Internasionale Museumdag: Elzette Steenkamp gesels met Elsabé Uys van Iziko Museums

  • 0
Ter viering van Internasionale Museumdag op 18 Mei gesels Elzette Steenkamp met Elsabé Uys oor die opvoedkundige programme van die planetarium by die Iziko Suid-Afrikaanse Museum in Kaapstad.

Die planetarium bied skoolprogramme in Afrikaans, Engels en isiXhosa aan. Hoekom voel julle is dit belangrik om sulke opvoedkundige programme in leerders se moedertaal aan te bied?

Ondervinding het geleer dat leerders goed reageer op aanbiedinge in hul moedertaal. Heelwat astronomiese konsepte is op die oog af “vreemd” in vergelyking met alledaagse ervarings. Om dit vir leerders toeganklik te maak, is dit beter om dit te verduidelik in die moedertaal, sodat die taal self nie ook hindernisse tot verstaan bied nie.

Op watter maniere bied julle organisasie leiding of “mentorskap” vir onderwysers en leerders?

As deel die opvoedkundige program van Iziko Museums is die planetarium gereeld betrokke by opleidingsprogramme vir onderwysers. Sulke programme kan wissel van een uur lange eenmalige aanbiedinge om onderwysers slegs bloot te stel aan die planetarium-omgewing en -programme, tot dag lange aanbiedings wat meer intensiewe betrokkenheid en beter verstaan tot gevolg het. Met goeie begrip van basiese astronomie en hoe die planetariumprogramme dit aanspreek, kan onderwysers dan uitstappies na die planetarium beplan as deel van kurrikulum-nakoming.

Programme soos Dawie die Draak en die Planete en Tobie Tarentaal en die Stukkie Lug leer leerders meer oor die planete, son, maan en sterre. Watter ander astronomiese konsepte word deur middel van soortgelyke prettige programme verduidelik?

Reis na die Sterre kyk indringend na die lewensiklus van sterre aan die hand van ’n paar sterre wat goeie voorbeelde van verskillende tipes sterre is. Leerders leer ook hoe om hierdie sterre en hul konstellasies in die naglug uit te ken. (Geskik vir graad 6 en 7.) In 15 Miljard voor Christus word die heelal verken, eers “naby” voorwerpe soos die maan en planete van die sonnestelsel, en dan al hoe verder en verder tot die uiterste waarneembare grens van kosmiese mikrogolwe. Leerders kry ’n begrip van afstande in die ruimte, maar ook die beperkinge van ons vermoëns as gevolg van die beperktheid van die spoed van lig. (Geskik vir grade 8 tot 12.) Op ons webwerf is inligting oor die ander programme. Gebruik hierdie skakel vir direkte toegang.

Watter moontlike loopbane is beskikbaar vir leerders wat belangstel in sterrekunde en watter vakke moet leerders op skoolvlak neem om so ’n loopbaan moontlik te maak?

’n Volledige antwoord op hierdie vraag is op die webwerf van die Suid-Afrikaanse Astronomiese Observatorium.

By hierdie webwerf is skakels na sterrekunde-departemente van verskeie universiteite sowel as studiebeurse.

 
Die planetarium bied 'n verskeidenheid programme vir leerders van alle ouderdomme aan.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top