Nuwe Stories-onderhoud: Janice Keogh

  • 0

1. Wie is Janice Keogh?

Janice Keogh is ’n senior verslaggewer by Beeld. Haar gunsteling-tydverdryf is om met ’n boek of tydskrif in ’n koffiewinkel te sit en na die mense te kyk wat verbygaan. Sy woon nou in Johannesburg, maar sal graag ook vir ’n rukkie elders in die wêreld, soos in Skotland, Argentinië of aan die weskus van die VSA, wil woon.

2. Beskryf jou reis tot by Nuwe Stories met vyf kort stoppe langs die pad.

Ek het in ’n stadium as hofverslaggewer gewerk en tydens die hof se etensuur dikwels in die Wimpy naby die hooggeregshof in Johannesburg aan my koerantberigte gewerk.

Een van die hofsake wat ek gedek het, het my ’n idee vir kortverhaal gegee en ek het sommer daar oor ’n koppie Wimpy-koffie daaraan begin skryf.

Toe ek die advertensie vir die kortverhaalkompetisie in die koerant sien, het ek die storie afgerond, dit vir ‘n paar eerlike kollegas gegee om te lees en met ingehoue asem my handewerk Kaapstad toe gepos.

Ek was gelukkig en baie verbaas toe ek in Januarie van die span by NB-uitgewers hoor dat my storie dit tot op die kortlys gemaak het en dat ek ’n werkswinkel vir skrywers saam met Jeannette Ferreira kon bywoon.

3. Sonder om te veel te verklap, vertel vir ons lesers so ’n ietsie oor jou verhaal wat in Nuwe Stories opgeneem is.

‘n Vrou word in ’n baie moeilike posisie geplaas: Kies sy haar dogter se kant of haar ma s’n? En hoe gemaak as een van hulle van die ander se moord aangekla word?

4. Ek gaan aanneem jy is ’n leser. Wie is die skrywers wie se werk jy die graagste lees, en waarom hou jy van hulle werk?

Ek bewonder die Duitse skrywer Bernhard Schlink se skryfstyl en geniet Deon Meyer se romans oor die kleurvolle karakters en die manier waarop hy spanning in ’n verhaal skep. Ek geniet die kort stories in Weg! baie, veral Toast Coetzer s’n.

Ek is ook baie lief vir digkuns, en Danie Marais, Antjie Krog en die Amerikaner Rod McKuen s’n is van my gunstelinge.

5. Het jy ’n gunsteling-storie? (Dit kan ’n boek wees, of ’n spesifieke kortverhaal, of enigiets anders wat storiematig is.)

As ek ‘n gunsteling-storie moet kies, sou dit een van Joanne Harris se kortverhale wees. Die een wat ek onmiddellik aan dink, kom uit Jigs and Reels, waarin ’n ou tannie wat in ’n rolstoel is en in ’n ouetehuis woon, op ’n dag besluit om ’n paar kersierooi skoene wat sy in ’n tydskrif gesien het, te gaan koop. Sy oorreed haar blinde vriendin, wat in dieselfde ouetehuis woon, om saam met haar te “ontsnap” en die twee vat die uur lange busrit in Londen toe. Daar gekom, drink hulle tee en eet botterbroodjies by Harrods en spoor uiteindelik die winkel met die paar rooi skoene op. Die verkoopsman is aanvanklik verbaas om die twee vroue te sien en pas op haar versoek die paar rooi skoene vir die vrou in die rolstoel aan. Dit is pragtig, maar ongelukkig heeltemal te duur. Sy bedank die verkoopsman, maar voor sy en haar vriendin by die winkel se deur uit is, keer hy haar voor en gee vir haar ’n rooi roos wat hy uit ’n ruiker in die winkel gehaal het.

6. Het jy ’n vyfjaarplan vir jou loopbaan as skrywer?

Ek sal graag die twee storie-idees wat elke dag in my gedagtes groei en verander, wil neerskryf. Ek hoop ook om die stapel gedigte in my laai, wat op enigiets van restaurant-strokies tot rekening-koeverte geskryf is, in boekformaat te sien.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top