gou klaar kan eet", "Ek eet klaar terwyl hy vir my wag". Waarom het jy nie jòù bordkos - jy het nog nie daaraan geraak nie, dadelik vir hom gaan gee nie?
    Terwyl jy smul staan hy met hongeroë op jou en wag, is jy nie skuldig aan vernedering en marteling nie?

  • Die problem wat was, is, apparently, nie meerie problem, is, apparently, nourie challenge, wantie playing fields is nou, apparently, oeppe.

  • Avatar
    Hans Richardt

    Wit skuldgevoel? Is dit nie juis waar die probleem lê nie? Ek het nog nooit sg seb "tenderpreneurs" hoor ly aan swart skuldgevoel nie, nie eens voor die Zondo-kommissie, waar vele uitgewys word.
    Ek huldig die nederige opinie, dat daar geen rede tot "wit skuldgevoel" nie, tensy jy jou bevoordeling dmv korrupsie en omkopery verkry het. As jy deur harde werk en sweet wel jou voordeel het, dit deel met armes in jou eie gemeenskap, waarom kan SEB bevoordeeldes nie hul bevoordeling deel om bv die miljoene "agtergeblewene Afrikane" uit Afrika, in SA, te deel nie.

  • Ek ervaar geen skuldgevoel nie maar woede, ja. Tydens die vorige bedeling het miljoene rande belatinggeld na die Transkei en soortgelyke areas gestroom. Dit was bedoel om die "armes" op te hef deur ontwikkeling en werkskepping. Nogtans is 'n oorlog aangegaan om die armes op te hef. Waar is die opheffing nou nà 26 jaar? Waar is ons belastinggeld heen toe ek 'n jongman was? Waar gaan die belastinggeld nou heen terwyl ek 'n ou man is? Wie is dit wat skuldgevoelens behoort te hê? Nee, ons hoor net van luukse huise, luukse vakansies, luukse karre, luukse ..., luukse.... Gatvol is 'n meer gepaste woord. Nog 'n goeie woord om in jou woordeskat op te neem, is "selfbestuur".

  • Avatar
    Hans Richardt

    Breytie, hoor hoor. Ek onthou dat ons vir klein salarisse gewerk het en nog steeds koopbelasting en paye moes betaal, ook iets soos 25% rente op enige lening by bank. Die sg tuislande het universiteite gehad, eie polisie, eie weermagte en alles op SA belastinggeld.
    Ek glo ook aan Selfbestuur met oog op selfbeskikking. Ek is deel daarvan nou, maar dit kos privaatgeld, niks van belastingbetalers se sakke nie.
    Nou ja, vryheid is 'n hartsstrewe, nie 'n emosionele plakkery nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top