In memoriam: Leon van Nierop onthou vir Elize Cawood

  • 7

Foto van Elize Cawood: Wikipedia

As daar iets is van die blink-oog, basviool-Elize Cawood, met die moesiemondjie-glimlag, wanneer sy een van haar oorspronklike kwinkslae kwytgeraak het, is dit haar borrelende, skuurpapierdiep Cawood-baslag. Daardie hoesie-laggende lag het bewys dat sy jou vir die soveelste keer in ’n komediestrik laat trap het en dat sy jou onbeholpe reaksie op een van haar stories gate uit geniet.

Ons het vir 6 jaar lank, 1 367 halfuur-episodes op RSG (ek verstaan nou nog nie hoekom die storie voortydig beëindig is nie) en 100 kykNET TV-episodes saam gelag, getjank, gebulder van die lag en geskaaf aan die tekste van Stralerjakkers. Hierin het sy die legendariese rol van ’n sopkombuistannie, Girly Lubbe, gespeel wat straatkinders in Newlands gevoer het en tuistes aan hawelose gegee het. Wat prostitute, werklose haarkappers, rondlopers en trollietrekkers kos, menswees en statuur gegee het.   

Die grootste pret in die ateljee was wanneer ’n kind (ek het soms kinders gebruik as sopkombuiskarakters) met ’n broodrolletjie rondom die mikrofoon rondgehardloop het, en sy hom moes probeer vang het. Ek het daar ook terloops die eerste swart karakter in ’n sepie, doktor Khasu as Miriam, teenoor haar gebruik. Daardie geïmproviseerde aardse volksdialoog, “Hond se doilie, jou voëlverskrikker-fieterjasie. Ag, have a heart!”, het ons in vervoering gehad. Om die waarheid te sê, wanneer sy en oorlede Johan van der Merwe, as haar voormalige man oom Gert, teenoor mekaar gespeel het, het die kwinkslae soos vlakoeke deur die ateljee gevlieg. Ek onthou die aktrise Marina Coetzee (Maxie) het later in die gang gaan sit en lag.

En wanneer ek as die gemene Olaf opgedaag het, sou albei van hulle my met tekste, handsakke en bytende, geïmproviseerde sarkasme bydam, sodat ek vir my veiligheid uit die ateljee moes vlug, en die dialoog van ’n afstand moes gee. Hans Strydom as Dihan sou dan glimlaggend op sy stil-rustige manier in my oor fluister: “Leon, tyd dat jy die sweep weer klap!”

Sweepklap vir Cawood! Jy kan net sowel teen die wind fluit.

Dit alles ter bevestiging van die aardse, spontane, plat-op-die-grond, uitbundige en briljante radio-aktrise wat my lewe vir jare verryk het. Mens-mens, koesterende kosbare speler, vriendin, onkreukbare aktrise, swaargewig sonder houding. Sy was alles en meer.

Sy sou my enkele kere eenkant toe roep met ’n krom vingertjie en nou ogies en fluister: “Ag nee wat, Olyfie. Jy kan beter doen as hierdie teks!” wat beteken het sy het elke teks ter harte geneem, al 1 367 daarvan volledig ingestudeer en gekyk waar ons kan verbeter. So was hierdie formidabele bedrewe, charismatiese vrou. Nooit tevrede nie. Sy wou altyd die beste hê en het primêr aan haar luisteraar gedink.

Sy het later saam met my ’n resepteboek uitgegee, (Girly se Stralejakkers-resepteboek), waarvan die opbrengste aan kinderhuise gegaan het, en vir 3 jaar het ek ’n kabaret vir haar geskryf, Girly se konstitusionele kwellings, wat met groot lof by kunstefeeste opgevoer is. Ook ’n boek, Skrikkelkind, Girly se storie, wat nou nog beskikbaar is, dink ek. (Opgedra aan haar.) Ek het ook die lirieke vir die kabaret vir die verhoogstuk vir haar geskryf wat sy uit volle bors gesing het.

Sy het uiteindelik die Stralerjakkers-roman, uitgegee deur Tafelberg Uitgewers, meesterlik en moeiteloos op RSG voorgelees, en het ’n welverdiende ATKV-Veertjie daarvoor verower.  Net betyds!

