Ja, jy het reg gelees. En nee, dit is nie wat jy dink nie.
Die term "inspiration pornography" is in 2012 gemunt deur Stella Young, ’n Australiese aktivis vir die regte van gestremde persone. Dit verwys na die verskynsel dat gestremde mense as bron van inspirasie gesien word suiwer op grond van hulle gestremdheid. Gestremdes word deur niegestremde persone as "buitengewoon" beskou, wat lei tot ’n objektivering van gestremdes se liggame in die media en pers. Daar is seker niks verkeerd daarmee om uit ander mense inspirasie te put nie, maar nie ten koste van hulle menswees nie. Gestremdes se individualiteit word gereduseer deur inspirasiepornografie, wat eensydig op hulle inperkings fokus. Die ooreenkoms met die begrip erotiese pornografie lê in die uitbuiting van die liggaam deur toeskouers (voyeurs) om goed, of beter oor hulleself te voel. Ek kry swaar, maar ek kon in ’n rolstoel gesit het. Of blind gewees het. Eintlik is ek nie so sleg daaraan toe nie. Inspirasiepornografie het as ’n reël ’n goed-voel-uitwerking op die kyker.
Slagsinne tiperend van inspirasiepornografie is: "Your excuse is invalid." Of: "Before you quit, try!" Dié motto’s gaan dikwels vergesel van prente soos ’n kind met prostetiese bene wat hardloop, of ’n man sonder hande wat ’n verfkwas in sy mond vashou en skilder.
In 2014 versprei Young se TED-praatjie "I’m not your inspiration, thank you very much" soos ’n veldbrand in die sosiale media. Haar kommentaar en wrang humor stel hierdie clichés in perspektief: "‘The only disability in life is a bad attitude.’ The reason that that’s bullshit is because it’s just not true, because of the social model of disability. No amount of smiling at a flight of stairs has ever made it turn into a ramp. Never. Smiling at a television screen isn’t going to make closed captions appear for people who are deaf. No amount of standing in the middle of a bookshop and radiating a positive attitude is going to turn all those books into braille. It’s just not going to happen." En: "The word ‘special’, as it is applied to disability, too often means ‘a bit shit’."
Ek span my soekenjin in, en ja, wraggies, die eerste artikel wat opduik is getitel: "Gestremde persone is God se spesiale mense". Inspirasiepornografie uit die boonste rakke! Die opskrif is ondeurdag. (Deurdínk mense wat hulle sê, of is dit bloot ’n klomp versiersuiker? Knop-in-die-keel-retoriek?)
Shane E Bryan juig elders: "I do not have a disability, I have a gift! Others may see it as a disability, but I see it as a challenge. This challenge is a gift because I have to become stronger to get around it, and smarter to figure out how to use it; others should be so lucky." (Bryan ly aan distonie. Maar genugtig, hierdie uitspraak is so over-the-top, ’n mens beny die man amper sy gestremdheid.)
As ek duiwelsadvokaat mag speel: Die ironie is dat Young wél ’n inspirasie was vir vele. Nie omdat sy gestremd was nie, maar omdat sy as komediant en skrywer haar sin vir humor en skerp intellek ingespan het om alledaagse struikelblokke vir gestremdes draagliker te maak. Young is ongelukkig in 2014 onverwags op die ouderdom van 32 oorlede. Sy het aan osteogenesis imperfecta gely en haar lewe in ’n rolstoel deurgebring. Sy was ’n waardige ambassadeur vir die gestremde gemeenskap en ’n voorstander van die gedagte dat gestremdes op gelyke vlak met niegestremdes moet meeding. Die lae verwagting wat die samelewing van gestremdes het, dra tot inspirasiepornografie by, het sy gesê. Sy het die draak gesteek met haar gehore, wat gedink het dis "genius" dat sy haar selfoon met haar rolstoelbattery kon laai, of dat sy met ’n braaitang uit haar rolstoel goed wat sy laat val het, kon optel.
Die jaar 2020 word gekenmerk deur menseregtedrukgroepe wat oral tydens C-19 verrys het, soos die BLM-beweging ná George Floyd se dood, en ter plaatse, ál meer stemme wat teen geslagsgebaseerde geweld en plaasmoorde opklink. Tog word die stem van kleiner minderheidsgroepe, soos gestremdes, skaars gehoor – gestremdes bly die gemarginaliseerdes van ’n samelewing en word dikwels doodgeswyg. Behalwe nou natuurlik as hulle ander mense inspireer. Dalk lê die antwoord deels daarin dat die breër samelewing nie met die pyn en afgryse wat dikwels met gestremdheid gepaard gaan, gekonfronteer wil word nie – dat die meeste niegestremdes dit slegs kan hanteer op voorwaarde dat dit ’n positiewe of inspirerende boodskap uitdra.
Unesco het 3 Desember tot Internasionale Dag van Persone met Gestremdhede verklaar. Op dié dag word jaarliks belangrike werk gedoen, soos om Jan Publiek van die belangrikheid van gestremdevriendelike geboue, persele en ontspanningsfasiliteite bewus te maak.
