Afrikaans het een van sy grotes verloor toe Johan (JP) Smuts vandeesweek ná ’n kort siekbed aan dubbele longontsteking oorlede is. Hy was sedert 1971 dosent in die Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Stellenbosch, en vanaf 1986 tot sy aftrede in 1994 professor in Afrikaanse letterkunde aan dieselfde universiteit. Hy het twintig boeke gepubliseer, dikwels as samesteller en in oorleg met sy vrou, Ria. Hul kortverhaalbundel Die water wat verby is het in 2012 verskyn. Johan was sedert 1990 lid van die Letterkundekommissie en het van 1999 tot 2006 as voorsitter gedien. Ook was hy op gereelde basis lid van komitees vir die beoordeling van literêre pryse. In 2003 is die Gustav Preller-prys vir literatuur en letterkundige kritiek deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aan hom toegeken. In 2007 ontvang hy van die Akademie ’n oorkonde van waardering vir sy werk in die Letterkundekommissie.
Dit is drie dekades sedert ek in die RW Wilcocks-gebou op Stellenbosch die eerste keer met Johan Smuts as dosent kennis gemaak het. ’n Imposante gryskopman, immer professioneel en in beheer, onberispelik wat betref sy voorbereiding en aanbieding. Hy het moeiteloos gesag uitgestraal, waarskynlik die nalatenskap van sy jare as onderwyser, en ek moet erken dat ek aanvanklik baie versigtig vir hom was. Maar met sy grondige kennis van die Afrikaanse letterkunde, veral die prosa, het hy vir my ’n wêreld ontsluit waarvan ek tot in daardie stadium grotendeels onbewus was. Van die Sestigers tot die Tagtigers – sy erns met sy vakgebied was ontsagwekkend ... en aansteeklik, want hierdie nat-agter-die-ore-student wie se vakvoorkeure aanvanklik geskiedenis en Engels was, het spoedig besluit om hom vorentoe eerder met die Afrikaanse letterkunde te bemoei. In my derde jaar was ek gelukkig genoeg om vir sy Afrikaans-Speskursus gekeur te word, en in my honneursjaar het ek nog sterker onder sy invloed gekom. Daarna was dit vir my feitlik vanselfsprekend dat ek my magister- en DLitt-studies sou wou aanpak met hóm as studieleier. Dat hy my as goed genoeg hiervoor geag het, is iets wat my vandag nog verbaas.
Hy kon streng wees (ek het eenkeer voor hom die woord “huidiglik” gebruik – net één keer ...), maar altyd regverdig. En terwyl ek voortdurend onder die indruk was van sy vlymskerp intellek, het sy innemende humorsin – namate ons mekaar beter leer ken het – al hoe meer op die voorgrond begin tree. Hier was egter iemand wat hom nie sou ophou met banale gesprekke of skinderpraatjies nie; en jy het geweet dat enigiets wat jy vertroulik met hom sou bespreek, tussen daardie vier mure gebly het. Elke keer dat ek my oënskynlik in ’n doodloopstraat in gewerk het (en dit was dikwels), het sy kalm benadering my laat glo dat ’n oplossing net om die draai gelê het. Hy kon jou altyd in die regte rigting stuur, sonder om jou met ’n lepel te voer. ’n Uitstekende mentor, dus. En toe my studies einde se kant toe begin staan en ek finaal besef het ek sou nie in die akademie aard nie, het hy my aangeraai om dan maar met Hettie Scholtz te gaan gesels, “want dís nou ’n jintelman van ’n vrou daardie”. Gesê met ’n vonkel in die oog, wyse woorde deur ’n man met baie gesonde oordeel. My uitgewersloopbaan is gevolglik in groot mate aan hom te danke.
Hierna het my eertydse studieleier my vriend geword. Hy was ’n man van vele belangstellings en oor die jare sou ek toenemend kennis neem van sy liefde vir klassieke musiek, kunsfilms (deur Fellini, Bergman, Truffaut, noem maar op), reise na die buiteland (met Italië as ’n gunstelingbestemming), en so meer. Al dié passies is uitgeleef saam met sy vrou, die opvoedkundige doktor Ria Smuts. “Sielsgenote” is ’n geykte begrip, een wat maklik sentimenteel aandoen, maar dit is vir my die onvermydelike woord wanneer ek aan die egpaar Smuts dink. Hulle was lewensmaats vir 49 jaar, en om Johan in Ria se geselskap mee te maak, was om hom op sy heel beste te ervaar. Daar was tussen hulle ’n sjarmante, natuurlike spitsvondigheid, onderhoudende vertellings wat hulle intuïtief en naatloos in tandem sou aanbied. Gewoonlik oor ’n bord verruklike Italiaanse kos, of die beste tuisgemaakte cappuccino’s in die Kaap. Wyd uiteenlopende onderwerpe, altyd met die grootste kundigheid en in die keurigste Afrikaans oorvertel. Geen verrassing dus dat hulle as samestellers van bloemlesings, en medeskrywers van die bundel Die water wat verby is, so ’n gedugte span gevorm het nie – hier was ’n dubbelspelkombinasie waar die agterbaanspeler en die speler by die net as ’t ware soos een sou funksioneer.
In ’n biografiese stuk oor Etienne Leroux besin Johan oor die mate waarin jy iemand in sy leeftyd werklik kán leer ken. Sekerlik ’n moeilike vraag om te beantwoord, maar wat wél kenbaar is, is die invloed wat so ’n persoon op jou eie lewe gehad het; daarom kan ek bloot sê dat om Johan te geken het, my lewe mateloos verryk het. En in “Tydskrifverhaal”, ’n storie wat Johan en Ria saam geskryf het, verwys hy na “karakters wat bly voortleef verby die laaste bladsy (...) (S)elfs as hulle in die slot sou sterf, raak hul dood ander mense en gaan hulle verhaal op dié manier oneindig voort.” Ek kan nie anders as om in dié terme aan hom te bly dink nie, en ek weet dit is woorde wat in hierdie besonder moeilike tyd ook vir die dapper Ria sal deurdra.
Johan Smuts was a true gentleman and a scholar.
Etienne Bloemhof
Hoof van Fiksie: NB-Uitgewers



