Inderdaad feestelik by Prince Albert Leesfees

  • 1

Verlede naweek was my eerste keer by die Prince Albert Leesfees. Dit was ook my eerste ervaring van die dorpie en wat ’n ervaring was dit nie!

Prins Albert is ongerep. Vir eerstekeerbesoekers, soos wat ek was, is dit die moeite werd om te onthou dat dit ’n klein dorpie is. Daar is net een klein ABSA-tak met twee OTM’e. Kaartfasiliteite is nie oral beskikbaar nie. Besighede sluit vroeg en jou keuses in winkels is nie so wyd soos in stede nie.

Daar is egter soveel meer wat positief is. Mense groet as hulle ’n vreemdeling op straat sien. Saans is dit nog moontlik om op die stoep te sit, kop agteroor om die sterre te bewonder. Die lug is skoon, die sig op die uitspansel word nie deur straatligte belemmer nie. Huise het groot erwe, met uitgebreide tuine en oorgenoeg water. Leiwater. Damwater. Bergwater. Kraanwater wat anders smaak, want daar is nie hope chemikalieë in om dit te suiwer nie. Wanneer jy die dorp binnery van Meiringspoort se kant af, alreeds ’n prentjiemooi rit, word jy begroet deur die treffendste groen alge op die rotse.

Dan is daar die kos. Doeksagte Karoo-lam wat van die been val en wat smaak na ooptes, vryheid en kruie. Stroopsoet piesangs, heerlike olywe en plaaslik vervaardigde olyfolie, jogurt en kaas. Hemels. Oor die vis kan ek nie kommentaar lewer nie, alhoewel my tafelgenote baie tevrede gelyk het daarmee. Ek glo vas dat die beste kos plaaslik gekweek moet word. Daarom eet ek ook nie vis in Pretoria nie. Vir ’n impromptu braai by die gastehuis waar ek tuis was het Jacomien, een van die aanbieders by die slypskool vir jeugdiges, sommer vinnig in die tuin geloop met ’n bak en ’n skêr en teruggekom met die bestanddele vir ’n heerlike slaai.

En die rede vir ons almal se teenwoordigheid: die Leesfees. Organiseerder Marlene Malan en haar Gideonsbende van drie ander organiseerders het ’n program, wat elke smaak kon bevredig, saamgestel. Die fokus is stewig op boeke en leeswerk. In daardie opsig weerstaan hulle nog die versoeking wat soveel ander feeste tref om dit in ’n verskeidenheidskonsert te probeer omskep. Hierdie fees vergeet nie dat hulle probeer om lesers tevrede te stel nie.

Die Wes-Kaapse minister van sport en kultuur, Anroux Marais, het die verrigtinge geopen met ’n kort en inspirerende toespraak oor die belangrikheid van boeke en biblioteke. Sy het ook ’n toekenning aan Deon Meyer oorhandig ter erkenning van die bydrae wat hy tot kuns en kultuur maak.  

Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van sport en kultuursake, oorhandig ’n toekenning vir sy bydrae tot die skryfkuns aan Deon Meyer. Foto: Barry Lamprecht.

Die boekbesprekings was wyd uiteenlopend. Ek het twee gelei: een met Deon oor sy skryfloopbaan, en ’n ander met Deon, Martin Steyn en Jo Nel oor die skryf van spanningsromans. Daar was natuurlik vele ander, met van die bekendste name op die boeketoneel teenwoordig. Jeremy Veary, Julian Jansen, Elsa Winckler, Jolyn Phillips, Clinton V Du Plessis, Petrovna Metelerkamp, Karin Cronje, Gaireyah Fredericks, Anzil Kulsen, Dawid van Lil, Andre le Roux, Simon Bruinders, Gisela Ulyatt en haar man Tony. Noem maar op, hulle was daar. Nicol Stassen en Eben Pienaar het bewys uitgewers is net so passievol oor boeke soos die skrywers en lesers.

 

Vanjaar was dit die sewende Prince Albert Leesfees: Meer as dertig skrywers het die geleentheid bygewoon en oor hul (meestal) splinternuwe boeke gesels. Hier voer oudradioman en skrywer Dawid van Lill ’n onderhoud met Petrovna Metelerkamp oor haar biografie oor Ingrid Jonker. Foto: Barry Lamprecht.

Nicol Stassen en Marinda van Zyl het oor hul boeke, onderskeidelik Die Dorslandtrek en Dors, gesels by die sewende Prince Albert Leesfees. Foto: Barry Lamprecht.

Jeremy Vearey: Jeremy vannie Elsies. Foto: Barry Lamprecht.

Karin Cronje lees voor uit There goes English Teacher. Foto: Barry Lamprecht.

Die digters Jolyn Phillips, Clinton du Plessis en Tony Ulyatt by die sewende Prince Albert Leesfees. Foto: Barry Lamprecht.

Jolyn Phillips het haarself weer as triple threat bewys. Die vrou skryf, dig, sing soos ’n nagtegaal en speel kitaar. Boonop is sy ongelooflik gaaf ook.

Dit was ’n prettige stampvol program met iets vir elke smaak. Hierdie jaar was die venue verskuif na die skougronde. Die Showroom, waar vorige feeste plaasgevind het, was steeds gebruik vir die skoleprogram. Dis die pragtigste Art Deco-gebou wat regtig smeek om konstant ge-Instagram te word.

