Crito kry wat aangesend vanuit die erbarmlike domein van die sosiale media. Klein stukkies vreugde sou dit wees, was Crito ’n narsis. Uiteraard gaan ek my daaraan steur; mag ek wel konstateer dat daar ook heelwat aan die dommelinge was wat die interne giggelmeganisme van die Tante geaktiveer het.
Wat wel helder word, is dat ek duideliker moet wees. Gerda Taljaard-Gilson se resensie van die Karel Schoeman-bewieroking was voortreflik, hoewel nie heeltemal superb óf onvergeetlik nie. “De grootste hinderpaal tussen kunst en publiek is de slecht schrijvende criticus”, as ek die grote G mag aanhaal. Ek had ’n lover in Brixton jare gelede wat soggens vir my uit De kuren voorgelees het. Daardie aanhaling is in my geheue aangeteken om nooit uitgevee te word nie.
Die vraag wat ek my die afgelope dekade afvra (en daarmee, liefste A-M, gee ek vir jou ’n onverhulde antwoord oor my nuwigheid of oudheid, hoop jy snap dit) is of Afrikaanse resensente wel ’n volledig eerlike taksering van hul besprekings kan verduur. Ek het met die verloop van jare té dikwels gesien hoe resensente skugter raak om te resenseer nadat hulle op slordige denke en skryfwerk gewys is.
Sal ek dit waag? Dalk in die styl van een van my Crito-voorsate, hierdie keer met groter dydelikeit? Hoekom nie?
Voorwaarts!
Al wat tel deur Irma Venter
Resensie: Jonathan Amid (Rapport Boeke)
Amid het meer ruimte vir die resensie gebruik as wat nodig is. As jy begin met ’n opmerking soos: “Is daar ’n ander plaaslike krimiskrywer wat soveel in ’n enkele sin of paragraaf kan sê?” volg jy dit op met ten minste ’n goeie voorbeeld. Maar daarna volg ’n soort evaluering van Venter, ’n poging om die nuwe Ami Prinsloo-roman binne die konteks van sy voorgangers te sien, en daarna ’n opsomming van die verhaal, gevolg deur ’n magdom retoriese vrae. Die retoriese vraag is die uitweg van die lui bemarker. Dit sou dalk ’n goeie idee gewees het om die drie aanhalings van Cate Blanchett, Nietzsche en Ezra Pound waarna Amid verwys te geplaas het en dan die roman aan die hand daarvan te ontleed. Die resultaat sou veel meer interessant gewees het. 4/10
Vuur deur Hannes Barnard
Resensie: Magdel Vorster (Rapport Boeke)
Vir wie is hierdie resensie geskryf? Onderwysers, ouers, lekepedagoë. Wat goed is. Húlle moet die boeke koop en die boek se teikengehoor (tieners) sover kry om dit te lees. Daarom aanvaar mens Magdel Vorster se formele trant. 5/10
om my kastele in Spanje te sloop deur Jaco Barnard-Naudé
Resensent: Neil Cochrane (Rapport Boeke)
As ’n resensie só bolangs aan ’n bundel ontgin soos hierdie ene, dan voel jy nie eintlik gemotiveer om té lank daaroor na te dink nie. Cochrane doen wat nodig is (om die tematiek uit te stippel) en verwelkom die debutant met oopgestrekte arms aan die boesem van die Afrikaanse letterkunde. Maar hy verspeel ook soveel kanse. Ek sou graag wou weet hoekom hierdie ’n “langverwagte poësiedebuut” is. Ek wonder of daar raakpunte is met die dertiende eeuse Franse gedig “Le Roman de la Rose” waarin die oorspronklike Spaanse kasteel-verwysing is, en of Barnard-Naudé meer as die vaderfiguur ver-Moor. Dis ook onduidelik hoe die Spaanse kastele skakel met Freud – waarom net iets noem sonder om vir die leser uiteen te sit wat die neerslag daarvan in die gedigte is en watter skakelings die digter aandui? En om net te verwys na “valse kodes, rituele, oortuigings en diskoerse” met betrekking tot sekere gedigte, is om iets te doen wat die uitgewer se reklamespan kon gedoen het. Die resensent moet met die bundel slaags raak en dit analiseer. Hoekom is “sekwense aan my pa” ’n hoogtepunt? As vaderlike brutaliteit die groot kapstok is, sal ’n mens met goeie rede van die resensent kan verwag om die digterlike verwerking daarvan te weeg aan dié van voorgangers soos Koos Prinsloo, Eben Venter, Johann de Lange, PP Fourie in die breër literêre konteks. Dit deug nie om net te sê lesers sal ook voorbeelde daarvan by Johann de Lange, Loftus Marais en Fourie Botha kry nie – wat maak Barnard-Naudé s’n uniek, en is dit uniek genoeg om die aankoop en lees van die bundel