Gallo Music en Sting Music sê mekaar in ’n Suid-Afrikaanse hof die stryd aan. Owen Dean en Cobus Jooste gebruik hierdie interessante saak om regsbeginsels te bespreek.
Gallo Music en Sting Music het onlangs mekaar die stryd aangesê in die Suid-Gautengse afdeling van die Hoë Hof. Die eisoorsaak spruit uit die outeursreg in ’n reeks liedjies bekend as “Thula Baba”, “Unomathemba” en “Siliwelile”. Gallo beweer dat hulle die outeursreg in hierdie liedere besit en dat Sting dit nie sonder toestemming kon gebruik as deel van die musiekblyspel Umoja nie. Gevolglik eis Gallo vir die bedrag wat as tantieme betaalbaar was vir die gebruik van hierdie liedere.
Sting staan die saak teen en argumenteer dat hierdie liedere as inheemse werke beskou moet word en daarom vryelik gebruik kan word soos enige ander werke wat in die openbare domein tot beskikking van almal is.
Soos reeds herhaaldelik in die verlede uitgewys is, sal die Wysigingswet op Intellektuele Goederewette (algemeen bekend as die Wet op Inheemse Kennis) by bekragtiging bepaal dat die gemeenskap, of gemeenskappe (wie dit ook al mag wees), waaruit sodanige liedjies hulle oorsprong het, by magte is om tantieme te eis vir die gebruik van enige musiek wat eie aan die gemeenskap is. Dit sal ook die geval wees benewens enige remedies warop Gallo en ander maatskappye of persone geregtig mag wees. Desgelyks word die openbare-domein-argument niks meer as ’n kortstondige illusie nie en sal Sting vir die gelag moet opdok net soos enige ander persoon wat enige werk wil gebruik wat vaagweg tradisioneel of inheems lyk. Ver heen is die dae van die openbare domein, ten minste vir sover dit werke van inheemse kennis betref, en dit vir niks. Enige stamgebonde werk is nou heilig en onaantasbaar, in teenstelling met die ewigdurende werke van Beethoven, Mozart ens. in die openbare domein (tensy geargumenteer kan word dat hul werke ook aan ’n onomskrewe gemeenskap behoort), en daarmee saam die geleentheid om dit vir enige doel te gebruik.
Hoe dit ook al sy, op die oomblik hoef die hof gelukkig nog nie met hierdie strydvrae te worstel nie. Die hof moet wel besluit oor twee kwessies: Is die liedjies werklik inheems of is dit oorspronklike werke waarvan die outeursreg aan Gallo oorgedra is?
Hierdie ondersoek behels hoofsaaklik ’n feitevraag onder die spesifieke omstandighede, maar dit is noodsaaklik dat die onderliggende beginsel duidelik begryp word. Tans val liedjies wat werklik inheemse werke is, wel in die openbare domein, en het Sting ’n stewige verweer. Ewewel, die moontlikheid bestaan dat ’n komponis wel outeursreg kan vestig in ’n verwerking, aanpassing of beryming van inheemse werke. Met dien verstande dat die komponis ’n genoegsame mate van talent belê het in die verwerking, sal hy/sy outeursreg in eie reg vestig oor die nuwe werk, ongeag die bronne waaruit dit bestaan. Indien enigiemand hierdie verwerking kopieer sonder toestemming, sal dit ’n skending van outeursreg wees. Die feit dat die bron-weergawe(s) van die verwerking in die openbare domein val, is irrelevant. Maar indien ’n derde party ’n afskrif van die bronmateriaal (die inheemse werke) maak, sal daar geen skending van outeursreg in die verwerking plaasvind nie, selfs waar die derde party se werk en die verwerking wesenlik ooreenstem. Met ander woorde, outeursreg bied selfstandige beskerming aan die verwerking, maar dit sluit nie ’n reg in op die inheemse werke waaruit dit bestaan nie. Die bronmateriaal bly steeds in die openbare domein en kan deur almal benut word (ten minste vir die tussentyd).
Belangwekkend is ’n vorige, soortgelyke saak waarby Gallo gewikkeld was in die Belgiese howe. Hierdie geding het ook oor die liedjie “Thula Baba” gehandel, asook die liedere “Jikel-Emaweni” en “Quonguothwane” (die “click” liedjie). Getuienis in die saak het bevestig dat al die liedere waarop Gallo aanspraak gemaak het, verwerkings was van inheemse liedere, en dat dit die verwerkings is wat gereproduseer is en nie die inheemse werke nie. Daarom het die Belgiese hof bevind dat die verweerder (die bekende sanger Helmut Lotti) wel outeursreg in Gallo se werke geskend het. Die hof se bevinding dat outeursreg in die afgeleide werke (die verwerkings) bestaan, is deur ’n paneel van musikoloë gemaak, onder wie ’n vooraanstaande Suid-Afrikaanse deskundige.
Met ander woorde, die kern van die huidige saak is ’n eenvoudige vraag: Watter weergawe van die relevante liedjies is deur Sting gereproduseer? Indien Sting die verwerkings gebruik het wat aan Gallo behoort, het Gallo oënskynlik ’n sterk saak om uit te maak. Daarteenoor, indien die feite aandui dat Sting slegs die inheemse weergawes geraadpleeg het en dit as bronne gebruik het, blyk daar geen saak van outeursregskending te wees nie.
Hierdie saak beklemtoon die soort vraagstukke wat waarskynlik vorendag sal kom sodra die Wet op Inheemse Kennis in werking tree en die bevoordeelde gemeenskappe hul pond vleis begin opeis vir die gebruik van inheemse musiek, kuns en ander werke. Onder sulke omstandighede sou Sting tussen twee vure sit, terwyl die gebruik van “inheemse” liedere deur ’n magdom partye bestry word, insluitend alle ander, soos Gallo, en enige aantal gemeenskappe met ’n newelagtige outeursreg. Laat die poppe dans!
|
Hierdie is die vertaalde en verwerkte weergawe van materiaal wat op die Anton Mostert Leerstoel (US) se blog vir regskommentaar, analise en hersiening (IPStell) gepubliseer is.
|

