Ingrid Jones se inperkingsresepte word ’n kookboek en tydskrif: ’n onderhoud

  • 4

Links: Ingrid Jones, stigter en administrateur van die Facebook-blad, Lockdown Recipe Storytelling Book, wat nou met sy eie tydskrif en kookboek vir Kersfees, spog. Regs: Koe’sister, die tydskrif wat uit die Facebook-groep, Lockdown Recipe Storytelling Book, voortgespruit het en voortaan elke kwartaal sal verskyn (foto’s voorsien).

Inperking het vele na hul kombuise gejaag en kooktalente laat ontdek, wat dalk voorheen vir jare onontgin gelê het. Ingrid Jones, mede-eienaar van Mikateko Media en televisie-aanbieder, het hierdie kooktalente ’n tuiste gegee, maar mense ook só die kans gegee om hul stories te deel: Sy skep op 1 Junie vanjaar die Lockdown Recipe Storytelling Book-blad op Facebook. Dis ’n privaat groep en net lede kan sien wie wat op die blad deel.

Elke lid kan ander mense uitnooi om deel te wees van die groep, maar as jy nie lus is vir deelname nie, is daar geen kwade gevoelens nie.

Elke resep moet die storie agter die resep en ook ’n goeie gehalte-foto insluit. Ingrid het selfs aanlyn fotografieklasse aangebied sodat geen grys, onooglike foto’s gedeel word nie. Aanvanklik was dit resepte wat mense aan hul ma, ouma of tannie herinner het, maar dit het natuurlik ontwikkel in mense se gunsteling-resepte en stories van hul grootwordjare, of komvandaan.

Elkeen wat hul resepte deel, gee toestemming dat hul resepte gebruik kan word. Die kookboek, Lockdown Recipe Storytelling Book - die stories van ons komvandaan en verskyn in Desember, mooi betyds vir jou Kerskous. Dit kos R450 en sal by Annake Müller Publishing en Mikateko Media beskikbaar wees.

Ruby Marks se Facebook-plasing van 30 Mei, wat die idee vir die projek laat posvat het: foto verskaf

Die groep is die gevolg van ’n Facebook-plasing deur Ruby Marks, wat Ingrid se oog gevang het. Ruby het haar plasing begin met: "So liewe vriendin Ingrid Jones het ’n resep-sonne-’n-naam op haar timeline gesit en ek is daa’ vi’ dit, alwiet ekkie waarheen dit my gaan lei nie. Ek tik maar die stukkie tussen al die directions deur, so ek weet nie of die pos gaan eindig met ’n geween en ’n gekners van tande en lippe nie ... dis maar my general feeling wanner ek oekal ’n resep aanvat ... my beste try’s tot nou toe en my stand-by’s is pampoenkoekies, soet mielie koekies, kaas omelette en tamatie sop. Ek kan dit als uit my kop yt maak, maar vi’ die res het ek help nodig!"

Sy eindig haar plasing met: "Anyway, die oond se timer het nou net ping gesê, en my creation lyk perfect...lekka opgerys met gekrulde lemon leaves en bygevoegde bayleaves ..."

Die eerste persoon wat iets op die groep gedeel het, was Lionel Ricardo Adendorf. Hy het gesê ons moet iets vir ons kinders agterlaat en ons eie stories publiseer. "Ons hoef nie van buite in te kyk nie, ons is klaar in die vertrek."

Wat was sy resep?

Ek dink dit was ’n resep vir ’n sjokoladekoek vir sy dogter tydens lockdown. Lionel kom van die dorp waar ek vandaan kom. Hy verstaan die ding van komvandaan, om van die platteland te kom, om van nêrens af te kom. Hy het in my dorp grootgeraak. We get it. Hy noem my sy ousus, ek dink dis hoekom hy eerste antwoord gegee het.

Wie se resepte is ingesluit in die boek van dié wat voor die 30 Junie-sperdatum ingehandig is?

Die mense wat in maand Junie bydraes gelewer het, almal is gebruik. Stories indien daar ’n storie was, resepte indien daar resepte was.

Hoeveel lede is daar nou?

