In Memoriam: Jürgen Fomm

  • 1

Fotobron: Netwerk24 (http://www.netwerk24.com/vermaak/2015-04-03-jrgen-fomm-in-kaapstad-dood-n-lang-siekte)

Die afsterwe op Sondag 29 Maart van Jürgen Fomm, die legendariese produksiebestuurder van Tafelberg-uitgewers, kan met reg die einde van ’n era genoem word. Trouens, dit het iets te doen met die oorgang van een soort wêreld na ’n ander.

Herr Fomm, ’n boorling van Hamburg, is in 1955 uit Duitsland gewerf om by die destydse Nasionale Boekhandel die gehalte van boekontwerp te kom verbeter. NP Van Wyk Louw het met hierdie versiende aanstelling deur die destydse hoof van Naspers, Recht Malan, iets te make. Danie van Niekerk, voormalige hoof van Tafelberg en jare lange vriend van Jürgen, vertel dat Van Wyk Louw sy bundel Nuwe Verse in Nederland wou laat druk omdat Nasionale Boekhandel se boekontwerp iets te wense oorlaat. Daar was van ander ook klagtes, en daar is op hoë vlak besluit om iets aan die saak te doen.

Saam met Jürgen het nie net mooi boeke gekom nie, maar ’n diepgegronde verstaan van die waarde wat boeke dra en van die belang wat die visuele aanbod van die teks vir die ontsluiting van daardie waarde inhou.

Vandag sal iemand dit die “interface” noem. Vandag is elkeen ’n tipograaf met ’n rekenaar en InDesign-programmatuur. Vandag is iedereen ook ’n kenner met Google aan die vingerpunte, en ’n gepubliseerde skrywer op Amazon. Maar toenmalig, in die Europese skool van tipografie, het jy ’n uitgebreide en uitgerekte opleiding ondergaan. Letters was (of is steeds) nie bloot die boustene van woorde nie, maar kultuurdraers wat teruggaan na en saamloop met die groot momente in die vordering van die oordrag van kennis, soos die letterdrukpers van Johannes Gutenberg in 1436. En tipograwe soos Jürgen Fomm was vakmeesters, soos wat skilders en beeldhouers dit was.

Herr Fomm was die verpersoonliking van Pruisiese deeglikheid, punteneurigheid en vasberadenheid (sommige sou sê hardkoppigheid). Hy het in sy konstitusie ’n stuk van die intellektuele geskiedenis van die Westerse wêreld gehad en sy agting daarvoor het dit vir hom onmoontlik gemaak om selfs die geringste puntjie van tipografie te kompromitteer. Letterlik ’n puntjie, soms.

Hy het elke boek wat hy ontwerp het, in manuskrip gelees om ’n idee te vorm van hoe daardie spesifieke boek visueel gestalte moet kry. Watter grootte moet die letters wees? Hoe ver die reëls gespasieer? Watter font is meer formeel en watter een vriendeliker, of meer ontspanne? Dit het saak gemaak. Die verlede tyd in die pasvorige sin is so bedoel.

Jürgen het Afrikaans volledig bemeester, en sy lees van ’n manuskrip het byna altyd die uitwys van spelfoute ingesluit; vry dikwels ook geldige inhoudelike kritiek. Tog het hy na al die jare nie sy swaar Hamburgse tongval verloor nie. As ’n pasaangestelde junior in die fiksieafdeling van Tafelberg met ’n kantoortjie langs ’n gang met krakende houtvloere in die Waalburggebou in Kaapstad sien ek eendag ’n imposante man in my deurkosyn staan. “Whurg jay met fuhrtellurs, ja?” Na drie herhalings kon ek steeds nie uitmaak wat hy vra nie. Later sou ek uitwerk hy wou weet of ek werk met Vertellers, ’n bloemlesing kortverhale waarvan die wiele destyds aan die draai was.

Hy kon hartlik lag en hy kon hartlik die josie in wees. Op ’n dag het ek oor iets in verband met ’n boek my voet dwars gesit. Waar ek aan die hubris gekom het, kan ek nie sê nie, maar ek onthou hoe Jürgen voor my oë spierwit om die kiewe geword het. Ek het die skermutseling verloor, maar het van toe af kennelik ’n nuwe respek van sy kant ervaar.

Ons het nooit weer vasgesit nie. Trouens, ek het in ruim maat een van Jürgen se mooiste eienskappe ervaar: daar was min dinge waarmee hy jou nie sou help as jy hulp nodig gehad het nie. Een jaar het ’n ander weldoener, ons baas Danie van Niekerk, dit vir my moontlik gemaak om die boekebeurs in Frankfurt by te woon al was ek nie deel van die amptelike kontingent nie. Ek moes op eie stoom daar kom, en ek was nie ’n ingewyde nie. Ons word toe almal deur Danie vir ete genooi by ’n deftige restaurant, maar o, genade, ek het nie formele klere ingepak nie. Jürgen neem my onder hande, en daar sit ek trots aan tafel met ’n mooi baadjie en das van hom aan, en boonop omgeef van ’n geurige wolkie van sy naskeermiddel.

Jürgen was mentor, leermeester en vriend van baie mense wat aan hom gerapporteer het. Hy was goeie geselskap, hy het die uitgewery op elke vlak verteenwoordig, hy het gedy in die omgang met skrywers, hy was beskermend teenoor die saak en sy kollegas. Sy tegniese kennis van boeke maak was ongeëwenaard in Suid-Afrika. Hy het omgegee. Hy was lojaal. Hy het geen versteekte agendas gehad nie. Wat hy tot die Suid-Afrikaanse, en spesifiek tot die Afrikaanse, geesteslewe bygedra het, kan nie bereken word nie.

Jürgen was 86. Hy het na wat ons verneem, vreedsaam gesterf.

  • 1

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Aan die einde van die jare sestig het wat nou Naspers genoem word begin om boeke in grootdruk te publiseer. Ek het 'n artikel daaroor in 'n vaktydskrif gepubliseer, maar nie voordat Jurgen Fomm met groot geduld en baie kennis aan my in Elsiesrivier verduidelik het wat die nuwe onderneming alles behels nie. Ek huldig sy nagedagtenis.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top