In retrospek: Nagedink oor die Ou Testament (1979–2019)

  • 2

In retrospek: Nagedink oor die Ou Testament (1979–2019)

S.D. (Fanie) Snyman, Navorsingsgenoot, Departement Ou- en Nuwe-Testamentiese Studies, Fakulteit Teologie en Religie, Universiteit van die Vrystaat

LitNet Akademies Jaargang 17(3)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Die artikel bied ’n persoonlike en dus ook subjektiewe oorsig oor die denkskuiwe wat plaasgevind het in die loopbaan van S.D. (Fanie) Snyman as Ou-Testamentikus wat oor ’n tydperk van veertig jaar strek. Na ’n kort biografiese skets word daar ’n motivering gegee van faktore wat gelei het tot die keuse van die Ou Testament as vakgebied om verder in te studeer. Vier denkskuiwe word geïdentifiseer: Eerstens moet die Ou Testament as bundel literatuur literêr en histories gelees word. Tweedens is die Ou Testament ontdek as ’n boek wat veel meer is as ’n boek wat die koms van die Messias voorspel. Die Ou Testament moet gelees en geïnterpreteer word as ’n boek met ’n eie en outentieke boodskap. Derdens is die Ou Testament nie ’n magiese en vreemde boek nie. Dit is eerder ’n baie menslike boek wat deur mense vir mense geskryf is en wat God aan mense openbaar. Die vierde denkskuif raak die inspirasie van die Bybel. In die lig van kennis vanuit die Bybelwetenskappe rakende die ontstaan en opskrifstelling van die Bybel is bestaande inspirasie-teorieë nie meer houdbaar nie. Die idee van die inspirasie (by gebrek aan ’n beter term) van die Bybel moet verruim word om die totale proses van kanonvorming, die vertaling en verkondiging van die Bybel in te sluit. Wat die toekoms van die wetenskap van die Ou Testament betref, is dit interessant dat ’n teologie van die Ou Testament vanuit (Suid-)Afrikaanse bodem nog nie geskryf is nie. Ou-Testamentici het ook ’n verantwoordelikheid teenoor die kerk en die gemeenskap om die Ou Testament op ’n geloofwaardige manier ter sprake te bring. Ou-Testamentici kan nie ontsnap aan die verantwoordelikheid en verpligting om ’n brug te slaan tussen die toe en nou van die teks van die Ou Testament nie.

Trefwoorde: histories; inspirasie; literêr; Ou Testament

 

Abstract

In retrospect: Thoughts on the Old Testament (1979–2019)

In this contribution, the author provides the reader with a personal and consequently subjective account of major shifts in his perspectives on the Old Testament during a career that spanned a period of forty years. After a short biographical sketch, the author motivates why he eventually chose the Old Testament as his field of specialization. No fewer than eight factors played a role in choosing the Old Testament as a field of study. First, curiosity played a role. The more Prof. Snyman read the Old Testament, the more curious he became to better his understanding of the Old Testament. Second, he was intrigued by the fact that sermons preached from the Old Testament were few and far between, despite the fact that the Old Testament constitutes the major part of the canon of Scriptures used in the church. Third, the well-prepared and inspiring lectures of his mentor and doctoral supervisor in Old Testament studies, Prof. W.S. (Riempies) Prinsloo, contributed to his enduring interest in the Old Testament. Fourth, the Old Testament was discovered as a fascinating and diverse collection of writings, consisting of a variety of literary genres that spanned several centuries. Fifth, once appointed as lecturer in Old Testament, Prof. Snyman viewed his position as an extension of his calling to ministry. He regarded teaching the theological message of the Old Testament as a new dimension in this calling. Sixth, the Old Testament forms part of the canon of Scriptures, in particular of the reformed tradition, of which Prof. Snyman considered himself to be a part. Seventh, his being part of the academic staff at a faculty required a scientific approach to the Old Testament. The academic environment prompted Prof. Snyman to study the Old Testament and to publish his research results in academic journals. Lastly, the Old Testament is a book that confronts the hard realities of believers’ daily lives; their grappling with the realities of life appealed to Prof. Snyman.

Four major shifts in his perspectives on the Old Testament have been identified. The first major shift requires that the Old Testament should be read as a collection of writings which takes both the literary and historical aspects of text interpretation into account. At the beginning of his professional career, the emphasis was mainly on the so-called text-immanent features of an Old Testament text, neglecting its historical dimension. Prof. Snyman has become convinced that the historical dimension of the Old Testament texts should also be considered. Consequently, this aspect of exegesis was also incorporated in his approach to the reading of the Old Testament. Having said this, exegesis is more than an investigation into the literary and historical dimensions of a text. Exegesis also amounts to a theological interpretation of the text in question. In this sense, exegesis should be considered a creative enterprise where the exegete formulates a theological meaning derived from a text taking both the literary and historical aspects into account. The second major shift asks that the Old Testament should be read as a book with its own authentic message. The Old Testament should not be viewed as the preliminary Word of God to be surpassed by the New Testament. Old and New Testament should be viewed together as the complete Word of God. This shift implies that the Old Testament has to be viewed as much more than merely a document which predicts the coming of the Messiah. The third major shift entails the author’s discovery that the Old Testament is a very human book, written by human beings and directed to human beings. A kaleidoscope of human experiences and emotions can be found in the Old Testament: evil, murder, lies, violence, suffering, death, love, hate, hope and despair, speaking to people in Old Testament times, but also speaking to people in current times. The Old Testament can therefore be viewed as a result of people’s encounter with God in many different circumstances. Yet, the Old Testament remains a book that reveals God to its readers. The fourth major shift marks a change in the author’s understanding of what is referred to as “the inspiration of the Bible”. In the light of knowledge gained about how the Old Testament in particular originated, current theories on biblical inspiration can no longer be upheld. The concept of inspiration should rather be broadened to include the entire process of the forming of the canon of Scripture, the translation, and even the proclamation of the message of the Bible. This article closes with a perception of what the task of Old Testament studies would be in future. It is interesting to note that an Old Testament theology which emerges from the (South) African continent has not been published yet. Writing an Old Testament theology from the African continent will remain a challenge to Old Testament scholars in years to come. Old Testament scholars will increasingly have the responsibility to make the theological message of the Old Testament known to churches and societies in a credible and trustworthy way. Viewed from a hermeneutical perspective, Old Testament scholars may not escape the responsibility to bridge the gap between the Old Testament and current times.

Keywords: historical; inspiration; literary; Old Testament

 

1. Inleiding 

Die probleem wat in hierdie bydrae gestel word is kort en bondig: Verander ’n akademikus van insigte gedurende haar/sy loopbaan? Indien die vraag bevestigend beantwoord word (en dit is te hope dat dit die geval sou wees) moet die vraag nader geëkspliseer word: Watter veranderinge sou as denkskuiwe in haar/sy benadering tot die vakgebied beskou kon word? Watter veranderinge is/was so ingrypend van aard dat dit as denkskuiwe eerder as aanpassings beskou sou kon word?

