Internasionale Filmfees in Mannheim-Heidelberg: Sterk vroue, randfigure en vervreemde tieners

  • 0

Aan die begin van Commander Arian – A Story of Women, War and Freedom (2018) stel regisseur Alba Sotorra die hoofkarakter in haar dokumentêre film bekend. Dertigjarige Arian is deel van die Vrouebeskermingseenheid, ’n weermag wat veg teen ISIS in Sirië. Die kamera fokus op Arian se halfnaakte liggaam. Dit is deur vyf koeëls verwoes. Die kyker sien die littekens oor haar bolyf en op haar arm. Sy noem aan ’n ander karakter dat haar liggaam nie heeltemal meer funksioneer nie. ’n Mens besef in watter mate sy gedwing is om te leef met die sigbare en onsigbare beserings van die oorlog. Sotorra se filmspan volg Arian na die voorste linie waar sy as bevelvoerder van die eenheid deelneem aan ’n poging om die stad Kobane te bevry. Ten spyte van ’n mens se blootstelling aan uitgebreide nuusbeeldmateriaal van die ruïnes in Sirië, bly dit skokkend om te sien wat oorgebly het van stedelike landskappe. In ’n oomblik van ongelooflike skoonheid weens die uitbeelding van menslikheid in die ongenaakbare situasie, fokus Sotorra op kinders wat tussen die ruïnes speel.

Die rolprent Commander Arian – A Story of Women, War and Freedom

Dit is die beelde wat by my nog dae na die afsluiting van die 67ste Internasionale Filmfees in Mannheim-Heidelberg spook, ’n filmgebeurtenis wat oor die afgelope jare toegewy is aan die ontdekking van nuwe stemme in die Wêreldfilmkuns. Al 55 speelfilms by die fees is gemaak deur debuutregisseurs, sommige in hul twintigs. Die resultate is verstommend. Waar daar ’n tendens in die Afrikaanstalige filmkuns op die oomblik is om die harde werklikhede van Suid-Afrika se sosio-politieke landskap te vermy, konfronteer die filmmakers by die Mannheim-Heidelbergfilmfees juis die probleme van die 21ste eeu. In talle rolprente is hierdie kwessies aangespreek in realistiese,  nie-sentimentele, soms ongenaakbare uitbeeldinge van die karakters se omstandighede. Die films bestaan dikwels uit lang skote en het bykans ’n dokumentêre en minimalistiese aanslag. Dit is ver verwyder van ’n tendens in sommige Afrikaanstalige films, wat nostalgie en fantasie nastreef.

In die Internasionale Nuwelingskompetisie het drie temas uitgestaan: Uitbeeldinge van sterk vroulike karakters, manlike en vroulike karakters aan die rant van die 21ste eeuse samelewing en vervreemde tieners. Die groot wenner by die fees was die Iranse regisseur Arash Lahooti se Orange Days (2018). Dit het die Grand Newcomer-toekenning, die FIPRESCI-prys en die toekenning van die Ekumeniese Jurie ontvang. Op grond van ’n draaiboek wat deur Lahooti geskryf is, verbeeld die rolprentmaker ’n vrou, wat haar eie lot in haar hande in die ekonomies-gespanne en manlik-oorheersende landelike gebiede van Iran neem. Die FIPRESCI-jurie het die klassieke benadering en die visuele trefkrag van die rolprent geloof. Die hoofkarakter is die 45-jarige Aban. Sy is die enigste vrou in ’n man-gedomineerde werksomgewing. As plaasbestuurder wen sy haar manlike mededinger suksesvol in ’n aanbod vir ’n werk. Sy bestuur ’n hele groep vroulike seisoenwerkers op ’n lemoenplantasie. Lahooti gebruik ’n klassieke verhaalstruktuur om die struikelblokke waarmee Aban in ’n patriargale samelewing te doen het, te ondersoek, maar sonder enige stereotipes of melodrama. Sy benadering tot die onderwerp is subtiel en kompleks. Dit is visueel ’n baie elegante film met beelde wat die kyker weke na die vertoning bybly. Een van die asemrowende oomblikke in die film is wanneer werkers vure in die plantasie aansteek en sneeu begin val. Aan die een kant beklemtoon die toneel die benarde situasie van die werkers, wat teen die tyd werk om die oes af te handel, maar aan die ander kant is dit ook ’n soort loflied aan die deursettingsvermoë van die karakters en Aban. Op die ou einde styg sy bo haar marginale status as vrou uit in die patriargale omstandighede.

