In memoriam: "Life is wonderful!" het die aktivis geskreeu toe hy lewenslange tronkstraf kry

  • 5

Denis Theodore Goldberg (foto: Wikipedia)

Op 29 April 2020 is een van die kleurrykste anti-apartheid-vegters oorlede.

Denis Theodore Goldberg (11 April 1933 – 29 April 2020) het nooit ’n hoë posisie in die ANC beklee nie, maar hy was geweldig hoog gereken.

Hy was ook ’n toegewyde kommunis, net soos ’n aantal ander Jode-immigrantekinders in Suid-Afrika wie se voorsate hoofsaaklik uit die ghetto’s van Litaue gevlug het.       

Goldberg was slim, ondeund en prakties (hoewel ’n bom wat hy self gemaak het, in sy tuin ontplof het); hy was vindingryk en beginselvas; ’n liefhebber van klassieke musiek en ook Afrika-kultuur. Hy het kitaar gespeel en in sy lang tydperk in die tronk graag rugby met die bewaarders gesels. Hy het ook in die tronk gereeld Die Huisgenoot gelees en ’n paar grade verwerf, oa in die regte.

As aktivis was hy bereid om te sterf vir sy aandeel in die anti-apartheidsbeweging in Suid-Afrika. Hy het hom selfs voorberei op die galg toe hy van hoogverraad aangekla is. Later sou hy as lewenslange gevangene  (’n lifer) in ’n sel langs die galg die sang van die terdoodveroordeeldes hoor.

Hy het hom as ingenieur bekwaam aan die Universiteit van Kaapstad, waar hy ook later ’n eredoktorsgraad behaal het.

As lid van die Congress of Democrats en ’n aktiewe ondersteuner van die ANC het hy in die vroeë sestigs net buite Mamre ’n opleidingfasiliteit ingestel waar hy mense in onder meer sabotasie kon oplei. Joe Slovo, die leier van die Suid-Afrikaanse Kommuniste-party sou Goldberg-hulle terg oor die feit dat nie een van hulle eers ’n pistool besit het, of geweet het hoe om kragpale te saboteer nie.

Goldberg het net een keer na die kleinhoewe Liliesleaf in Rivonia gegaan; hy wou op daardie dag met die interne ANC-leierskap sy eie onwettige vertrek uit Suid-Afrika bespreek. Maar die geskiedenis het hom ’n streep getrek, want dit was juis op die dag toe die owerheid toegeslaan het op die inwoners daar. Dit sou as die grootste deurbraak in die regering se pogings teen die anti-apartheidsorganisasie tel.

Mettertyd sou hy, die enigste wit man, saam met 30 ander beskuldigdes in die opspraakwekkende Rivoniaverhoor op ’n klag van hoogverraad verhoor word.

Goldberg was na Nelson Mandela en Walter Sisulu as nommer 3-beskuldige aangeteken waar die verwagting onder die 31 beskuldiges was dat hulle die doodstraf sou kry.    

Hy was toe 31 jaar oud en getroud, met twee kinders. (Sy vrou, Esme Bodenstein, ook ’n immigrantekind, was ook ingeperk onder apartheidswetgewing en het met haar vrylating met die twee kinders die land verlaat.)

Dit was met die uitspraak van regter Quartus de Wet dat al 31 beskuldiges lewenslange tronkstraf kry dat Goldberg die wêreld se hoofberigte getref het. Sy ma, wat die uitspraak nie behoorlik verstaan het nie, het na hom geroep: “Denis, what is it?” Hy het haar geantwoord: “Life. Life is wonderful.”

Omdat hy wit was, kon hy nie saam met die ander gevangenes Robbeneiland toe gaan nie. Hy is Pretoria toe, waar hy onder meer ook vir Bram Fischer (wat die verdedigingsadvokaat in die Rivoniaverhoor was) aangetref het. Dit was ’n hegte band. Goldberg sou die erg verswakte Fischer help voer en hom warm hou. Jeremy Cronin en Raymond Suttner was ook van die wit gevangenes weens hul anti-apartheidsdade in dieselfde tronk.                   

In sy boek The Mission skryf Goldberg oor die organisasie onder die aangehoudenes om vir Tim Jenkins, Stephen Lee en Alex Moumbaris te help om te ontsnap. Goldberg se vaardigheid om sleutels te maak uit garing en draad het gehelp om oor die laaste hekkie te spring in die ontsnapping. Hy was ook bedrewe daarin om boodskappe uit die tronk na Engeland te stuur. So het die Engelse pers groot ophef gemaak van die “Great Escape” toe die ontsnaptes in Londen aankom.    

Vyf jaar later sou die “lifer”, soos Goldberg homself beskryf het, vrygelaat word. Dit was op versoek van die Britse premier Margaret Thatcher se minister van buitelandse sake aan president PW Botha. Hoewel Goldberg dit nie kon weet nie, was daar reeds gesprekke in Suid-Afrika aan die gang tussen die Suid-Afrikaanse regering en Nelson Mandela, toe nog gevangene in Pollsmoor, Kaapstad.

Goldberg het na sy vrylating Londen toe gegaan en steeds steun aan sy anti-apartheid-Suid-Afrikaners probeer gee.

Terug in Suid-Afrika, en ná die 1994-verkiesing, het Goldberg hom grootliks toegewy aan sy kunsversameling en ’n instelling met die naam House of Hope gestig vir die aanmoediging vir Afrika-kuns en -kultuur.

Sy ontnugtering met die ANC-regering se wanbestuur en korrupsie het Goldberg hom by die “stalwarts” laat skaar in hul volgehoue kritiek op die huidige bestel. Uit die jonger ANC-geslag was daar min akkolades of aanprysing vir die ou aktivis.

  • 5

Kommentaar

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Ja, Sarie, anders as Martie Retief-Meiring was Leopold Scholtz krities ingesteld teenoor Goldberg. Aan die ander uiterste kant het Willemien Brümmer Goldberg verheerlik. Denis Goldberg en Jeremy Cronin was twee van my Unisa-tronkvoël-studente.

  • Avatar
    Arrie de Beer

    Martie, jy moet dalk liefs nie die kommentaar onderaan Litnet se FB-blad lees nie, want dis nie goed vir die gestel nie. Veral nie as 'n mens sou verwag Afrikaners het na '94 (ondanks die gemors wat die ANC aanvang) tog so effe uit hul regse enklawes geklouter nie.

    Jou oorsig in toon en inhoud laat my baie dink aan wat Ton Vosloo destyds by die dood van Bram Fischer geskryf het, waaroor daar ook heftige kritiek was.

  • Jonger landgenote kan, in deesdae se selfsugtige tye, hulle skaars indink hoe iemand soveel kan opoffer sonder om persoonlik direk daarby te baat. Denis was baie nugter hieroor; hy kon nie voorregte geniet wat ten koste van ander in stand gehou was nie. Die prys was peperduur ‒ sy verhouding met sy kinders was altyd gebroke. Die “Life! Life! To live!” was natuurlik uit verligting dat hulle die doodstraf vrygespring het. Hy was een van die handjievol mense wat die reg gehad het om die meer onlangse skeefdraai van die ANC ten sterkste te veroordeel. Tragies dat gierigheid alle respek verdring het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top