Dit is nie vreemd dat akademici rekenskap gee van veranderde en veranderende insigte in hulle onderskeie vakgebiede nie. Op die vakgebied van die Ou-Testamentiese wetenskap het (wyle) prof. Piet Verhoef ’n oorsig oor sy bydrae in die kerk en tot die bestudering van die Ou Testament gepubliseer (Verhoef 2000). In die onlangse verlede het twee publikasies in dié verband verskyn. In 2016 het prof. Bénédicte Lemmelijn, professor in Ou Testament aan die Katholieke Universiteit Leuven in België, ’n verantwoording van haar geloofstandpunt as Ou-Testamentikus gepubliseer (Lemmelijn 2016) met die veelseggende subtitel: “Een broos en eerlijk antwoord”. Die boek het soveel belangstelling uitgelok dat ’n Russiese vertaling daarvan onlangs gepubliseer is. 

In Suid-Afrika het prof. Louis Jonker, Ou-Testamentikus verbonde aan die Fakulteit Teologie van die Universiteit van Stellenbosch, sy verhaal met die (NG) Kerk en sy navorsing in die Ou Testament vertel (Jonker 2019).

In ’n reeks Facebook-plasings op sy Facebook-blad (https://www.facebook.com/izak.spangenberg.3) het prof. Sakkie Spangenberg, afgetrede Ou-Testamentikus van UNISA, sy reis met die bestudering van die Ou Testament beskryf en die wendings in sy verstaan van die Ou Testament en die wêreld van die Ou Nabye Ooste verduidelik. 

Metodologies gesproke poog ek om ’n persoonlike en dus ook subjektiewe oorsig te bied van die prominente denkskuiwe in my nadenke oor die Ou Testament tydens my loopbaan vanaf die afsluiting van my voltydse studie in Teologie aan die Universiteit van Pretoria en legitimasie as proponent in die NG Kerk in 1979 tot en met my aftrede in 2019 veertig jaar later.

 

2. Biografiese skets en historiese konteks

Aan die einde van 1979 studeer ek af aan die Universiteit van die Pretoria met ’n BD-graad (1978) en ’n Nagraadse Diploma in Teologie (1979) en word aan die einde van die jaar as proponent in die NG Kerk gelegitimeer. Vanaf April 1981 tot aan die begin van 1984 is ek predikant van die NG Kerk Nelspruit-Suid in die huidige Mbombela. Aan die einde van 1983 word ek deur die kuratorium van die NG Kerk in die Vrystaat beroep as dosent in Ou Testament en so begin ’n verbintenis van 36 jaar met die teologiese fakulteit aan die Universiteit van die Vrystaat in Januarie 1984. Ek behaal in 1985 aan die Universiteit van Pretoria die DD-graad in Ou Testament as die eerste student wat onder die promotorskap van prof. W.S. Prinsloo promoveer. Pas nadat ek doktoreer word ek bevorder tot mede-professor en in 1990 word ek bevorder tot professor. In 1996 word ek aangestel as departementshoof van die destydse Departement Ou-Testamentiese Eksegese en Teologie en sedert 2013 is ek dekaan van die teologiese fakulteit tot en met my aftrede aan die einde van Augustus 2019.

 

3. Waarom die Ou Testament?

Waarom kies ’n mens ’n bepaalde vakgebied om verder in te spesialiseer? Dit sou ’n interessante ondersoek wees om na te gaan of ’n voorkeur vir ’n bepaalde vakgebied in Teologie verband hou met die persoonlikheidstipe van die student. By nadenke en terugskouing het die volgende sewe oorwegings ’n rol gespeel by my aanvanklike keuse van en voortgaande verdieping in die Ou Testament:

  • Daar is gewoon die aspek van nuuskierigheid (Sutton 2018:2). Die Ou Testament was ’n geslote boek vir my behalwe vir ’n paar bekende Psalms (23, 91, 121), die skeppingsverhale van Genesis 1–3 en messiaans geïnterpreteerde gedeeltes uit die boek Jesaja. Juis my onbekendheid met die Ou Testament was die stimulus vir ’n verdieping in die Ou Testament. Uiteraard word daar in die Christelike kerk meer uit die Nuwe Testament gepreek, maar ek het naïef gewonder waarom daar so min uit die Ou Testament gepreek word as die Ou Testament ’n veel groter plek as die Nuwe Testament in die Bybel as kanon van die kerk inneem.
  • Tweedens was daar die inspirerende en goed voorbereide lesings van veral prof. W.S. (Riempies) Prinsloo (Sutton 2018:2) van die Departement Ou Testament aan die destydse Fakulteit Teologie van die Universiteit van Pretoria. Prof. Prinsloo se hoë standaarde en wetenskaplike benadering het by my die idee geskep dat hier ’n jong dosent was wat op die voorpunt van navorsing op die gebied van die Ou Testament was en dat die Ou Testament daarom opwindende moontlikhede bied vir verdere studie.
  • Die Ou Testament is ’n fassinerende en geweldig diverse boek met ’n groot verskeidenheid van literêre genres en wat oor die loop van etlike eeue heen ontstaan het. Die verbluffende verskeidenheid en selfs kontrasterende diversiteit wat die Ou Testament bied het my geïnteresseer en die belangstelling geprikkel om verder op die vakgebied van die Ou Testament te studeer.
  • Vierdens het ek die geleentheid om Ou Testament te doseer gesien as deel van my roeping as predikant. Ek kom uit ’n bedeling toe dosente wat aangestel is by teologiese fakulteite wat opleiding bied aan voornemende NG Kerk-predikante deur die kerk beroep en eventueel bevestig is in ’n doseerpos. Ek het dus streng gesproke nie aansoek gedoen vir ’n vakante pos nie, maar is deur die NG Kerk se toepaslike strukture genomineer en eventueel beroep as dosent in Ou Testament. 
  • Vyfdens is die Ou Testament deel van die kanon van die kerk. Die Bybel is die boek van die kerk. Daarmee word bedoel dat die kerk die ruimte is waar die Bybel primêr funksioneer in die liturgie, prediking, pastoraat, Bybelstudiegeleenthede, persoonlike besoeke van die dominee aan lidmate, huwelike, begrafnisse en leerstellige en etiese besluite in breër kerklike verband. Die NG Kerk is ingebed in en deel van die gereformeerde tradisie in die Teologie wat erns maak met die Bybel. Ek het dit as my taak gesien om die ryk en wat my betref onontginde teologiese boodskap van die Ou Testament te help ontsluit vir studente in Teologie, predikante en lidmate.
  • Sesdens het ek gou na my aanstelling besef dat ’n teologiese fakulteit ’n fakulteit aan ’n universiteit is. Die nadenke oor Teologie en die Bybel en meer spesifiek die Ou Testament het daarom ook ’n wetenskaplike dimensie. ’n Belangrike (eintlik die belangrikste) deel van ’n dosent se werk is om wetenskaplik besig te wees met haar/sy vakgebied. Die wetenskaplike besigwees met die vak mond uit in die aanbieding van lesings, die lewering van referate by akademiese kongresse en die publisering van navorsing in die vorm van tydskrifartikels en boeke. In my geval het dit dikwels gebeur dat lesings publikasies word en dat publikasies lesings word.
  • Beide Ou en Nuwe Testament staan konkreet in die werklikheid van die dag. Die Ou Testament handel onder andere oor die skepping en daarmee ekologie, sosiale geregtigheid, vrede, geweld, menseverhoudings en God. Die tipiese “gegrondheid” van die Ou Testament in die soms ongemaklike werklikhede van vandag het my belangstelling in die Ou Testament verder aangewakker. Ek kon of wou geen ivoortoringteoloog wees nie en die Ou Testament se konkrete boodskap en relevansie in die problematiek van die werklikheid het my aangespreek.

