In memoriam: Ronelle Rademeyer

  • 5

Die begrafnisbrief is verskaf en verskyn met die familie van Ronelle Rademeyer se toestemming.

Ronelle Rademeyer was ’n veteraanjoernalis wat vir Beeld en Sarie geskryf het en later nuusredakteur van Die Republikein was. Pretorius was haar nooiensvan. Willem de Swyger het 'n huldeblyk by haar begrafnis gelewer en deel dit hier onder met LitNet se lesers.


Ek ken Ronelle al so lank ek leef.

Oom André, Tannie Tilla, Lourens, Wilhelm, André, die Rademeyer-familie, Esja en die Mathee-gesin, Fritzie en die Van Rooyen-gesin, Andriëtte en die Lucks-gesin, Tilla en die Steenkamp-gesin.

Vriende.

Vir meer as ’n halfeeu is die Pretoriuse en die Van der Colffs al huisvriende, deel ons ’n band van vriendskap en meelewing deur dik en dun met mekaar. Ons is lief vir julle met ’n sagte liefde.

Ek ken vir Ronelle al so lank soos wat ek lewe, of dan ten minste so lank as wat ek kan onthou.

Met die verloop van tyd het ek en Ronelle vele raakvlakke ontdek, of dalk beter wedersyds herken in mekaar. Miskien is die belangrikste hiervan ons gedeelde verwondering en waardering vir woorde.

Daar waar taal glim en ’n vonk maak, daar waar die vuur wat in woorde opgesluit lê, bevry word en spontaan ontbrand – op daardie plek was ons vas aan mekaar.

Ons twee was voortdurend besig om, as ek by Van Wyk Louw mag leen, moeitevol te torring aan die taai knoop van ons gedagtes.

Ons het steeds bly knoop aan “die fyn, fyn net van die woord” waarmee ons gepoog het om “blink en vet visse uit baie waters te haal”.

Ronelle kon fyn kyk, fyn waarneem, fyn weergee – altyd innemend, altyd met deernis, hoflikheid en ’n effense glimlaggie; met daardie bruin oë wat so dwarsdeur ’n mens kon kyk, as’t ware tot in die binnekamers van jou hart en siel.

............
Dit verduidelik dalk ten dele waarom sy so ’n vaardige, begaafde en voortreflike joernalis was. Haar skryfwerk het vir haar vreugde gebring, en ook vir soveel ander met wie sy dit so ruimhartig gedeel het.
..............

Dit verduidelik dalk ten dele waarom sy so ’n vaardige, begaafde en voortreflike joernalis was. Haar skryfwerk het vir haar vreugde gebring, en ook vir soveel ander met wie sy dit so ruimhartig gedeel het.

Haar nuuskierigheid en leergierigheid sal my altyd bybly. Dit was so opreg, amper kinderlik.

Sy was ’n mensch. Sy het waarlik empatie met mense gehad en almal met wie sy in aanraking gekom het se menswaardigheid bekragtig. Hierdie empatie was dan ook ’n kenmerk van haar skryfwerk. Sy het dikwels teenoor my opgemerk dat die grootste geskenk wat jy vir ’n ander kan gee, is om hulle raak te sien – hulle essensie wérklik raak te sien.

Foto’s van Ronelle Rademeyer verskaf en word met toestemming van die familie gepubliseer

Ronelle het my altyd verwelkom met genade en vergifnis; sy het my tuis laat voel, my aanvaar vir wie ek is, my ráákgesien. Daar was geen toegangsprys vir haar liefde nie. Sy het gewoon die lig waarmee sy geseën is milddadig oor my, oor iedereen uitgestrooi. Hiervoor sal ek – en seker baie van julle saam met my – haar ewig dankbaar wees.

My pa was ’n wyse man. Hy het altyd gesê mense is soos die negatiewe van foto’s, dat hulle kleure eers ten volle na vore kom wanneer die rooi lig van iemand anders se liefde op hulle skyn. Ronelle was baie lief vir hierdie beeld, miskien omdat sy dit intuïtief so goed begryp en beliggaam het. In my lewe was Ronelle deurgaans so ’n konstante rooi lig van liefde. Wanneer ek by haar was, was my kleure helderder.

Sy het ’n sagte plekkie vir Antjie Krog gehad, die einste Antjie Krog wat by geleentheid van die afsterwe van haar vriend, Jakes Gerwel, gesê het: “[...] rondom ons is dit vandag kouer, kariger, staan ons minder geanker, minder raakgesien, minder liefgehê en met minder begrip oor ons verbondenheid aan mekaar”. Veral vandag is ek dit roerend met Antjie eens.