Kobus Burger, uitvoerende regisseur van radiodrama by RSG sou bevestig: “As voorleser en aktrise was Elize Cawood professioneel, voorbereid en meesal foutloos. ’n Mens kon haar (ongebreidelde entoesiasme) met applous begroet. Ons het oopmond na haar sit en luister. Sy is die Olimpiese Swemmer van boekvoorlesing. Sy het altyd betyds opgedaag, haar karakter en vertolking in plek. Van ’n ouma in Martyn le Roux se Afkoeling tot Ounooi in PG du Plessis se Nag van legio.”

Ook die regisseur Katinka Heyns, wat onder andere met haar gewerk het in die meesterlike Die wonderwerker (2012), onthou haar in ’n foonoproep aan my as professioneel, voorbereid, gefokus en altyd nederig. “Intuïtief”, het Katinka haar veral genoem. “Instinktief. Sy was veral ’n meester van die woordelose vertolking.” Die toneel in Die wonderwerker, waar sy vir die digter-dokter Eugène Marais soebat-vra: “Vat net bietjie aan my,” bevestig haar ingetoë dog kragtige, meelewende spel waarin sy ’n karakter se intieme en dikwels woordelose versugting met mededoë en ’n onuitgesproke lydensmart kon oordra.   

Vele ander rolle het haar gevestig as een van ons top TV- en verhoogaktrises. Van die ingetoë en misleidende Maggie in TV se Wolwedans in die skemer (1987) tot haar monumentale vertolking as Pop le Roux in J Van Melle se Verspeelde lente (1982) onder die bekwame leiding van Manie van Rensburg, het die vertolkings haar gevestig as bekoorlik, eksoties, hartlik, meelewend en uitsonderlik.   

Daardie vasberade, domastrante koppigheid wat agter die ploeg te voorskyn getree het, haar stil-intieme hartseer spel in die donker voorhuis, teenoor Ian Roberts en Brian O’Shaughnesy. Haar weerloosheid wanneer ’n vryer opdaag, tot haar uitbundigheid wanneer dinge reg loop, het hierdie reeks weergaloos gemaak. Sy was so rou soos die aarde, haar emosies so bar en eerlik soos die Karoogrond, en haar emosies het oopgebars soos ’n woestynroos onder die genadeloosheid van die man wat haar misbruik het. Ek onthou ook die karakter se songelooide gelaatstrekke onder die ongenaakbare Afrikason waar haar vel soos ou rooibosteesakkies geblyk het. Ook daardie vasberade, verbete kanniedood-trek om haar mond, het haar in almal se harte verewig. Sy was die oopbekblom wat ’n genadelose landskap vorm gegee het. 

Ek het haar dikwels op die verhoog gesien, soos in Dinner for one. Onder die sensitiewe (en humoristiese) lyding van Gerrit Schoonhoven, het ek in die Cawoods se voorhuis gesit (ek kon net-net by Schoonhoven se bossiekop verbysien!) waar sy en haar eggenoot, met wie sy digby die 40 jaar getroud was, Wilson Dunster, gerepeteer het. Daar het ek eerstehands ervaar hoe hulle mekaar ondersteun, bemin en simpatiek met groot begrip gelei het. Ook hoe hulle mekaar simpatiek reggehelp het wanneer iemand se woorde opgedroog het of bewegings die spoor byster geraak het. Twee mense op die toppunt van hul loopbane wat geskitter het, selfs tydens doodgewone privaat repetisies.

Daarom is dit so jammer dat nie almal altyd hierdie legendariese paar se verhoogvertonings ondersteun het nie. Hoekom moes akteurs van hul kaliber nog saans in die koue voor halfleë sale probeer om mense te laat lag terwyl hulle, na al hul gewaardeerde werk, al moes afgetree het? Maar die blymoedigheid, die vreugde van en respek vir toneelspeel, was altyd daar.

Ek het eenkeer by die KKNK aan ’n bespreking voor ’n gehoor saam met haar deelgeneem, en ten spyte van die humoristiese, soms stuitige woordspelings en vrolikhede wat sy kwytgeraak het, kon ek tog ’n hartseer sien deurskemer dat dinge nie beter wou gaan nie. Ons het maar net na mekaar gekyk en ons alwetende Olaf-en-Girly-glimlagte gegee, want ek kon die onderliggende moedeloosheid, wat sy nooit toegelaat het om haar baas te raak nie, raaksien.   

