Lamsboud, tong, corned beef, trifle met room en custard, ten minste drie slaaie en braai-aartappels is in die meeste huise die norm oor Kersfees. Soms is daar braaihoender ook, met brijani of kerrie. Sommige mense verkies om buite te braai.
Selfs mense wat nie met die godsdienstige agtergrond tot die fees saamstem nie, deel in die feesmaal. Toe ek jonk was, het ons al die Kerskaartjies wat ingekom het, in die voorhuis gehang. Weke voor Kersfees het die mans al in die bos ingegaan om ’n denneboom te gaan afkap en huis toe te bring om te versier met allerhande ornamente en goed. Van altyd af het die reuk van daai vars dennehout my aan Kersfees herinner. Dis die teken dat dit Desember is, dat daar binnekort geskenke toegedraai in Krismispapier en met elkeen se naam daarop onder die boom gaan kom. Natuurlik het ons kinders die meeste geskenke gehad.
So twee weke voor Kersfees het die man met die kissies amlakoeldrank aangekom, gewoonlik op ’n Vrydagaand of Saterdag gedurende die dag. Die kissies is onder die kooi gestoor, en ons kinders is die dood voor oë gesweer dat ons nie voor die tyd die koeldrank moes drink nie. Ek het die meeste van die groen botteltjies gehou, my broer van die rooies. Min of meer dieselfde tyd het die lekkergoed hampers gekom. Daar was altyd versuikerde vrugteblokkies, en die grondboontjies met wit en pienk suiker om. Daar was ook gespeseryde pretsels en slangetjies. Ek weet nog steeds nie wat die regte naam daarvoor is nie, maar dis nog ’n smaak wat ek met Kersfees assosieer.
Later jare, nadat ons elektrisiteit gekry het, het ons ook Kersliggies gehad. Maar my herinneringe is veral aan ’n tyd voor elektrisiteit, ’n tyd toe my pa nog gelewe het. Natuurlik met my ma wat ook vanjaar gesterwe het, is dit die einde van ’n era.
Oukersnag het ons middernagdiens gehad, en daarna het mense van huis tot huis gegaan om vir veral die bejaardes Kersgesange te gaan sing. Dan het ons met kerse in die straat gestaan en gaan sing totdat iemand die deur oopmaak en kom luister. Dit was die hoogtepunt van die nag, veral vir die mense by wie se huise gesing word. Soms sou ons Krismiskoekies en gemmerbier by iemand anders se huis gaan eet, en soms was dit by ons huis. Daarna kon ons ons geskenke oopmaak.
Die gewone roetine was dat ek en my broer op weeksaande sesuur in die bed moes wees. Vrydag en Saterdag kon ons tot sewe-uur op wees, en soms, baie selde, tot agtuur. Maar Oukersaand was ons gewoonlik al vyfuur in die bed, en dan is ons so teen nege-uur wakker gemaak om reg te kry vir kerk.
Destyds kon ons nog ons deure oop en ongesluit los wanneer ons gaan sing het. Niemand het ingebreek of gesteel nie, en as iemand se goed weggeraak het, het die grootmense geweet by watter huis om te gaan soek.
Hoe het dinge verander! Die afgelope paar weke is daar op ons gemeenskapsforum gereeld boodskappe van mense by wie se huise ingebreek is. Bure koop mekaar se gesteelde goed by dwelmverslaafdes. Hulle weet goed daai mense werk nie, en dat dit gesteelde goed is wat hulle koop. As mense met vakansie wil gaan, moet hulle iemand in hulle huis los of hulle huis word leeg gedra.
........
Vanjaar, met oorloë wat oral woed, is daar wêreldwyd selfs minder rede om Kersfees te vier. In Bethlehem, sentraal aan die Kersverhaal, word kinders daagliks uitgemoor.
........
Vanjaar, met oorloë wat oral woed, is daar wêreldwyd selfs minder rede om Kersfees te vier. In Bethlehem, sentraal aan die Kersverhaal, word kinders daagliks uitgemoor.
“Peace on earth and goodwill to all men.” Dis die boodskap van Kersfees. Hierdie jaar word dit nog minder uitgeleef as ander jare.
Is daar nog rede om Kersfees te vier?
Ten spyte van wat rondom ons aan die gang is, wil ek tog ja antwoord. Dalk júis vanjaar meer as ander jare.
Maar dit kan nie ’n feesviering ontneem van geregtigheid en barmhartigheid wees nie. Dit kan nie kop-wegdraai-en-maak-of-ons-nie-sien-nie-feesvieringe wees nie. Vrede beteken immers nie stilbly oor ongeregtigheid nie; dit beteken nie ingee aan die boelie nie.
........
Vrede, ware vrede, beteken juis dat die boelie gestop word.
.......
Vrede, ware vrede, beteken juis dat die boelie gestop word. Ek dink nie dis toevallig dat die Christuskind in Bethlehem gebore was nie. As Jesus vandag gebore was, sou hy nie in ’n krip in ’n stal gebore word nie, hy sou gebore word in die Wesbank, waar Israeli- soldate en Joodse setlaars gereeld met geweld Palestynse huise beset en die inwoners haweloos laat.
Peace on earth and goodwill to all men. Maar dit begin by ons. Dit begin by aandrang op vrede in ons omgewing, in ons leeftyd. Dit beteken dat ons opstaan teen ongeregtigheid en Evil.
Tot dan kan dit nie “Geseënde Kersfees” wees nie, maar bloot “Happy Holidays”.
Kommentaar
Ek sien onlangs op Bakkiesblad, daar skryf 'n man, ons moet tog onthou dat daar 'n verskil is tussen Bethlehem en Betlehem. Die een met die 'h', is in die Vrystaat, die een daarsonder, in die sogenaamde 'heilge land'. Ek verbeel my dit was die koerantman, Van Deventer (van Melkbos), wat dit geskryf het. Facebook! Mens leer altyd iets daar, al wil jy ook gedurig vlug van die plek af. Ek self sukkel ook maar vreeslik met daai 'h'.
Moet sê, ek verkies ook hêppie holidays bo geseënde Kersfees. Alhoewel dit eintlik nie steur wie wat sê nie. Die lewe kan ook Albany best of bouf wees. En geseënde Kersfees is grotendeels onskuldig. Taal word te veel deur ons politieke issues vertroebel.
Dit is my volslae ateïsme wat my na hêppie holidays toe wil laat neuk. Maar as 'n gelowige vir my "geseënde Kersfees", dan is dit ook iets mooi, lekker en edel.
Saterdag toe stap ek daar by die Vee and Aye, verby De Klerk, Tutu, Madiba en Luthuli (nog 'n 'h' wat mense lelik kan konfoes). Sing die betogers:
While you are shopping!
Bombs are dropping!
Ek het ook 'n beswaar. Ek is gans te platsak vir enige inkopies. Maar is gelukkig ook 'n geswore minimalis, wat nie klomp dinge wil besit nie. Was eintlik maar net op soek na 'n koela en 'n pakkie tjips.