Innibos 2018: Boek-boek Innibos

  • 3

“Ek en jy wat bevoorreg was om te leer lees, om van boeke ons helpers en troosters en metgeselle te maak – wat sou ons nie desnoods opoffer om hulle te behou nie? Ons sou sê, as dit nie anders kan nie, gee ons die skraalste kos en die grofste klere – gee ons strooi om op te slaap, en korsies om te eet en rou velle om ons naaktheid te bedek, maar laat ons ons boeke.”

CJ Langenhoven

 

So ’n paar jaar gelede het Andra ’n roerende lied tydens die Boeke-crawl gesing waarvan een reëltjie my bygebly het: “What am I supposed to eat when the hunger is in my head?” Tydens die pas afgelope Innibos Laeveldse Nasionale Kunstefees in Nelspruit was daar meer as genoeg kopkos met die prikkelende boeke-produksies en -gesprekke wat aangebied is.

Boekgesprekke

Op die boomryke gronde van Hoërskool Nelspruit verrys jaarliks ’n Boeke-oase, (ja, daar is palmbome ook) waar daar onder andere elke oggend tydens die fees ’n boekgesprek plaasgevind het.

Dit het afgeskop met Gerda Taljaard, wie se nuutste boek Die Laksman se dogter verlede jaar verskyn het. Annemarie van der Walt het met haar gepraat oor die ontstellende sielkundige riller wat die ernstige leser soos ’n vuishou in die buik getref het. Die verhaal handel oor die verwoestende uitwerking wat dwelmverslawing op ’n gesin en kan hê.

In post-apartheid Suid-Afrika het die landsgrense nie net vir gewone handel nie, maar ook vir dwelmhandel oopgegaan. Gerda het besef dat die probleem al hoe meer mense na aan ons raak en besluit om verslawing as tema aan te pak. Haar stil intellek en besondere insig in die donker kant van menswees laat my twee breinlobbe ’n riel dans in afwagting vir haar volgende boek.

Sy is nou op my lysie van 10 mense wat ek graag sal wil nooi vir ete by ’n groot tafel – onder ’n diepgewortelde plantaanboom – waar daar bespiegel sal word oor al die redes waarom doodgewone mense in laksmanne kan verander.

Alita Steenkamp het met Bets Smith, die Laeveldse skrywer, en Chanette Paul gesels. Uit die gesprek het dit maar net weer duidelik geword dat ’n liefde vir lees reeds aan moedersknie gekweek geword. Albei skrywers het vertel hoe hulle ma’s van kleins af vir hulle gelees en stories vertel het. Bets Smith se ma het selfs vir haar “Mabalel” voorgelees toe sy nog baie klein was!

Albei dié skrywers skryf spanningsromans omdat, sê hulle, in ’n liefdesverhaal weet die leser van die begin af dat die twee mense bymekaar gaan uitkom, maar gooi ’n moord in die bredie en jy het dadelik ’n lekker spanningslyn wat die leser laat naels kou. Wat hulle verhale anders maak is die sterk vrouekarakters wat geskep word. Geen ridder op ’n wit perd vir hulle nie!

Chanette Paul meen dat Afrikaanse mense baie meer lees as twee dekades gelede en dat spanningsromans die gaping tussen ontspanningsfiksie en letterkundige fiksie vul.

Irma Venter en Annemarie van der Walt

Vir aspirant skrywers is Irma Venter ’n baken van hoop. Sy het sewe boeke geskryf voordat een gepubliseer is en sy is tans een van die mees gelese krimi-skrywers in Afrikaans. Haar sesde boek, Sondag, sal in September vanjaar op die rakke wees. Annemarie van der Walt het haar heerlik verras met ’n voorlopige kopie van dié boek wat op die tafel gepryk het.

Alhoewel Sondag net in Suid-Afrika afspeel, hou Irma daarvan om haar lesers op ’n leunstoelreis te neem na ander plekke op die aardbol.