te regverdig? Dit verg vakkundige vaardigheid om ’n bundel soos hierdie te resenseer, en Cochrane lewer wel deeglik bewys dat hy die hele bundel onder oë had. Vir ’n resensie in ’n koerant, waar ruimte beperk is, sou dit ’n veel beter strategie gewees het om net die “digterlike disseksie van vaderlike brutaliteit” te geneem het en analiserend uitvoerig ontleed het hoekom dit as “formidabel” beskou moet word. Nou is die vraag vir my of die bundel daarin geslaag het om vir die resensent ’n kenterende oomblik te bring. Of was dit ou nuus? Ons weet nie, want Cochrane reageer nie met sigbare geesdrif nie. 4/10
Sneller deur Sunel Combrinck
Resensent: Stefaans Coetzee (Boeke24)
Ek geniet Stefaans Coetzee se boeke-drif. Die wyse waarop hy met Sneller omgaan moet vir die skrywer groot bevrediging en trots bring. Coetzee moes egter langer nagedink het oor die wenslikheid daarvan om Sneller, ’n jeugverhaal met ’n baie spesifieke teikengroep, aan te beveel vir “volwassenes wat in Cozy’s en Romanza’s verlore raak”. Hoe waar dit ook al mag wees, dit is uiteindelik besonder neerbuigend. 5/10
Anton Rupert deur Ebbe Dommisse
Resensent: Johann Kriegler (Boeke24)
Is dit gebruiklik om hersiene uitgawes van boeke te laat resenseer? Sekerlik nie in alle gevalle nie. As jy ’n Afrikaanse koerant is, en die onderwerp van die boek is Anton Rupert, dan sekerlik wel – ’n vermindering van 100 bladsye verdien ondersoek. Wie beter om die bespreking te doen as die gryse wyse van die Afrikaanse resensiewese? Die krag van hierdie resensie is gekoppel aan die wesentlike waarde van die boek. Daar het tyd verloop sedert die vorige uitgawe, en na die aard van ons tydsgewrig word evaluerings hersien. Iemand wat eens ’n baanbreker was, kan vandag as ’n kansvatter beskou word. Hoe takseer mens Rupert nou? Dít is wat Johann Kriegler in sy resensie doen – onderhoudend, argumenterend, evaluerend. 7/10
Anoniem deur Chanette Paul
Resensent: Linza de Jager (Vrye Weekblad)
Linza de Jager het ’n bekoorlike skryfstyl. Haar geesdrif is haar skild. Sy vermors daardie styl met die skryf van ’n resensie waarin sy net die verhaal opsom. 3/10
Hemel en aarde en ons deur Zirk van den Berg
Resensent: Linza de Jager (Vrye Weekblad)
Oeps. Slordige styl daar in die begin, nè? Weer vertel sy omtrent die hele verhaal; die rede hoekom sy dink die boek sal nie in almal se smaak val nie, is belaglik. 2/10
Bloedsomer deur Sidney Gilroy
Resensie: Carla van der Spuy (LitNet)
Net wanneer die lees van die resensie op dreef is, slaan die resensent jou van koers met een paragraaf: “Wat die meeste beïndruk, is hoe op aarde Gilroy, ’n sterk, gespierde Afrikaanssprekende man, dit oortuigend regkry om in ’n vrou se kop te klim. Dit moes moed en emosionele insig gekos het. En dan nog boonop iemand van ’n ander ras en kultuur as syne.” Mens moet soms die resensie wat jy geskryf het, ’n paar dae laat wag, dan lees jy dit weer deur en verander waar nodig. Soos hier. 3/10
Gebeente deur Etienne van Heerden
Resensie: Willem Krog (LitNet)
LitNet maak seker dat ons weet hulle het nie hierdie resensie aangevra nie. Só ’n kwytskelding is soms nodig, veral om ongemaklike kommentaar en wanvoorstellings by voorbaat te ontlont. Met hierdie resensie is dit onnodig. Dit is ’n unieke geval van ’n skrander leser wat ’n invalshoek raakgesien het wat deur niemand indringend oorweeg is nie. Willie Burger, Louise Viljoen, Chris van der Merwe en Johan Myburg het almal intensief na Gebeente gekyk. Willem Krog swaai die gesprek in gans ’n ander rigting. Sou dit te veel wees om te hoop dat iemand soos Jean Meiring die gesprek verder voer? 7/10
Anoniem deur Chanette Paul
Resensent: Jonathan Amid (Rapport Boeke)
En hoor jy die magtige dreuning van ’n Jonathan Amid-resensie? Dit laat mens dink aan ’n leesverslag van ’n keurder. Of ’n vorm van herout-isme (vir die middelmoot) waarin kritiek die heel laaste oorweging is. Amid is besig om sy eie talente te ondergrawe deur weekliks op hierdie manier te jubel. En dan nog in alle vroomheid hierdie waarneming te plaas: “[…] die ontploffing van smaakmaker-resensies wat dikwels niks meer as onverdunde bemarking is nie.” Hierdie bespreking (weer eens ryk aan retoriese vrae en storie-precis) beteken meer vir die uitgewer as vir die skrywer; Chanette Paul verdien beter as om die hoof gesalf te kry met ’n mymering oor ons tye en dinge en hoe netjies die boek daarby aanhaak. 4/10
