Innibos: 27–30 Junie 2012

  • 0

Wat is Innibos? Twee van die direksielede vertel.

Mathews Phosa, voorsitter van Innibosdireksie se boodskap, is:

Die jaarlikse groei in die gewildheid van die Innibosfees het ons wildste drome oortref! Om as die land se gewildste kunstefees vereer te word, was vir ons ’n bewys dat Innibos beslis deel van die nasionale kunstelandskap geword het en in Suid Afrikaners se harte ingekruip het.

Vanjaar is dit die negende jaar wat ons die Laeveldse Nasionale Kunstefees aanbied – met die tema Die kat kom weer. Die spreekwoordelike Afrikaanse gesegde dat ’n kat nege lewens het word speels hierby ingeweef, maar beteken nie dat dit die einde is nie, want die kat kom weer… en weer… en weer. Danksy die Afrikaanssprekendes se liefde vir hul taal, word Afrikaans verder lewendig gehou deur hul uitlewing in die kunste.

Afrikaans is soos die “prrrrrr….” van ’n kat wat op sy gelukkigste is. Vanjaar se fees spog met van die beste Afrikaanse teaterproduksies nog. Voeg daarby al die bekendste Suid-Afrikaanse sangers wat die duisende besoekers gaan vermaak met hul talent, ’n feesterrein wat van opwinding oorloop en topgehalte kunsaanbiedings en jy het ’n fees wat verseker nie ’n kat in die sak is nie!

Sandra Jacobs, Reklame en Mediaskakeling, antwoord Naomi Meyer se vrae oor vanjaar se Innibosfees.

Maar daar is dan al so baie feeste – hoekom Innibos?

Toe ons nege jaar gelede met Innibos begin het, was daar nog nie so baie feeste soos vandag nie! Ons het destyds net gevoel dat die Laeveld só ’n mooi omgewing is, en dat ons winterweer só lekker is,  dit sal die ideale plek vir ’n kunstefees in die winterskoolvakansie wees!

En kennelik is dit suksesvol: jul het die Fiësta-toekenning as gunstelingfees van die jaar ontvang. Waarom werk Innibos, waarop fokus julle?

By Innibos fokus ons daarop om ’n feesprogram aan te bied waar daar iets vir almal is: vir die kinders, vir die musiek- en toneelfynproewers, vir die boek- en kunsliefhebbers, én vir die ouens wat net jollifikasie wil hou!

Waarna sien jy op vanjaar se feesprogram uit?

Sjoe – daar is so baie! Ek sien veral uit na ons klassieke produksie La Villa Vita Klassieke Kamers, waar ons in verskillende  kamers in ’n pragtige Toskaanse “kasteel” klassieke-musiek-aanbiedings doen. Zanta Hofmeyr, Jannie Moolman en die Drakensberg kamerkoor is onder andere deel van hierdie program. Op die toneelfront sien ek baie uit na ons opdragproduksie, Die Van Aardes van Grootoor, en na Die vrou vantevore, met Stian Bam en Brümilda van Rensburg. Ek het lg by die ABSA KKNK gesien en dit was een van my feeshoogtepunte! En dan sien ek (en ’n horde ander feesgangers) natuurlik uit na die debuutproduksie van Chris Chameleon en die Drakensberg-seunskoor in die Sudwala-grotte!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top