Sy meen haar sukses kan toegeskryf word daaraan dat sy self baie geïnteresseerd is in die materiaal waaroor sy skryf en daarom vind lesers dit ook interessant. Sy skryf omdat sy ’n intense drang het om stories te vertel; sy dink dat as sy jare gelede geleef het, sou sy een van daardie mense gewees het wat met ’n donkiekarretjie van dorp tot dorp gereis het om stories te vertel.

Erns Grundling en Rian van Heerden

Erns Grundling het met Rian van Heerden gepraat oor sy boek 16 Dinge wat ek nié moes sê nie, waarin hy eerlik praat oor sy loopbaan en persoonlike lewe en hoe hy die pad van pynlik omstrede na bloot eerlik gevind het.

’n Traan of twee is gepik toe hy vertel hoe hy die navorsing vir die boek gedoen het. Hy het gewonder waar hy aan al die feite en datums sou kom toe sy ma tot sy redding gekom het. Sy het elke berig en artikel wat ooit oor hom verskyn het, omstrede of nie, uitgeknip en in plakboeke gesit.

Sy sin vir humor het hy by sy pa gekry – sy pa kon baie slegte nuus op ’n baie komiese manier oordra sodat dit “die angs en seer weggevat het”. Dit het hom al baie gehelp om plofbare situasies te ontlont.

Rian het vertel van ’n spotprent wat jare gelede oor hom geteken is nadat hy ’n omroeper by Jacaranda FM geword het. Daarin is sy gesig in ’n jakarandaboom met aan die een kant mense met byle wat die boom wil afkap en aan die ander kant mense wat die boom water gee. Dit som menings oor Rian steeds goed op: mense kners op hulle tande oor hom of is gek oor hom.  

Ek skaar myself by laasgenoemde en hoop dat sy stem nog so lank gehoor sal word dat die mense se dinkgrense so ver geskuif het dat niemand meer aanstoot oor nietighede sal neem nie.

Woorde Innituin

Woorde Innituin is ’n onlangse toevoeging tot die Innibos boeke-aanbiedings en was van meet af aan gewild. In die idilliese Suikerbossie Teetuin, wat inderdaad omring is deur ’n massiewe tuin, word alles wat by ’n kunstefees aangebied word in een doek toegeknoop: woorde, musiek, toneel en kuns.

Paul Eilers

Paul Eilers, die seremoniemeester, en Daniel Hugo wat vanjaar deur Innibos vereer is vir sy enorme bydrae tot ons taal, het die gehoor in beswyming gehad met hulle anderwêreldse, beeldskone stemme. Ek dink die hele volk sou meer belangstel in die begrotingsrede as hulle dit kon voorlees …

Lizanne Barnard en haar eksentrieke band, saam met die onoortreflike Elize Cawood, het grepe uit die vertoning Bêreboksie vol vlerke, gebaseer op Lidi de Waal se verse, op magiese wyse uitgevoer.

’n Mens het baie geleer daar in die skadu van die majestueuse rotsvyeboom, wat al hoe “bomeriger” geword het soos wat die son begin water trek het. Lidi leer ons dat life ’n bitch is, en “as jy dit wil maak in hierdie ou lewe/dan moet jy leer om daai bitch te embrace”. Ook dat geldnood jou kan leer skilder en “dis ’n baie goeie ding om te weet jy’t vlerke”.

By Daniel Hugo het ons geleer dat Vlaams nie nader aan Afrikaans is as Nederlands, soos wat algemeen geglo word nie; dit het weliswaar nie eers die “g”-klank nie. Dat die gebrek aan die onvoltooide verlede tyd in Afrikaans en ons dubbele “nie” dit moeilik maak om uit Nederlands te vertaal. En dat die muskiet ’n besonder gewaardeerde insek in die Afrikaanse digkuns is.

En daar is fees gevier om die oordadige oestafels, wyn is geskink en mense het gelag en sommiges het ook gehuil oor al die mooi en seer wat gedeel is.

Boeke-crawl

As jy dit nog nie weet nie, of as jy dalk vergeet het, die Boeke-crawl is op jou emmerskoplysie. Dit is ’n bietjie soos ’n pub crawl, want almal om jou is blinkoog en vrolik, maar dit is omdat hulle dronk is van woorde en stories en liedjies.