Dan was daar haar minder bekende werk. Van haar debuut in die rolprent Wat jy saai (1979) tot Manie van Rensburg se gewaagde (vir sy tyd) City lovers, (1982 as Elizabeth Cawood), het sy doiliefyn-nuanses na elke rol gebring, selfs al was sommige van haar ander draaiboeke vir blote komiese effek geskryf, of geneig om oppervlakkig te wees en haar net as ’n figurant of tante te gebruik. Sy het van niets iets vol plesier gemaak.

Dink ook aan haar deurleefde spel as die bedelaar Roos in Lien se lankstaanskoene (2012). Magtag! Wat ’n vertolking!  

Haar kwistige, babbelende en neurotiese vertolking in Taxi to Soweto (1991), wys ’n vooraanstaande en vermetele ryk vrou wat per ongeluk per taxi in Soweto beland het. Dit het weerklink deur die bedryf, veral daardie vrolike dans van bevryding en uitbundigheid wat baie mense se verborge emosies raak opgesom het.   

Toe ek vir hierdie voormalige joolprinses vra of die landelike tonele in Verspeelde lente dan nie vermoeiend was nie, het sy na ’n denkbeeldige sigaret gesoek (in die Stralerjakkers-ateljee) en gelag: “Olyfie, op die plaas het ek skape gery en oor die veld gehardloop toe my broer (Bromley Cawood, die regisseur) popgespeel het in die huis. Dink jy daardie tonele sou my baasraak?”

Hoe mis ’n mens nie daardie lang, mooi, statige vrou met die ryk rokerslag wat in die ateljee ingestap het en haar aardse “hallo, hallo jull-e-e! Ag hemel tog, is ons nog steeds hier?” vir ses jaar gegee het. Daardie swierige, waarskuwende manier waarop sy oor ’n bladsy na jou geloer het as jy soms persoonlike goedjies in die teks ingevoeg het, die wawiel-baldadige handgebare wanneer sy en oom Gert (ai, hoe mis ek jou nie, Johan van der Merwe) baklei het en sy sou skrou: “O gogga, die tekste!!” wat sy dan spelenderwyse op die vloer gegooi het, en die versnaperings wat sy tweeweekliks vir ons gebring het. Dit was wonderlik. “Dat ek nog blerriewil deur die nag moes bak hiervoor!”) Ook die manier waarop sy destydse groentjies (Sean Else en Francois Henning, nou Snotkop) en andere behandel het, sal my altyd bybly.

Mens kan vir ure oor haar aangaan. Maar my laaste herinneringe aan haar was toe ek ’n TV-opname in ’n ateljee moes doen en onlangs in haar vasgeloop het. Die nou klein, petite vroutjie het gekla dat sy die woorde skielik nie meer kan onthou nie. Ek het aan haar arm gevat om haar moed in te praat (“Dit gebeur met ons almal, Elize”), waarna sy haar hande om my skouers gesit het met die woorde: “Leon, ek dink nie ons sien mekaar weer nie.”

Elize. Jou invloed op ons almal se lewens, die rykdom wat jy in myne gebring het, en jou onvergelyklike menslike bydrae tot RSG se Stralerjakkers (1995 – 2001), het my skryfwerk, wat die skryf van komedie (“minder is meer”) vir altyd gevorm en gebeitel. (“Wat sou Elize hiervan gesê het?”)

Hoe jammer Stralerjakkers, met jou in die hoofrol, Elize, is toe nooit televisie toe nie. Verspeelde lente. Verspeelde kanse.

Jy sal altyd baie diep in my hart Girly se wyshede op ’n daaglikse basis fluister as my vingers vashaak op die rekenaar en dan vlug kry wanneer ek jou stem iewers hoor.  

  • 7

Kommentaar

  • Avatar
    Stella Eksteen

    Ant Girly, vir jou sal ek altyd onthou!!!! Dankie Leon, Stralejakkers se uitsendings tye het menigtge huishoudings/werke tot stilstand gebring

  • Dankie Leon dat jy jul kosbare oomblikke met ons deel - Elize sal vir ons bly voortleef deur jou en ander wat na aan haar was. Jou deernisvolle beskrywing help ons beslis om haar as 'n ongelooflike aktrise en dierbare mens te onthou.

  • Hoe paslik dat Elise so deeglik onthou word. Het in die jare seventig met die aanvang van haar loopbaan by SUKOVS saamgewerk, Mooi gedagtes om aan terug te dink! Dankie Leon

  • - "we had joy we had fun - we had seasons in the sun". 📌óók SPRINGHAAS saam gejag 😃.
    ek groet sonder woorde want hartseer is stom.😥👣

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top