Die groep staan nou op meer as 1 800 lede. Ek stel nie eintlik belang in groot getalle nie, want dis ’n geslote groep, dis ’n groep wat generies moet groei; mense nooi diegene wat hulle dink by die groep pas en wat ’n bydrae sal lewer tot die groep se etos. Dit vra ’n aktiwiteit van lede.

Is dit die eerste maal wat ’n versameling van gewone mense se resepte én foto's in ’n kookboek verskyn?

Nee, daar was al heelparty sulke boeke en dit gaan ook nie die laaste wees nie, maar wat hierdie een so besonders maak, is dat dit tydens ’n spesifieke milieu, dié van grendeltyd in 2020, gebeur het. Dat mense by die huis gesit het en gekook het en geweet het daar is mense wat ’n kooknood en ’n kosnood het en wat aan altwee kante hiervan kon aandag gee. En toe daar ’n imputus vir hulle gekom het om ’n bydrae te lewer oor hul komvandaan; dié goed wat mense sê niemand verteenwoordig ons nie. Niemand sit ons stories in die boek nie. Dis 90% waar, maar dis hoe mense voel en elkeen se gevoel dra waarde. En toe dat daardie aar geraak is, dat kom, kom almal, ons gaan dit doen, dis hoekom dit soveel aandag kry.

Die eerste uitgawe van die tydskrif, Koe’sister, stories & food for the soul, het pas verskyn. Waar pas die tydskrif in versus die kookboek? Waar pas die tydskrif in en hoe gereeld gaan dit verskyn?

Daar was hopeloos te veel stories om in die boek opgeneem te word, collector’s items, en die stories het nie na ’n maand opgehou nie; elke dag pos mense wat hulle doen. Dit gaan kwartaalliks wees. As dit ná vier uitgawes lyk of dit sy doel gedien het, dan moet ’n mens ’n systappie vat soos ’n goeie rugbyspeler en op ’n ander strategie besluit.

Wat leer/ervaar jy uit die resepte en stories wat mense deel?

Dis gewone mense se komvandaanstories, die outpouring van stories is die feit dat mense nie erkenning in die lewe kry nie en dis maar wat almal wil hê. En vir jare was daar tydskrifte wat net een kant van die gemeenskap gedien het en nou in ’n tyd waar elke mens met ’n selfoon en idee ’n content creator is, is daar mos vir elkeen ’n plek om die tafel ─ ons hoef nie meer te wag vir hoofstroom-uitgewers nie. It’s not that we don’t care, its just that you never cared about us, so nou gaan ons dit maar vir onsself doen. En dis wat ek hieruit leer: don’t piss on people. You can only piss on people for so long. Wanneer die mense besluit enough is enough, dis wanneer ’n rewolusie gebeur.

Is daar een resep of storie wat jou diep geraak het?

Almal raak my diep: van Ryland Fisher, voormalige redakteur van die Cape Times en outeur van Race, wat in ’n hok grootgeword het, honestly ... Van Ruby se ma met die overall met die kolle op, wat sy geërf het en nie wil was of iets mee doen nie; die pyn wat in mense se kosstories sit. Die armoede van mense waaruit hulle gestyg het. Die ex-pats wat verlang om by die huis te wees, maar wat uit hierdie kosstories of dit nou vir nostalgiese redes is, ’n gemeenskap gevoel het waar hulle ’n holte vir hul voet gevind het. Dit raak my diep.

Jy het verduidelik die groep het uit Ruby se plasing ontstaan, maar hoekom die besluit om dit regtig te doen?

Want ek kan. Ek kan. I am a black publisher, I belong to a black publishing company. Ek kan net soveel keer luister as mense sê but no one is listening to me. As my mense dit sê, dan sê ek OK, ons het nou genoeg gekla, kom ons doen dit. Daar was nie geld nie, daar was net ’n droom. Ons kon net ’n klein oplaag doen, maar nou is die droom ’n realiteit.

Dit moet ongelooflik baie insette verg en baie administrasie skep vir jou, of hoe?

