In ’n sprokie verweef deur Rina Cilliers: ’n resensie

  • 0

Titel: In ’n sprokie verweef
Skrywer: Rina Cilliers
ISBN: 9781779871084
Uitgewer: Romanza

Rina Cilliers en haar man, beide al afgetree, woon in Hartenbos. Sy het ’n passie vir liefdesverhale skryf, want sy is daarvan oortuig dat liefde enigiets kan oorwin. Haar Romanzas sluit onder meer in: Tussen glas en vag (2022), Locum op ski’s (2022), Matrone op ’n Harley (2023), Tango met ’n twist (2023), Vlug van die berghaan (2024) en Tussen klank en kleur (2024). Haar gewilde inspirerende roman, getiteld Die dogters van Casalina, het in 2025 by LUCA verskyn. Ek het pas haar jongste Romanza, In ’n sprokie verweef, gelees.

Die heldin in In ’n sprokie verweef is ’n talentvolle kunswewer. Sy moet ná drie jaar haar ruim huurwoonstel aan die agterkant van ’n ou dame se groot huis ontruim. “‘My ou plekkie is onder my alie uitverkoop, met permissie gesê,’ het die tante die tyding tranerig aan haar oorgedra” (6). Gelukkig het Brumilda, haar vriendin en kollega aan die Tegniese Instituut waar sy tot dusver toe klasgegee het, ’n voorstel: Sy het ’n erfhuis by Hermanus op ’n familieplaas en soek ’n huurder wat die huis met haar kan deel. “Ek het toentertyd al die huis netjies in twee verdeel met die oog op verhuring” (9).

Brumilda se broerskind het met ’n wolprojek op die plaas begin, een van vele projekte waarmee hy werk aan die arbeiders se vroue verskaf. Hy wil graag ’n wewer in diens neem om die vroue te leer weef, sodat hulle hul kunswerke kan verkoop vir ekstra inkomste. Alichi sal dus ’n ruim woonplek én ’n droomwerk met al die geriewe wat haar hart begeer, hê. Sy stem in. Min het sy tóé geweet dat Wikus Welgemoed, haar nuwe werkgewer, vanuit die staanspoor niks goed vir haar toekoms op Vogelberg voorspel nie. Om die waarheid te sê, voorsien hy daggaplante aan lawaaierige vriende oor naweke langs die dam reg voor haar nuwe woonplek.

Ek het heel lekker aan hierdie storie gelees. Dit het nie noemenswaardige oppe en affe nie. Die storielyn vloei gelykmatig en vlot, en die einde is voorspelbaar. Steeds het die boek my, danksy die interessante prosesse van wolverwerking en hoe die vroue leer om te weef, nie verveel nie. Dit is ’n ontspanne lees en ideaal vir iemand wat net ’n rustige Sondagmiddag wil deurbring met ’n mooi storieboek.

Die newekarakters en subplot is ook geloofwaardig. Daar is selfs ’n dik varkhond, genaamd Blixem, wat so hittete die kollig steel. Die storie sou beslis nie dieselfde sonder hom gewees het nie. “‘Blixem!’ Hy mik na die hond wat met die res van die inhoud van die kospakkie met sakkie en al weghardloop, nie bereid om sy versnapering af te staan nie” (123).

Dan fluister Alichi se beskermengel ook gedurig in haar oor en sy antwoord selfs met tye. Die engel tree tong-in-die-kies as die stem van haar gewete op. Die skrywer slaag daarin om hierdie “gesprekke” so soomloos deel van die storie te maak dat dit die leser skaars as vreemd opval. Dit het ’n doel en sorg soms vir vermaaklike oomblikke. “‘Ag, Alichi,’ val die engel haar gedagtes in die rede, ‘al wat jy moet doen, is om te sorg dat jy ver van die baas van Vogelberg bly. Miskien moet jy jou ouma Nika se weefgetou weer op ’n lorrie laai en ’n ander blyplek, ver van die versoeking af, gaan soek’” (181).

Iets wat my van die eerste bladsy af gepla het en my leeservaring so bietjie bederf het, is die naam Alichi. Ek kon (en kan steeds) nie besluit hoe die naam uitgespreek word nie. Is dit Aliesjie, Aliekie, Alietjie, Alietsjie of Aliesji (-sji soos in sjimpansee)? Dit het my oneindig frustreer. Ek wens dat daar iewers ’n aanduiding was oor die uitspraak. My oog het elke keer by die naam vasgehaak en dan het ek van voor af daaroor gewonder.

Die uitdrukking: “Haar lyf word sag teen hom” (134) of variasies daarvan word telkemale gebruik. Dit is ’n baie mooi en gepaste beskrywing om oorgawe en toegeneentheid aan te dui, maar die trefkrag daarvan gaan verlore, omdat dit herhaaldelik gebruik word. Daar is tog verskeie kreatiewe maniere om die aksie te beskryf. Dieselfde met: “Sy mondhoeke duik ...” (169), verwysend daarna dat hy glimlag.

Alichi se van is Boonzaaier (39), maar word op ’n stadium Bodenstein (101). Op bladsy 76 lees ons van Wikus se vriend, Helgaard, en dié se verloofde, Suna, maar op bladsy 141 word sy as sy vrou voorgehou.

Lesers wat van plaasstories hou, sal In ’n sprokie verweef veral geniet. Dit is ’n mooi liefdesverhaal waarin die held en heldin se toenemende aangetrokkenheid teenoor mekaar smaakvol aangebied word.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top