Eers later het ek besef dat die laaste drie oorwegings min of meer ooreenkom met wat geïdentifiseer word as die drie domeine (die kerk, die breër samelewing en die akademie) waarin die Bybel in die algemeen en die Ou Testament in die besonder ’n rol speel (Conradie, Jonker, Lawrie en Arendse 1995:1).

 

4. Denkskuiwe in die loop van veertig jaar

4.1 Denkskuif 1: Die Ou Testament as boek moet literêr en histories gelees word 

Die kern van die werk van ’n Bybelwetenskaplike in die algemeen en 'n Ou-Testamentikus in die besonder is die lees van die teks van die Ou Testament. Mense met ’n belangstelling in die Ou Testament lees die Ou Testament. Mense met ’n akademiese belangstelling in die Ou Testament lees die teks van die Ou Testament op ’n wetenskaplike wyse. Eksegese word gedoen aan die hand van ’n bepaalde metode en die toepassing daarvan deur die eksegeet. Eksegetiese resultate word verkry uit die toepassing van ’n wetenskaplike metode van eksegese. Sodoende gee die eksegeet rekenskap van sy/haar eksegetiese werk en die resultate daarvan. Hoe presies dit gebeur is ’n komplekse saak. Breedweg kan ’n onderskeid gemaak word tussen ’n mikroskopiese en teleskopiese lees van die Ou Testament. Met ’n mikroskopiese lees van die Ou Testament word bedoel die gedetailleerde fokus op ’n enkele teks, perikoop of selfs hoofstuk in die Ou Testament. Hierdie manier van lees word verstaan as (wetenskaplike) eksegese. Eksegese is gewoon die noukeurige lees van ’n teks in die Bybel. Verskillende eksegetiese metodes of benaderings verskaf die instrumente of apparaat waarmee ’n teks noukeurig gelees word.

Met ’n teleskopiese lees van die Ou Testament word bedoel die groter verband van tekste in die Ou Testament. Die klein eenheid wat eksegeties ondersoek word is ook deel van ’n groter geheel binne die verband van die boek waarin die teks voorkom, die groter eenhede (soos die profetiese literatuur, die wysheidsliteratuur, die drie-deling van wet, profete en geskrifte) wat eventueel ’n teologie (of teologieë) van die Ou Testament vorm. Smit (2006:190) in sy (ondergewaardeerde) boek beklemtoon ook die belangrikheid van die groter geheel: “Vir werklike verstaan van die Bybel is dit nodig dat spesifieke gedeeltes, tekste, perikope, hoofstukke, selfs hele Bybelboeke binne die groter verbande van die hele Skrif geplaas word…”. Die “groter verbande van die hele Skrif” is binne die Bibliologiese vakke bekend as die vakgebied van Bybelse Teologie waar die Amerikaanse Ou-Testamentikus Brevard Childs ’n prominente stem is (Childs 1993; vgl. ook die oorsig wat Van der Walt 2014:12–32 bied). 

4.1.1 ’n Mikroskopiese lees van die teks

Ek word deel van die wêreld van die wetenskaplike bestudering van die Ou Testament gedurende ’n intense Methodenstreit (metodestryd) in die geledere van Ou-Testamentici – ’n stryd wat gewoed het vanaf die laat sewentigerjare tot die middel tagtigerjare van die twintigste eeu. Le Roux (1993) tipeer die stryd as “A Story two Ways”, die titel van sy boek wat die geskiedenis van die Ou-Testamentiese Werkgemeenskap van die Ou Testament van Suid-Afrika vanaf sy ontstaan in 1957 tot en met 1987 beskryf. Die “twee weë” kom (oorvereenvoudig) neer op ’n historiese benadering tot die Ou Testament aan die een kant en ’n teksimmanente/strukturele/sinchroniese benadering aan die ander kant.

Diep onder die invloed van my promotor bevind ek my in die kamp van die teksimmanente/strukturele/sinchroniese benadering tot die Ou Testament. Die uitgebreide metodologiese verantwoording in my proefskrif (Snyman 1985:14–41) toon duidelik aan dat dit die benadering is waarin ek my tuis vind.

Met ’n proefskrif wat ’n bestudering van een van die profetiese boeke van die Ou Testament bevat en gegee my belangstelling in die aardsheid en konkrete sake waaroor die profete van destyds die samelewing van destyds aanspreek, word die profetiese literatuur van die Ou Testament die belangrikste fokus van my navorsing. Algaande ontdek ek dat ’n eksegetiese benadering wat die historiese dimensie van die profetiese literatuur van die Ou Testament verwaarloos, onaf en onvolledig is. Hierdie besef verteenwoordig die eerste wending in my nadenke oor die Ou Testament. Eksegese kan nie net teksimmanent gedoen word nie. Hierdie besef en groeiende oortuiging verwoord ek in ’n artikel (Snyman 1996:540–9; Snyman 2008:51–73) waarin ek die historiese dimensie van eksegese deel maak van die eksegetiese benadering wat ek sou volg. Met die vraag na die strukturele opbou van die teks word gevra na wat die teks sê, met die vraag na die historiese dimensie van die teks word gevra na waarom die teks sê wat dit sê. Jare later word ’n inleiding tot die profetiese literatuur van die Ou Testament gepubliseer (Peels en Snyman 2012) waarin die historiese volgorde waarin die profete opgetree en die boeke ontstaan het gevolg word eerder as die volgorde wat in die Ou Testament gevind word, om daarmee die belang van die historiese konteks van die profetiese literatuur van die Ou Testament te beklemtoon.

Om die historiese dimensie van eksegese ernstig op te vat, verteenwoordig ’n denkskuif in my nadenke oor die Ou Testament, maar nuut is die insig nie. Smit (2006:49) toon oortuigend aan hoedat dit by Calvyn se lees van die Bybel gegaan het oor die simplex sensus – die duidelike, eenvoudige, voor-die-hand-liggende, letterlike en daarom historiese en literêre betekenis van die teks.

Eksegese behels meer as net die bepaling van die strukturele opbou van ’n teks en die historiese agtergrond van die teks. Uiteindelik mond die noukeurige lees van die teks uit in die skep van ’n teologiese interpretasie van die teks. Eksegese is dus ’n kreatiewe bedryf waarin die teoloog-eksegeet die teologie van ’n bepaalde teks skep. Eksegese peil nie die teologiese boodskap van ’n teks nie, eksegese help skep aan die teologiese boodskap van tekste. Eksegese is dus beide ’n wetenskap en ’n kuns. Die wetenskaplike vaardigheid van die eksegeet is die instrument of apparaat waarmee teologiese betekenis geskep word. ’n Teks het dus nie net een betekenis nie. Tekste het betekenisse na aanleiding van die eksegetiese apparaat wat die eksegeet gebruik om die teologiese boodskap van ’n teks te skep. In ’n publikasie demonstreer ek presies dit deur aan te toon hoedat ’n teks verskillende betekenisse het (Snyman 2004:80–95). Dat ’n teks verskillende betekenisse kan hê beteken egter nie dat betekenis in tekste berus by die willekeur van die eksegeet nie. Die metodologiese raamwerk waarbinne ’n eksegeet eksegese van ’n teks doen, sowel as die teks self, stel grense aan die eksegeet wat die bepaling van die betekenis van ’n teks betref. Dan is die eksegetiese resultate van ’n eksegetiese ondersoek ook onderworpe aan die inter-subjektiewe navraag van vakkollegas wat die resultate van eksegese kan bevraagteken.