Ronelle was verknog aan hierdie land, haar geboortegrond. Namibië se stof het aan haar voete gekleef en neerslag gevind in haar siel. Hier was sy geanker, diep gewortel soos ’n ou kameeldoring in rooi grond. Dit was haar vandaankomplek, haar hartsplek.

Ek is so dankbaar dat ons Ronelle behoorlik en na waarde geag en vereer word. Dis gepas; sy verdien dit dubbel en dwars. Sy het vir so lank oor so ’n breë spektrum so ’n groot impak gemaak. Maar meer nog ‒ sy het, soos een van haar kollegas so mooi gesê het, sonder ’n groot bohaai (sonder fanfare of grootdoenerigheid) eenvoudig gedoen wat gedoen moes word. Sy was ’n toonbeeld van nederigheid. Sy het nooit eer of erkenning vooropgestel of nagejaag nie. En nou word haar nederigheid so ryklik en welverdiend beloon.

Ronelle was sonder enige twyfel ’n formidabele vrou, en vir my lê ’n deel van haar grootsheid juis daarin dat sy so veelsydig was. Sy het dit reggekry om soveel verskillende dinge vir soveel verskillende mense te doen, te beteken, te wees ...

Laat ek begin afsluit – al is ek vandag hartseer, is die oorwegende emosie by my een van dankbaarheid. Ek is ’n begenadigde mens. Ek het die gawe en die voorreg ontvang om Ronelle vir só lank as deel van my lewe te mog hê.

Saam herdenk en vier ons vandag die lewe van hierdie wonderlike mens, hierdie formidabele vrou, wat ons deur haar voorbeeld geleer het hoe om te lewe, wat ons deur haar voorbeeld geleer het hoe om te sterwe.

Vier eeue voor Christus het Plato gesê: “Dié wat fakkels het, moet dit vir die ander aangee.” In my lewe was Ronelle ’n fakkeldraer, in my lewe was Ronelle ’n ligdraer. Sy het keer op keer vir my lig gebring as dit donker om my geraak het; sy het my fakkel telkens weer aangesteek wanneer wanhoop gedreig het om dit uit te doof.

My versoek aan julle is eenvoudig dít – oorweeg vir ’n oomblik, in die stilte van jou eie hart, wat Ronelle se blink, brandende fakkel in jou eie lewe is, hoe sy haar lig vir jou gebring het, hoe sy haar lig met jou gedeel het, hoe sy jou fakkel aangesteek of brandend gehou het. Hoe God Sy lig deur haar in hierdie donker wêreld tot binne jou eie lewe laat skyn het.

En dan, famille en vriende, laat haar fakkel se blink vlam in jou behoue bly. Laat dit helder brand. Dra dié lig verder met jou saam wanneer jy hiervandaan vertrek, dra dit oral met jou saam, dra dit oral in jou tot haar eer en nagedagtenis. So sal ons haar altyd onthou, haar huldig en haar lig lewend hou.

  • 5

Kommentaar

  • Riaan Esterhuyse

    Jy het dit so mooi geskryf. Dankie vir woorde met betekenis wat jou deernis jeens haar weerspieël.

  • Roerend mooi geskryf, Willem. As iemand eendag so oor my skryf, weet ek my vlugtige spore het vir iemand besonderse betekenis gehad.

  • Willem wat kan ek sê? Ek het haar nie geken nie, maar jy het haar vir my laat lewe. So sê jou rooinekvriend. Hartroerend en pragtig.

  • Piet van Rooyen

    Daar is min mense wat soveel vir Afrikaans en vir diepsinnige woorde in Namibië beteken het as Ronelle. Daarvan kan ek self met groot geluk en waardering getuig. Sy kon in haar kort lewe veel verder gevlieg het as by ons groepie bosbewoners hier in Namland. Saam met al die liefde en emosionele diepte, was daar ook 'n vlymskerp analitiese verstand. Dit kom nie in die algemeen sommer so saam-saam nie. Ek is darem gelukkig die kans gegun om vir haar dankie te sê toe sy nog geleef het. Wat ek veral van haar bewonder het, was haar vreesloosheid in die aangesig van die dood, 'n gegewe waarmee sy vroeg al vrede gemaak het. Dit was vir haar so alledaags soos die paar druppels witwyn wat uit my onbeholpe omgedopte glas op haar roksoom geval het - 'n blote handveeg met haar sakdoek. Ek wens almal wil ten minste net dit by haar leer: dat daar verder en dieper dinge bestaan as die onmiddellike hier en nou. Mooiso Willem vd C. Jy vat ons meegevoel in goeie woorde saam.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top