Die Amerikaanse regering het onlangs bekendgemaak dat Suid-Afrika vroeg in November as gasheer vir die Agoa- (African Growth and Opportunity Act-) forum sal optree. Dié verwikkeling is nie net goeie nuus vir Suid-Afrika uit ’n buitelandsebeleidsoogpunt nie (Suid-Afrika het reeds van al die Afrikastate die meeste daarby ekonomies baat gevind), maar sal ook verskeie Afrikastate opnuut bevoordeel sover dit handel tussen die VSA en state in sub-Sahara-Afrika betref.
Die vraag is: Is Afrika vir die VSA van strategiese belang en waarde, en indien wel, waarom? Vir China is Afrika uiteraard van besondere belang vanweë die minerale hulpbronne wat nodig is vir die groei van die Chinese ekonomie, maar waarom sou die VSA steeds belang by Afrika hê en deur Agoa handelsbande met Afrikastate bly bevorder?
In 2017 het een van die voorste Amerikaanse veiligheidskenners van Afrika, Steven Metz, geskryf dat dit moeilik is om te bepaal wat pres Donald Trump se veiligheidstrategie is, besonderlik met betrekking tot Afrika. Hy het aangevoer dat Trump tot ongeveer die helfte van sy termyn as staatshoof net mooi niks oor Afrika uitgespel het nie en dat hy lank geneem het om ’n assistentminister van buitelandse sake vir Afrikasake aan te stel. Selfs die aanstelling van ’n Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika het eers baie laat in sy termyn van vier jaar in die Withuis gebeur.
Tog beteken dit nie dat die VSA Afrika as van min of geen strategiese belang beskou nie. In April 2019 het Trump se destydse minister van buitelandse sake, John Bolton, ’n toespraak gelewer waarin hy duidelik gemaak het wat die belangrikste Amerikaanse belange in Afrika is – en sy uiteensetting is vandag steeds relevant.
Die eerste item wat Bolton gemeld het, was olie, veral olie-uitvoere na die VSA en ander state vanaf Wes-Afrika, besonderlik vanuit die olieryke Nigerië, maar ook ander Afrikastate wat vanuit die Golf van Guinee uitvoer, dit wil sê daardie gebiedswaters wat van Senegal tot Angola strek. Wat dit betref, is dit vir die VSA en ander state belangrik om olie op ’n volhoubare en ononderbroke basis te bly ontvang.
Die tweede aspek wat Bolton uitgelig het, het te make met teenterrorisme-operasies in talle Afrikastate. Vir jare reeds is die VSA betrokke by teenterrorisme-operasies in veral streke soos die Sahel, asook die westelike en oostelike dele van Afrika, spesifiek deur middel van die Pentagon se VSA-Afrika-kommandement, wat bekend is as Africom. Africom is die militêre kommandement met die verantwoordelikheid om toe te sien dat Amerikaanse veiligheidsbelange in Afrika uitgebou en/of verdedig word, soortgelyk aan heelparty ander kommandemente van die Pentagon wat wêreldwyd verantwoordelikhede ten opsigte van bepaalde streke of kontinente het.
Voorts het Bolton gewys op Amerikaanse kommersiële belange. Die eerste VSA-Afrika-leiersberaad het in 2014 onder leiding van pres Barack Obama in Washington, DC plaasgevind en is deur leiers van 50 Afrikastate bygewoon. Dit het aanleiding gegee tot die Doing Business in Africa- (DBIA-) veldtog – ’n beraad wat handelsverhoudinge tussen die VSA en Afrika aansienlik meer momentum gegee het, maar ook gefokus het op beleggings in Afrika en veiligheidskwessies.
In Julie 2022 het Stephen J Townsend as uittredende bevelvoerder van Africom in Washington, DC verslag gedoen oor Africom se werk sedert sy aanstelling in Julie 2019. In sy verslag het hy ’n hele paar belangrike sake vanuit ’n Amerikaanse buitelandsebeleidsoogpunt opnuut bevestig. Die eerste was dat die bedrywighede van ekstremistiese Moslem-terroriste vir Amerikaanse politieke en ekonomiese belange in Afrika ’n groot bedreiging inhou. Wat dit betref, het hy ernstige kommer uitgespreek oor die voetspoor van Al-Kaïda en die Islamitiese Staat, waarvan die bande met, en aktiewe ondersteuning van, militante ekstremiste regoor die kontinent tot so ver suid as die noordelike dele van Mosambiek strek. En dan is daar spesifiek organisasies soos Al Sjabaab in Somalië wat hardnekkig met hulle operasies en destabilisering in dele van Oos-Afrika volhou. Townsend het aangevoer dat van die gevaarlikste internasionale terroriste in Afrika werksaam is en ’n groter gevaar vir die VSA inhou as terroriste in Irak, Sirië en Afganistan.
’n Tweede punt, soos uitgelig deur Townsend, hou verband met die kommersiële dryfvere wat hier bo gemeld is. Vanuit die VSA se gesigspunt tel veral China en Rusland onder die moondhede wat die Amerikaanse invloed in Afrika probeer teëwerk. Die Russiese Wagner-groep is besonderlik uitgelig as ’n faktor wat kommer wek, omdat die Russiese regering sy doelwitte in etlike Afrikastate in die afgelope jare deur middel van hierdie private militêre maatskappy nagejaag het op ’n wyse wat as onderduims beskryf kan word en internasionale regsreëls vertrap. Sover dit die VSA aangaan, is Rusland se pogings ten diepste daarop gemik om die Westerse invloed in Afrika te ondermyn, en dit word gedoen deur veiligheidsvakuums in Afrikastate te vul. Wat Wagner betref, moet net weer genoem word dat dié Russiese paramilitêre groep se aktiwiteite in Afrika veral omstrede is omdat Wagner in etlike Afrikastate opgeduik het as ’n entiteit wat veiligheidsdienste aanbied aan Afrikaleiers waar veiligheidsbedreigings van een of ander aard ervaar word – alles in ruil vir toegang tot minerale hulpbronne in Afrikastate of politieke netwerke met elites onder die vaandel van militêre samewerking.