Eksegese kan met die werk van ’n skilder vergelyk word. ’n Skilder skilder ’n toneel maar die uiteindelike skildery is nie ’n replika van die oorspronklike toneel wat geskilder is nie. Die skildery is die kreatiewe skepping van die kunstenaar wat sy/hy van ’n toneel gemaak het. Anders gestel: ’n Skildery verteenwoordig ’n kunstenaar se interpretasie van ’n toneel. ’n Ander metafoor om eksegese mee te verduidelik is om ’n eksegeet-teoloog te vergelyk met die uitvoering van ’n werk van een van die groot meesters van musiek. ’n Dirigent van ’n simfonie-orkes gebruik die bladmusiek van die oorspronklike musiekwerk maar die uitvoering van die musiek is onafwendbaar ’n interpretasie van die oorspronklike bladmusiek. Die uitvoering van die musiek moet egter nog herkenbaar wees al is dit ’n interpretasie van ’n stuk bladmusiek soos gekomponeer deur ’n groot musiekmeester. Dieselfde geld vir die eksegese van ’n teks: die interpretasie van ’n teks moet herlei kan word na die teks wat geïnterpreteer is. Soos wat daar goeie en minder goeie weergawes van groot musiekwerke is, so is daar goeie en minder goeie skeppings van die teologie van tekste via die noukeurige of minder noukeurige lees van die tekste.

4.1.2 ’n Teleskopiese lees van die teks

Hoe belangrik die fokus op die enkele teks ook al is, daar is ook ’n groter verband waarin die enkele tekste staan. Literêr staan die indiwiduele teks in verband met ander tekste in die deel van die Ou-Testamentiese boek waarin die teks voorkom, die boek self, die groter korpus van materiaal en uiteindelik die Ou Testament as geheel. Histories staan die indiwiduele teks ook in verband met ander tekste uit dieselfde tydvak, sowel as tekste wat ouer is en tekste wat jonger is. 

Hierdie groter verband van tekste en die teologiese implikasies daarvan het in die afgelope paar dekades ’n belangrike aspek in die navorsing oor die Ou Testament geword. Wat vroeër bekend was as die sogenaamde Klein Profete staan vandag veel meer bekend as die Boek van die Twaalf. Die twaalf sogenaamde klein profete word toenemend as ’n korpus gesien met allerlei strukturele, historiese en teologiese verbande tussen die verskillende profetiese boeke (Nogalski 1993a; Nogalski 1993b; Schart 1998; Nogalski en Sweeney 2000; Fabry 2018). Dieselfde tendens word in die navorsing oor die boek Jesaja gevind. Die drie-deling van die boek (Jesaja 1−39; 40−55; 56−66) word steeds aanvaar maar daar word ook gevra waarom die boek een boek is en nie drie verskillende boeke nie. Die gevolgtrekking waartoe Cronje (2002:223–4) kom is belangrik: “Die huidige neiging in Jesajanavorsing is om die boek weer as eenheid te lees en te interpreteer. Die kontinuïteit van die boek Jesaja spreek tans in die navorsing harder as die diskontinuïteit daarvan”. Die standpunt van Berges (2010:551–2; vergelyk ook Becker 2004:30–60) bevestig die tendens agt jaar later verder met die opmerking: “On this point the various exegetical camps agree: the prophetic writings and collection of writings (Dodekapropheton [die Boek van die Twaalf]) now stand in the foreground as books”. In die navorsing oor die boek van die Psalms word daar toenemend aandag gegee aan die komposisie van die boek van die Psalms as geheel (Zenger 2010) en word daar na verbande en redes gesoek waarom die Psalms so en nie anders nie saamgestel is (Zenger 2010:17–66; Janowski 2010:279–308; Weber 2010:733–44). Dieselfde tendens word in die navorsing oor die Pentateug gevind. Hoe divers die Pentateug ook al is, is dit tog ook ’n eenheid en daar word gevra na wat die groot lyne in die Pentateug is wat die korpus tot ’n eenheid saambind. Smith (2006:22) sê in dié verband: “Pentateuchal studies have entered a dramatic new phase within the past quarter century. Older criticism focused on hypothetical sources and internal contradictions. Recent studies have tended to view the Pentateuch holistically”. 

Met verskillende publikasies het ek meegewerk aan die teleskopiese lees van die teks van die Ou Testament waarin die literêre en historiese aspekte van die tekste aandag gekry het (Snyman 2005:527–42; Snyman 2009:480–91; Snyman 2014a:215–32; Snyman 2014b:597–611; Snyman 2017:175–87; Snyman 2020 ongepubliseerde referaat) en verbande tussen tekste ondersoek is.

4.2 Denkskuif 2: Die Ou Testament as boek het ’n eie boodskap

Die dominante hermeneutiese model om die Ou Testament te interpreteer in Suid-Afrika in die algemeen en in die NG Kerk in die besonder was die sogenaamde kontinuïteit-diskontinuïteitmodel van die bekende Ou-Testamentikus John Bright (1977), wat deur die Stellenbosse Ou-Testamentikus Pieter Verhoef (1977:151) aangepas is. ’n Preek uit die Ou Testament moes “by Christus uitkom” want anders kon die preek net so wel in ’n Joodse sinagoge gepreek word. Christus (en die res van die Nuwe Testament) kontinueer of diskontinueer die Ou Testament.

Al die pogings om die Ou Testament in die keurslyf van ’n Nuwe-Testamentiese perspektief in te forseer kom egter neer op ’n verenging van die teologiese boodskap van die Ou Testament en degradeer die Ou Testament tot die voorlopige Woord van God. Die denkskuif gebeur: Die Ou Testament is ’n boek met ’n eie, outentieke teologiese boodskap wat deur die kerk gehoor en waardeer moet word. Die Ou Testament kan nie vereng word tot ’n voorspellingsboek van Jesus Christus nie. Die Ou Testament is nie die voorlopige Woord van God nie maar is saam met die Nuwe Testament die volledige en gelykwaardige Woord van God aan die kerk en die wêreld. Preuss (1984:130) sê in dié verband: “Das NT allein reicht nicht aus, um die Sache der Bibel voll auszusagen. Das AT allein darf nicht ausreichen, um die Sache des Christentums voll auszusagen. Beide Teile der Bibel benötigen sich gegenseitig als Korrelat, als Ergänzung und als Korrektur” (“Die Nuwe Testament alleen slaag nie daarin om die saak waarom dit in die Bybel gaan volledig uit te spreek nie. Die Ou Testament alleen slaag ook nie daarin om die saak van die Christendom volledig uit te spreek nie. Beide dele van die Bybel het mekaar wedersyds nodig as korrelaat, as uitbreiding en as korreksie”). Die formulering van Zenger beaam hierdie standpunt: “Das Alte Testament hat ein Eigenwort mit Eigenwert, das als solches gehört werden will, vor allem in jenen Teilen, in denen es grund-legend von der Zuwendung Gottes zur Welt und zum Gottesvolk Israel erzählt” (“Die Ou Testament het ’n eie woord met ’n eie waarde wat as sulks gehoor wil word, allereers in elk van sy dele wat fundamenteel van God se toewending tot die wêreld en tot die Godsvolk Israel vertel”) (Zenger 2000:9).