Nog ’n sterk vroulike karakter verskyn in Cathy Yan se hoogs vermaaklike satire Dead Pigs (2018). Candy, wat in haar ouers se ou huis woon, bedryf haar eie haarsalon. Sy bied enkelvroue haarstyl- en skoonheidsdienste, sowel as selfhelp-advies om hul lewens te verbeter. Dit geskiet amper soos ’n militêre oefening in Mao se China! En dit is wat die rolprent so besonders maak. Die kyker word blootgestel aan ’n modern China waarin die waardes van die verlede (soos Mao se invloed) gekombineer word met aggressiewe neo-liberale idees. Candy se lewe word ’n nagmerrie wanneer ’n groot ontwikkelingsmaatskappy probeer om haar uit die huis te dwing. Die bedoeling is om ’n winkelsentrum te bou en die huis is die enigste gebou wat nog oor is. Dit staan in die middel van ’n niemandsland. Al die ander geboue is reeds plat gevee. Op die agtergrond sien ’n mens die nuwe ontwikkelinge – woonstelblokke met aanloklike name. Yan se film is ’n uitstekende satire oor moderne China. Die film ondersoek kwessies rondom klas en geslag amper op ’n Altmaneske-manier. Dit herinner aan die groot filmmaker se werk uit die jare sewentig soos Nashville.  En soos in Altman se werk word die kyker bekend met ’n groot aantal karakters. Die klimaks is ’n ongelooflike oomblik in die rolprent met Candy wat op die dak van haar huis staan ​​en ’n naderende stootskraper konfronteer. Nog ’n skouspelagtige oomblik in die filmfeeskompetisie.

Die rolprent Pure Land

Sommige van die vroulike protagoniste in die feesfilms was randfigure. Regisseur Zhenyu Sun se Pure Land (2018) is ’n ontstellende uitbeelding van ’n ma van twee kinders, Zin Feng, wat in die bergagtige streek van die Shanxi-provinsie in Noord-China woon. Sy verwag nog ’n kind en word die teiken van die Chinese "een-kind-beleid". Sy het twee keuses: betaal ’n boete, wat sy nie kan bekostig nie, of gaan vir ’n aborsie. Regisseur Sun se benadering is minimalisties. In lang skote ondersoek hy die ongeregtigheid teen Zin Feng en in een brutale oomblik word die geweld teenoor haar deur ’n motorvenster in ’n lang statiese skoot geraam. Die kyker sien hoedat sy uit die huis gesleep word en in die motor gedruk word. Sy word gedwing om ’n aborsie te ondergaan en verval in ’n diep depressie. In die ontknoping van die film word daar niks gedoen om die onregverdigheid jeens haar aan te spreek nie. Inteendeel, sy wend haar tot geloof en godsdiens vir die helingsproses.

Alex Moratto se Socrates (2018) het die Spesiale Jurie-toekenning vir die akteur Christian Malheiros se vertolking gewen. Die film is ’n kragtige uitbeelding van armoede en marginale lewens in kontemporêre Brasilië. Jong Socrates eindig in die strate na die dood van sy ma. Hy is 15 jaar oud en gay. Met ’n handbeheerde kamera volg Moratto hom in die strate. Dit gaan oor sy stryd om te oorleef. Hy probeer die as van sy ma kry, maar dit word vir sy pa gegee. Hy vermy sy pa, wat homofobies is. Socrates vind tydelike verligting van sy benarde lewensomstandighede in ’n verhouding met ’n getroude man, maar dit is ook net ’n oomblik van geluk. Op die ou einde oorweeg hy prostitusie. Die rolprent herinner aan die estetiese benadering in die Dardenne-broers se  Rosetta in die laat negentigs. Met ’n begroting van minder as $20 000 is Socrates ’n merkwaardige rolprent oor verlies en gay-identiteit.

Laastens het verskeie van die Kanadese rolprente oor vervreemde tieners gehandel. Die hoogtepunt was The Fireflies are gone (2018), wat die Talent-toekenning vir die rolprent se draaiboek gewen het. Dit was ’n persoonlike gunsteling. Die vroulike hoofkarakter is 17 jaar oud. Dit is ’n innoverende ontleding van vervreemding in ’n kleindorpse omgewing, wat ons al voorheen gesien het, maar regisseur Sebastien Pilote se benadering is poëties, verfrissend en genuanseerd.

Mannheim-Heidelberg se filmfees is 67 jaar oud, een van die oudste op aarde. Vanjaar se program het 55 vollengte rolprente bevat. Kaartjieverkope in 2017 was 55 000. Dit het in beide stede ’n jaarlikse kulturele hoogtepunt geword. Wat ek as FIPRESCI-jurielid waardeer het, is dat die teaters en ander besienswaardighede in die pragtige Mannheim binne loopafstand van mekaar is. Dit is ’n ideaal vir enige filmfeesliefhebber. En om ’n filmfees te kan bywoon, wat NET op nuwe stemme in die rolprentkuns fokus, is ’n besondere voorreg.

  

Foto's en teks: Martin Botha

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top