In memoriam: Réna Pretorius

  • 14

Réna Pretorius (foto’s verskaf)

Nerina Bosman deel die huldeblyk wat sy by Réna Pretorius se gedenkdiens gelewer het, met LitNet se lesers.

Ek voel baie onbekwaam om hierdie huldeblyk te lewer, maar ek doen dit graag en met baie liefde. Ek doen dit ook as lid van die Departement Afrikaans by die Universiteit van Pretoria (UP), waar ’n foto van haar, saam met ander departementshoofde en dosente, teen die muur hang.

Ek onthou (prof) Réna Pretorius die heel beste as poësiedosent by Tukkies. Omdat sy en my pa (Louis Eksteen) sedert 1966 kollegas was toe hy ook by UP begin werk het, het ek haar ook as “tannie” Réna geken, en dikwels by haar aan huis gekom, waar sy saam met haar pappie gebly het. Kind wat ek was, het ek nie geweet van die ander wonderwêreld in haar lewe nie.

In my eerste jaar sit ons in ’n volgepakte Roossaal in die Kanseliersgebou. Sy stap in, haar dik bos blonde hare keurig versorg, fyn uitgevat  in ’n snyerspakkie, met handskoene aan en ’n klein handsakkie. Die handskoene trek sy eers netjies uit en drapeer hulle oor die handsakkie voor ons verstomde oë. Dit het ons nog nie in die eerste paar weke op universiteit gesien nie. Ek dink sy het baie goed geweet watter indruk sy op ons maak.

Toe skryf sy op die bord: "dat liefde so tot haat kon skif" en sy lees die hele gedig in haar unieke stem met haar unieke uitspraak voor. Daarna sit ons vasgenael en luister hoe sy die kort gediggie vir ons uitlê ─ en ’n hele nuwe wêreld begin daardie dag vir baie van ons. Hierdie indruk wat sy gemaak het, is deel van baie van my tydgenote se universiteitservaring – verskeie mense het nou met haar heengaan haar vermoë om gedigte oop te breek,  om ons vas te vang en mee te neem,  beklemtoon.

Natuurlik onthou ons ook dat sy die assistente in die departement probeer opvoed het, Arzberg-koppies en al. Sy het ons, byvoorbeeld, duidelik laat verstaan dat wit skoene en togas nie pas nie. Sy het ons “juffrou” en “meneer” genoem. Maar wat ons die duidelikste bybly, is haar besondere stem en die wonderbaarlike manier waarop sy die poësie vir ons laat leef het.

Sy was ons dosent in die Goue Era van die Afrikaanse Letterkunde en Taalkunde ─ die era van ’n hele aantal begenadigde liefhebbers van die Afrikaanse taal in al haar fassinerende fasette. Saam met haar in daardie era was daar ander formidabele kollegas by UP: haar leermeester Alewyn Grové, Elize Botha wat prosa gegee  het, Fanie Strydom wat ons met sy voorlesings van Nederlandse poësie geroer het; en taalkundiges soos Louis Eksteen en Christo van Rensburg.

Ek wil ook vandag iets van daardie tyd in herinnering roep. Afrikaans was so vanselfsprekend deel van ons lewe soos asemhaal en in daardie ruimte kon die taal, studente én dosente floreer. Prof Pretorius was later jare lank hartseer en geskok en selfs vervreemd van haar Alma Mater oor die teloorgang van Afrikaans en die aanvalle wat onnodig aggressief en onverdraagsaam, en haar en haar tyd- en sielsgenote nie waardig was nie. 

Min van ons vandag hier teenwoordig is nie met haar lewensloop en loopbaan bekend nie. Ek noem dus net enkele hoogtepunte:

Sy is op Lichtenburg gebore en het aan die Hoërskool Monument op Krugersdorp gematrikuleer. Aan die Potchefstroom Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys verwerf sy ’n BA-graad en die Transvaalse Onderwysdiploma. Sy behaal LTCL in klavier aan die Trinity College of Music ─ sy was, onder andere, ook ’n bekwame orreliste.