Almal word knus in een bus geprop en vanjaar is daar berg-op geseil na die Sudwala-grotte. By die eerste stop kry ons ’n blikbekertjie “grown-up grape juice” (apologie aan Wessel Pretorius) en lekker maagkos en sielskos. Dana Snyman vertel tragi-komiese stories en Mathys Roets gooi olie op die vuur met sy fluweelstem.

Dana Snyman

Mathys Roets het gedink die Boeke-crawl behels ’n klomp mense wat baie tee drink en dan agter boeke aan kruip. Ek dink nie dis te ver verkeerd nie, behalwe nou die tee …

Dana Snyman herinner ons daaraan dat so ’n paar dekades gelede ’n meisie as “los” beskou is as sy ’n Chappie in die openbaar gekou het. En dat blou kolle ’n taal is wat net hartseer ken.

By die volgende stop lees Paul Eilers sketse van Annemarie van der Walt, Chris Barnard en PG du Plessis. Soos meermale tydens die fees, is ek met ontsag vervul oor hoe die muses van kunstenaars kan saamwerk. Net nadat Paul “Climax” van Du Plessis voorgelees het, wat handel oor ’n paartjie wat “skeef gevat het”, sing Die Hummingbirds “I know him so well”. Die kunstenaars wat by die Boeke-crawl optree, sien mekaar die eerste keer op die dag van die optrede; hulle weet nie vooraf wat die ander gaan doen nie, maar tog vul hulle mekaar altyd onverklaarbaar aan.

Onder die skadu van bome, met die berge wat beskermend toekyk, stap ons die grot se amfiteater binne. Die oeroue heiligheid omvou ons terwyl die engel van die luisterlied, Laurika Rauch, die kitaargenie, Loki Rothman, en die man met die stem, Daniel Hugo, die ruimte met klanke vul. Die tema is die liefde. “In soveel stede het ons mekaar al lief gehad,” lees Daniel. “Sê groete vir Triëst,” sing Laurika. “Did you ever love me anyway,” val Loki in en Laurika antwoord: “Ek was vir ’n rukkie ook ’n bietjie lief vir jou.”

“Dit is onwaarskynlik dat ek eendag hierdie oomblik sal vergeet,” spoel Laurika se stem oor ons. En ek dink, ja, dit is baie onwaarskynlik, want dit is wat woordkuns aan jou doen – dit laat jou onthou om te onthou. “So, hierdie dag skryf ek neer.”

Mathys Roets

Kinder Storie-krôl

Laaste, maar beslis nie die minste nie, kan die kindertjies en ewe entoesiastiese grootmense by die Boeke-oase in die storiedorp verdwaal.

Vier tente wat sprokiesagtig die tema van elkeen se storie uitbeeld, wag op die grootoog klein storievraatjies. As jy soveel waagmoed sou hê om die Eensame Krokodil te bevriend, kan jy ’n foto saam met hom neem. En by Die Lappop kan jy ’n high five kry. Die Dapper Muis skrik natuurlik steeds vir niks nie en Die Drie Rowwe Rammetjies se bakleiery is toe al die tyd waar donderweer vandaan kom.

Saam met Alexander die Kleine

Na die krôl sit ek met Alexander die Kleine onder ’n boom en gesels; hy is bang vir groen monsters. Ek vra: “Maar dink jy daar bestaan so iets soos groen monsters?”

Verontwaardig gooi hy sy handjies in die lug: “Jahaaaa!” sê hy.

“Maar hóé weet jy dit?” vra ek.

Hy val teatraal vorentoe, handjies op die gras, en sê: “Want ek lees dit in boeke!”

Boeke het aan bome gegroei Innibos. Sela.

  • 3

Kommentaar

  • My Sussie! Jou manier met woorde verras my nog steeds! En laat my wens ek was ook weer saam met jou by Innibos! Miskien volgende jaar ...

  • Daleen Mulder

    Ai Ronelda, jy't 'n towerslag met woorde! Ek't gewonder hoe jy die omvangryke boekereis gaan weergee en soos altyd is dit uitmuntend! Knap gedaan Mevrou.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top