Die wins wat dié beskouing vir die kerk en die Teologie inhou is belangrik. Om die Ou Testament saam met die Nuwe Testament as volledige en volwaardige Woord van God te sien beteken ’n verruimde visie van God, mense en die wêreld (Snyman 2002:155–60).

4.3 Denkskuif 3: Die Ou Testament is ’n menslike boek

Wie begin om die Ou Testament net te lees, lees die Ou Testament as ’n vreemde, byna magiese boek vol oordele van God tesame met voorspellings en allerlei heenwysings na die Messias wat sal kom. Die Ou Testament word verder bely as die gesaghebbende Woord van God, deel van die kanon van die Christelike kerk. Namate ’n mens die Ou Testament hoe langer hoe meer noukeurig begin lees, is die gevolgtrekking onafwendbaar: Die Ou Testament is ’n baie menslike boek. Die mense wat in die Ou Testament ontmoet word, is egte mense. Die Ou Testament bied ’n perspektief op die mensheid en menslikheid in haas elke omstandigheid: moord, kwaad, leuens, bedrog, onreg, trauma, lyding, vreugde, liefde, haat, hoop, wanhoop, dood. Anders as die Nuwe Testament wat gelowiges oproep om vreugde in die Here te vind, vind die gelowiges van die Ou Testament vreugde in die lewe, in ’n oes wat ingesamel word, in ’n maaltyd saam met mense (en saam met wyn!), in die natuur, in liefde (Ausloos en Lemmelijn 2010:118–19). Mense het die Ou Testament geskryf, meer nog, verskillende mense het oor die tydperk van eeue aan die Ou Testament geskryf. Weer eens ontkom ’n mens nie aan die historiese dimensie van die Ou Testament nie.

Hierdie insig dat die Ou Testament ’n boek is wat deur mense geskryf is in die bekende tale van Hebreeus en Aramees, is bevrydend. Dit beteken dat die Ou Testament toeganklik is en geïnterpreteer mag word. Dit beteken dat die Ou Testament verstaan en verklaar mag word.

Die Ou Testament is die resultaat van mense se ervaring met en van God. Von Rad (1975) se identifisering van die klassieke heilstradisies (skepping, die aartsvaders Abraham, Isak en Jakob, die uittog uit Egipte, die Sinai-gebeure, die omswerwinge in die woestyn, die gawe van die land, Sion) in die geskiedenis van Israel is ’n opsomming van Israel, as volk van God, se ervaring met en van God. Israel se antwoord op die heilstradisies kan gesien word in die Skrifprofete en die wysheidsliteratuur van die Ou Testament.

Ausloos en Lemmelijn (2010:119) se standpunt is waardevol dat die Ou Testament gesien moet word as ’n boek deur mense, vir mense, oor God. Mense se ervarings met en van God is neergeskryf en hulle ervarings het God se bekendstelling aan ons (as die latere lesers) geword. Die ontdekking en beklemtoning van die menslike aard van die Ou Testament doen op geen manier afbreuk aan die oortuiging en uitgangspunt dat die Bybel die boek is waardeur God Hom betroubaar aan mense bekendstel nie. Juis die menslike aard van die Ou Testament maak die Ou Testament toeganklik vir mense en so ontmoet hulle vir God in die Ou Testament. 

4.4 Denkskuif 4: Die inspirasie van die Bybel herbedink

Die effek van die insig dat die Ou Testament ’n menslike boek is, het tot gevolg gehad dat afskeid geneem is van enige van die sogenaamde inspirasie-teorieë wat op die vakgebied van die Dogmatiek ontwikkel is (so byvoorbeeld Berkouwer 1967; Heyns 1973). Bestaande inspirasie-teorieë is net nie meer houdbaar nie. Dit is terloops opmerklik dat prof. Dirkie Smit (2006) in sy boek oor die verstaan van die Bybel geen aandag aan inspirasie-teorieë gee nie. Die manier waarop die Bybel tot stand gekom het is eindeloos meer kompleks as wat in inspirasie-teorieë veronderstel en voorgegee word. Huidige inspirasie-teorieë verreken nie die insigte en vrae vanuit die Bibliologiese vakke nie. ’n Teorie oor die inspirasie van die Bybel is in ’n sekere sin ook onmoontlik om te vorm omdat niemand insig of toegang het in of tot die manier waarop die Gees werk in en met mense wanneer Hy hulle inspireer nie. Die min getuienis wat beskikbaar is oor inspirasie is net te min om ’n omvattende teorie daarmee te ontwerp. ’n Ruimer opvatting oor die inspirasie van die Bybel sal bedink moet word. So ’n ruimer opvatting oor inspirasie hou die volgende aspekte in:

4.4.1 Inspirasie sluit die totale proses van kanonvorming in

Inspirasie kan nie beperk word tot die veronderstelde autographa van die Bybel nie. Die ontstaan van die verskillende boeke van die Ou Testament en daarom die Ou Testament as geheel het oor ’n baie lang tyd en op ’n veel meer komplekse wyse tot stand gekom as wat die inspirasie-teorieë van dogmatici wil voorgee. Die vraag na waar inspirasie begin sal dus herbedink moet word. In die geval van die wysheidsliteratuur van die Ou Testament (boeke soos Spreuke, Prediker, Job, sommige Psalms) is minstens dele van wat tans in die Ou Testament bekend is as wysheidsliteratuur oorgeneem van Egiptiese wysheidsliteratuur. Beteken dit dat die Egiptiese wysheidsleraars geïnspireerd was? Of word die Egiptiese wysheid geïnspireerd die oomblik toe dit in die Hebreeuse kanon opgeneem word? Ons begrip van inspirasie moet uitgebrei word om die totale proses van kanonvorming in te sluit – van die vroegste en aanvanklike mondelinge oorlewering tot en met die verskillende skriftelike weergawes van die mondelinge oorlewering.

As inspirasie nie beperk kan word tot die veronderstelde autographa nie, beteken dit dat die vraag na waar inspirasie eindig, ook herbedink moet word. Strek inspirasie tot by die konsonant-teks van die Ou Testament, of sluit dit die gevokaliseerde teks in? Moet al die verskillende afskrifte van Hebreeuse tekste van die Ou Testament as geïnspireerd beskou word? 

Die Hebreeuse teks van die Ou Testament is ook (nog) nie finaal vasgestel nie. Tot so onlangs as vroeg in die twintigste eeu is die Tweede Rabbynse Bybel van Jakob ben Chayyim wat in 1524/5 deur Daniël Bomberg in Venesië gedruk is, beskou as die standaard Hebreeuse teks van die Ou Testament. Die teks is later (1937) vervang deur die derde uitgawe van Kittel se Biblia Hebraica wat gebaseer is op Codex Leningradensis B19a. So onlangs as 1968 is daar ’n begin gemaak aan nog ’n nuwe uitgawe van die Hebreeuse Ou Testament ook gebaseer op die Codex Leningradensis B19a, wat in 1978 voltooi is en bekend staan as die Biblia Hebraica Stuttgartensia onder die redaksie van Elliger en Rudolph (1984). Die rede waarom Codex Leningradensis B19a gebruik word is gewoon omdat die kodeks die oudste (1008/9 na Christus!) volledige manuskrip van die Hebreeuse Ou Testament is waaroor ons beskik (Elliger en Rudolph 1984:X). Tans werk geleerdes aan die Biblia Hebraica Quinta, ’n projek onder die leiding van die United Bible Societies se Hebrew Old Testament Text Project, wat nog eens ’n nuwe teks van die Ou Testament is. Die Hebrew University Bible Project werk sedert die jare sestig van die vorige eeu aan ’n nuwe uitgawe van die Hebreeuse Bybel met Codex Aleppo as basisteks (Tov 1998:69). Die proses van kanonvorming gaan dus tot vandag toe nog voort. Sou ’n mens die inspirasie van die Gees buite rekening kon laat in die geleerdes wat in die letterlike sin van die woord besig is om die teks van die Ou Testament beter vas te stel? Is hulle werk aan die teks nie ’n moderne weergawe van wat die oorskrywers van manuskripte vir eeue lank gedoen het nie? Ons is in ’n sekere sin nog steeds besig om die Bybel te skryf. Namate ons kennis van die verskillende manuskripte verbeter en meer word, kan die teks van die Ou Testament beter omlyn en vasgestel word.