Nadat sy aanvanklik onderwys in wiskunde en wetenskap gegee het,  word sy onderwyseres by die Afrikaanse Hoër Meisieskool en later adjunkhoof. Vanaf 1961  studeer sy by UP en behaal  die grade BA (Hons) en MA (albei met lof) en in 1971 die DLitt, met  “Die begrip intellektueel  by N.P. van Wyk Louw” as haar proefskriftitel.

Sy het ’n besondere liefde vir Louw se werk en sy poësie in die besonder gekoester en sy was ook een van die eerstes wat Louw se Groot Ode aangedurf het in ’n uitstekende artikel wat in 979 in Standpunte verskyn het.

Vanaf Januarie 1966 tot haar aftrede (toe as departementshoof) het sy veral poësie (ek moet dit nou mooi uitspreek – sy kon dit nie verdra as iemand “poëzie” gesê het nie) by UP doseer, maar ek het in my honneursjaar Drama by haar geneem (poësie by Grové). Sy het, onder Anadere, Oedipus behandel en ons aan die Griekse tragedie bekendgestel. Haar wydbelesenehid was ook hier op te merke.

Sy het baie toekennings en akademiese prestasies behaal – maar een wat vir ons by die Departement Afrikaans die naaste aan die hart lê, omdat die prys nog steeds elke jaar toegeken word, was die Tafelbergprys vir die beste honneursstudent in 1961.

Tannie Réna, tannie het uitgestap uit hierdie lewe en in ’n ander lewe in. Ons gun u die verlossing van pyn, van die ongenaakbaarheid van die ouderdom. Ons sal bly verlang na toe ons almal jonger was en by die oopslaan van ’n gedig deur Van Wyk Louw, altyd u stem nog hoor.

Ek sluit af met ’n deel uit Groot Ode – daardie geliefde gedig van Réna Pretorius – mens, leser, begaafde pianiste, bewonderaar van al die kunste, diep gelowige:

Ons sʼn is dit: bestaán (hoe klein ook), bly bestaan
met: juistheid; bietjie trots; en heelwat liefde;
en eindeloos vergiffenis vir áls: niemand tref dit móói met die heelal nie;
eintlik moet ons leer ironies lewe:
én: binne ironie nog liefde hou.

  • 14

Kommentaar

  • Celesté Fritze

    Rus in vrede, prof Réna. Dankie vir die wonderlike lesings in die Roossaal, en dankie Nerina vir die pragtige huldeblyk. Dis presies hoe ek haar onthou. Amen.

  • Johnny Oosthuizen

    Dankie Nerina !
    Jy het dit mooi geskets met 'n skerp woordpotlood . En hoe bevoorreg was ons nie om in dié 'goue era van Afrikaans' aan die voete van hierdie groot geeste te kon sit. Hulle het nie net Afrikaans doseer nie, maar ons moedertaal nog dieper in ons harte laat insyfer - hulle het ons menswees help vorm! Ek salueer elkeen van hulle eervol vir hulle nalatenskap in my lewe , dit sal nooit vergaan nie.

  • Henning Pieterse

    Prof. Réna; ek het die voorreg gehad om my doktorale mondeling in 1989 in u kantoor op die 15 de voer van die GW-gebou af te lê. U het die grondslag vir my liefde vir die Afrikaanse poësie gelê. Nooit sal ek u vergeet nie! OOK nie al die heengegane "groot meesters" van die sewentigerjare nie.

    Mooi en ware huldeblyk, Nerina! Ek was in 1978 saam met jou taalkundeassistent tydens ons honneursstudie.

    Prof Réna, u het my veral beïndruk met die aanbieding van dramatiese monoloë in my 2de jaar aan UP. Ek het u in my eerste jaar in die Ou Letteregebou leer ken en onthou só goed as iemand laat vir klas sou opdaag, dat u gesê het: "Sit maar op die trappie, Juffrou/Meneer!" Die handskoene, handsakkie en die poëSie onthou ek ook soos asof dit nog gister was en nie 45 jaar gelede nie!

    Ek is dankbaar dat u so ’n vol, produktiewe en LANG lewe kon hê. U verdien die rus.

  • Marius van Staden

    Ek onthou nog soos gister, ʼn eerstejaarstudent in 1980, toe Prof Pretorius een van Breyten Breytenbach se gedigte behandel het. Ek dink dit was "Bedreiging van die Siekes". Sy het dit in haar netjiese, modulêre stem voorgelees - in een van die ondergrondse GW lokale.

