Die reaksie op my vorige blog het my hard aan die werk aan ’n reaksie. Ek sal graag iets opstel wat resensente kan help.
Intussen …
Sneller deur Sunel Combrinck
Resensent: Magdel Vorster (Rapport Boeke)
Vorster verwys na die teikenmark van die boek. Resensies het ook ’n teikenmark. As koerantleser maak ek toegewing daarvoor. Hierdie resensie is ’n groot omhaal van woorde om te vermy om te sê ’n jeugroman is maar so-so. 4/10
Weerskyn deur Alwyn Roux
Resensent: Mellet Moll (Rapport Boeke)
Wanneer ’n resensent ’n debuut as “belowend” bestempel, verstaan ek hy wil sê die digter is nog nie heeltemal dáár nie. Mellet Moll het strategies gedink en die woord vir die laaste paragraaf gebêre. Ongelukkig het Rapport se mense dit in die lokparagraaf geplaas. Ek wou net daar ophou lees. Moll het die bundel uitvoerig geplaas en uiteengesit en dit is goed só; wat ek graag sou wou weet, is of die digter iets nuuts en oorspronkliks bring wat dit vir my die moeite werd sou maak om die bundel te koop. Miskien moes hy roekeloos geraak het en die hele bespreking op konsekwente punktuasie gefokus het. Ek dink sommer nou net hier hardop, want ek huiwer om te vra hoekom resensies van digbundels sulke uiters vervelige leesstof op ’n Sondagoggend maak, veral as jy nie die bundel self ter hande het nie. 4/10
Sewe keer sondig, saamgestel deur Stefaans Coetzee en Anschen Conradie
Resensent: Annelise Erasmus (Rapport Boeke)
Die gevaarliggies flits wanneer mens agterkom ’n resensent skryf meer oor die agtergrond van ’n bloemlesing as oor die bydraes self. Die liggies brand oogverblindend wanneer mens sien hoe ligweg sy met die verhale omgaan en dan uiteindelik in haar besluit verklaar dat krimi- en romanzalesers die bloemlesing baie sal geniet. Neerhalend, nè? Asof genre-liefhebbers die enigste toepaslike maatstaf is. Annelise Erasmus is só ’n deeglike leser en resensent dat ek verbaas was oor hoe sy die spoor hier byster geraak het. Mens kan nie oor iets soos Sewe keer sondig skryf sonder om die lyne terug te trek na Lion Cachet se Sewe duiwels en wat hulle gedoen het en Hennie Aucamp (samesteller) se Sewe sondes, nee meer nie. Trouens, toe ek sien Annelise Erasmus skryf die resensie, was ek opgewonde, danksy die feit dat sy ’n filosoof is en ek gedink het dat sy die klemverskuiwings in etiek en moraliteit sou ondersoek. Tussen die Aucamp-bloemlesing en Sewe keer sondig, of tussen vandag se goddeloosheid en Lion Cachet se godvresende, meer naïewe mensdom. Maar die hoop het beskaam. Sy dui nie aan wie oor watter doodsonde skryf nie, en of al die doodsondes gedek is nie. Met 42 bydraers en 21 kortverhale kan mens vir jouself uitmaak dat 2024 se skrywers anders sal dink daaroor as wat die middel negentigs se skrywers daaroor gedink het, watter sondes “gewilder” was as ander, en watter sondes glad nie deur die skrywers behandel is nie. Hierdie resensie was vir my ’n teleurstelling omdat Erasmus se korpus resensies ’n intellektuele hoogvlug het wat nie hier sigbaar is nie. ’n Bloemlesing wat ryp is vir analise verdien beter. 3/10
Anton Rupert deur Ebbe Dommisse
Resensent: Kerneels Breytenbach (Vrye Weekblad)
Ek het al met Johann Kriegler se resensie van hierdie boek gewonder hoekom koerante uit hul pad gaan om die derde uitgawe van ’n boek te laat resenseer. Kerneels Breytenbach sê dat die tweede uitgawe sekere veranderinge in die Rupert-familie verreken het, maar verkies om, anders as Kriegler, met die derde uitgawe eerder te fokus op die boek se waarde vir vandag se lesers. Wat ’n ander manier is om te sê: Lees, dit sal jou vandag se dinge en mense beter laat verstaan. Hy gee geen rekenskap nie van die inkortings en aanvullings, soos Kriegler wel doen, maar vra die leser om Anton Rupert en sy prestasies tydens sy leeftyd te gebruik as maatstaf waaraan vandag se leiers en entrepreneurs gemeet moet word. Is so-iets moontlik sonder om uiteindelik te besef dat alle paaie na Ozymandias lei? As mens jou verdiep in Rupertiana en die Suid-Afrikaanse sakesektor, soos my dierbare eggenoot, lees mens dié boek as, inter alia, ’n verslag oor suksesvolle opvolgingsbeplanning, en vra jy die noodwendige vraag of Johann sy pa die meesterskuif sal kan nadoen. Dalk ’n geval van die resensent wat meer in die boeke- as in die sakewêreld belangstel? Nietemin, dis ’n deeglike resensie, al ontwikkel Breytenbach sy sterk punt van wesentlike kritiek op Dommisse se boek nie behoorlik nie. Die resensie bevat twee besonderse anekdotes wat die lees baie opvrolik. 6/10
Blou bloed deur Daniël Lötter
Resensent: Trisa Hugo (Boeke24)
Die inhoud van die derde paragraaf van die resensie sou ’n goeie inleiding kon gewees het, anders verwoord, en vir Hugo genoeg ruimte gegee het om ander anekdotes en staaltjies aan te haal. Die soort materiaal wat ’n resensie interessant maak en mens uit pure nuuskierigheid verder laat lees. Mens wil weet wat is so verfrissend (paragraaf 2) aan hierdie boek oor adellikes en hul geskiedenis. In die plek daarvan het Hugo besluit op ’n saai uiteensetting van die inhoud. Haar twee laaste paragrawe kan sy in haar slaap skryf. 3/10
Lees ook:
Kan Afrikaanse resensente wel ’n volledig eerlike taksering van hul besprekings verduur?


Kommentaar
'n Konsekwente en ewewigtige Crito rubriek is iets wat heelwat waarde tot 'n dikwels erg saai prentjie kan toevoeg.
Ag, hoe pedanties tog. Soos 'n kunswedstryd op skool, nogal met 'n punt uit 10.
"Die resensie is op stuk van sake 'n genadelose karaktertoets." Hennie Aucamp
(p. 281, Afrikaanse skryfgids, saamgestel deur Riana Scheepers & Leti Kleyn))