In ’n oomblik deur Elsa Winckler: ’n resensie

  • 0

Titel: In ’n oomblik
Skrywer: Elsa Winckler
ISBN: 9781779871602
Uitgewer: Romanza 

Elsa Winckler is ’n bekroonde skrywer van meer as vyf dosyn kontemporêre liefdesverhale en inspirerende romans vir die plaaslike en internasionale boekemark. Vier van haar boeke het ATKV Woordveertjies gewen, naamlik Tussen jazz en rock (2009), Te eenders, te anders (2014), Liefde in laslap (2015) en Blameer die skoenlapper (2019). Volgens Elsa se bio is haar heldinne onafhanklik en hardekwas en haar helde sterk, maar sensitiewe siele. Sy en haar man woon op Bettysbaai. Hulle het drie kinders en vier kleinkinders.

Ek het pas Elsa se jongste Romanza, getiteld In ’n oomblik, klaar gelees. Dit is ’n heerlike liefdesverhaal wat ’n mens sommer op ’n luilekker Saterdagmiddag kan lees. In ’n neutedop handel dit oor Kristen du Bois, ’n suksesvolle ouditeur en oudste van vier sussies, en Marnus Grobbelaar, argitek en ook erfgenaam van die biljoendollar-Grobbelaar-groep met ’n rits boetiekhotelle in hulle eiendomsportefeulje. “Hy is Franse sjampanje en funksies en eksotiese bestemmings. Sy, daarenteen, is plaaslike vonkelwyn, ’n boek en rustige aande by die huis” (133).

Kristen se sussies daag haar uit om vir ’n slag iets spontaans aan te vang en aan ’n wildvreemde man se hand te raak na afloop van ’n rugbywedstryd. Nie een om nee te sê vir ’n uitdaging nie, doen Kristen presies dít en glip haar hand in ’n blonde Adonis s’n. “Speel asseblief saam,” sê sy onderlangs. “My susters ... dis ’n dare” (14). Die situasie pas Marnus perfek, want sy pa wil hê dat hy ernstig begin raak oor ’n vroumens. En voor Kristen haar kom kry, gee sy en Marnus voor dat hulle verloof is, want sy pa moet weens gesondheidsredes aan aftrede begin dink, maar hy sal dit net oorweeg om die besigheid in Marnus se sorg te laat, indien dié sy vrygesellewe vaarwel roep.

Die verhaallyn is allesbehalwe uniek. Heelwat liefdesverhale word rondom hierdie tema geskryf waar wildvreemdelinge moet voorgee dat hulle ’n verhouding het, gewoonlik om ’n testament se bepalings na te kom sodat daar geërf kan word. In hierdie geval wil Marnus aan sy pa bewys hy is gereed vir meer verantwoordelikhede en dat sy dae as losbol verby is.

Kirsten som die situasie reg op: “Jou reputasie as hartebreker het hom bereik en hy is bekommerd oor wat met die aandeleprys gebeur as hy aftree” (31). Sy stem in tot ’n kammaverhouding om haar inmengerige sussies wat op ’n missie is om vir haar ’n man te kry, koud te sit. Boonop reken haar baas sy is nie spontaan en warm genoeg teenoor haar kliënte nie. Sy besef sy en Marnus wil iets mals aanvang, maar daar is ’n stemmetjie in haar binneste wat haar aanpor: Doen dit; wat het jy om te verloor?

Elsa fokus van die begin af baie sterk op die lyflike aantrekkingskrag tussen Marnus en Kristen. Sy weet ook net hóé om hierdie aanvanklike, nog teësinnige bewuswording oor te dra sodat lesers sommer gou emosioneel betrokke raak by die storie. Voorbeelde: “Half oorweldig, haal sy diep asem. Goeiste tog, hy’s net ’n man al is hy báie sag op die oog. Dis sekerlik nie nodig om daaroor te hiperventileer nie!” (28). “Die vroumens krap sy breinselle heeltemal deurmekaar. Hy het geweet sy’s mooi, maar haar lang, perfek gevormde bene onder die swart rompie het sy voete behoorlik onder hom uitgeslaan” (26).

Dit het vir my vreemd voorgekom dat geleerde mense soos Marnus en Kristen – albei in verantwoordelike, professionele beroepe – hulle tale meng asof hulle tieners is. Voorbeelde: “Seriously, moenie jou lines [...]” (30). “Ek sal jou fake girlfriend wees [...]” (36). “Jy het baie smooth lines” (54). “Jy’s gorgeous” (85). “Niks hieraan is fake nie, maar [...]” (99). “Dis ’n great corny line [...]” (182). Dit word wel min genoeg gedoen dat ’n mens dit in sommige situasies as toepaslik kan beskou, maar steeds.

Marnus het ook ’n geliefkoosde kragwoord wat hy dikwels gebruik. Die eerste een of twee maal het dit dalk die nodige trefkrag, maar daarna raak dit bloot oordoen. Voorbeelde: “Sy asem raak weg, ’n vuishou begeerte slaan hom op die krop van sy maag. Blik–sem!” (25). “Bliksem, vroumens, [...]” (33). “Bliksem, Kristen” (99). “Blik-sem. Sy oë gly oor haar” (50). “Die bliksem, ek sal hom [...]” (153). In alle regverdigheid wissel hy dit soms af met “dêmmit”, veral wanneer hy sy gevoelens innerlik uitdruk. Voorbeeld: “Dêmmit, hy wil by haar wees, [...]” (149).

Bevredigende karaktergroei vind by beide Marnus en Kristen plaas. Die newekarakters – Kristen se pa en sussies en Marnus se ma en pa – is geloofwaardig, funksioneel en gee verdere kleur aan die storie.

In ’n oomblik is ’n sexy, emosionele wipwarit. Ek het, ten spyte van bogenoemde voorbehoude, regtig baie lekker hieraan gelees. Elsa Winckler het vir seker ’n wenresep waarna sy haar verhale plooi. Haar hordes lesers sal heelhartig saamstem.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top