Uiteraard sal die VSA tans ook baie bekommerd wees oor die toenemende aantal staatsgrepe wat onlangs in Afrikastate plaasgevind het, omdat dit die deur effektief ooplaat vir groepe soos Wagner en dit moeiliker maak vir Westerse lande om diplomatieke en ekonomiese toegang tot regerings in daardie lande te hê. Die toename in ondemokratiese neigings wat hiermee saamhang, sal uiteraard ook kommer wek. Dieselfde geld die volgehoue konflik tussen die strydende partye in Libië.
Wat China betref, is die VSA duidelik bekommerd oor die toenemende handelsbande met Afrika op ’n wye vlak, veral dit wat onderneem word aan die hand van Xi Jingping en Beijing se Gordel-en-Pad-Inisiatief, en spesifiek ook enorme infrastruktuurskepping wat dit vir sommige Afrikastate meebring. Dieselfde geld die militêre voetspoor van China in Afrika wat aansienlik gegroei het, soos onder andere duidelik geword het met die skep van ’n Chinese vlootbasis in Djiboeti aan die noordoostelike kus van Afrika. Gerugte dat China ook ideale koester om ’n vlootbasis aan die Weskus van Afrika te skep, is eweneens vir die Amerikaanse regering ’n bron van kommer.
Waar die Pentagon en sy VSA-Afrika-kommandement tydens die Obama-administrasie ’n dekade gelede diep besorg was oor die toename in die kaping van reuse skepe wat kommersiële goedere en olie langs die Somaliese Ooskus van Afrika en in die Golf van Aden vervoer het, is dit tans iets wat veel minder van ’n kwelling is. Danksy die rol wat die Verenigde Nasies (VN) gespeel het deur die vlote van die VSA, China, Indië, Frankryk, Spanje, Duitsland, Griekeland, Swede, Nederland, Italië en andere toe te laat om Somaliese seerowers onder bedwang te bring, is dit nie langer ’n brandende kwessie vir die VSA nie. Wat wel ’n saak van kommer is, is dat die kaping van olieskepe aan die Weskus van Afrika in die Golf van Guinee in die afgelope jare skerp toegeneem het. Dit raak die Amerikaners se belange om olievoorrade vanuit daardie wêrelddeel te ontvang – hoewel die volumes van invoere uit Wes-Afrika na die VSA oor die afgelope jare aansienlik afgeneem het.
Dit is teen dié agtergrond dat die Biden-administrasie – ander as die Trump-administrasie – kennelik ’n poging aangewend het om die VSA te strategiese belange in Afrika amptelik te erken en uit te bou. In Augustus 2022 is Suid-Afrika uitgekies as die platform vir die bekendstelling van die VSA se nuut geformuleerde strategie met betrekking tot sub-Sahara-Afrika. En die bekendstelling is persoonlik gedoen deur die VSA se minister van buitelandse sake, Antony Blinken. In die dokument word pertinent erkenning gegee aan die feit dat Afrika teen 2050 ongeveer ’n kwart van die wêreldbevolking sal huisves en dat groot volumes minerale hulpbronne op die vasteland van Afrika aanwesig is wat benodig word om die moderne wêreld ekonomies aan te dryf. Daar word ook onder andere erkenning gegee aan die feit dat Afrika gekoppel is aan van die wêreld se belangrikste handelsverkeer, met spesifieke verwysing na seeroetes in die Atlantiese Oseaan, die Indiese Oseaan en die strategies belangrike Golf van Aden. Daarby is daar ’n besef dat drie Afrikastate deurentyd verteenwoordiging geniet as niepermanente lede van die VN se Veiligheidsraad, terwyl die Afrikablok 28% van stemme in die VN uitmaak, asook ’n belangrike rolspeler in die Wêreldhandelsorganisasie en die Wêreldgesondheidsorganisasie is.
In aansluiting by dit wat hier bo oor China en Rusland gesê is, maak die dokument ook pertinent melding van China en Rusland se pogings om Afrikastate so ver te kry om hulle steun weg te stuur van hegte bande met Westerse state in hulle pogings om nie alleen weg te beweeg van die huidige Westersgeoriënteerde reëlsgebaseerde wêreldorde nie, maar ook om hulle eie, eng kommersiële en geopolitieke belange in Afrika te bevorder. In die proses gebruik veral die Russe geleenthede om Afrikastate so ver te kry om die Russiese inval van Oekraïne nie teë te werk nie.
Al hierdie sake vorm die agtergrond waarteen die Biden-administrasie met Afrikaregerings en ander rolspelers op die kontinent wil saamwerk, en dit strek van hulp met ekonomiese herstel ná Covid en die bevordering van demokratiese ideale en menseregte tot hulp met voedselsekerheid en vele meer.
In Desember 2022 het die Biden-administrasie sy polities-ekonomiese verbintenis met Afrika duidelik gemaak met die VSA-Afrika-leiersberaad wat saam met die komende Agoa-forum daarop dui dat die VSA Afrika steeds as ’n belangrike faktor in die wêreldpolitiek beskou. Na alles moet bygesê word dat die VSA nie kan bekostig dat China die VSA uitstoot uit Afrika tot die punt dat laasgenoemde later min politieke invloed en aanknoping meer op die kontinent het nie. Daarvoor is Afrika inderdaad van te groot geopolitieke belang in die groter prentjie van die immer dinamiese en veranderende wêreldorde.