Maar Jan Publiek is nie altyd so gaaf en akkommoderend teenoor gestremde persone nie. Moenie jou rolstoel op ’n Saterdag in Pretoria voor ’n drankwinkel parkeer nie. Veral nie as die Blou Bulle speel nie. Die biermanne klim vroegdag al uit hulle 4x4’s, luidrugtig met ’n selfoon wat teen die oor kleef. Die biermanne haak hulle six pack-dumpies sommer so met die duim uit die yskas en hulle is nie baie vrygewig nie. Nie eers teenoor motorwagte nie. Ek het gehoor hoe ’n bierman vir ’n ou in ’n rolstoel sê: "Gaan kry vir jou SASSA, man." Die volk hou nie daarvan as jy voor ’n drankwinkel sit en op hulle gevoel speel nie.
Die grootste bron van inspirasiepornografie is waarskynlik die aanbod en beriggewing ten opsigte van gestremdheid in die sosiale media en pers. In 2015 het die volgende storie vlamgevat: ’n Gereelde klant by die Qdoba-restaurant in Kentucky, ’n vrou in ’n rolstoel, het ’n kelner, ene Ridge Quarles, gevra om haar te help eet. Dit het hy met liefde gedoen. Dis wonderlik – ons het meer sulke mense nodig. Maar die hele episode het in inspirasiepornografie ontaard:
’n Ander klant, wat die toneel aanskou het, was so aangedaan dat hy dit opsluit met sy selfoonkamera verfilm het. Die kelner se kommentaar by die video het gelui: "Today I had the honor to accept public acknowledgment for helping someone else in need. I’m very glad to have had the opportunity to impact lives around me. Go out and help someone today and pay it forward. Happy day, everyone!" (Genugtig, die man is so nederig hy is amper arrogant!) In die geheel gesien, was dit seker ’n goed bedoelde poging; tog wys dit die samelewing se mentaliteit jeens gestremdes – dat gestremdes objekte is met behoeftes wat niegestremdes moet vervul.
Gestremdes is mense met hulle eie perspektiewe en menings. Die gestremde vrou se toestemming om die toneel te verfilm, is nooit gevra nie, slegs die kelner s’n. Dit is simptomaties van ’n groter probleem, naamlik dat gestremdes se emosies nie in ag geneem word nie. Die goed-voel-aspek van die aanbod van die gebeure is ook problematies. Die Huffington Post het die storie opgeraap, en hom aan dieselfde dubbele standaarde skuldig gemaak: Daar is met Quarles ’n onderhoud gevoer, maar nie met die vrou nie – sy was die objek waaroor dit gehandel is. Gestremdes bly gesigloos en naamloos. Dit dui op ’n neerbuigende houding, want die volledige kompleksiteit van gestremdes se sienings en perspektiewe word nie as belangrik geag nie. Gestremdes is apolities en word binne ’n groter kulturele narratief ingespan om ’n boodskap van dankbaarheid uit te dra. Of is gestremdes die figuurlike krukke wat niegestremdes "regop" hou? Ongelukkig val die fokus meermale op die filantrope en engele wat hierdie mense "help" – en die media se narratief oor gestremdes word deur niegestremde persone geskryf.
Daar is ’n fyn grens tussen goedbedoelde dade en denke en die uitbuiting van gestremde persone – ’n mens moet seker elke scenario op eie meriete beoordeel. Groter sensitiwiteit word vereis.
’n Geskiedenisprofessor en kenner op die gebied van gestremdhede, David Perry, het die volgende kategorieë van inspirasiepornografie onderskei:
* ’n Gestremde kry ’n toekenning (bloot omdat die persoon gestremd en ’n inspirasie is. Stella Young vertel dat sy op hoërskool só ’n gemeenskapstoekenning ontvang het – geen meriete, geen prestasie was nodig nie; slegs haar inperking).
* ’n Hoërskoolsportspan gee aan ’n gestremde kind die kans om saam met hulle aan ’n sportsoort deel te neem, normaalweg ’n plek wat deur ’n niegestremde atleet gevul word.
* ’n Gestremde "oorkom" van die struikelblokke wat met sy of haar inperking verband hou.
* ’n Niegestremde persoon neem ’n gestremde uit, soos na ’n matriekafskeid, of ’n dans – of knoop ’n verhouding met die gestremde persoon aan.
Volgens Perry is kinders nie so bevooroordeeld teenoor gestremdes, soos dit meermale by volwassenes die geval is nie. Kinders is opreg in hulle pogings tot inklusiwiteit wanneer hulle gestremde maats in hulle groepe betrek. Perry gee toe dat die probleem met inspirasiepornografie by beriggewing in die media lê.