Dit doen, maar ek love dit. Ek staan elke oggend 04:00 op, as per gewoonlik. Dan lees ek elkeen se insette, ek kyk al die foto’s en ek lewer kommentaar op baie van die goed waar daar kommentaar nodig is. Sodat mense voel hulle word gesien of gehoor en hul insette word waardeer. Dis ook wat ek uit die lewe wil hê, as ek vir jou ’n brief of ding stuur, en niemand gee antwoord daarop nie: I will just leave your ass. Gereelde insette is nodig van my kant af, as die neutrale persoon wat leiding neem, anders vra mense hoekom ek stil is; wanneer gaan jy post; wat die volgende challenge is.

As jy die gees van die kookboek en tydskrif moet opsom in vyf woorde, wat sou dit wees?

Dis eintlik ’n stuk musiek van Abdullah Ibrahim, Mannenberg. Dit voel vir my soos dit. As jy daai musiek ken, as jy daai klop in jou are voel. Dis dit.

Taan mense se kook-geesdrif noudat regulasies verslap is en dra minder mense by?

Daar was ’n week of twee wat mense minder aktief was, maar nou is almal weer by. Die kookstories raak beter, die foto’s raak beter. Die challenges aan die begin kan jy nou sien, soos die fotolesse. So nee, dit taan nie. Hulle is vir ’n paar dae nie daar nie, maar dan is hulle terug, want hulle het FOMO. En daar is nuwe mense en nuwe gesigte wat bykom en dis fantasties!

Watter storie/resep het die meeste debat/terugvoer gekry?

Die storie oor airfryers! I was blown away. Ons het Karima Brown oortuig om ’n airfryer te koop. Die ding oor Marmite het goed gegaan. Die storie oor honger het my aan my hart geruk. Dit het baie reaksie uitgelok, because we know it in our bones. Die storie oor vatmaar, mense wat sommer maar net ons goed vat, al die jare. Dit het diep reaksie uitgelok. I was very angry. Baie kwaad. En dis hoekom ek die stuk oor vatmaar geskryf het. Ek het ’n snaar by mense geroer.

Hoekom dink jy is die groep so gewild?

"Dit voel soos my tribe," sê Karima Brown. Dit gaan oor kos en kosstories, maar dis ’n interest group waar elkeen vir elkeen ’n plekkie in die son gee.

Wat is jou raad aan diegene wat te skaam/bang is om hul resepte en stories te deel?

Wees maar ’n lurker, maar koop net ’n boek. Ek is ook bang om my resepte te deel, because I do not feel mine is as good as other people’s. As jy voorstap, moet jy kan lei, maar jy moet ook vulnerable wees. Ek sorg dat daar ’n balans is. En mense deel wanneer hulle moet. Niemand dwing jou nie.

Hoe lank gaan jy aanhou met die groep?

Totdat hulle vir my sê genoeg is genoeg. Tot die tydsgees vir my sê, you need to sidestep. Mense sal vir jou sê as hulle genoeg gehad het.

Wat dink jy het jy met hierdie projek bereik vir a. jouself en b. vir ander?

Barack Obama het gesê: Yes we can. Wat het ek vir myself bereik? Yes, we can. If you do it for the people, that is when you will be successful. En vir ander? Dit kan ek nie sê nie, die tyd sal dit leer. Vra my oor ’n jaar, vra my ná die launch van die boek, waar ons almal bymekaar gaan kom, mekaar in die oë kan kyk en vir mekaar kan sê: I see you.

Koop jou aanlyn kopie by https://www.mosadionline.com/online-store

  • 4

Kommentaar

  • Maryke Roberts

    Ek maak môreaand die gerookte snoektert uit die tydskrif. Dit klink heerlik en maklik en die tydskrif is nooit vêr nie, daar is soveel lekker stories en resepte in!

  • LOVE THIS CREATION!!! I am one of them with FOMO!! Hehehehe!!! cause I don’t always post stuff, but LOVE to read other’s experiences and I use the recipes. I hope that one day ‘I see you!’ will happen in real time. Thanks Ingrid for your time and groot hart!! ❤️💋

  • Dis wonderlik om te sien hoe gemaklik die taal vloei in hierdie groep. So ook in die tydskrif. ’n Mens kom skaars agter dat die tydskrif tweetalig is. Alles is soomloos. Soos in seamless. Dis n lekker-voel groep hierdie. Ek is ’n lurker wat maar gelukkig was om n uitnodiging te kry.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top