4.4.2 Inspirasie sluit die vertaling van die Bybel in 

Vertalings uit die oorspronklike tale moet ook gereken word as die resultaat en produk van die inspirasie van die Gees. Lesers van die Bybel in Afrikaans (of in enige ander taal anders as Grieks of Hebreeus) dink aan die Bybel wat hulle lees as die geïnspireerde Woord van God. Die inspirasie geld nie net die “oorspronklike” Hebreeuse of Griekse weergawes van die Bybel nie. Die Bybel wat Afrikaanssprekende mense in Afrikaans lees is niks anders nie as die geïnspireerde Woord van God. Wanneer die Afrikaanse Bybel in ’n erediens van ’n kansel af gelees word, word dit nie aangekondig as ’n vertaling van die oorspronklik geïnspireerde Woord van God in die oorspronklike Hebreeus of Grieks nie, dit word gelees as die geïnspireerde Woord van God. Vertalings word ook deur die Gees geïnspireer. Met ’n nuwe Afrikaanse vertaling (die sogenaamde Direkte vertaling) wat pas voltooi is en in November 2020 amptelik in gebruik geneem word, is hierdie insig kardinaal en opnuut aktueel.

Vir baie lank in die kerk se geskiedenis was die Septuagint as die Griekse vertaling van die Ou Testament en die Vulgaat as die Latynse vertaling van die Bybel die enigste beskikbare Bybels wat daar was. Indien die vertaalde Bybels nie geïnspireer was nie is die konsekwensie doodgewoon dat die kerk vir eeue sonder ’n geïnspireerde Bybel was. Soms is ’n teks ook so korrup dat enige poging tot ’n vertaling eintlik ’n verleentheidsvertaling is omdat die Hebreeuse teks baie moeilik sin maak (vgl. bv. Ps. 16; Miga 6:9−12; Hab. 1:12). Juis om hierdie rede bly die kennis en toepassing van die grondtale van die Bybel ’n eintlik onontbeerlike noodsaaklikheid by die uitleg van die Bybel want enige vertaling bly presies net dit: ’n vertaling van die grondteks. Net soos wat dit beter is om groot literêre werke soos dié van Shakespeare of Goethe in die oorspronklike Engels of Duits te lees, is dit beter om die teks van die Bybel in die oorspronklike tale waarin dit geskryf is te lees. 

’n Verdere argument waarom vertalings ook geag moet word as geïnspireer deur die Gees is omdat vertalings uit die Hebreeuse teks van die Ou Testament soms lesings van die Septuagint (’n vertaling dus van die Hebreeuse Ou Testament) aanvaar om ’n teks te vertaal. Daar kan tog nie van ongeïnspireerde vertaalde weergawes van die Ou Testament gebruik gemaak word om ’n beter of meer waarskynlike lesing van die geïnspireerde Woord daar te stel nie. 

’n Vraag wat gevra kan word is waarom daar dan soveel verskille is tussen vertalings as die Gees ook vertalings inspireer. Die antwoord hierop is dat die erkenning van die verskille juis die honorering is van die mens se aandeel aan die Bybel sonder om die mens se aandeel minderwaardig of selfs onwenslik te maak. Die werk van die Gees hef nie die menslike deel van Bybelskryf op nie. Trouens, ook wat die Bybel self betref het die Gees verskillende mense verskillend laat skryf oor dieselfde gebeure. Wat met vertalings gebeur is dus nie anders as wat met die Bybelskrywers gebeur het nie.

4.4.3 Inspirasie sluit die verkondiging van die Woord in 

Inspirasie strek ook tot en met die prediking van die Woord. Dit is Calvyn se standpunt dat die verkondiging van die Woord die Woord van God is: “En deze betuiging is aan alle eeuwen gegeven, en blijft vast, om ons allen te verwittigen en er zeker van te maken, dat het Woord des evangelies, door welke mens ook gepredikt wordt, die eigen uitspraak Gods is, afgekondigd in de hoogste vierschaar, in het boek des levens geschreven, in de hemel bevestigd, vast en zeker” (Calvyn, Boek IV, Hoofstuk XI, 1, 238). Die prediker van die Woord word en is dus ook geïnspireer deur die Gees wanneer hy/sy die Woord verkondig. Die uitleg, interpretasie en toepassing van die Woord gebeur nie buite die Gees om nie, maar gebeur juis deur die inspirasie van die Gees.

Die Gees begelei die Woord van God vanaf die eerste oorspronge van sy bestaan tot waar die Woord gelees en verkondig word en uiteindelik in die hart van ’n mens tuiskom. Vir hierdie begeleidende funksie van die Gees met betrekking tot die Woord gebruik ons die term inspirasie. Daarom is dit onnodig om te dink aan ’n onderskeid tussen inspirasie (bedoelende die werk van die Gees in die Bybelskrywers) en illuminasie (die werk van die Gees in mense wat met die Bybel werk).

Dat die Gees mense geïnspireer het in en tydens die lang en komplekse proses van die ontstaan van die Bybel en nog steeds vandag mense inspireer wanneer hulle met die Bybel besig is in vertaling of in die bestudering of in die verkondiging van die Woord is 'n saak wat vandag nog kan (en moet) bely word. Die woord bely is belangrik. Die inspirasie van die Bybel deur die Gees is nie bewys nie en ook nie bevredigend in ’n teorie deurgrond, verduidelik of omskryf nie – eintlik is dit iets wat maar net bely kan word: Ons glo dat die Bybel – geïnspireer deur die Gees − die Woord van God is. 

4.5 En God?

Die Ou Testament handel oor God, wie Hy is en wat Hy doen. Dit is onvermydelik dat ’n mens se begrip van God beïnvloed word deur ’n intensiewe en wetenskaplike bestudering van die Ou Testament oor dekades heen. God is die enigmatiese paradoks in die Ou Testament. Hy is nie in een begrip of frase vas te vang nie. Hy is die God van sy volk Israel én God oor alles en almal. Hy is die God van sy volk én die God wat in ’n persoonlike verhouding met indiwidue tree. Hy is begryplik én onbegryplik. Hy oordeel en Hy is genadig. Hy is die altyd teenwoordige God én die God wat as afwesig beleef kan word. In haas elkeen van die bekende heilstradisies van Israel is daar ’n veelkantigheid − selfs 'n teenstrydigheid − in Jahwe se woorde en dade. Hy gee die land, maar die volk verloor dit ook om dit later weer te kry. Die skepping word geskep maar word ook bedreig deur vernietiging deur die Skepper self. Die koningshuis van Dawid sal vir altyd bestaan maar kom tot ’n einde met die ballingskap. Die tempel is die aardse woonplek van Jahwe, maar word vernietig. Selfs die bekende heilstradisies van Israel is dus nie ’n probleemlose herinnering aan die groot dade van Jahwe in die geskiedenis van sy volk nie.