Hier dink ’n mens dadelik aan die volksbybel Huisgenoot wat munt slaan uit goed-voel-stories en tranetrekkers wat onmiddellik ’n awww-reaksie by die leser ontlok. Oscar Pistorius was ’n bekende gesig op die voorblad – voor en ná die moord op Reva Steenkamp. Natuurlik het Pistorius as gestremde atleet toe reeds heroïese status bereik; sy "ekslusief onthul"-stories is mildelik met die tydskrif gedeel. Ná daardie noodlottige Valentynsdag in 2013 was die volk verskeur. In die sosiale media het ’n hele spul fan-, following- en gebedspages vir Pistorius opgeskiet, vinniger as pawn shops ná inflasie. Diegene wat Pistorius onvoorwaardelik gesteun het, het hulle hoegenaamd nie van die feite van die misdaad of die hofsaak vergewis nie, net subjektief bly redeneer oor sy "onskuld". Die gevolg wat Pistorius gehad het, was oorwegend vroue, middeljarig en ouer –inspirasiepornografie het heel waarskynlik ’n rol gespeel in hul siening van hulle tragiese held.
Nou speel ek weer duiwelsadvokaat. Nêrens in Young se model van die sosiale siening van gestremdheid word daar na die moontlikheid verwys dat gestremdes doelbewus inspirasiepornografie inspan om hulleself te verryk nie. Is daar gestremdes wat op (opportunistiese) wyse meedoen aan die samelewing se verwagtinge van inspirasiepornografie om hulself te bevoordeel? Ek sê laasgenoemde sonder waardeoordeel; bloot ’n neutrale opmerking. In "Confessions of a motivational speaker" deel Gary Karp rare en eerlike eerstehandse kennis oor hoe die florerende industrie van motiveringsprekers werk. En inderdaad – gestremde sprekers maak ’n groot persentasie van dié bedryf uit, en is baie gewild.
As jy vol sale wil trek by korporatiewe en regeringseminare, of universiteitskongresse, huur ’n gestremde spreker. Karp, wat al 20 jaar self ’n motiveringspreker is én gestremd, beaam dat dit baie moeilik is om praatjies te hou sonder om in die slaggate van gevaarlike stereotipes of wanvoorstellings van gestremde mense te trap. Dikwels is die enigste kontak wat die gehoor met ’n gestremde persoon het, die motiveringspreker, wat op sy of haar beurt die verwagting van inspirasiepornografie by ánder gestremdes bevorder. Nie alle gestremdes is rolmodelle, of het die begeerte om ’n rolmodel te wees nie. Hierdie hiperpositiewe beeld wat uitgedra word, is demoraliserend vir die gestremde gemeenskap as geheel en plaas druk op individue om te "presteer". Weer eens is daar ’n fyn lyn – ’n motiveringspreker kán inderdaad ’n bron van inspirasie wees. Maar dis inspirasie wat soms teen ’n duur prys kom, want mense huiwer nie om uit te haal en te betaal as die gemotiveerde orakels hulle suksesgeheime wil deel nie. Die vraag is: Verkoop hierdie gestremde motiveringsprekers nie doelbewus hulle inperkings nie? Met ander woorde: Is dit nie ’n opsetlike manipulasie van Young se konsep nie?
Rolprente oor gestremde mense wat struikelblokke oorkom, is wegholsuksesse by die loket. Die eerste prys gaan waarskynlik aan Forrest Gump (1994), wat met ’n groot skeut magiese realisme die suksesverloop van ’n verstandelik gestremde man se lewe verbeeld. I am Sam (2001) is ’n bietjie meer intens en die gehoor pink groter trane weg. Dan is daar films soos Rain man (1988), en The theory of everything (2014), wat oor Stephen Hawking se lewe handel. Die lys is lank. My left foot (1998), gekenmerk deur Daniel Day-Lewis se meesterlike spel in die hoofrol, stem kykers dalk ongemaklik, want die versiersuiker is aansienlik dunner en die ongenaakbare realiteite van serebrale verlamming word genadeloos belig. Die korpus inspirerende boeke deur gestremdes lyk net so rooskleurig – hierdie boeke verkoop as ’t ware hulself. Want as daar een ding is waarna die mensdom altyd, steeds en chronies bly smag, dan is dit hoop. Die mensdom smag na hoop en dit is ’n gesogte en hoogs bemarkbare kommoditeit.
Kommentaar
Baie interessant. Dit is maar die boonste laag soos altyd wat kan optree en motiveer en geld verdien. Die meeste kry bitter swaar veral as daar nie baie geld is nie. So ook met geestessiektes. Tog is daar vele stille stories van dapperheid en pas mens aan om in jouself te glo, rustigheid te kry en te besef dit vat soveel langer vir jou om iets gedoen te kry. Mens is maar nie dieselfde as gewone gesonde mense nie, maar wat. Chin up. Die gewone mense met gestremdhede om my se daaglikse roetines is my inspirasie. Maar dit is op en af soos altyd. Soms voel mens beter ander dae nie so lekker nie. So gaan dit. Elkeen het 'n plekkie.