Indemnity: ’n filmresensie

  • 1

Indemnity  (Film Finity)
Met Jarrid Geduld en Gail Mabalane
Regisseur en draaiboekskrywer: Travis Taute

Met die eerste oogopslag lyk dit asof hierdie nie die soort rolprent is waarop ’n mens gloeiend van bewondering sou reageer nie. Maar moenie hierdie aksierolprent, grootliks in Afrikaans, vlak kyk nie. Dit slaan verskeie note raak.

Dit mag op die oog af lyk na nog ’n goedkoop, doodgewone hoofstuk uit die aksie-worsmasjien. Maar niks kan verder van die waarheid wees nie.

Alhoewel die storie nie juis oorspronklik is nie en die rolprent skuldig is aan oormatige dialoog wat vol onnodige eksposisie gelaai word, is die invalshoek vars. Dit is boonop met soveel tegniese vaardigheid verfilm dat dit om ’n dieper fokus vra.

Dit handel oor ’n brandweerman, Theo Abrams (gespeel deur die uitstekende Jarrid Geduld), wat sy makker in ’n brand verloor. Hy hou homself daarvoor verantwoordelik en stort ineen. Sonder om te veel  te verklap: Hy word hy een oggend wakker met sy vrou se lyk langs hom. Sover so oorbekend as aksiefilm. Hierna word Theo gejag as vermeende moordenaar en besef hy dat booswigte hom wil stilmaak of uit die weg wil ruim. Hoekom?

Die kinematografie skakel soos ’n legkaart by die aksie in. Gewoonlik word ’n ontploffing vier of vyf keer na mekaar uit verskillende hoeke verfilm vir maksimum impak. Dit skep die indruk dat die gehoor na ’n nagebootste, manipulerende opeenstapeling van aksie kyk. Maar nie in Travis Taute se geval nie. Toe hierdie rolprent op die onlangse kykNET Silwerskermfees gewys het, het kykers nie alleen positief gereageer nie, maar soms oorbluf en verbaas.

In voorportale het ’n mens gehoor: “Ongelooflik om te dink dat ’n Afrikaanse rolprent aksie so raak kan uitbeeld”, of daardie gewraakte cliché: “Maar dit lyk nie soos ’n plaaslike rolprent nie!”

Die rede is dat die tegniese span, die akteurs en regisseur hulle hart en siel in hierdie waagmoedige produksie gewerp het. Ook dat hulle respek vir die genre het en die reëls ken.  As voorbeeld: ’n Mens is al suf van rolprentvuishoue. Dit word telkens grotesk en komies oordryf. Die klank word verwring of vergroot om die pyn oordadig te beklemtoon en die aksie nog meer pronkerig te maak. In Indemnity is die gevegstonele egter so oortuigend dat dit wil voorkom asof die akteurs werklik baklei het. Daardie vuishoue, veral agter in ’n vangwa, klink eg en maak seer!

Die choreografie verdien verdere vermelding. Anders as die opeenhoping van kort skote in Amerikaanse aksieprente, is hierdie tonele meer ekonomies. Taute dwing jou om te kyk, mee te lewe en te reageer. Die kyker word dus in die toneel ingetrek en aangemoedig om te reageer – anders as in soveel buitelandse aksieprente waar ’n gaap onderdruk word omdat dit so oorbekend en glansend resepmatig is.

Dieselfde geld die jaagtonele, waar ’n onskuldige man (soos in vele Alfred Hitchcocks!) voor booswigte vlug. Hoe gaan hy sy onskuld bewys? Die vlugtog verander in ’n dans van gewaagde aksie wat verras en boei.  

Een van die hoogtepunte behels ’n gewaagde spring-en-vlug-sekwensie. Volgens gerugte is hierdie waaghalsige tonele deur die akteur self uitgevoer, wat hulle nog meer skrikwekkend maak.

Theo hang aan sy vingers oor ’n afgrond en later aan ’n laken (gordyn?) met ’n kamera (hommel?) wat oor hom beweeg om die gevaar te beklemtoon. Dit skuif dan na buite, wat geen kans bied om na ’n dubbel of waaghals te sny nie. Dit lyk asof die akteur werklik oor ’n afgrond gehang het en die toneel self doen. Dit verhef die fliek bokant die gewone skiet-skop-en-doodbloei-kaperjolle. Daar is nie ’n vals stem in hierdie aksiekoor nie. Dit staan nie ’n tree terug vir oorsese aksieprente nie.

..........
Taute het in die onmoontlike geslaag: om ’n onverwagse rowwe-diamant-kwaliteit aan plaaslike aksie te gee. Ook om dit so oortuigend te verfilm dat ’n mens verby die oormatige dialoog kyk of luister. Hy maak die Pandora se boks van filmtegnieke oop en gebruik sy gereedskap op die regte plekke om sy storie verder in te kleur. Hier is ’n visueel-geletterde regisseur wat ritme, ruimte, voorkoms, spanning en impak verstaan.
............

Taute het in die onmoontlike geslaag: om ’n onverwagse rowwe-diamant-kwaliteit aan plaaslike aksie te gee. Ook om dit so oortuigend te verfilm dat ’n mens verby die oormatige dialoog kyk of luister. Hy maak die Pandora se boks van filmtegnieke oop en gebruik sy gereedskap op die regte plekke om sy storie verder in te kleur. Hier is ’n visueel-geletterde regisseur wat ritme, ruimte, voorkoms, spanning en impak verstaan.

Die film is so goed op die Silwerskermfees ontvang dat dit een van die eerste plaaslike rolprente in maande is (buiten ’n Leon Schuster-komedie) wat ’n wye teatervrystelling geniet.

Die draaiboek het egter ’n strenger snoeiskêr gekort waar ’n redigeerder die oormatige verduidelikings en eksposisie kon getemper het. Maar ten spyte daarvan neem Indemnity die (Suid-) Afrikaanse filmbedryf ’n stewige stap vorentoe.

Talent laat hom nie intimideer deur skraps verwagtings nie! Dié regisseur wys dat sy volgende rolprent moontlik weer een kan wees wat die kyker saam met die aksie uit sy/haar stoel sal laat tuimel.

Kom ons hoop ons wag nie te lank nie.

  • 1

Kommentaar

  • Beslis die beste Suid-Afrikaanse aksieprent ooit - jy word ingetrek en meegesleur deur die puik spel, asemrowende aksietonele en knap regie!
    Dankie vir die uitstekende resensie, Leon!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top