So ook op aarde deur Betsie van Niekerk
Resensent: Trisa Hugo (Rapport Boeke)
Hugo resenseer met al hoe meer sekerheid, swem met sterker hale in die onderstromings van die boek voor haar. Maar sy het steeds die nuk om seker te maak ons weet sy het die hele storie gelees. Watter ander afleiding kan mens maak van ’n resensie waarin die inhoud opgesom word? Miskien eerder ’n paar aanhalings gegee het van Betsie van Niekerk se taalgebruik, want dit is skynbaar wat hierdie publikasie anders maak. 4/10
Amma: ’n memoir deur Charmaine Africa
Resensent: Jo-Ann Floris (Boeke24)
Resensies wat gewoon die inhoud van ’n boek saamvat, maak my lam. Maar: Wanneer ’n resensent weet hoe om dit onderhoudend te doen, fleurig, so in die trant van vinnig vir iemand vertel waaraan sy so lekker gelees het, kan dit werk. Soos hier. In die proses word ’n kritiese laag ingebou – dit is implisiet in wat gesê word. 5/10
Ek hoop op beterskap …


Kommentaar
Hierdie is vir my as 'n asprirantresensent, 'n snotjantietie, baie leersaam, veral omdat ek sommige van die resensies gelees het. Ek sal nou 'n punt daarvan maak om van die ander ook onder oë te kry en weer saam met hierdie kritiek te lees.
.
Ek hou persoonlik van 'n resensie / lesersindruk wat my die boek wil laat koop en lees, nie iets waar ek halfpad die trant verloor omdat die Afrikaans drie keer meer hoogdrawend is as die boek wat geresenseer word nie.
Ek sien heelwat kommentaar oor die opsom van die boek ... dis nogals iets waarteen ek probeer waak. Ek weet nie of ek dit regkry nie. Ek is net so versigtig om nie te veel weg te gee nie.
Baie dankie, Crito. Mag ek - ek praat namens myself - sê, hoogtyd. Ek verwelkom altyd jou kritiek.
Dankie, Crito. Wat ek bitter graag sou wou sien, is meer riglyne oor hoe om te verbeter. Praktiese voorbeelde van ervare mense.
Ek stem saam, met respek, Trisa. Hoe lyk dit Crito? Gee vir ons iets soos: "Die eerste 5 beginsels van 'n goeie boek-resensie."
Crito, het ek en jy dieselfde resensie van Barnard-Naudé se boek gelees? Jy skryf: “Cochrane reageer nie met sigbare geesdrif nie”, maar Cochrane skryf duidelik dat die boek een van die poësie-hoogtepunte van 2024 is en dat dít die geval is “sonder voorbehoud”? Wat die disseksie van vaderlike brutaliteit aanbetref, skryf Cochrane dit is formidabel, omdat die ander digters nie “oor dieselfde graad van interrogasie” beskik nie. En oor die vraag of Barnard-Naudé meer as net die vader “ver-Moor” skryf Cochrane duidelik oor die aftakeling van die hiperviriele “badhuispappa” om net een voorbeeld te noem. Wat die Roman de La Rose verwysing betref skryf Cochrane verder met groot klarigheid oor die onomwonde sloping van fantasieë oor queer verhoudings wat in meerdere gedigte aanwesig is. Daarmee betrek hy direk die fantasie wat in die dertiende eeuse gedig gedy. Níks hiervan kom in jou resensie van die resensent aan bod nie. Ek dink gevolglik jy lees net so vlak soos jy die resensent van vlak lees beskuldig.
Ek het voorbehoude gehad by die lees van die nuwe Crito se eerste aflewering, weens die lang relaas oor boekfeeste, maar na hierdie aflewering is ek 'n geesdriftige leser. Dis wat ons soek, intelligente, en waar nodig genadeloos skerp, besprekings. Kort, bondig, op die punt af En die puntetellings uit tien is 'n welkome toevoeging. Hopelik vind dit neerslag in die resensies van die toekoms.
Bedoel jy dat boekresensies ook so geskryf moet word? Ek hoop regtig nie dít gebeur nie. Lang interessante besprekings wat goed geskryf is, is een van die plesiere van die lewe. Kort en bondig is vir instruksies vanaf jou fisio.
Het jy 'n voorbeeld van 'n resensie wat volgens jou 8/10 of 9/10 verdien?
Ek dink ek die antwoord op my vraag gevind: die resensie van André de Ruyter se boek.