Die enigmatiese paradoks van JHWH in die Ou Testament het ek in versvorm verwoord: 

Weg en naby

Here, ek wonder partykeer
     Waar is U?
     Partykeer vra ek
     Is U hier?
     Want soms lyk dit of U weg is.
     Weg uit die wêreld en weg van my.

Dan weer, keer op keer,
     Stil, maar ongetwyfeld eg
     Ontdek ek
     U is hier!
     U is by die wêreld en naby my.
     Daaraan, Here, verwonder ek my.

 

5. Slot en toekomsblik

Die Ou Testament word met ywer steeds wetenskaplik ondersoek. Wetenskaplike insigte verander, verruim en verdiep ondersoekers se insigte in die Ou Testament. So was dit die afgelope veertig jaar en so sal dit ook wees in die volgende veertig jaar. Daar is ’n soms verbluffende kaleidoskoop van benaderings tot die Ou Testament wêreldwyd maar ook in Suid-Afrika. Die belangstelling in en toetrede van vroulike en swart Ou-Testamentici tot die wetenskaplike ondersoek van die Ou Testament is verblydend. Gedurende die tydperk van 1995−9 word slegs 4% van die artikels in Old Testament Essays (die vlagskipjoernaal vir navorsing oor die Ou Testament in Suid-Afrika) deur swart Ou-Testamentici gepubliseer. Gedurende die periode van 2010−5 is byna ’n kwart van die artikels in Old Testament Essays van swart Ou-Testamentici afkomstig. Gedurende dieselfde periode styg die persentasie van artikels geskryf deur vroulike Ou-Testamentici van 7% tot byna 13% (Snyman 2016:95). 

Ten spyte van die lewendige ondersoek van die Ou Testament vanuit ’n verskeidenheid van benaderingswyses ontbreek ’n Ou-Testamentiese teologie nog uit (Suid-)Afrikaanse bodem. Dit is ’n uitdaging wat wag op ’n nuwe geslag van Ou-Testamentici in (Suid-)Afrika.

’n Tweede saak wat aandag moet kry is die hermeneutiese verleentheid waarmee die kerk toenemend gekonfronteer word. Hoe kan die boodskap van die Ou (en Nuwe) Testament op ’n verantwoordelike en geloofwaardige manier in verband gebring word met die vraagstukke en omstandighede van vandag? Teoloë in die algemeen en Ou-Testamentici in die besonder het ’n verantwoordelikheid teenoor die kerk en die gemeenskap in dié verband. Gewone lesers van die Ou Testament verwag en soek na die relevansie van die Ou Testament in hulle dag-tot-dag-bestaan. Ou-Testamentici kan nie ontsnap aan die verantwoordelikheid en verpligting om ’n brug te slaan tussen die toe en nou van die teks van die Ou Testament nie.

Die aard van die wetenskap is om steeds besig te wees met die nimmereindigende soeke na nuwe kennis, ’n beter begrip en ’n dieper verstaan van die werklikheid. Dit is ’n uitnemende voorreg om daarmee besig te kon wees op die vakgebied van die Ou-Testamentiese wetenskap.

 

Bibliografie 

Ausloos, H. en B. Lemmelijn. 2010. The book of life. Biblical answers to existential questions. Leuven: Peeters (Louvain Theological and Pastoral Monographs 41).

Ausloos, H. en B. Lemmelijn (reds.). 2014. A pillar of cloud to guide. Text-critical, redactional and linguistical perspectives on the Old Testament in honour of Marc Vervenne. Leuven: Peeters (Bibliotheca Ephemeridum Theologicarum Lovaniensium 269). 

Becker, U. 2004. Die wiederentdeckung des Prophetenbuches. Tendenzen und Aufgaben der gegenwärtigen Prophetenforschung. BTZ 21:30–60.

Berges, U. 2010. The Book of Isaiah as Isaiah’s book: The latest developments in the research of the prophets. Old Testament Essays, 23(3):549–73.

Berkouwer, G.C. 1967. De Heilige Schrift II. Kampen: J H Kok NV. (Dogmatische Studien).

Bright, J. 1977. The authority of the Old Testament. Grand Rapids MI: Baker Book House. 

Calvijn, J. s.j. Institusie of onderwijzing in de Christelijke godsdienst. Derde deel bevattende boek IV. Delft: W.D. Meineda NV. (Vertaling van A. Sizoo).

Childs, B.S. 1993. Biblical Theology of the Old and New Testaments: Theological Reflection on the Christian Bible. Philadelphia: Fortress.

Cronje, S. I. 2002. Jesaja net een boek? Die pendulum swaai terug. Ongepubliseerde DD-proefskrif, Universiteit van Pretoria. 

Conradie, E.M., L.C. Jonker, D.G. Lawrie en R.A. Arendse. 1995. Op soek na Jona. Verskillende benaderings tot die interpretasie van die Bybel. Bellville: Universiteit van Wes-Kaapland. (Teks en Konteks 6). 

Elliger, K. en W. Rudolph (reds.). 1984. Biblia Hebraica Stuttgartensia. Stuttgart: Deutsche Bibelgesellschaft.

Fabry, H-J. (red.). 2018. The books of the twelve prophets. Minor prophets – major theologies. Leuven: Peeters (Bibliotheca Ephemeridum Theologicarum Lovaniensium CCXCV). https://www.facebook.com/izak.spangenberg.3 (4 Augustus 2020 geraadpleeg).

Firth, D.G. en J.A. Grant, (reds.). 2008. Words and the world. Explorations in biblical interpretation and literary theory. Nottingham: Apollos.

Heyns, J.A. 1973. Brug tussen God en mens. Oor die Bybel. Pretoria: NG Kerkboekhandel. 

Janowski, B. 2010. Ein Tempel aus Worten: Zur theologischen Architektur des Psalter. In Zenger (red.). 2010.

Jonker, L.C. 2019. Herinneringe en verlange – gesprekke oor mag, geskiedenis en die Bybel. Stellenbosch: Africa Sun Media.

Lemmelijn, B. 2016. Mijn geloof als bijbelwetenschapper? Een broos en eerlijk antwoord. Antwerpen: Halewijn. 

Nogalski, J.D. 1993a. Literary precursers to the Book of the Twelve. Berlin: de Gruyter. (BZAW 217).

—. 1993b. Redactional processes in the Book of the Twelve. Berlin: de Gruyter. (BZAW 218).

Nogalski, J.D. en M.A. Sweeney. 2000. Reading and hearing the Book of the Twelve. Atlanta GA: SBL. (SBL Symposium Series 15).

Peels, H.G.L. en S.D. Snyman (reds.). 2012. The lion has roared. Theological themes in the prophetic literature of the Old Testament. Eugene OR: Wipf & Stock.

Preuss, H.D. 1984. Das Alte Testament in Christlicher Predigt. Stuttgart: Kohlhammer.

Schart, A. 1998. Die Entstehung des Zwölfprophetenbuches. Berlin: de Gruyter. (BZAW 260).

