Interessante vertelling van ’n kortstondige huwelik met lewendige musiek

  • 0

...
Dis nie ’n reusemusiekspel met glans, blinkers en baie akteurs wat hoogskop terwyl die stel draai nie, maar dis ’n aanbieding met werklike musikante en goeie akteurs, en dis wonderlik om weer jou voet te voel saamtik of jou hand liggies op jou knie te voel, soos dit ritme hou met die viool- of klaviermusiek.
...

Die musiekspel The last five years is geskryf deur Jason Robert Brown, het sy première in 2001 by die Chicago Northlight Teater gehad, en is in 2002 in Off-Broadway opgevoer. Dis geïnspireer deur Brown se mislukkende huwelik met Theresa O'Neill.

Dit het die Drama Desk-toekenning ingepalm en is as een van TIME se top 10 beste vertonings vir 2001 aangewys.

Dit vertel die storie van die vyfjaarverhouding tussen Jamie Wellerstein, ’n jong opkomende skrywer, en Catherine (Cathy) Hiatt, ’n sukkelende aktrise. Nie net Jamie se sukses is gou ’n doring in die vlees nie, maar ook sy wandelende oog, en die krakies begin gou wys.

Wat die aanbieding interessant maak, is die manier waarop dié liefdesverhaal vertel word. Die twee karakters ontmoet mekaar net een maal op die verhoog, op hul troudag. Die res van die tyd speel elkeen solo en vertel dieselfde storie, maar van twee kante af: Jamie vanaf hul ontmoeting tot die verbrokkeling en Cathy van die verbrokkeling af terug.

Tally Ho! Productions is by Theatre on the Bay verantwoordelik vir die produksie. Die span moes die produksie se speelvak vanweë die inperkings met twee jaar uitstel.

Die rol van Jamie word gespeel deur die Fleur du Cap-benoemde Anthony Downing, wat Brad Majors in die 2019-produksie van Rocky Horror deur Pieter Toerien Produksies gespeel het. Cathy word gespeel deur die Fleur du Cap-benoemde Zoë McLaughlin, wat onlangs in die 2021 Abrahamse & Meyer-produksie, The blue piano|The blue guitar, opgetree het wat vir drie weke by The Vineyard Hotel aangebied is.

Die verhoog is in drie dele verdeel: Agter sit ses musikante agter ’n vensteragtige afskorting; in die middel is die fluweelbank waarop Cathy meestal speel; en voor is Jamie se tikmasjien en lessenaar waar hy baie tyd deurbring.

Wanneer die ligte doof en Cathy op die fluweelbank lê en wegtrek met die liedjie “Still hurting”, weet jy hier kom groot hartseer. Maar voor jy te lank oor haar hartseer kan tob, kom Jamie op die verhoog en skop af met sy blydskap dat hy ’n meisie buite sy Joodse bloedlyn die hof kan maak en hoe opgewonde hy is om die res van sy lewe met haar deur te bring.

Alte gou is die woede daar omdat Jamie haar nie kom ondersteun met ’n vertoning waarin sy speel nie en boonop op haar verjaardag moet terugkeer New York toe om oor sy boek te vergader. Slim kostuumveranderinge maak dit maklik vir die gehoor om by te bly met die tydlyn.

Dis duidelik dat Cathy alles wil probeer om hul huwelik te red, terwyl Jamie die lewe van ’n bekende skrywer, die middelpunt van almal se aandag, te veel geniet. Hul loopbane slaan presies die teenoorgestelde rigtings in: Hy styg uit, sy faal. Die Ohio waarvan sy weggehardloop het om beter te vaar as bloot trou en kinders kry, blyk haar voorland te wees. Maar selfs daar faal sy, want haar huweliksbootjie sink vinnig.

Jamie blameer haar dat sy nie ondersteunend genoeg vir sy loopbaan is nie, hoewel hy haar aanvanklik die wêreld beloof het.

’n Groen deur waardeur hulle albei gedurende die vertoning gaan, word die ontmoeting en groet van ’n baie kortstondige huwelik.

Ek lees oor Tally Ho! Productions se die volgende: “Ons streef daarna om ’n diverse portefeulje  werk aan te bied, wat uit die kaleidoskoop van Suid-Afrikaanse kulture inspirasie put, sonder om die individuele artistieke integriteit van enige vertoning prys te gee. Deur ’n gevarieerde portefeulje, beoog ons om nuwe gehore te bou, wat ons waardes van insluiting en waardering van alle Suid-Afrikaners deel en vier.

“Ons glo in die narratiewe en kuns van storie-vertel. Die doel van teater lê in sy vermoë om perspektiewe te skuif; empatie te kweek en ons almal te inspireer om volgens ’n meer deernisvolle standaard te leef. Vir hierdie doel verseker ons dat ons produksies ’n holistiese ervaring van die hoogste gehalte is.

“Ons vertel ons stories vanaf die oomblik dat die gehoorlid in die teater-voorportaal aankom, tot wanneer hulle die ouditorium verlaat, of dit nou musiekteater, intieme drama, musiekkonsert, of ’n viering van sang en dans is.”

Inderdaad. Die oop teaterverhoog toe ons instap, het daardie ervaring lekker vroeg laat begin.

Ons sit steeds wyd uitmekaar om nie die 50%-kapasiteit vir Covid-regulasies te oorskry nie, maar die fluite en handeklap en staande ovasie vir die span op die verhoog het geen beperkinge gehad nie. Ons is reg vir goeie vermaak en hierdie opvoering is beslis een van die eerste treë in daardie rigting!

Dis nie ’n reusemusiekspel met glans, blinkers en baie akteurs wat hoogskop terwyl die stel draai nie, maar dis ’n aanbieding met werklike musikante en goeie akteurs, en dis wonderlik om weer jou voet te voel saamtik of jou hand liggies op jou knie te voel, soos dit ritme hou met die viool- of klaviermusiek.

En ’n liefdesverhaal wat gegrond is op ware mense, maak dit nog meer geloofwaardig.

The last five years
Met: Anthony Downing en Zoë McLaughlin
Musikante: Rayelle Goodman (viool), Dane Coetzee (tjello), Rina Schutte (tjello), Jaco Griessel (klavier), Graeme Lees (akoestiese kitaar) en CJ Duckitt (baskitaar).
Regie: Paul Griffiths
Stelontwerp: Jaco Griessel en Zoë McLaughlin
Musikale regisseur en klankontwerp: Jaco Griessel
Beligtingsontwerp: Jaco Griessel
Vervaardig deur Tally Ho! Productions
Theatre on the Bay, Kampsbaai
Tot 9 April 2022
Besprekings deur Computicket of die teater by (021) 438-3300
Kaartjies word in pare verkoop.

  • Foto’s: Tally Ho! Productions
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top