Indrukwekkend: ’n lesersindruk van Die bewonderaar deur Erla-Mari Diedericks

  • 1

Titel: Die Bewonderaar
Skrywer: Erla-Mari Diedericks
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9781776355082

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Ek was met ’n familiekuier in die Kaap en merk toevallig op dat Erla ’n boekepraatjie by Somerset-Wes se biblioteek gaan doen – met Madri Victor as gespreksleier. Ek het die boek al gelees, maar so ’n geleentheid vir ’n Oos-Kapenaar met beperkte geleenthede, kon net ’n lekkerte wees.

Omring deur die rakke propvol boeke van die biblioteek met ’n goeie aantal luisteraars teenwoordig, het die twee se gesprek vir nog verdere in diepte besef van al die nuanses in hierdie sielkundige riller gesorg.

Ek is nog altyd van mening dat Martin Steyn se Swartval een van die toonaangewende sielkundige rillers in Afrikaans is wat ek nog gelees het.

...
Die karakters is uiteenlopend kleurvol; sommige sal deernis ontlok terwyl ander intens ontstel.
...

Die Bewonderaar volg direk op die vorige riller Dominique wat meer elemente van erotika bevat, gegewe die karakter Dominique se skadukantlewe as ’n hoogbetaalde gesellin. Sy is as gevolg van ’n wreedaardige moord, waar sy die hoofverdagte was, vir waarneming in Molenberg Psigiatriese Hospitaal terwyl die geheimsinnige agtervolger in Dominique steeds haar geestestoestand teister en dit regkry om deur die omheinings en sekuriteit van so ’n inrigting haar, en die leser, se nekhare te laat rys. Molenberg self word ook ’n belangrike en sentrale “figuur” in die hele verhaal.

Ek glo dat Erla met hierdie werk stewig nesskop in die genre van sielkundige rillers. Haar navorsing is deeglik en oortuig my van totale realisme in hierdie rillende fiksie. Die karakters is uiteenlopend kleurvol; sommige sal deernis ontlok terwyl ander intens ontstel. Die eendjiepantoffels van die uitspattige pasiënt Mandy laat jou glimlag, en dan besef jy waarvoor sy in so ’n hospitaal beland het. Die psigiater Ann is buite die norm van wat enige pasiënt in ’n staatsinstelling sou verwag, met haar verfrissende en uiters-oorspronklike terapie.

Die agtervolger, oftewel die “Bewonderaar” se identiteit bly ’n totale geheimenis en die onthulling daarvan, en die redes hoekom hy so ’n koue gevoelloosheid het, was vir my ’n vuishou in die maag.

Die Bewonderaar het my mateloos beïndruk, en bevat beskrywings wat nie aanbeveel sal kan word vir sensitiewe lesers nie. Dis ’n uiters uitdagende boek in alle opsigte, en die deurlopende snaarstywe spanningslyn word puik volgehou.

Geen, maar geen leser sal ná die lees van hierdie boek ooit weer met gewone oë na ’n rivierotter kan kyk of ’n sosiale klub met die naam Ophelia besoek nie. Dit is nie ’n ligtelike opmerking nie.

’n Vyf-uit-vyf-boek vir my.

Lees ook:

Fyn nagevors: ’n lesersindruk van Die Bewonderaar deur Erla-Mari Diedericks

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top