    Net toe sy die woord "kak" uitspreek, gaan die lokaal se deur oop en in stap een van die kampussekuriteitspersoneel (hy het een of ander navraag gehad oor ʼn sekuriteitsaangeleentheid). Haar stem het so oktaaf of wat hoër gegaan en ʼn ligte gilletjie gegee, erg verleë dat sy uitgevang is dat sy gevloek het.

    Dit is die enigste keer wat ek hierdie waardige dame ooit enigsins onkant gevang gesien het. Sy was ʼn legende, ʼn toonbeeld van waardigheid en menswaardigheid. Mag sy ewige vrede en rus ervaar, sy verdien dit.

  • Bernard Odendaal

    Julle was bevoorreg om haar as dosent te hê. Ek is dankbaar dat ek wel van haar kritiekbundels op my rak kan hê.

  • Dina Badenhorst

    Dit was ’n besondere belewenis om by haar klas te kry. Sy het vir my as jong student ’n heiligheid gehad.

  • Isobel Rycroft

    Wat 'n voorreg was dit om by Réna Pretorius te kon klas hê. Ek het waarlik aan haar lippe gehang, en het die grootste respek vir haar gehad. Nerina, jy het dit so wonderlik saamgevat. Beter kon ek dit nie sê nie. Baie dankie.

  • Baie dankie vir die gepaste groet aan prof. Rena Pretorius, Nerina. Vir my het sy “Dat liefde so tot haat kon skif ...” weer by die buitemuurse gebou in Proesstraat oopgebreek. Daai stem, daai stem ... Wat ‘n voorreg was dit nie om in die 80’s aan UP in daardie glorieryke departement Afrikaans te kon studeer nie. Proff. Pretorius, Eksteen, Strydom, Ohloff Roodt en derglike meer.

  • Elkarien Fourie

    Ek onthou hoe haar glashelder uitleg van 'n gedig my soms so opgewonde kon maak dat ek wou opspring, maar heimlik gevrees het dat ek daardeur Tukkies se hoë Nuwe Lettere-gebou, wat voelbaar in die wind gewieg het, sy balans sou laat verloor sodat dit met ons hele klas wat aan haar lippe hang, omtuimel.

  • Elkarien, die gebou wieg nog steeds en die wind fluit soms verwoed.
    Ek kan onthou hoe ek vakansies uitgesien het na die lesings van Pretorius, Botha en Grové. Ek kan nie dieselfde sê van my Engelse dosente nie. Hulle het nie dieselfde indruk gemaak nie, behalwe miskien prof. Sabbagha.

  • As jong student uit ʼn Italiaanssprekende huis en Engelstalige skool het Juffrou Pretorius, soos ons haar leer ken het, ʼn groot invloed op my gehad. Sy was die eerste mens wat Afrikaans binne die raamwerk van wêreld tale en letterkunde vir my kon plaas. Afrikaans as tweede taal is op skool baie oppervlakkig gedoseer. Nou skielik is dit ʼn taal waarin met die groot eksistensiële vraagstukke geworstel kon word - die invloed van Duitse denkers op skrywers soos NP van Wyk Louw of die Franse filosowe van die twintigste eeu op die Sestigers. Sy het my bewus gemaak van die idiomatiese krag van Afrikaans, die kleurryke verbeelding wat daarmee gevorm kan word en die veelsydigheid van Afrikaanse skrywers.
    Die ontwikkeling van sy taal is sonder twyfel die Afrikaner se grootste prestasie. Sy karakter, indiwidualiteit en identiteit word daardeur gekenmerk en sonder ʼn kennis daarvan sal mens nouliks die Afrikaner se geskiedenis, aspirasies en waardes kan verstaan. Om perke te plaas op die uitoefening daarvan, veral as onderrigmiddel is om stilletjies sy identiteit te probeer ontneem. Dit sou sonder twyfel ʼn tragedie wees.

  • Neels Nöthling

    Sy was absoluut skittrend, sekerlik die beste literator in poësie, niemand kon 'n gedig soos sy ontleed en verklaar nie. Was 'n voorreg om een van haar studente te wees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top