Smit, D. 2006. Neem, lees! Hoe ons die Bybel hoor en verstaan. Wellington: Lux Verbi. BM.

Smith, J.E. 2006. The Pentateuch. MO: College Press Publishing Company. 

Snyman, S.D. 1985. Antiteses in die boek Maleagi. Ongepubliseerde DD-proefskrif, Universiteit van Pretoria.

—. 1996. ’n Struktureel-historiese benadering tot die eksegese van die Ou Testament. Nederduits Gereformeerde Teologiese Tydskrif, 37(4):540–9. 

—. 2002. Die verstaan en funksie van die Ou Testament in die kerk (of: Het die kerk die Ou Testament nodig?) Deel II. Acta Theologica, 22(2):147–62.

—. 2004. Different meanings a text may acquire: The case of Malachi 1:11. Acta Theologica Supplementum 6:80–95. 

—. 2005. The land as leitmotiv in the book of Amos. Verbum et Ecclesiae, 26(2):527–42.

—. 2008. A Structural-historical approach to the exegesis of the Old Testament. In Firth en Grant (reds.). 2008.

—. 2009. ’n Goddelike God en menslike mense. Aksente uit die Ou Testament. Nederduits Gereformeerde Teologiese Tydskrif, 50(3/4):480–91. 

—. 2014a. Abraham in Genesis and in the former prophets. In Ausloos en Lemmelijn (reds.). 2014.

—. 2014b. A theological appraisal of the book of Malachi. Old Testament Essays, 27(2):597–611.

—. 2016. What happened to the prophets in South Africa since 1994? In Venter (red.). 2016.

—. 2017. Investigating the issue of mixed marriages in Malachi, Ezra-Nehemiah and the Pentateuch. Scriptura, 116(2):175–87.

—. 2020. Exploring Exodus themes in the book of Amos. Ongepubliseerde referaat gelewer by die Universiteit van Pretoria, 10 September 2020.

Sutton, L. 2018. Interview with Fanie Snyman. Acta Theologica Supplementum 26:1–16. 

Tov, E. 1992. Textual criticism of the Hebrew Bible. Philadelphia: Fortress.

Van der Walt, J.S. 2014. A Biblical-Theological investigation of the phenomenon of wonders surrounding Moses, Elijah and Jesus. Ongepubliseerde PhD-proefskrif, Universiteit van die Vrystaat. 

Venter, R. (red.). 2016. Theology and the (post)apartheid condition. Genealogies and future directions. Bloemfontein: Sun Press. (University of the Free State Theological Explorations vol. 1). 

Von Rad, G. 1975. Old Testament Theology. Vol. I The theology of Israel’s historical traditions. Londen: SCM.

Verhoef, P.A. 1977. Die weg en brug tussen Ou-Testamentiese teks en prediking. Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif, 18(2):145–57. 

—. 2000. Terugblik van ’n “brugbouer”. Stellenbosch: Privaat uitgegee deur die skrywer.

Weber, B. 2010. Von der Psaltergenese zur Psaltertheologie: Der nächste Schritt?! Einige grundsätzliche Überlegungen zum Psalter als Buch und Kanonteil. In Zenger (red.). 2010.

Zenger, E. 2000. Die grund-legende Bedeutung des Ersten Testaments. Christlich-jüdische Bibelhermeneutik nach Auschwitz. Bibel und Kirche, 55(1):6–13. 

—. 2010. Psalmenexegese und Psalterexegese: Eine Forschungsskizze. In Zenger (red.) 2010. 

Zenger, E. (red.). 2010. The composition of the book of the Psalms. Leuven: Peeters. (Bibliotheca Ephemeridum Theologicarum Lovaniensium CCXXXVIII).

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    George Pieter Redelinghuys

    According to Prof. Snyman, the Old Testament constitutes "the major part of the canon of scriptures", and therefore he is intrigued by the fact that "sermons preached from the Old Testament are few and far between". Personally, I do not find this at all surprising since what does the Old Testament have to offer and teach us about humanity and the human condition today?

    On the contrary, the Old Testament contains tales and myths of a primitive desert dwelling tribe and its personal relationship with a fierce tribal god, who by today´s standards can only be judged as wanting. Take for example the piteous position of woman in that tribal society and the punishments dealt out for adultery, and notice how far the world has evolved and progressed during the course of three thousand years, how our concept of justice has changed and developed.

    According to "the second major shift" in Prof. Snyman´s view of the Old Testament, the Old and New Testament should be viewed together as "the complete Word of God", quite a startling statement in the light of "the third shift" when the Old Testament is characterized as a "very human book written by human beings". Is one to be lead to believe that these human beings who wrote the chapters of the Old Testament knew the mind of God, or that God supervised their writings and told them what to write, in order to reflect "the Word of God", and thereby also approved of the barbaric punishments alluded to above?

    Lastly, I should love to learn exactly what the "theological message" of the Old Testament means, if any, and of its relevance to humanity today. As a child of the 50´, many of us were enchanted by the stories of the Old Testament, of Noah and how the animals marched 2 by 2 into the ark, how the earth and all creation came about within a span of seven days, how the Red Sea ( see the Cecil B. DeMille epic in technicolor) parted for Moses to let the Israelites through, and the sun stood still for 24 hours for Joshua, but unfortunately there is a time when one has to grow up and kiss childish things good-bye.

    Your sincerely,

    Dr. George Redelinghuys

  • Avatar
    George Pieter Redelinghuys

    By geleentheid van Prof. Snyman se skrywe en besinninge oor die Ou Testament, hoor ek n eggo van herrinnering van die politiek uit die verlede, naamlik dié van die Apartheids jare. Destyds was die Ou Testament met sy Hebreuse god die dominante invloed en Testament in die Kerk, met die gevolg dat hierdie Testament dan ook as die meester narratief beskou kon word, en die filosofiese grondslag sou vorm van die apartheids filosofie en dan sekulêre politiek. Daar was ook destyds in meer geleerde kringe gespot met daardie dominees wie Apartheid van die kansel verdedig het met behulp van tekste uit die Ou Testament, maar by nadere ondersoek was hierdie here nie so verspot as wat dit sou blyk nie.

    Die leitmotiv van die Ou Testament is dan dié van ’n swerwende volk opgemaak deur verskillende stamme wat die belofte land binnetrek en in besit neem, en hulle geloof in ’n eiesoortige monoteïstiese god, en hulle unieke verhouding met hom; ook hulle meewetendheid van hulle uitgekose status bo alle andere volke, hulle vermyding van menging en afsondering van hulleself van andersoortiges in hulle midde, dus m.a.w., hier sien ons duidelik die ontwikkeling van die konsep van rasse skeiding en suiwerheid: n proto-Apartheid in die ontkieming, gegrond en gesanktioneer in tekste in hulle heilige skrifte.

    Lui dit dan nie ’n klok in die oor van die destydste Afrikaner nasionalis nie, wie Sondae in die kerk verhale en mites oor hierdie uitverkore volk van God aanhoor, en begin hy nie onbewus dan te identifiseer met sekere aspekte van sy eie volk se lot en geskiedenis (verdrukking deur vreemde magte, swerf op soek na ’n geloftetuisland soos in die Groot Trek), met dit van die Israeliete nie?

    ’n Konkrete bewys vir hierdie teorie is die fisiese bestaan vandag van Orania.

    Beste groete,

    Dr. George Redelinghuys

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top