Wat my opgeval het, en wat hierdie fees regtig in ’n klas van sy eie plaas, is die sorg wat daar aan programme vir onderwysers en leerders bestee word, en die moeite wat gedoen is om plaaslike gemeenskappe in te sluit by die program. Die Vastrappers-rieldansgroep het opgetree by die opening. Plaaslike woordsmede is in skryfkompetisies beloon. Plaaslike sangers, rymkletsers en digters het geleentheid gehad om hul talente ten toon te stel.

Ek het in die Showroom gesit en luister terwyl Simon Bruinders, Anzil Kulsen en Gaireiyah Frederiks met die kinders gewerk het. Plaaslike kunstenaars soos die Gospel rapper Gellieblik is luid toegejuig en daar is met smaak saamgesing. Daar was ook ernstige en selfs hartroerende oomblikke. Daar was gesels met die kinders oor gesinsgeweld, tienerswangerskappe, groepsdruk, hoe om boelies te hanteer, dwelms en veel meer. ’n Oomblik wat my hart gebreek het, was toe Bruinders vra dat al die kinders wat sonder ’n pa grootword, moet opstaan. Meer as die helfte van die groep het opgestaan. Ek kon hoor hoedat dié wat staan, ander aanpor om ook te staan. Sommige kinders was eenvoudig te skaam en het bly sit alhoewel ook hulle sonder ’n pa grootword. Ek vermoed indien almal moes opstaan wat sonder ’n pa grootword, sou dit nader aan 80 – 90% van die kinders wees.

Simon Bruinders (Die DJ) het by die jeugprogram van die Prince Albert Leesfees opgetree. Foto: Barry Lamprecht.

Oom Hannes Coetzee, lepelkitaarspeler. Foto: Barry Lamprecht.

Loit Sôls het in die teater The Showroom opgetree. Foto: Barry Lamprecht.

 

Archie Swanson, Gaireyah Fredericks, Gisela Ulyatt, Jolyn Phillips, Clinton du Plessis en Tony Ulyatt lees gedigte voor by die sewende Prince Albert Leesfees. Foto: Barry Lamprecht.

Vir die onderwysers was daar ’n program om aktiewe lees- en leerstrategieë te ontwikkel. Dit was aangebied deur Marisca Coetzee van die Leeslaboratorium aan die Universiteit Stellenbosch. Tesame met die leerderprogram was dit waarskynlik die enkele grootste bydrae van die fees om ons samelewing positief te beïnvloed en om ’n toekomstige leeskultuur aan te moedig.

’n Paar dinge het my wel opgeval wat afbreuk gedoen het aan ’n andersins uitstekende fees. Die Showroom se bestuur het dit nie die moeite werd geag om die verhoog se vloer te vee voor die skolegroep daar ingestap het nie. Daar is niks meer hinderlik as om te sien hoedat ’n kunstenaar op die verhoog stap en daar voetspore in die stof verskyn nie. Dis onooglik en dis onprofessioneel.

Tweedens is dit jammer dat Julian Jansen se uitstekende boek oor die De Zalze-moorde, wat op die fees bespreek was, nie daar beskikbaar was nie. Dis ’n oorsig waarvoor sy uitgewers regtig verantwoordelikheid moet neem.

Johannes de Villliers praat met Julian Jansen (Die De Zalze-moorde) en Andre le Roux (Narsiste, psigopate, stalkers en sadiste) oor "die mens agter die masker". Foto: Barry Lamprecht.

Vier van SA se top-spanningsverhaalskrywers: Bettina Wyngaard, Deon Meyer, Jo Nel en Martin Steyn. Foto: Barry Lamprecht.

Anzil Kulsen gesels met Elsa Winckler oor Winckler se jongste boek, ’n Brief vir Reina. Foto: Barry Lamprecht.

Lukhanyo en Abigail Calata, skrywers van My father died for this, by die Prince Albert Leesfees. Foto: Barry Lamprecht.

Laastens, indien die skougronde in die toekoms weer gebruik word, moet daar ernstig gedink word oor maniere om die vertrekke te verkoel. Dis geen plesier nie om op daai verhogie te sit en die volle impak van Prins Albert se somertemperature te voel, vererger deur die warm ligte op die verhoog. Die arme luisteraars het ook maar taamlik verwelk begin lyk soos die dag aangestap het.

Dis gelukkig als klein goedjies wat maklik reggestel kan word.

Vandag kan Marlene en haar span met trots terugsit en hulself op die skouer klop. Die leesfees was regtig ’n feestelike, gasvrye Karoo-affêre.

Doen gerus die moeite en woon dit volgende keer by.

 
 

 

* Foto's en byskrifte op versoek van LitNet deur Marlene Malan verskaf.

  • 1

Kommentaar

  • Baie dankie Bettina, was die verrigtinge in Afrikaans? (Terloops, wat is die versamelnaam vir Afrikaans, in die sin van standaard/akademies/oosgrens Afrikaans , Kaaps en Gariep, of bly dit bloot Afrikaans, met die gevolg dat mens dan die eng of breër gebruik van die term in die besonderse geval moet aflei, afhangende van die onderwerp van die bespreking/paragraaf/sin/opstel/essay?
    Dit is, ten minste vir my, 'n interessante vraag.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top